Читать книгу Veearts-vriende: Tania en die towerfluitjie - Helen Brain Nicky Webb Rico Schacherl - Страница 7
5
Оглавление’n Geheime resep
Die volgende dag is Saterdag, en Tiek gaan na ontbyt dadelik af na Chanza toe. Chanza bly in die woonstel onder hulle huis saam met Arabella se assistent, Unathi.
“Tania gaan vir Vlooie leer sodat hy die prys kan wen vir die Gehoorsaamste Hond by die skool se kermis,” vertel Tiek vir Chanza terwyl hulle na die tuinhuisie toe loop.
“Ek wens ons kan R1 000 wen,” sê Chanza.
“Ons kan vir Bieber inskryf.” Tiek krap die apie se kop. Bieber klou aan sy skouer vas en klappertand sag.
“Daar’s net een klein probleempie. Hy’s nie ’n hond nie,” sê Chanza. “En die tweede probleem is hy’s die ongehoorsaamste aap wat ek ken.”
“Ja, hy sal ’n kompetisie vir die Slegste Maniere maklik wen …” sê Tiek terwyl die apie op die wasgoeddraad spring en onderstebo aan een van Tobias se T-hemde hang. “Dink jy hulle gaan so ’n kompetisie ook hê?”
“Ek twyfel,” sê Chanza. “Hoe gaan ons genoeg geld vir die Superslim Wetenskapstel bymekaar maak? Ons het nog R130 nodig.”
Tiek gryp sy arm. “Raai wat! Jy gaan dit nie glo nie – ek het die formule vir jeukpoeier gekry!”
“Fokus, Tiek, fokus!” Chanza klap Tiek teen die kop. “Hoe maak ons R130 bymekaar vir die Superslim Wetenskapstel?”
Tiek klap hom terug. “Maklik, DOOFUS, ons maak jeukpoeier en ons verkoop dit. Duh! Daar’s ’n ou wat dit op eBay verkoop. Mense betaal honderde dollars vir die goed. Ons kan dit by die skoolkermis verkoop.”
Chanza lyk verstom. “Ernstig? Al probleem is – waar kry ons die goed om dit mee te maak? Die professor gaan nie daarvan hou as ons dit uit sy laboratorium steel nie. Nie na laas nie …”
Tiek lyk tevrede met homself. “Die hoofbestanddeel is maklik. Het jy al daai rooi knoppe op my ma se rose gesien?”
Chanza knik. “Roosbottels?”
“Wel, as jy hulle oopmaak, het hulle klein haartjies binne-in, en dis die jeukpoeier. So eenvoudig soos dit.”
Chanza lyk beïndruk. “So al wat ons moet doen, is om vyfhonderd roosbottels te kry?”
“Jip,” sê Tiek. Hy hys Bieber op sy skouer en mik na die roosbedding. “Kom ons begin in die tuin.”