Читать книгу Helene De Kock Omnibus 10 - Helene de Kock - Страница 4

1

Оглавление

Die laat Aprilluggie laat ’n ligte bewing deur die hoë, donker sipresse gaan en dra die sonore stem van die predikant tot anderkant die draad, waar Damplaas se oop veld begin. Daar is ’n skaars waarneembare roering onder die klompie swart gekledes by die oop graf toe elkeen vorentoe leun om die los blomblare aan te vat en met ’n laaste gefluisterde groetwoord tot op die kis te laat fladder. Dis ’n rustige afskeid wat reeds die balsem van berusting dra, en selfs die snikke het ’n milde gedemptheid hier in die ou familiekerkhof op Damplaas.

Dis net die erfgenaam wat nog bly huiwer langs die graf en talm om sy hand na die bakkie met blomblaartjies uit te steek. Oplaas skud hy sy kop en steek sy hand in sy baadjiesak om versigtig ’n paar goudgeel populierblare daaruit te haal en dit sagkens in die graf te laat val, asof dit maar pas van die tak losgeraak het om dralend af te luier tot in die stof. Toe sug Eugene Basson diep en draai om, om saam met die ander swygsames huis toe te loop. Hy loop vinniger as die ander en loop uiteindelik heel voor, ál met die veldpaadjie langs verby die groot dam tot by die huis.

Dit was so ’n smartlike ingewing om die blaartjies te pluk, dink hy seer, maar sy pa sou daarvan gehou het. Oom Frederik het altyd die meeste van die herfs gehou – die stil seisoen, het hy dit genoem. Dit is goed dat hy in hierdie seisoen ter ruste gelê kon word, dink Eugene weer. Dis net so pynlik dat hy en Maryn vandag alleen moes wees. Hy kyk vlugtig om na waar sy suster langs haar man, Marcel Hoffman, loop, kop geboë en klemmend aan sy arm. Vandag moes Peet hier gewees het … en ook Elsje. Vandag verlang hy na Peet soos in der dae nie. Peet, aan wie hy nooit gedink het as aangenome nie, slegs maar as sy broer. Want ware broer wás hy. Eugene voel dit nou aan sy gemis, net soos hy dit gevoel het die dag toe hy agtergekom het Peet het, soos hy, vir Elsje lief, en erger, dat Elsje ook vir Peet bemin. Net ’n broer kan só kwets. Daardie dag het ook hy geweet, vir die breukdeel van ’n oomblik, hoe Kain moet gevoel het – want jaloesie was verantwoordelik vir die eerste moord. Selfs nou nog kan hy die seer, die onbewuste vernedering, aan sy hart voel rem. En tog, toe Peet en Elsje ná hul troue weg is Leiden toe, waar Peet in die regte studeer, het hy al hoe meer geweet dat Peet deel van hom is en sal bly. Ook Elsje, maar op welke manier weet hy nie meer nie. Ook sy pa het die afgelope agttien maande gesien hoe die onuitgesproke verlange na Peet, sy broer-vriend, aan hom vreet; met ’n oumensoog gekyk en geweet dat wat daardie Desembervakansie tussen die drie jong mense gebeur het, nog baie lank ’n siklus tot gevolg sal hê van verlang en verwyt en tóg verstaan.

Hy is so vasgevang in diep en seer herinnering dat hy Maryn eers opmerk toe sy aan sy arm vat. Hy kyk af in haar traannat oë, sien hoe ’n nuwe opwelling hulle laat oorloop, en hy besef dat sy suster hom op hierdie oomblik nodiger het as selfs haar man.

“Verskoon ons,” sê hy na agter en stap met haar weg oor die groot grasperke voor die wit spitsdak-opstal, loop ál met die geelgroen soom van die blinkbruin damwaters langs. Hulle praat eers nie, hy hoor net hoe sy haar so in die loop na die anderkantse wilgers toe leeg snik. Toe hulle onder die slap, ligswaaiende takke van die digte ou bome staan, met klein bruingeel blaartjies wat stadig rondom hulle neersif, draai Maryn na haar broer en rus met haar kop teen sy skouer.

“Ek … wens Peet was hier,” sê sy met ’n gedempte huilstem, en verwoord daarmee sy eie smagting.

“Ja …” antwoord hy skor, “en ook Elsje.”

Dit laat haar haar kop lig en skerp ondersoekend na hom kyk. Sedert voorlaaste Desember, toe Peet en Elsje as man en vrou hier weg is, het Eugene nog nooit weer uit sy eie oor haar gepraat nie. Hulle is nie as kwaaivriende uitmekaar nie, maar dis asof Eugene homself wou beskerm.

“Waarom?” vra sy versigtig. “Ek … ek verlang natuurlik ook na haar … maar jy?”

Eugene maak haar sagkens los van hom en staan weg van haar met sy gesig gekeer na die punte van die lang takke wat lui-roerend kringe op die damwater maak.

“Elsje Baumann is deel van ons, Maryn, net soos Peet Baumann met ons siele verweef is so seker soos enige bloedverwant …”

En albei dink daaraan dat sy so byna-byna Maryn Baumann was, as dit nie was vir die koms van ene Marcel Hoffman nie. Hy het soos ’n meteoor hul goed beplande lewe binnegeskiet, en sonder enige toedoen van sy kant af die hele patroon versteur. Maryn het besef dat sy en Peet, wat saam grootgeword het, nie vir mekaar die liefde het wat ’n man en ’n vrou vir mekaar moet hê nie, en Peet se oë het eensklaps vir Eugene se meisie, Elsje, oopgegaan. Dit was net Eugene wat magteloos en soms oënskynlik nikssiende moes ervaar wat dit beteken om die meisie van sy keuse af te gee. Al vier die ander – Maryn en Marcel, en Peet en Elsje – het gewén, net hy het agtergebly met ’n verlies wat soos lood in hom gelê het. Tog is dit in die laaste tyd asof die kwaliteit van sy verlies verander het. Hy weet nie of hy meer waarlik na Elsje verlang nie, maar wel na iémand.

“Sy is vir jou verbode, Gene,” sê Maryn sag, haar fyn hande onwillekeurig voor die bors van haar swart tweestuk saamgeklem, iets soos angs in die oë wat net so vuurblou soos dié van haar broer is.

“Jy verstaan my verkeerd, sus,” sê Eugene rustig, sy oë steeds afgewend en dwalend oor die lome kabbeling van water. “Dis maar net dat ek haar nie uitsluit by ons nie. Sy was ook baie lief vir Pa, weet jy!”

“Ek weet. Dis so oneindig jammer dat hulle nie kon kom nie. Maar ’n mens verstaan natuurlik. Ek is half bekommerd oor haar.”

“Nee wat, moenie wees nie. Peet het my gesê die dokter is heeltemal tevrede met haar. Dié soort griep maak glo so. Een dag lê jy met suurstof in die hospitaal en die volgende dag hoes jy rustig by die huis – Peet se woorde …”

Hulle kyk na mekaar en glimlag. Dis so tipies Peet, so raak en droog.

“Sy moet eintlik ’n rukkie lank na ons toe kon kom sodat die hoes in die klimaat kan opklaar,” sê Maryn bekommerd.

Eugene gee ’n droë laggie.

“Peet sal haar mos nooit laat kom nie, sus.”

Maar Maryn lag nie, sy kyk na haar broer met groeiende onrus.

“Eugene,” sê sy naderhand, toe haar dringende blik ook sy oë na haar toe trek. “Jy is die eerlikste mens wat ek ken. Jy sê en doen wat jy dink. Sê my nou, en praat die waarheid … sê my wát jy vir Elsje voel?”

’n Donker gloed styg onder Eugene se neutbruin gebrande vel op, sodat sy oë selfs blouer as gewoonlik is, maar hy kyk haar vierkant aan.

“Ek weet nie,” sê hy sonder om ontwykend te probeer wees, en Maryn laat haar asem in ’n sug uit.

“Ek glo jou,” antwoord sy onomwonde. “Maar beloof my asseblief iets …”

“En dit is?”

“Dat jy nooit met ’n vrou sal trou terwyl jy weet jy koester in jou hart ’n liefde vir Peet se vrou nie!”

Eugene se reaksie is iets tussen ’n wrang glimlag en ’n paaiende woord.

“Ek wil dit werklik nie só hê nie, Maryn. Maar wat doen ’n mens met jouself?”

“Jy moet haar vergeet, Gene, heeltemal vergeet. Ter wille van jouself en van ons almal, boetie.”

“Maar ek sê jou mos, ek weet nie meer of dit vir háár is wat ek stry om te vergeet, en of dit ’n vreemde verlange is wat woel om los te kom nie. Soms voel dit vir my asof ek myself nog nooit geken het nie. Ek weet nie meer wat in my lewe essensie het nie. Ek weet nie mooi wat ek soek nie, maar ek sóék. Miskien, as ek haar eendag weer sien, bied sy my dalk die begin van ’n oplossing.”

Maryn is stil. Dis selde dat Eugene hom so oorgee aan ’n ontboeseming, en dit stem haar tot diepe nadenke, selfs in hierdie pynlike uur.

“Ek het tóg ’n bietjie agter hom geskuil, weet jy, Maryn?” sê hy onverwags, en dit kos haar ’n goeie paar tellings om te besef hy praat van hul vader wat pas weggelê is. “Hy was my hele lewe lank maar daar … en … en sy gestalte het myne bedek. Die eerste maal dat hy vir my niks kon doen nie, was toe Peet en Elsje … toe …”

“Was dít waarom jy daardie middag byna Peet se kakebeen afgeslaan het?” vra sy met begrip.

“Ja … ek het my agterna so geskaam daaroor. Ek besef nou dat ek uiting gegee het aan ’n temperament wat nie myne is nie. So swak het ek myself in daardie stadium geken … selfs nou nog. En noudat hy weg is, sal ek eers werklik moet begin soek na Eugene Basson. Ek het maar nog net ’n vae idee van sy moontlikhede en sy swakhede.”

Maryn is so ontroer dat sy opnuut begin huil en hy haar weer teen sy skouer trek.

“Ek … ek hoop,” snik-sê sy, “dat jy Eugene Basson sommer môre sal vind, want vandag is te vol van gister.”

Eugene hou haar nog ’n oomblik vas totdat sy bedaar, vee toe haar trane deeglik met sy sakdoek af.

“Môre lyk vir my bitter ver,” sug sy net. “Kom, kom laat ons huis toe gaan … Die mense sal wonder wat van ons geword het.”

Hulle stap stadig op die breë grondwal van die dam terug. Halfpad steek Maryn vas en hou Eugene aan die arm terug.

“Jy het nie één woord oor Lilette gerep nie?” sê sy sag.

Hy draai om na haar met sy rug na die huis.

“Omdat ek nie weet wat om oor haar te sê wat aan haar reg sal laat geskied nie!”

“Voel jy werklik niks vir haar nie, Gene?”

Vir die eerste maal dié middag skyn dit asof Eugene se ysere selfbeheersing, so eie aan hom, hom wil verlaat. Sy gesig vertrek en hy bring vinnig ’n hand na sy oë.

“Já!” blaas hy die woord uit. “Dit sou alles so maklik maak, nè! Peet vat vir Elsje, en Eugene vat vir Lilette, sodat twee en twee vier maak! Ek sal jou sê wat ek vir haar voel – geen opwelling nie, geen vloed nie, maar ’n baie klein aanhoudende stroompie wat oor die berge en klowe van my huidige gemoedstoestand nóóit die see sal bereik nie!”

“Maar waarom wil jy ook nou só ver dink?” paai Maryn met ’n hand op sy arm, skrik effens toe sy die siddering voel wat deur hom gaan, voel aan die trilling van sy voorarmspiere hoe hy veg om beheersing, en sy pleit: “Gene, Lilette wil jou nóú hê!”

Eugene laat sy hand sak, kyk met rou oë verby haar na die loodblink vlak van die water wat plek-plek die skittering van die laatmiddagson begin opvang.

“Moet ek vir haar sê: kom, dat ek my in my nood aan jou kan verkleef … al vermoed ek dat die klem dalk môre sal verskuif? Is dit wat jy wil hê, Maryn? Jy wil so graag hê dat alles moet regkom, maar moenie dat jou goed bedoelde motief die saak belemmer nie!” sê hy ernstig.

Maryn staan verslae na hom en kyk. Só ontsteld het sy hom in haar hele lewe nie gesien nie. O, hy hét rede, dit weet sy saam met hom. Hulle is al twee smartlik rou, maar hierdie mens is wráng! Maak die regte lewensmaat dan só ’n verskil? Dis waar, sy het vir Marcel en vannag kan sy saam met hom ween, en in die dae wat kom, sal hy haar vertroos. Eugene het niemand.

“Vergewe my, boetie,” sê sy, neem sy groot hand met albei hare vas, kyk in die oë wat hy vurig op haar rig, en sien en voel hoe hul gedeelde leed dit weer goed maak tussen hulle. Maar sy ken Eugene. Wat hy gesê het, het hy gesê. En dis sekerlik die laaste keer dat sy sal probeer om sy lewe vir hom goed te maak. Sy sal soos alle moeders en susters moet terugsit en bid.

Toe hulle hulle ’n paar minute later by die ander begrafnisgangers in die ruim sitkamer van Damplaas se opstal voeg, kom Marcel – ’n lang, ligte man met ’n kort baardjie – hulle besorg tegemoet. Maar Maryn wys met ’n klein handgebaar aan hom dat alles in die omstandighede wel is. Hulle gaan sit by ’n groep bekendes wat eerbiedig, gedemp sit en gesels.

Eugene staan ’n oomblik lank besluiteloos rond in die groot vertrek, knik hier en groet daar dié wat vroeër die middag sy aandag ontgaan het. Na ’n rukkie sien Lilette hom waar sy besig is om tee te bedien, en kom dadelik na hom toe, ’n stomende koppie tee in haar hande.

Hy kyk goedig af na haar en neem die tee met ’n klein glimlag. Sy is werklik so petite; sy reik skaars tot onder sy arms. En sy lyk soos gewoonlik vanmiddag weer soos iets uit ’n prentjie. Sy is mooi sober aangetrek in ’n spierwit tweestuk met ’n swart omboorsel en ’n eenvoudige, enkele stringetjie pêrels om haar hals. Die wit hoedjie lyk besonder sjiek op haar vlamrooi hare, wat sy heeltemal weg van haar gesig bo-op haar kop dra. Haar groot bruin oë is bekommerd, ondersoekend op hom gerig, asof sy haar bes doen om elke gedagte van hom te lees nog voordat dit tot uitdrukking kan plooi op sy aantreklike gesig.

“Hoe voel jy?” vra sy byna onhoorbaar sag.

“Lafhartig,” sê hy en kyk haar vas in die oë. “Nes iemand wat ’n nuwe lewe moet begin en geen moed het daarvoor nie …”

“Almal wat langs ’n graf was, voel so,” troos sy, en trane pêrel in haar oë sodat sy vinnig wegkyk en ’n klein sakdoekie uit haar mou trek om die nattigheid weg te pink.

En dis asof daar groot berou oor Eugene spoel. Hy sluk vinnig aan sy tee, sit die koppie neer en slaan openlik ’n arm om haar sodat sy kop reg bo hare is en sy goed kan hoor wat hy sê.

“Toe maar, ek wéét jy voel ook so. Jy was lief vir hom, en hy vir jou! En jy weet ook hoe dit voel as ouers wegval.”

Sy woorde ontstem haar só dat sy haar losdraai uit sy omarming en kombuis toe loop.

Ag hemel! dink hy toe hy sy koppie weer vir een van die dorpstannies hou om vol te skink. Ek is werklik liewerig vir dié mensie, maar sy kan so oneindig gou berou by my wek. En dis regtig nie haar skuld nie. Dis suiwer my eie skuld, want ek voel skuldig omdat ek haar nie kan gee wat ek weet sy van my wil hê nie. Tog het ek nie die moed om haar dit te sê nie. Ek sien nie kans dat sy nie weer hier moet kom nie. En sy sal nie. Sy sal nooit weer kom as sy presies moet weet hoe lamsakkig onseker ek in my hart voel nie!

En so, terwyl hy hom sag geselsend by die een groep vriende en dan by die ander as gasheer aansluit, dwing sy gedagtes al om Lilette, pluk aan ou herinneringe, sodat hulle pynlik meegee en helder in sy betrokke gemoed kom staan.

Die eerste maal dat hy haar gesien het, was toe sy as verlangse familielid van Maryn se man, Marcel, hier op die dorp kom skoolhou het. Sy was so ’n skielike bondeltjie vlammende lewe. Geen mens wat met haar in aanraking gekom het, kon die onmiddellike impak wat sy maak, ontken nie. By Eugene self het sy ’n ligte en effens onwelkome beroering gebring. Hy was so diep en ernstig verweef met Peet en Elsje dat Lilette, met haar lekker loskop-sprankeling, hom terstond geïrriteer het. In daardie dae het hy haar dikwels afgejak, dikwels uit perverse magteloosheid omdat hy gesien het hoe dinge vorder tussen Peet en Elsje, en hy êrens móés bloed trek, iewers ’n soort bittersoet berou móés voel. Lilette het dit maar verduur, maar die eerste maal dat sy haar teen hom verset het, was die dag nadat hy Peet ’n pak slae gegee het omdat hy Elsje afgevry het, en hy wat Eugene is ewe sito-sito wou hê dat Lilette saam met hom moet gaan fliek. Sy het kalmpies na sy rou gesig gekyk, waar Peet hom ook darem bygekom het, en volstrek geweier. Die wonde, het sy gesê, was nie om haar onthalwe nie, hy moet haar maar liewer weer vra wanneer hy weer heel is, letterlik en figuurlik. Hy het hom verskriklik vir haar vererg. Hy wou graag kwaad word en sy het hom die kans gegee. Hy het haar weke lank vermy, en haar toe baie onverwags een middag gaan opsoek net om haar in die geselskap van ’n praterige nuwe onderwyser te vind. Hy het verwoed omgedraai en sonder ’n woord laat vat terug plaas toe. Hy was skaars terug of sy pa het hom met ’n fyn glimlag telefoon toe kom roep.

“Middag, Eugene Basson wat praat.”

“Dit klink beter. Ek kon my verbeel het, maar netnou het jy glad nie gepraat nie.”

Hy wou stik van ergernis. “Ek het nie juis kans gehad nie.”

“Eugene …” het sy skielik baie mooi gepraat. “’n Mens kom kuier vir vriende en slaan toe op vyande. Moenie weer toeslaan en vriendskap verwag nie.”

Toe het sy die telefoon baie sag neergesit, sodat hy nog ’n rukkie gestaan het, onseker of sy nog daar is of nie.

Tog het dit nog ’n ruk geduur voordat hy die telefoon normaalweg kon optel om ’n afspraak met haar te maak. En selfs tóé was hy bang, onseker, bevrees dat sy dalk nie daar sal wees nie, of dalk weer heel onskuldig in gesprek met ’n ander man. Soos nou. Sy het teruggekom uit die kombuis, haar neusie weer reg gepoeier, maar haar oë was nog duidelik geswel. En Hennie Smit, ’n gawe vriend van Eugene en vennoot van Marcel by die veeartseny-kliniek, het haar sagkens voorgekeer en staan nou in diep gesprek met haar. Eugene frons geïrriteerd. Dit was reg van die begin af so – hy is glad nie doodseker of hy Lilette vir ’n leeftyd lank wil hê nie, tog maak dit hom grensloos die joos in om haar saam met iemand anders te sien. En Hennie Smit het ’n beskeie ogie op Lilette, dié vermoed Eugene hoeka al. Maar hy weet ook nou dat hy nie werklik die moed het om hom by hulle te voeg nie. Hy kan aan hul uitdrukkings sien dat hulle in liefde en verdriet van sy pa praat, en op dié oomblik sal dit hom so ontstig dat hy dalk sy waardigheid sal verloor en soos ’n kind huil. Die blote gedagte dat hy immers dit aan sy pa se nagedagtenis verskuldig is om waardig te bly, laat warm trane tot agter sy oë stoot. So dikwels het hy sy pa dit hoor sê, dat mens altyd jou waardigheid moet behou, al gebeur wat ook al.

Met helder skryning roep hy hom ’n gesprek tussen hulle twee in herinnering net nadat Peet en Elsje in hul wittebroodsgeluk hier weg is, en hy wat Eugene is woedend teruggekom het na hy ’n onderonsie met Lilette by die dorpstennisbane gehad het. Toe sy pa hom ook nog tuis voorkeer en opsluit wil weet wat hy die dag by die koöperasie uitgerig het in verband met saadaankope, wou hy terstond sy gramskap op sy pa projekteer. Waarop oom Frederik hom darem ook op sy swaar, stadige manier vererg het.

“Gene, my seun, nou laat jy darem toe dat ’n liefdesteleurstelling jou kwaai rondgooi – en in dié proses gaan jy jou waardigheid prysgee. En nie net dit nie. Jy gaan vir jouself ’n struikelblok word, of erger nog, vir iemand anders.”

Eugene het hom in vurige protes aangestaar, heftige woorde na sy lippe voel kom tesame met die sobere wete dat sy pa reg het.

“Ek is jammer, Pa,” het hy gesê, en sy oë, waaruit die wilde frustrasie nie wou wyk nie, neergeslaan. Sy pa het niks verder gesê nie, net ’n verweerde hand op sy seun se skouer gesit. Ook dié teer gebaar, so vol deernis en begrip, het ’n dieper besef gebring: elke keer dat hy met Lilette fout gevind het oor die een of ander onbenulligheid, soos dié middag toe sy verkies het om saam met haar ou tennismaat ’n wedstryd aan te pak eerder as met hóm – wat ’n eerste dan in karate het, maar niks van tennis weet nie – het hy met haar gebaklei asof sy Elsje is. Sy verontregting wou-wou elke maal net so groot wees soos die middag toe hy Peet en Elsje in mekaar se arms kom kry het. Wat ’n dag was dít nie! ’n Dag waarin die broeiende onrus van die vakansie op Damplaas meteens oopgebars het in ’n inferno van vuur en vlam en vuurwarm emosie. Nadat Eugene en Elsje en Peet en Maryn, en ook die ingetoë Marcel, die ganse koringstrooptyd hul gevoelens tot elke prys moes verberg of ’n groot opskudding veroorsaak, het daar een middag teen die einde van Desember ’n gasontploffing by die groot droogoonde plaasgevind, wat dié duur apparaat uitmekaar geruk, en meteens die sluise in die harte van die mense van Damplaas laat oopgaan het. Toe die stilte ná die geweldige ontploffing daal, was Peet se eerste gedagte by Elsje, en Maryn s’n by Marcel, want Marcel en Elsje is laas by die oonde gewaar. Ook Eugene, wat in sy skrik in haas daarheen gekom het, het hulle só kom kry: ’n oorstelpte Peet wat Elsje vashou asof hy haar nooit wou los nie, en Maryn wat salig aan Marcel se arm hang.

Dit was sy pa, tóé reeds siekerig, wat hom daardie aand stilweg in sy kamer kom besoek het.

“Die liefde kom nie as jy hom nooi nie, my kind. Jy mag hulle nie kwalik neem nie. Ek het reg van die begin van die vakansie af gesien hoe die wind wil waai, en tog wou ek hom keer. Dis tog ewe onmoontlik.”

Maar toe Lilette hom met simpatieke bruin oë dieselfde vertroosting wou bied, het hy haar sonder meer afgejak, sodat sy briesend van hom af weg is nadat sy hom daarvan beskuldig het dat hy hom oorgee aan selfbejammering. Sy het sekerlik rede gehad om kwaad te wees, maar wat sy gesê het, was maar halfpad waar. Hy was jammer oor wat gebeur het, ja; hy was smartlik jammer om die mooi, blonde Elsje te verloor, maar hy was meer seergemaak en kwaad omdat hy iets verloor het wat hy as syne gewaan het. Hy was baie, baie besitlik – het hy toe meteens geweet, en ook besef dat hy dit nooit voorheen geweet het nie.

Gaandeweg het die middag toe die droogoonde gebrand het en hy sy eie liefdesdroom in rook sien opgaan het, tog vervaag, sodat daar nou net soms ’n seer verlange is na iemand wat vir hom volkome vervulling sal bring. En ook na Peet – Peet, saam met wie hy ’n jong lewe lank saam gedink, gedoen en gedroom het. Net soms, op ’n rou middag soos vanmiddag, verlang hy na hom met ’n verlange wat hom wil verteer. En skielik, terwyl hy so staan met die koppie tee wat al koud geword het, weet hy dat hy hom nou, in hierdie tyd, wil sien. Hy is kapabel en klim op die eerste vliegtuig wat Leiden toe gaan en gaan gryp Peet aan die skouers om hom te sê van sy verlange na hom, om saam met hom te treur oor hul vader. Dit is hierdie besef, wat soos ’n pynlike blydskap in hom oopgaan, wat sy hart weer laat warm word, vir die eerste maal sedert sy pa se dood. Hy wil weer hê dat alles regtig, regtig moet wees soos dit was. En hy weet intuïtief dat dit een geleentheid gaan wees waar hy die kans gegun sal word om die soete in sy verlede weer te laat herlewe. Hy en Peet hoort in die gees bymekaar soos broers. Hy is nie meer te trots om te erken dat hy Peet in hierdie uur nodig het nie. En hierdie uur duur lank, dit weet hy met die nuwe insig van ’n treurende.

As die begrafnisgangers op Damplaas enigsins merk dat die erfgenaam van wyle Frederik Basson vandag geheel in homself gekeer is, laat hulle dit nie blyk nie. Hul eie gesprekke is vandag maar yl, want Frederik was ’n geliefde man. Sy verlies sal nog lank gevoel word. Daarom kyk hulle onderlangs en met simpatieke blikke na die fors geboude Eugene met sy welige donker kop en helderblou oë wat starend voor hulle uit kyk. Tog so ’n jammerte dat Peet Baumann nie hier kan wees nie; die twee was altyd onafskeidbaar. Selfs toe die slim Peet Eugene se blonde nooi afgevry het – merk een van die buurtantes fluisterend op – het die twee die saak met ’n vuisgeveg uitgemaak en klaar. Moenie glo nie – fluister een van die gemeentesusters terug – met die jong goed weet ’n mens nooit. En die mense sê juis dit lyk of hy nie kan vat kry aan die rooikoppie nie.

Toe hy sy koppie met die halfgedrinkte tee neersit, vang Eugene ’n paar woorde op wat hom tog ligweg laat lag kry, en vir die eerste maal die middag antwoord hy iemand spontaan: “Ek en die rooikop gaan nog saam-saam vir Peet en Elsje kuier, tante,” sê hy sag by die fluisterende tannie se oor, sodat sy verskrik opkyk en haar luide gefluister staak.

“Wanneer dan, kind?” wil sy dadelik onbeskaamd weet, haar ogies koeëlrond op hom gerig.

“Net sodra, tante, net sodra,” antwoord hy en tik haar op die skouer.

Maar toe hy wegstap, het alle ligte humor hom reeds verlaat. Vreemd, dink hy toe hy hom by Hennie en Lilette gaan skaar, hoe die geringste poging tot humor op só ’n dag juis die tragiek daarvan beklemtoon. En buitendien is sy grappie suur. Hy wil nie saam met Lilette gaan nie. Hy wil alleen vir Peet en Elsje gaan kuier, die saak met homself uitmaak en hom koester by die vlam van ’n ou vriendskap.

“Hallo …” sê Lilette huiwerig en raak aan sy hand, sodat hy haar vingers sag vasvat, en met haar glimlag.

“Wanneer gaan jy begin lentekoring plant?” vra Hennie in ’n poging om ’n gesprek te begin.

“Ons … ek het gedink om maar so gou moontlik te begin. Sommer môre of so.”

“Jy moet jouself eintlik nou ’n ruskansie gun. Net vir ’n paar dae. Jy het dit nodig,” sê Hennie sag.

“Nee,” sug Eugene. “Dit sal te swaar wees om stil te sit en dink.”

“Dis ook waar,” stem Hennie saam.

Hulle gesels nog ’n rukkie, en toe, tot Eugene se onnoemlike verligting, sien hy dat die mense begin groet en hy stap voordeur toe om hulle weg te sien.

’n Halfuur later het hy met elkeen wat gekom het, ’n woordjie van dank gewissel en bly daar nog net Lilette en Hennie, en Maryn en Marcel oor. Sy suster en haar man draal om weg te kom, onwillig om hom op hierdie skemeraand alleen te laat in die groot opstal met die lang gange en ruim vertrekke. Maar eindelik ry hulle ook nadat hy hulle verseker het dat hy dit nie vrees om vanaand alleen te wees nie. Dit sal hom net goed doen, sê hy. Eenmaal moet ’n mens tog besef dat alles finaal verby is, en die beste manier om dit te doen, is om in totale gesprek met jouself te wees.

Hennie Smit en Lilette bly nog, sit swygend by Eugene op die stoep en kyk hoe die laaste pers-rooi daglig in die weerkaatsing van die damwater vergly, en die bosluisvoëls in wit massas in die toppe van die verste wilgers saampak om saam die donker deur te slaap. Hier naby hulle weeklaag ’n paar kiewiete en verjaag twee tarentale wat tjirrend tot op ’n lae wilgertak vlieg op soek na dutplek vir die nag. Selfs die voëls soek die warmte van samesyn, dink Eugene met pyn, en hulle weet nie van die lewe en die dood nie.

“Niks sal ooit weer dieselfde wees nie,” sê hy sag, asof hy met homself praat.

Hennie kyk net in swygende mededoë na hom waar hy in sy swart begrafnispak, hande inmekaar gevou en met soekende oë op die lae stoepmuurtjie sit.

Dis Lilette wat haar klein handjie op sy skouer sit. “Dit sal alles nuut word, jy sal sien,” sê sy, en haar stem klink droef.

Eugene draai sy kop stadig na haar toe. “Sal dit?” vra hy in alle erns, sy mond stroef van smart. “Dit voel vir my asof alles sal stagneer noudat net ek hier is.”

“Dit is die effek van finaliteit,” antwoord Hennie bedaard. “Sorg maar dat jy in die komende dae nie te veel alleen is nie, Gene. Kom loer in daar by my en Marcel, kom speel saam met my skaak, enigiets, maar bly in sirkulasie. Dit help vir daardie dooie gevoel. Jou pa het my dié raad gegee toe my eie vader oorlede is …”

“Hy is reg, Gene,” sê Lilette sag, en hy sien hoe ’n blos haar gesig bedek voordat sy skigtig nooi: “Kom kuier ook vir my.”

Eugene ervaar weer daardie skielike vertedering wat hy so dikwels in haar teenwoordigheid ondervind. Foei, dink hy, na meer as ’n jaar van aan en af sleep met my is sy nog so onseker soos ’n meisietjie wat ’n ou vir ’n aand iewers heen moet skiet. Sy verwag ’n afjak, en dis my skuld. Hy steek sy hand na haar uit en trek haar tot teen hom.

“Ek sal,” beloof hy, “meer as ooit.”

Asof dit die sleutelwoorde tot sy vertrek is, staan Hennie op en hou ’n hand na Eugene uit.

“Ek gaan nou, ou vriend. Sterkte, hoor.” En toe, met ’n sydelingse blik na haar: “Lilette, ry jy sommer saam met my terug dorp toe?”

“Nee,” sê Eugene, en sy hand span om hare, “sy bly ’n rukkie. Ek sal haar self neem, dankie!”

Hennie knik met ’n niksseggende glimlag en stap weg oor die sagte kweek na waar sy motor in die rylaan geparkeer staan. Hulle luister stil hoe hy inklim en bedaard vertrek, hoor hoe die digte laning populiere wat al langs die groot dam loop, die geluid van sy motor se enjin demp. Toe dit alles weer stil is en die aand reeds pikswart skadu’s op die blink gepoleerde stoep gooi, roer Eugene, sodat Lilette haar hand terugtrek, onseker oor wat om te verwag.

“Ons moet nou gaan, Gene … Ek is later vanaand aan diens by die koshuis …”

Hy staan op van die muurtjie af, strek hom stram en vou toe sy arms voor sy bors.

“Ja …” sê hy ingedagte, “maar ek wil eers met jou praat.”

“Praat maar?”

Hy sug, trek haar met ’n arm nader sodat sy, klein en fyn van postuur, teenaan hom staan. Hy rus met sy ken op haar hare, voel hoe sy gaandeweg meer ontspanne raak.

“Ek het myself so gepantser gewaan, Lilette. Ek het gedink dat ek alles het – dat ek gegoed is, volop spierkrag en vernuf het, ’n paslike akademiese agtergrond … Maar toe verloor ek twee mense op verskillende maniere, albei ewe finaal, en ek is van my waan gestroop.”

“Elsje en jou pa,” sê Lilette onomwonde, en hy voel hoe sy lugtig en gespanne raak.

“Dis reg,” gaan hy nietemin onverstoord voort. “En nou weet ek nie meer wat in my lewe werklik essensie het nie.”

“Hoe kán jy so sê?” vra sy byna beangs, en wikkel haar los om in die skemerdonkerte sy gesig te probeer uitmaak. “Damplaas … wat van Damplaas?”

“O ja, natuurlik,” antwoord hy, vee paaiend met ’n hand oor haar hare. “Ek klem my vas aan Damplaas …”

“Ek sien,” val sy hom sagkens in die rede. “Ek sien nou, ja. Dis eintlik dat jy nie weet wie in die lewe vir jou essensieel is nie.” Sy gee ’n snik-laggie. “Ek het nog altyd geweet dat ek te gou daar was, nadat Elsje en Peet hier weg is. Ek was, soos omstandighede dit wou met my wat hier op die dorp kom skoolhou het, net eenvoudig te dadelik en geredelik dáár …”

“Hoe bedoel jy nou?” vra Eugene om tyd te wen, en laat haar gaan toe sy heeltemal uit sy arms uit beweeg en teen een stoeppilaar gaan leun.

“Ek bedoel, soos wat jy goed weet, Eugene Basson, dat my teenwoordigheid hier naby jou jou geen tyd gegee het vir rustige besinning nie …”

“Jy het dit vir my draaglik gemaak,” verweer hy eerlik en erkentlik.

Sy trek haar asem skerp in. “Ek is nie ’n gebore trooster nie, Gene. Ek is selfsugtig. As jy by my is, wil ek liefdesuitinge hoor, geen jammerkrete nie!”

Daar klop ’n dik stilte tussen hulle, des te meer voelbaar omdat die maan traag agter die populiere uitklim en hul bleekwit gesigte aan mekaar toon.

“Was ek dan nét jammerlik?” wil Eugene weet, sy stem ’n lae klank wat trek in die stil nag.

“Nee …” sê sy, en ’n vinnige draaibeweging van haar kop vang die maanlig in ’n blink spoortjie op haar wang. “Jy was soms dominerend en daadkragtig … en baie dierbaar.”

“Soos … wanneer?” vra hy ademloos, hoor ver weg hoe ’n korhaan skor roep en weer roep.

“Soos die keer met die piekniek by die Wolwas, toe ons op die plat klippe langs die rivier gelê het en jy my vertel het van jou drome met Damplaas en met die huis. Dáár sal ons twee nog lekker woon, het jy gesê. Maar jy het nooit weer daarvan gepraat nie – en nou weet ek dat jy jou in ’n milde oomblik bloot verspreek het …”

“Ek het nie,” weerlê hy dadelik. “Ek was net … te haastig. Ek wou die toekoms vooruitloop …”

“En nou?”

“Nou … wéét ek nie, Lilette.”

“Maar ék weet. Jy moet jou toekoms gaan haal, Eugene. Jy is iemand wat moet veg vir jou môres, dit weet ek nou. Jy sal slegs tevrede wees met ’n trofee. Jy wil niks op ’n skinkbord hê nie. Selfs Damplaas sal eers werklik joune wees as jy hier gewerk en gewoel het.”

“Dis waar,” sê Eugene ootmoedig. “En dis baie groot van jou om dit so mooi vir my te sê. Wat stel jy voor moet ek doen, Lilette?”

“Plant jou koring klaar en gaan dan weg vir ’n ruk lank,” antwoord sy asof sy reeds lank die vraag sien kom het.

“Na Peet en Elsje?” vra hy byna kinderlik.

“Dis ’n goeie begin,” antwoord sy.

Helene De Kock Omnibus 10

Подняться наверх