Читать книгу Veearts-vriende: Tania en die towerfluitjie - Helen Brain Nicky Webb Rico Schacherl - Страница 3

1

Оглавление

Ilona is ’n pyn


Dis na skool. Tania wil gaan hallo sê vir haar ma, veearts Arabella Winterbach. Maar sy moet eers verby die ontvangsdame, Ilona, kom.

“Kry daai brak hier uit!” gil Ilona toe Tania se hond, Vlooie, blaffend agter haar ingehardloop kom. “Dis ’n veearts se spreekkamer hierdie, nie ’n sirkus nie.”

Vlooie spring op die bank in die wagkamer en gryp ’n pakkie biltong van die rak lekkernye af.

“Uit, UIT, UIT!” bulder Ilona en slaan na hom met haar breinaald.

Tania probeer haar hond gryp, maar hy skiet uit tuin toe met sy stert wat soos ’n helikopter se lem woer.

“’Skuus,” sê sy. “Ek is nog besig om hom te leer.”

“Gmmmmfff,” snork Ilona. “Daai brak sal nooit maniere leer nie. Ek kan verstaan hoekom sy vorige eienaars van hom ontslae geraak het.”

Tania voel hoe haar bloed begin kook. Arme Vlooie het ’n hondelewe gehad toe hy klein was. Sy en haar ma het op die snelweg gery en gesien hoe ’n hondjie by ’n kar se venster uitgegooi word. Hulle het stilgehou en hom gered. Gelukkig het hy nie seergekry nie.

“Julle moes hom DBV toe gevat het. Ek weet nie wat jou ma besiel het om hom te hou nie,” sê Ilona neus in die lug.

Ek sal ’n Beter Mens wees, besluit Tania, en dink aan haar geliefde skoolhoof, mevrou Fourie. Ek gaan nie my humeur verloor nie. Ek gaan nie vir haar sê sy lyk soos ’n sweterige walrus, maar net nie so mooi nie.

Dit gaan nog ’n rukkie wees voor haar ma klaar is met die laaste pasiënt. Sy moet dink aan iets om oor te gesels.

“Wat’s daai om jou nek, Ilona?” vra Tania en wys na die klein silwer pypie wat aan ’n rooi koord hang.

“Dis dokter Katzenellenbogen se Towerfluitjie,” sê Ilona.

“Wat maak dit ’n towerfluitjie?” vra Tania.

Ilona snork vererg en plak haar breiwerk op die lessenaar neer. Sy brei ’n dik kabeltrui. Dit lyk baie warm en ruik na hond. Sy brei dit van haar St. Bernard, Julius, se hare.

“Eerstens,” sê Ilona asof sy met ’n simpel driejarige praat, “dis ontwerp deur dié dokter Katzenellenbogen. Jy weet … die beroemde TV-veearts. Die een vir wie ek gewerk het.”

Tania knik. Natuurlik weet sy van hom. Ilona praat aanhoudend van hom. Arabella haat hom. Sy noem hom ’n “selfingenome, selfbevorderende windlawaai”.

“Wel,” gaan Ilona verder en streel trots oor die fluitjie, “dis ’n opleidingsfluitjie wat hy vir my Julius gemaak het. Hiermee kan ’n mens ’n hond ENIGIETS leer doen.”

Tania se gesig verhelder. “Kan ek dit leen?” vra sy. “Om Vlooie mee te leer?”

“Natuurlik nie,” sis Ilona en draai haar breiwerk om om met die volgende ry te begin. “Jy sal spoeg daarin laat kom. Dan sal dit roes. En daar is net twee in die hele wêreld.”

“Hoe so?”

“Dis dokter Katzenellenbogen se eie, unieke uitvinding. Dit is die prototipe hierdie. Hy het my gevra om Julius daarmee op te lei.” Sy kyk stralend na die foto van haar jong St. Bernard wat in ’n silwer raam op haar lessenaar staan. “As enigiets met die fluitjie gebeur – ek sidder om daaraan te dink!” Sy maak moesiemond en sê: “Skoert nou. Ons probeer werk hier.”

Veearts-vriende: Tania en die towerfluitjie

Подняться наверх