Читать книгу Veearts-vriende: Tania en die towerfluitjie - Helen Brain Nicky Webb Rico Schacherl - Страница 10
8
ОглавлениеFifi daag op
Die volgende middag na skool verf Tania en Pandora hulle naels in die sitkamer en eet kolwyntjies. Pandora het hulle gemaak – sy’s ’n bobaasbakster en het dubbeld soveel sjokolade as in die resep gebruik en dik sjokoladeversiersuiker bo-op gesmeer.
’n Skerp skuurgeluid in die oprit onderbreek hulle. Tania kyk by die venster uit en sien tannie Sylvia se Passat by hulle erf inry. Die uitlaatpyp sleep op die plaveisel.
“Ag nee!” kreun Tania. “Dis Felicity! Aargh!”
Pandora loer oor haar skouer by die venster uit. “Dis jammer die hele kar blaas nie net op nie,” sê sy en wys na die vonke wat agter uitslaan.
“PAN!” lag Tania en probeer geskok lyk.
Die kar stop en tannie Sylvia maak die deur oop sodat Felicity kan uitklim. Sy hou haar miniatuur Yorkie, Snoopy, in haar arms vas en selfs van die venster af kan Tania sien haar niggie se neus is rooi en daar is watte in een oorgat.
Tannie Sylvia maak die kattebak oop en haal ’n sak kruideniersware en ’n boks medisyne uit, en dan die R7 000-menger wat sy gekoop het om Fifi se spesiale smoothies mee te maak.
“Jig,” kerm Tania. “Sy bring al haar organiese, suikervrye, koringvrye kos saam met haar. Ek haat dit – my ma dwing my om al daai walglike goed te eet wanneer sy hier is.”
Pandora vat simpatiek aan Tania se skouer. “Jammer vir jou. Moet ek die cupcakes huis toe vat?”
Tania gee haar ’n vuil kyk. “Ha-ha, baie snaaks.”
Teen hierdie tyd gee Arabella al vir tannie Sylvia en Felicity soentjies en drukkies in die oprit. “Tania!” roep sy. “Jou niggie is hier.”
Tania en Pandora kyk vir mekaar en bly waar hulle is. Maar dit keer nie vir Felicity nie. Die volgende oomblik staan sy langs die rusbank en haal hard deur haar mond asem.
Tania probeer die irritasie onderdruk wat sy voel elke keer as sy haar niggie sien. Alles aan haar hang slap en lyk verlep. Haar muiskleurige poniesterte hang vaal oor haar bakore. Haar ooglede is net halfpad oop agter haar dik brilglase. Haar arms hang pap langs haar sye asof hulle aan iemand anders behoort. Selfs haar voete is binnetoe gedraai soos twee moeë duiwe wat mekaar help regop hou.
“Haai, Tania, haai, Pamela,” piep sy.
“My naam is Pandora,” sis Pan.
“My mammie thê jou naam ith Pamela,” lispel Fifi.
“Sy hou nie van daai naam nie,” sê Tania. “Ons het jou laas toe jy hier was gesê, en die keer voor dit, en die keer voor dit ook.”
Felicity word rooi in die gesig en dit lyk of sy gaan huil. Tannie Sylvia het ’n sesde sintuig – sy weet altyd wanneer Fifi in trane gaan uitbars. Sy kom ingewarrel met haar flappende malvapers rok en haar lang, maer nek.
“Skaam julle, meisies, moenie lelik met haar wees nie,” sê sy in haar toeneusstem. “Fifi is nog klein, en julle moet haar mooi behandel, hoor? Sy sukkel met allergieë.”
“Lus vir ’n cupcake, Felicity?” vra Pan en hou die bord na haar toe uit.
“Jy weet sy kan dit nie eet nie,” keer tannie Sylvia. Sy gryp Fifi en druk haar styf teen haar vas. “Sy sukkel met allergieë!”
Sy kyk diep in die meisietjie se oë. “Soet wees, my engelkind. Probeer dit geniet hier. Mamma sal nie lank weg wees nie – net sewe slapies en Mamma is weer terug, hoor? As jy nie lekker voel nie, sê vir tannie Arabella. As enigiemand lelik is met jou, sê jy dadelik vir haar, hoor?” Tannie Sylvia kyk nog een keer angstig na die boks medisyne wat sy op die tafel in die portaal neergesit het, dan tel sy haar handsak op en loop.
“Kyk mooi na Fifi, meisies,” sê Arabella toe die Passat wegry. “Ek moet terugkom by die spreekkamer. En raak ontslae van daai kolwyntjies. Dis onregverdig om dit voor Fifi te eet. Julle weet goed sy sukkel met allergieë.”
Tania sug. Dit gaan ’n lang week wees.