Читать книгу Veearts-vriende: Tania en die towerfluitjie - Helen Brain Nicky Webb Rico Schacherl - Страница 6
4
Оглавление’n Gesinsete
Dis ’n week later. Die gesin eet saam aandete. Tania trek haar neus op vir die droë herderspastei en pap, verrimpelde groente.
“So wat gebeur met die kompetisie?” vra sy vir haar ma terwyl sy haar Brusselse spruitjies onder die skorsie se dop wegsteek. “Gaan dokter Katzenellenbogen die beoordelaar wees?”
Arabella frons vir Tania se broer, die negejarige Tiek. Sy apie, Bieber, sit op sy skouer en terg vir Vlooie wat wild blaf.
“Stil, Vlooie!” beveel sy. “Tiek, jy ken die reël. Geen apies aan die etenstafel nie.”
“Dis onregverdig,” kla Tiek. “Tania se troeteldier mag hier wees. Hoekom nie myne ook nie?”
“Want joune is ’n ongedierte,” sê professor Winterbach, wat uit sy dagdroom wakker word. Hy stop ’n groot hap herderspastei in sy mond. Die meeste daarvan val op sy baard, maar hy kom dit nie agter nie. “Ape is nare diere. Ek verstaan nie wat jy in hom sien nie.”
Bieber klou aan Tiek se hare en brabbel kwaad vir die professor. Vlooie blaf nog harder. Onder die tafel los die stokou labrador, Roberto, nog ’n dodelike stink wind.
Die apie skud sy vuis vir die professor en wys sy tande.
“Sjoe, Pa, die aapgevreetjie haat jou met ’n passie,” sê Tania se ouer broer, Tobias.
“Ek verseker jou die gevoel is absoluut wederkerig,” sê die professor.
“As jy ophou om jou hond etenstye by die huis te laat inkom, sal sulke goed nie gebeur nie,” sug Arabella. “En eet jou groente. Moenie dit vir Roberto voer nie.”
“Goeie hemel, Tania, het jy jou Brusselse spruitjies vir Roberto gegee?” grom die professor en gluur vir die ou hond onder die tafel. “Hy gaan nou nog stinker winde los.”
“Uit met al die honde,” sê Arabella. “Tania, vat hulle buitentoe, asseblief.”
“Dis onregverdig! Hy blaf net omdat daai simpel aap op Tiek se kop sit. En arme Roberto is oud,” maak Tania beswaar.
“Nou dadelik, asseblief,” sê Arabella ferm.
Ek wens ek kon by Pan bly, dink Tania terwyl sy die honde by die kombuisdeur uitvat. Haar beste vriendin, Pandora, is ’n enigste kind. Sy bly in ’n beeldskone huis met leermeubels en niks gemors wat oral rondlê nie, en hulle huishoudster is ’n baaskok.
“So het hy toe ja gesê?” vra Tiek vir Arabella toe Tania terug is by die tafel. “Het die beroemde dokter Katzenellenbogen gesê hy sal die hondekompetisie doen?”
“Ilona het eers vir dokter Katzenellenbogen gewerk,” grinnik Tobias. “Het sy dit al genoem?”
Arabella gooi hom met haar servet. “Moenie lelik wees nie, Tobias. Ongelukkig,” sê sy vir Tania, “het dokter Katzenellenbogen ja gesê. Ons gaan nou nooit die einde daarvan hoor nie.”
Deur die kombuisvenster sien Tania hoe krap Vlooie gate in die groentetuin. Wortels waai in alle rigtings. Vlooie is ’n wonderlike hond, maar hy moet regtig gedissiplineer word. Hy luister nie na ’n woord wat enigiemand sê nie. Hy is soos Tiek, maar erger.
“Ek gaan vir Vlooie inskryf,” sê sy. “Hy gaan die eerste prys van R1 000 wen.”
“Ja, vir seker,” grinnik Tobias. “Ek wil nog sien hoe leer jy daai hond maniere.”
“Moenie so lelik met jou suster wees nie,” raas Arabella. “Tania, ek dink dis ’n wonderlike idee. Kyk gerus wat jy hom kan leer. Die geld sal welkom wees.”
“Ek gaan van hom ’n kampioen maak,” sê Tania. “Julle sal sien.”