Читать книгу Moord in die beloofde land - François Bloemhof - Страница 15

12

Оглавление

In standerd vier kom ek agter van my pa se geheim.

Dat hy een het.

Die garage (“motorhuis”, sê my ma altyd) sit regs onder die huis. Ek bedoel die huis sit soort van bo-op dit. Daar is ’n deur tussen die huis en die garage, maar dit was gesluit toe ons hier ingetrek het en niemand weet wat van die sleutel geword het nie. Ek en Erik is nie bedoel om ooit in die garage te kom nie, want my ma sê karre gee giftige gasse af en ons kan siek word daarvan.

Maar aan die agterkant van die garage is ’n aparte kamertjie waar my pa partykeer houtwerk doen en omdat hy nie siek word as hy tyd daar deurbring nie, weet ek wat my ma sê is nie waar nie. Sy wil ons net daar uithou oor sy bang is ons krap tussen my pa se goed en dan raak hy kwaad.

Een middag terwyl my ma slaap en Johanna rus en Erik besig is met huiswerk, is ek verveeld. Wens ek kon nou in die fliek sit.

Eers lees ek twintigsentboekies. Hulle kos nie meer net twintig sent nie, maar hét. Dis boekies met foto’s wat stories vertel en uitgegee word deur RP, wat staan vir Republikeinse Pers. Rocco de Wet: Grensvegter; Die Arend van die oerwoud, met daardie groot, giftige spinnekoppe; Kid die swerwer; Tessa; Saal 10: Ongevalle, met dieselfde meisie, Erna van den Berg, as in Tessa, maar vir hierdie stories dra sy meer klere omdat sy nou ’n verpleegster is en nie ’n geheime agent nie; Dr. Conrad Brand; Mark Condor; Takoeza; Tanya die vegter; Verdwaalde harte.

Ek hou die meeste van dié met aksie. Maar nou het ek elke boekie al vir die soveelste keer gelees.

Daarom gaan sukkel ek die venster van my pa se houtwerkkamertjie oop. Ek het twee dae gelede gesien dis op ’n skrefie, maar dis nou eers dat almal uit die pad is.

En dis nog ’n goeie drie uur voor hy by die huis sal wees.

Dis nie ’n groot opening nie, maar ek moet myself voete eerste by die venster laat ingaan, dan kan ek op die tafel vastrap. Dis eintlik meer van ’n houtbank en dit is deurmekaar – terwyl alles anders van my pa so netjies is – want oral lê sae en beitels en buisies gom en liniale van metaal. Meneer Krogman wat vir ons houtwerk gee, sou mal gewees het oor dit alles, maar my pa is nie goed met houtwerk nie. Die enigste tafeltjie wat hy gemaak het se pote wikkel en dit was net ’n week in die huis voor hy dit self teruggebring het hiernatoe. Daar in die hoek staan dit.

Stadig, versigtig laat sak ek my onderlyf deur die oop venster. Ek is kaalvoet. As my ma uitkom en my hier kry …!

Maar ek is nie bang vir haar nie. Vir hóm, ja.

Vir ’n sekonde wil ek paniekerig raak. Ek kan nie onder my sien nie, maar ek moes nou al die bank raak getrap het!

Dan is my regtervoet op die hout. Ek moes dalk maar skoene aangetrek het. Daar is my linkervoet ook nou op die bank. Ek kan iets soos stof onder my sole voel, dis die poeier wat jy kry van hout skaaf.

Dit ruik na gom en ’n plek wat dikwels toe staan. Benoud.

Exciting.

Ek kyk rond, weet nie wat om te doen noudat ek hier is nie. Links van my is die oop deur wat garage toe lei, waar ek weet daar niks interessants is nie, net my ma se kar wat die helfte vol staan.

Dis donkerig en ek beter nie die lig aansit nie, maar daar kom genoeg sonlig by die venster in, wat ek trek sodat dit weer lyk of dit toe is. Nou kan ek rondkyk. Die vertrek is rêrig nie groot nie, ongeveer vier by drie meter. Ek trek ’n laai oop en sien dis net vol houtwerkgoeters: ’n passer, ’n rooi HB-potlood met swart strepies en ’n afgebreekte punt, skroewe wat rondrol.

Maar in die laai onder dit, ’n tydskrif.

Penthouse.

Ek het nog nooit een gesien nie, maar van die ouens het al daarvan gepraat, dit en Playboy. Dis rowwer as die Scope, sê hulle. Ek lag byna, maar raak nog meer benoud, want nou’s dit rêrig ’n oortreding om hier te wees. As my pa moet weet …!

Die Penthouse is al baie deurgeblaai, die bladsye is geriffel. Jy kry dit nie in Suid-Afrika nie, dis verban. Die meisies is kaal daarin. Ek verstaan nie mooi hoekom nie – hulle is mooi, maar lyk snaaks so sonder klere.

Ek weet my ma het ’n koekie, maar het nie geweet dit lyk só nie. Ek het op ’n keer haar tieties gesien toe ek by die kamer ingeloop het sonder om te klop. Sy was kwaad, maar die deur was dan halfpad oop. Dit voel snaaks om hierdie meisies só te kyk. Almal se tieties lyk verskillend. Party se koekies het hare en ander het nie.

Nou hoef ek nie meer nuuskierig te wees nie. Dis seker hoekom mans dit kyk, sodat hulle kan ophou om nuuskierig te wees. Eendag as ek trou, het ek al gedink, sal ek saans in die badkamer my pajamas aantrek sodat my vrou my nie kaal hoef te sien nie. Ek hoef haar ook nie kaal te sien nie, want ek weet nou.

Skielik die geluid.

Ek raak koud, maar dis nie hierdie plek nie, dis ek. Ek laat val die Penthouse.

Ek het gedink dis my pa se Mercedes, maar ek weet dit het net so geklink oor ek skuldig voel.

Maar dan is die geluid hard – dis hier voor die garagedeur.

Die kar hou stil.

Ek wil skree. Daar’s nie tyd om pad te gee nie! Ek sal nooit betyds deur die venstertjie kom voordat –

Ek hoor die slot, die skarnier wikkel, hy gaan die deur begin oopmaak.

Ek gryp die tydskrif van die vuil sementvloer af, prop dit in die laai, druk die laai toe. Maar dis nie genoeg nie, ék is nog hier!

Maar hy weet nie van jou nie, sê ek vir myself. Dalk kom hy nie deur agtertoe nie, dalk bly hy daar voor. Ek weet nie hoe hy maak elke keer as hy by die huis kom nie. Hoekom is hy al hierso? Dis te vroeg! My hart klop verskriklik.

Ek kyk rond. Behalwe vir my wat hier is, is alles soos dit was, die venster is toe, die lig is nie aan nie …

Die garagedeur swaai op. Ek hoor hom steun en terug kar toe loop, die deur klap toe en die enjin dreun, hier kom hy ingery. Die geluid van die briek, hy hou stil en die enjin gaan dood.

Ek probeer myself kleiner dink en druk myself teen die muur vas. Hier’s nie plek om weg te kruip nie, ook nie onder die werkbank nie. Die kaste is te klein en dis in elk geval vol goed.

Ek moes gehardloop en onder my ma se kar gaan lê het, maar dit help nie ek dink nou eers daaraan nie.

My oog val op die sambok. Jimmy is sy naam. Dis hier waar my pa dit altyd kom haal voor hy vir my of Erik slaan. As ons stout was, sê my ma altyd: “Wag net tot julle pa kom.” Dan gaan die tyd so vinnig verby. Party kere is sy nie meer so kwaad teen die tyd dat hy by die huis kom nie, maar ander kere sê sy vir hom wat ons gedoen het en dan slaan hy ons. Dis wat nou gaan gebeur, hy gaan my slaan soos dan, maar harder. Gevlegte sambok, dit moes iemand lank gevat het om dit te maak.

Lank en dun.

My pa klim nie uit nie, hy bly in die kar sit.

Dis snaaks. Die garagedeur staan nog net so oop.

Dan hoor ek hom praat.

“Los my net uit.”

Daar’s iemand by hom in die kar. Wie sou hy saamgebring het? Hy laat altyd my ma weet omdat sy op haar senuwees is as iemand kom wat sy nie verwag het nie, en as dit iemand is wat gaan eet, moet Johanna meer kos maak.

Die een by hom is stil. Ek weet nie hoekom nie, maar ek neem aan dis ’n man.

“Ek kan nie meer nie,” sê my pa. Hy klink moeg, sy stem bewe. Sy ruit moet afgedraai wees, dis hoekom ek hom so duidelik kan hoor.

As hy met mense gesels, is hy altyd vriendelik. Hy’s nie nóú nie, dis nie iemand van wie hy hou nie. Ek het hom nog nooit so met iemand hoor praat nie en ek wonder byna of hy dronk is.

Ek wag dat hy nog iets moet sê, dan hoor ek sy deur oopgaan. My bene is lam. As hy hierheen kom!

Maar ek hoor hom buitentoe loop – en dan maak hy die garagedeur toe. Hy en die man sal nou met die trappies opgaan voordeur toe.

Ek is so verlig dat ek wil pie. Ek moet net nie te lank wag voor ek hier uitklim nie, dan wonder hy dalk waar ek is en kan hy hier kom kyk. Ek moet ook nie te gou nie, dalk is hy in die kombuis en kyk by die venster uit en sien my uitklim …

Ek tel die minute op my horlosie af. Vyf van hulle.

Ek klim uit. Dis baie makliker uit as in.

Ek stof my T-shirt en kortbroek af en gaan by die agterdeur in, waar ek byna in Erik vasloop, of hy in my. Hy mompel iets, ek dink dis: “Bly buite.” Daarom bly ek maar buite, ek speel net nie saam toe hy sy rugbybal begin skop nie. Hy lyk nie lekker nie, hy draai heeltyd só dat ek nie sy gesig kan sien nie. Dalk traak hy tog nie so min as wat ek gedink het nie.

Elke keer as ek weet dit gebeur, dit wat nou daar binne gebeur, is dit of ek nie genoeg asem kan kry nie. Of daar iets naby is wat al die lug uitsuig. Ek probeer om nie daaraan te dink nie, of wens die tyd wil vinniger verbygaan, dat dit al môre hierdie tyd kan wees. Maar hoe meer ek nie daaraan wil dink nie, hoe meer wonder ek hoe dit lyk as hy dit doen, wat hy vir haar sê, of sy iets vir hóm sê en of sy dit nie waag nie, hoe sy gesig lyk, wát hy alles doen en hoe lank dit aanhou, wat hom laat ophou, en dit word nie môre hierdie tyd nie, dit bly vandag, nou.

Maar dit word tog later. Seker net omdat ek daarvoor geluister het, hoor ek weer die garagedeur oopgaan. Dan my pa se kar. Hy gaan seker terug werk toe.

Toe ek my ma ’n uur later weer sien, gewaar ek geen merke aan haar nie.

“Samuel, is jou huiswerk gedoen?” Haar stem klink nie snaaks nie.

“Nee, Ma.” Ek wonder hoekom ek nie jok nie.

“Myne is klaar, Ma,” sê Erik.

“Is dit? Mooi.”

Skielik hou ek van my broer, al weet ek dit sal verbygaan. Hy doen iets wat haar goed laat voel. Hy doen altyd iets wat haar goed laat voel, dis net ek wat …

“Ek sal myne gaan doen,” sê ek.

Ek weet nie waarvoor ek gehoop het, of sy bly sal raak nie. Sy gee ’n glimlaggie, maar haar oë lag nie saam nie. Hulle is rooi.

Erik bly staan en wag vir iets.

“Ek gaan ’n rukkie lê.” Sy loop weg, vinnig. Die kamerdeur gaan hard agter haar toe.

Ek kyk na Erik. Hy trek sy skouers op. Hoekom skok dit my?

Ek gaan lê op my bed. Ek doen nie huiswerk nie, want my ma weet tog nie of ek dit doen of nié. Ek lees Rocco de Wet: Grensvegter. Of eintlik kyk ek net die foto’s.

Ek dink nie die ander man was in die huis nie. Hy het ook nie in die kar bly sit toe my pa ingegaan het nie, want ek het gekyk en daar was niemand nie. Hy moes geloop het toe hulle by die garage uit is.

Maar nou weet ek daar is so iemand. ’n Man van wie my pa nie hou nie. Hy het selfs bang geklink. Iemand wat … dit klink simpel, maar iemand wat ’n mag het oor hom.

Ek dink daardie aand aan niks anders nie. Nou is my pa weer homself. Of is hy net op dáárdie tye “homself”? Ek was bang vir wanneer hy huis toe kom, maar moes nou al geweet het daar is niks om voor bang te wees nie. Hy maak grappies. Ek dink hy lyk skaam ook, maar hy maak grappies.

“Wat is die definisie van ’n hippie?” vra hy toe dit stil raak en stil bly.

“Weet nie!” sê Erik.

“Hy lyk soos sy ma en piepie soos sy pa.”

Erik lag. My ma ook.

Ek haat myself, want ek lag saam. Dis beter. My ma kyk my nie in die oë nie en dis goed so, want ek wil nie hare sien nie.

Een ding is vir seker en dis dat ek nie weer by daai kamertjie sal ingaan nie. Ek is nie meer dáároor nuuskierig nie. Dit voel of die sementvloer se vuilgeit nog taai onder my voete sit.

• • •

Hulle sê dit gaan nie meer lank wees nie, dan kry ons TV. Die hele Suid-Afrika. Hulle het oorsee al lank televisie.

Ek kan nie dink dat dit so lekker soos fliek gaan wees nie, maar André sê sy pa sê TV gaan die bioskope seermaak. Mense gaan eerder by die huis bly om sommer net enigiets te kyk as om uit te gaan. Ek weet darem nie.

Daar is verskillende serials by die Astra, Wellington se bioskoop, en die Paarlvallei Inry. Dis swart-en-wit, maar toe maar. Daar is nie ’n beter dag as Saterdag nie, want dan sien ek die middag die nuwe episode van Cody of the Pony Express in die Astra, en die aand die nuwe een van Adventures of Captain Africa by die inry.

By die Astra kry ek soos gewoonlik vir André op die trappies. Hulle maak eers die ticket office ’n halfuur voor die tyd oop, so halftwee. Ons sit nooit by die Engelse kinders nie. ’n Paar van hulle is Jode. Bertie en Jakes in my klas het nou begin om te gaan fliek met twee meisies uit standerd drie. Ek dink dis net om af te wys dat hulle die meisies het.

Aan die einde van laas week se episode van Cody of the Pony Express, wat ’n western is, wou die outlaws ’n koets beroof. Cody beland bo-op die koets nadat almal uitgespring het, die perde is op hol, dan sien jy hoe die koets los raak en oor ’n afgrond stort – is hy dood? Ek het met André ’n bet gemaak oor wat vandag sal gebeur, en ek was reg:

Chapter 5

CODY TO THE RESCUE

Nou sien jy Cody het van die koets afgespring net voor dit oor die afgrond gestort het.

André sal vir my ’n Rev moet koop; die caramel om die roomys-op-’n-stokkie kraak so lekker as jy dit byt. Binne-in is daar altyd ’n foto-kaartjie en die laaste een wat ek gekry het was van James Hunt, ’n smart ou wat resies jaag.

Cody dra ’n cowboyhoed en is jongerig, seker so agtien. Die storie gaan aan, maar dit maak eintlik nie saak wat in die middel van ’n episode gebeur nie, ek wag vir die volgende hoogtepunt en weet al as daar ’n fight kom, is dit byna klaar en gaan dit weer op só ’n manier stop. Dit is dan ook so:

Cody en sy pel volg die outlaws op perde nadat hulle army rifles gesteel het, maar die crooks veroorsaak ’n rotsstorting. Daar is ’n moewiese ontploffing en ’n klomp rotse val. Daar is mense op perdewaens aan die onderkant. Gaan hulle doodgeval word?

See what happens in

THE FATAL ARROW

chapter six of

CODY of the PONY EXPRESS

at this theatre next week

Die fliek wat daarna kom, is nie die helfte so goed soos die serial nie. Daar is te veel mense wat net staan en praat.

“Action! Action!” begin van die kinders roep. Die man wat die Astra bestuur, kom maak hulle stil, maar dis nie lank nie of hulle roep weer: “Actioooon!” Dis vir my baie snaaks, want hulle sal mos nie die mense op die doek kry om te baklei of te hardloop deur dit te doen nie.

Die ure tussen die middag se fliek en die aand s’n is maar net gewone tyd soos op ander dae en alles gaan maar net aan Creedence Clearwater Revival Patty Hearst “Band on the run” Paul McCartney & Wings The sting IRA-bomme Cobus Rossouw Seun van die wildtemmer joggers Jimmy Connors The Carpenters Robert Redford Opel Richard Nixon Papillon Rolling Stones Rosenkowitz-sesling “Waterloo” Abba Afrika-hongersnood Peter Revson Gé Korsten “Ek verlang nog altyd” Mynie & Jan woordverwerkers Björn Borg Skylab The Sweet The towering inferno sakrekenaars BJ Vorster Simon & Garfunkel Springbok Hit Parade Bruce Lee Herbie rides again ketties David Bowie Môre, môre Hans Strydom Sybel Coetzee vier biljoen mense Evel Knievel “Seasons in the sun” Terry Jacks Leonid Brezjnjef The great Gatsby Henry Kissinger side-whiskers Clint Eastwood Chris Evert Deep Purple Charles de Gaulle-lughawe Serpico Anneline Kriel Billie Jean King “I honestly love you” Olivia Newton-John Death wish wêreldresessie Wena Naudé Beau Brummel Trevira Min Shaw Boesman en Lena Faye Dunaway safaripakke Chris du Toit The godfather Part II Joom Kippoer-oorlog Glenda Kemp Queen The Texas chain saw massacre Wêreldbeker Wes-Duitsland Gunston Murder on the Orient Express Muhammad Ali Dolly Parton en ek kry eers weer lewe toe ek, my pa, my ma en Erik so sesuur in die Mercedes na die Paarlvallei Inry toe ry.

Die karre maak al ’n lang tou na die hokkie waar jy moet betaal. Dis nog nie donker nie, maar hulle het al oopgemaak en die karre beweeg een op ’n slag vorentoe, vorentoe.

Die lekkerste fliek wat ek al hier gesien het, was Live and let die, met ’n ou in wat met ’n slang dans, die kar se tyre wat stukkend gesny word en die bus wat so in die helfte onder die brug afgekap word. As daar skielik ’n toneel is wat so spring, weet jy die sensors het iets gesny. Daar was ’n stuk waar ek seker is James Bond was op die punt om ’n meid te soen, toe spring dit sommer na ’n ander toneel.

Die fliek wat vanaand wys, is iets oor Sartana, ’n cowboyprent, en gelukkig wou my pa dit sien – laas week het ek ’n episode van Captain Africa gemis toe hy nie wou kom nie. Die vorige keer het Captain Africa aan die einde van die episode in die oerwoud in dryfsand vasgeval, hy was later tot by sy nek daarin toe …

By die eerste plek waar my pa die kar trek, kom ons dadelik agter die luidspreker werk nie. Ons ry na ’n ander plek, een ry agtertoe.

En nou lag ons vir mense wat stilhou op daai plek – dis ’n goeie een behalwe vir die luidspreker wat nie werk nie, en keer op keer dink iemand hy slaan nou ’n vet slag. Hulle parkeer skuins teen die bultjie, die ou draai sy ruit af, sit die luidspreker in … en hulle ry.

“Hier kom nog een!” roep Erik uit.

“Sagter,” sê my pa, maar ek kan sien hy geniet dit ook.

Die motor ry weer. Hulle soek ’n oop kol. Moes vroeër gekom het! Hoe verder agtertoe jy staan, hoe swakker sien jy.

Ons wag lank, of dit voel vir my lank, voor dit donker genoeg is vir die advertensies om te begin. Dít moet ook nog altyd eers verbykom.

Ongeduldig kyk ek die advertensies. Die een is vir ’n winkel in die Paarl en ek gril altyd vir die winkelpoppe. Dan een vir Lunch Bars. Ek hou van Lunch Bars. Dan is daar ’n kort fliek oor landsake, SA Spieël/SA Mirror. En uiteindelik:

Columbia Pictures Corporation presents

ADVENTURES OF

CAPTAIN AFRICA

Mighty jungle avenger!

Dis die sesde episode en gelukkig is dit nie moeilik om agter te kom wat verlede keer gebeur het nie. Erik wil aanmekaar praat, maar ek maak hom stil.

Captain Africa dra so ’n stywe keppie oor sy kop, ’n masker en ’n polonektrui. Hy is ’n bietjie oorgewig vir ’n hero. Omtrent ’n kwartier later is daar ’n vuisgeveg met ’n paar ouens, maar Captain Africa wen. Ongelukkig is daar ’n crook wat hom met iets swaars oor die kop slaan, sodat hy beneweld op die grond bly lê – daar is bokant hom ’n hek met sulke skerp punte, en die crook begin draai aan ’n handvatsel sodat die hek vinnig al laer sak, en die punte gaan Captain Africa deurboor …

For the amazing answers, see

SAVED BY CAPTAIN AFRICA!

chapter seven of

ADVENTURES OF CAPTAIN AFRICA

at this theatre next week!

“Is jou senuwees nou op?” vra my ma toe dit pouse is. Sy spot met my, maar op ’n goeie manier.

“Sissie,” laat hoor my liewe broer.

“Erik, sal ek en jy gaan tjips koop?” vra my pa.

Ek kyk hoe hulle wegstap: Erik groei vinnig, maar ek dink nie hy gaan ooit so lank soos my pa word nie.

Wie was daai dag saam met my pa in hierdie kar? kom die vraag weer. Iemand wat gesit het waar my ma nou sit. Iemand vir wie my pa bang is.

“Wat dink jy?” vra sy.

“Ag, sommer.”

Haar naam is Marie, soos die aktrise Marie du Toit. Ek dink mos net aan haar as “Ma”. Marie is ’n mooi naam, en my ma het ’n mooi gesig ook. Haar hare is weer hoog en rond. Soggens is dit aan die een kant plat gelê. Sy gaan elke week dorp toe om haar hare te laat doen.

Ek kyk na die groot wit doek, deur die wasemrige ruit. Ek verbeel my daar is ’n swart-en-wit serial aan die gang en dat my ma die heldin is, en ek red haar, ek is die hero.

Dis ’n storie waar hulle baie praat. Dit moet die eerste episode wees, want sy is nog jonk, seker maar ses of sewe jaar ouer as ek. Sy word stadigaan ’n bietjie ouer, maar daar gebeur nie juis veel nie, dan stop die episode waar ’n man haar vra om met hom te trou. Hy is ’n dokter.

Gaan sy ja sê?

Dan:

’N ANDER LEWE

Episode 2

DIE REGTE BESLUIT

Met Marie Verwey en Erik Daniël Smit

Die nuwe episode begin met dieselfde stukkie as waarmee die vorige een opgehou het. Die dokter vra die mooi jong meisie of sy met hom sal trou.

Maar nou het ek haar klaar gewaarsku oor hoe dit vorentoe gaan wees, daarom sê sy vir hom nee.

Moord in die beloofde land

Подняться наверх