Читать книгу Moord in die beloofde land - François Bloemhof - Страница 16
13
ОглавлениеHy hou nog die meisie se hand vas. Styf. Haar vingers is lank en dun. Die vingers van ’n tikster, dink hy.
Hardloop. Kom weg van die toneel af.
Van dié besef, dié wete, kan hy egter nie ontsnap nie. Hy het dit weer gedoen. Hy het so hard probeer, maar kon homself nie keer nie.
Hy het harder as die vorige kere probeer, dit weet hy, maar dit was nie genoeg nie. Hy weet nou: Hy sou dit vroeër of later weer gedoen het. Daar is geen keer nie, dis bedoel om te gebeur. Dit sal.
Hy hardloop vinniger, sy greep styf om die vingers, die hand soveel kleiner as syne, al het hy nog nooit aan sy hande gedink as besonder groot nie.
Hy versnel sy pas nog, asof dit ’n manier is om alles ongedaan te maak, asof, indien daar ’n groot genoeg afstand tussen hom en die toneel kom, dit nie gebeur het nie.
Sy is mooi.
Sy wás mooi.
Steeds klou hy aan die hand, asof hy dinge ook só kan verander. Dan besef hy hoe dit moet lyk, sien hy homself soos iemand anders sou, die vieslike mens wat hier hardloop, en laat los hy die hand. Hy kyk nie terug om te sien waar dit val nie, hy rek net sy treë om die afstand te vergroot tussen hom en waar hy haar gelos het.
Die hand was ’n trofee, daarom dat hy dit geneem het.
Die gevoel van walging kom. Hy wil opgooi, hy wil gaan stilstaan en sy liggaam laat ruk sodat die slegtigheid kan uitkom. Maar hy kan nie toelaat dat hulle hom vang nie, daarom hou hy aan met hardloop.
Siek. Jy is siek.
Daar is een troos en hy klou daaraan omdat niks anders kan help nie. Dit was nog elke keer so en dis iets wat hy net op oomblikke soos dié weet.
Môreoggend as hy wakker word, sal hy niks hiervan onthou nie.