Читать книгу Helene De Kock Omnibus 10 - Helene de Kock - Страница 7

4

Оглавление

Eugene se intuïsie het hom nie in die steek gelaat nie. Dit het hom deels vertel wat hy graag wou weet – dat hy nie meer vir Elsje omgee soos eers nie – maar verder as dit het daar ’n sluier oor sy gevoelens gehang. Hy weet net een ding, toe hy saam met Peet hul klein woonvertrek binnestap en Elsje in ’n groot stoel sien sit, en dit is dat geen besondere gevoel by die aanskoue van haar blonde skoonheid gewek word nie.

“Eugene …” sê sy verstom, haar groot blou oë wyd van verbasing en blydskap. Sy wil dadelik orent kom, maar voordat sy op haar voete is, pak ’n hoesbui haar wat haar hele liggaam laat ruk.

“Nee, bly sit, skat,” sê Peet en druk haar terug, hou haar ’n oomblik koesterend vas.

Eugene buk by haar, neem ’n hand in albei syne en soen dit.

“Hallo, jong!” sê hy met ’n glimlag, maar sy oë tas bekommerd oor haar maer gesiggie met die blou skadu’s onder die oë.

“Hallo …” sê sy moeg, en toe vertrek haar gesig en trane pers onder haar ooglede uit. “Jou pa …” sê sy net.

Eugene knik net, sy gemoed meteens vol om die onthalwe van die twee mense wat so na aan hom is. Dat die lewe hulle in ’n stywe greep beet het, is vir hom met ’n oogopslag duidelik. Nou is hy werklik dankbaar dat hy gekom het, al is dit om heel ander redes as wat hom aanvanklik gemotiveer het. Want hy weet, hy weet dat hy en Peet mekaar in die bestek van ’n paar oomblikke gevind het soos nog nooit tevore nie. Maar noudat hy hier is, besef hy dat hulle hom nodig het.

“Ek … is so bly jy is hier,” sê Elsje toe haar hartseer bedaar, en sy glimlag bewerig met hom. “Ek sal nou vir ons koffie maak.”

“Nooit,” sê Eugene beslis. “Noudat ek hier is, maak ék die koffie. Jy en Peet kan net daar sit en mekaar bewonder.”

Hy sê dit so gemaklik dat hy eintlik daarmee alles sê, en die ander twee glimlag verlig en bly met mekaar, dankbaar dat hulle hom behou het, al moes hy soveel om hulle onthalwe aflê. Daarom laat hulle hom begaan. Hulle sit rustig en kyk hoe hy eers die warmplaat raaksien, die elektriese ketel, die blikkies tee en koffie en suiker op ’n rytjie, die piepklein yskassie en die vier bont koppies wat aan hulle ore aan hakies hang.

“Dis ’n paleis,” verklaar Eugene met ’n dramatiese armgebaar, “want dit huisves júlle mos. Mensig, dit was alleen sonder julle!”

Hulle glimlag weer. Hulle alleen weet dat dit Eugene baie moet kos om met hierdie byna onkarakteristieke storiewoorde aan hulle te sê dat gramskap gaan lê het, dat seer genees het en dat hulle mekaar nodig het soos net mense wat mekaar al jare lank ken, mekaar kán nodig kry.

Met ’n bietjie glimlaggende raad van Elsje en ’n paar raak opmerkings van Peet kry Eugene dit reg om binne ’n paar minute drie stomende koppies koffie gereed te hê. En toe begin die groot gesels. Hulle praat gedrewe, bly oomblikke lank oorstelp stil en praat weer, sit mekaar verwonderd en bestudeer. Hulle open hul gemoedere sodat woord en blik suiwerend werk en Eugene hom vir die eerste maal sedert sy pa se dood, en veel vroeër as dit, uitpraat en ’n groot deel van sy onstuimige gemoed tot bedaring kom. Dis asof daar ’n kalmte in hom oopkol, ’n stilte wat sussend werk sodat hy tot ruste kom.

Toe hulle koppies al koud geword het en Elsje vaak teen Peet aanleun, staan Eugene op.

“Nou ja, nou moet ons gaan inkruip. Ek kom môre weer.”

“Kom eet môre by ons,” nooi Elsje loom, en begin weer skud van die hoes. Peet gee water aan en gaan haal naderhand ’n bottel bruin hoesgoed van die kombuisrak af, meet vir haar ’n teelepel af en gee dit in.

Eugene skud egter sy kop.

“Nee, julle kom môre saam met my eet. Ons moet darem my koms vier, of hoe?”

Maar Peet kyk verby Eugene se donker kop, beweeg sy een skouer in ’n teken van frustrasie.

“Ek wil graag, Gene. Maar oormôre moet ek ’n werkstuk inhandig wat oor my tesis gaan. Ek sê jou wat, neem vir Elsje. Sy sal bly wees om uit te kom.”

“Graag.”

Maar Elsje lyk of sy twyfel en kyk onseker van Eugene na Peet.

“Neem dan vir Sylvie saam,” sê Peet kortweg, maar met ’n glimlag, “maar julle sal my moet verskoon.”

“Sy sal dit baie waardeer, sy’s ook maar heeldag alleen,” sê Elsje.

“Dan maak ons so,” sê Eugene en tik Peet op die skouer. “Ek begryp heeltemal!”

“Dankie, man. Ek waardeer dit baie dat jy jou oor Elsje wil ontferm.”

Hulle sê nag en Eugene sê Peet aan om liewer by Elsje te bly; hy sal met gemak weer sy verblyfplek kry.

Toe hy uit is, is daar ’n lang stilte tussen Peet en Elsje, toe sug sy en sê: “Eugene het soveel liefde om aan ander te gee.”

Peet knik.

“Dalk eis die liefde self nog elke ons van wat hy kan gee.”

“Wat laat jou só dink?”

“Ek weet nie juis nie. Ek kry net die gevoel dat hy nie hier is net om ons onthalwe nie. Het jy opgelet dat hy maar weinig oor Lilette te sê gehad het?”

“Ja, net dat sy vir hom wag.”

“Hm … Ons moet hom maar die morele steun gee wat hy nodig het. Meer kan ons nie.”

Toe loop hulle om in hul klein soldervertrekkie te gaan slaap.

Daardie nag lê Eugene lank wakker, en die gesprek van die aand vloei woord vir woord deur hom, bring opnuut ’n gevoel van geborgenheid omdat hy Peet en Elsje op so ’n heel nuwe vlak kon vind. Alles wat hy gevrees het, was ongegrond. Peet is nog Peet, en ook Elsje is waarlik nou sy suster. Dis tog verbasend dat hy werklik niks van die ou gevoel vir haar ervaar het toe hy haar vanaand weer gesien het nie. Maar hy is bekommerd oor haar. Peet het sekerlik veel van Elsje se siekte verswyg. Sy is brandmaer en asbleek. En daardie hoes. Dit kom so diep uit haar longe.

Sy gedagtes vervloei tot ’n vae onrus en breek skielik weer helder deur toe hy aan sy ontvangs by Rapenburg 49 dink. Sylvie … Sylvie met die swart gordyntjie oor haar voorkop en die hare wat vee-vee oor haar skouers as sy stap. Sylvie met die elfagtige gesiggie waaruit haar enorme donker oë ’n mens seergemaak, vraend aankyk. Sylvie, wat bosnimfie beteken …

Hy wou meer oor haar uitvra, maar het hom daarvan weerhou. Hy het geen reg om vrae oor haar te vra nie. Sy is ’n ander man se vrou. Maar watter man? Watter man kom so laat tuis en veroorsaak soveel hartseer soos hy op Sylvie se gesig gesien het toe sy die deur oopmaak? En is dit aan die man dat Sylvie hartstogtelik gefluister het: “As jy wil lieg, lieg dan ten minste só dat ek jou kan glo!” Was dit dié man wat geïrriteerd sjuut! gesê het toe hy hoor hy, Eugene, kom swaar met die ongewoon smal en steil trappe af?

Lank lê Eugene hieroor en bespiegel, voel hoe die ou drif in hom oplaai om haar onthalwe. Maar meteens besef hy dat hy sy drif, sy vurige eerlikheid sal moet beteuel soos nog nooit tevore nie. Sylvie is verbode.

Hy probeer aan Lilette dink. Dis byna onmoontlik om haar beeld op te roep, en kry hy dit nog reg, dan word dit gou verdring deur ’n ander fyn gesiggie vol hartseer vrae …

Ag Heer, vra hy laat in die nanag, help my met iets wat ek nog nie ken nie, maar wat ek voel kom, so seker soos wat ek lewe. En help my om te onthou dat ek nog altyd eerbaar was, dat ek ’n meisie gevra het om vir my te wag. Maar nou moet ek erken dat dit nog altyd vir my maklik was om eerbaar te wees. Help my nou dat ek nie alles waarvoor ek staan, verloën nie.

Toe hy die volgende oggend by Rapenburg 49 aankom en dié slag die regte knoppie druk en die groot deur oopgaan, voel hy hoe sy hart swaar en langsaam klop. Hy klim die drie stelle trappe op, veel meer vlug van voet as die vorige aand, en tik twee maal met sy wysvinger teen die leë hangkas toe hy bo kom. Peet kom skuif oop en groet hartlik.

“Ek wil al dink ek het gisteraand maar net gedroom, weet jy!”

“Nog nooit!” lag Eugene.

“Ai, man, ek wil so graag net gesels en gesels, en nou moet ek swot!”

“Weg is jy, Peet. Onthou, jy’s nie hier vir jou gesondheid nie, maar ek is wel, ou maat. Waar’s die vroumense, dat ons kan gaan eet. Ek het laat geslaap en sal met gemak ’n pannekoek so groot soos ’n wawiel verslind!”

“Ag nou ja, hulle sal jou dit seker gun, maar hulle wil sommer nou al uit voordat dit weer reën. Hier is die sleutels van ons motortjie. Elsje is van plan om jou dele van Leiden te wys wat baie interessant is, hoor. Terloops, ek is bly jy gee nie om dat Sylvie saamgaan nie. Dis net …”

“Dat Elsje aanvanklik meer op haar gemak by my sal wees as daar nog iemand is,” voltooi Eugene met ’n begrypende glimlag.

Peet staan hom ernstig en bekyk. “Ek is so dankbaar, Gene, ek en Elsje albei, dat ons jou nie verloor het nie!”

“Ek ook,” en daarmee weet al twee dat dit nooit weer nodig sal wees om te praat daaroor dat daar ’n tyd was dat daar bitterheid tussen hulle was nie. “Wat wou jy sê van Sylvie?” vra Eugene ongeërg.

Peet dink ’n oomblik na. “Net dat sy ’n liewe mensie is wat ook maar swaarkry hier, en bly sal wees om ’n bietjie uit te kom.” Dis duidelik dat Peet veel meer kan sê, maar nie van plan is om dit te doen nie. Hy gesels nog ’n paar woorde oor die weer en dat dit gaaf is dat Eugene sy parka by hom het, en groet toe om te gaan studeer. Hy verdwyn by ’n deur in na ’n klein studeerhokkie. Eugene stap deur na die woonvertrek en vind Sylvie besig om die oggend se ontbytskottelgoed te was. Sy staan met haar rug na hom toe en sien hom nie dadelik nie. Sy het ’n rooi romp en ’n wit bloesie aan, en daar klingel twee rooi armbande aan een skraal gewrig.

“Hallo,” groet Eugene bedaard, en sy swaai vinnig om.

“O, dis jy,” groet sy vriendelik, en droog haar nat hande aan ’n droë doek af en kom nader. “Elsje kom nou-nou, hoor. Sy het vanoggend ’n bietjie later gerus as gewoonlik sodat sy oral saam sal kan stap. Maar ek waarsku jou, dit sal maar rus-rus moet gaan.”

“Dit pas my,” sê Eugene met ’n glimlag en sy blou oë bly vol op haar gesig. “Sê my, help jy haar altyd so mooi?” en hy wys na die skottelgoed wat nou staan en droogdrup.

Onder sy deurdringende blik kom daar ’n diep blos oor haar ivoorwit vel en sy stoot die gordyntjie op haar voorkop met ’n senuagtige handgebaartjie weg sodat dit weer terugwaaier.

“Ek … ag, sy help my ook baie,” stamel sy.

“Gesels julle lekker as die mans so hard leer?” vra hy geamuseerd.

Daar breek ’n laggie deur die troebelheid wat tog maar vlak in haar oë lê. En hulle is blou, sien hy vanoggend in die skerper lig; diep blougroen soos die see op ’n helder dag.

“Sy beteken vir my baie,” sê sy eenvoudig.

“En voel jy beter as gisteraand? Jy het vir my hartseer voorgekom?” Die woorde is uit voordat hy dit kon keer, en hy is onmiddellik jammer daaroor. Want daar sak ’n sluier oor haar gelaat, en sy kyk hom enigsins koel aan.

“Jy vergis jou,” sê sy, steek haar hande in haar wye romp se sakke en skud die steil swart hare uit haar gesig.

Eugene draai weg, kyk by die venster uit oor die grag, wat bruin-blink in die effense sonlig lê, na die ouwêreldse gewelhuise wat styf teen mekaar aanleun.

“Ek is jammer,” sê hy gewoonweg. “Ek wou nie rêrig persoonlik wees nie. Maar kom, ek wil tóg iets van jou weet. Waar kom julle vandaan, en hoe lank julle nog moet bly, en so aan.”

Daar is ’n klein stiltetjie waarin sy skynbaar sy vrae en haar antwoorde oorweeg. Sy is nes ’n bokkie, dink hy en draai terug, glimlag gerusstellend met haar.

Één woord van my wat op die seer plek druk, en sy sal wegspring. En daar is ’n seer plek. Daar is immers geen sprake van leuens en laatkom tussen twee mense wat mekaar vertrou nie …

En meteens weet hy, sien hy dit aan die skigtige manier waarop sy na hom kyk, dat sy die vermoede het dat dit wel hy was wat gisteraand so ontydig met die trap afgekom het. En sy is uiters gevoelig daaroor, bang vir blootstelling.

Hy stap tot by haar, sy hande agter sy rug, hou haar bang oë met syne vas, dwing haar om saam met hom te glimlag oor hierdie oomblik. En wanneer Eugene regtig wil, kan hy ongelooflik oorredend wees. Soos Maryn dikwels susterlik spot: dan tree sy bose geeste in werking. Maar of dit nou so is of nie, hy weet net een ding, en dit is dat hy met ’n enkele blik wens om die verdriet uit haar oë te vee. Hy slaag ook, vir die oomblik, want sy glimlag toegeeflik.

“Is jy maar van nature nuuskierig?” vra sy, en dis asof die klein bietjie humor ’n blinkblou vonkie in haar oë laat spring en ’n warm, sagte trek na haar mond bring.

Vasgevang in dié skielike transformasie, kan Eugene nie anders as om doodeerlik te wees nie.

“Nee, selde,” sê hy, “maar ek moet net weet waar jy vandaan kom … en waarheen jy op pad is.”

Sy kyk verskrik op na die lang man voor haar. Hy is so ontstellend presies soos die beskrywing wat Peet van hom gegee het. So eerlik, deursigtig byna, so vol daadkragtige léwe, dat ’n mens die vibrasies daarvan aan jou liggaam kan voel. En dit tril tot in haar diepste wese. Wanneer laas het enigiemand, behalwe soms Elsje, ooit na haar gekyk om uit ’n diep drang van belangstelling iets omtrent haar te wete te kom? Wanneer laas het enige man, laat staan nog haar eie man, na haar gekyk asof sy die vrou bo alle vroue is?

Vir die breukdeel van ’n oomblik laat sy toe dat die wonderlikheid van hierdie man se onbetwisbare besorgdheid oor haar haar soos ’n salwing omvou. Maar sy skeur haar los uit hierdie koestering, wil skrik daarvoor, wil juig daaroor, maar druk ’n vaste klamp op haar gedagtes soos sy maar gewoond is om te doen.

“Nou ja, wat wil jy weet? Al wat ek jou kan sê, is dat ek en George mekaar sedert ons jeug ken, dat ons saam op universiteit was en toe getrou het. As hy hier klaar gestudeer het,” en sy haal diep asem, “sal ons seker maar weer teruggaan na Kaapstad waar sy ouers is. Hy wil eendag ’n praktyk as prokureur daar begin …”

“En jou ouers dan?” vra hy afwesig en dink: George wat laat kom en George wat lieg …

“My ouers woon al die afgelope vyf jaar in Rome. My pa is die verteenwoordiger van ons lugredery in Italië en Malta, en soos dit vir my lyk, sal hulle selfs ná sy aftrede daar aanbly. Daar is baie Suid-Afrikaners in Rome, weet jy, en hulle het al heelwat vriende …”

“Dis baie interessant. Mag ek jou maar Sylvie noem?”

Sy kyk hom vir ’n oomblik verslae aan, lag toe maar.

“Jy mag, Eugene. Maar wag, ek gaan nou eers vir Elsje roep.”

Hy kyk haar agterna terwyl sy ligvoet met die trap ophardloop na die soldervertrek wat Elsje en Peet se slaapkamer is. Hy hoor hoe sy klop, oopmaak en met Elsje praat. ’n Paar minute later kom hulle saam af. Elsje lyk heelwat beter vanmôre. Haar lang blonde hare is met ’n strik agter in haar nek vasgevat en haar oë blink van opgewondenheid oor die uitstappie.

“Môre, Gene,” groet sy laggend. “Jinne, ek voel soos ’n kind wat die eerste maal dieretuin toe gaan, so lank laas was ek ’n bietjie uit!”

“Môre, Els! Nou kom ons maak ’n gewoonte van hierdie uitstappies, of wat sê julle?”

“Heerlik,” sê sy, “as die weer ons net toelaat.”

Hulle stap af tot onder, en by die groot voordeur haal Sylvie en Elsje hul ligte somerjasse van ’n kapstok af om dit liggies oor hul skouers te gooi voordat hulle uitstap. En toe hulle buite in die straat kom, is daar waarlik al weer ’n wolkedek wat laag oor die grag en die bruinrooi, regop huise van Rapenburg hang, en ’n triestige wind vat-vat aan hul bene. Elsje hoes-hoes en begin ’n pilletjie suig. Dis egter nie koud nie, net troebel, sodat ’n mens lus kry om terug te draai na die beskutting van die huis met die trekkerige gang en donker trappe. Elsje en Sylvie, wat Eugene se misnoegde gesig tersluiks dophou, lag hardop.

“Nee, jong,” sê Elsje met haar wit lag, “só gou mag Holland ’n mens nie onderkry nie, hoor! Vandag is nog ’n mooi dag en ons moet dit geniet!”

“So honger soos wat ek nou is, sal ek nooit kan nie,” kla hy met sy oë op die grysheid bokant die spits gewels.

“Nou kom ons neem hom maar eerste Koffiehuis toe,” sê Sylvie.

Hulle steek die straat oor na waar die klein Hondamotortjie van die Baumanns en die Bosmans onder ’n groen eik staan. Hulle het hom saam gekoop om koste te bespaar, vertel Elsje. Hulle klim in en op Elsje se instruksies ry Eugene sonder veel moeite tot by die Gravesteen-biblioteek.

“Ons wil jou net gou hier binne wys voordat ons gaan eet. Die Koffiehuis is digby.”

Hulle klim uit en Eugene kyk na die grys gebou se goed bewaarde voorgewel, merk die fyn beeldhouwerk as omlysting van die hoofingang. Volgens Sylvie, wat al baie tyd gehad het om feitlik alles omtrent Leiden se Rijksuniversiteit na te lees, was die Gravesteen-biblioteek eers ’n tronk, en dié atmosfeer word gehandhaaf, want die studeervertrekke het nog hul seldeure en die vensters hul tralies. Sy en Elsje gaan wys gou vir Eugene waar Peet gewoonlik bedags sit en studeer, want elke regstudent kry sy eie lessenaar en kas waarin boeke en baadjies en tasse weggesluit kan word. In die laaste tyd het Peet egter meer tuis gestudeer, verduidelik Elsje, omdat sy so siek was. Dit was soms tot sy nadeel, maar noudat sy beter is, sal hy stellig weer net hier studeer.

Dis Eugene wat die skielike spanning op Sylvie se gesig eerste opmerk toe Elsje vra: “Wil jy gou-gou vir George gaan hallo sê?”

“Ek kan maar.”

Sy vrees enige onverwagse ontmoeting met haar eie man, flits dit deur Eugene se kop toe hulle twee seldeure verder aan instap en twee studente dig langs mekaar, geboë oor hul boeke sien sit: ’n groot ligte man en ’n meisie met ’n kop vol krulletjies.

“George,” sê Sylvie, en die man kyk om, kyk vinnig na die meisie langs hom, wat ook stadig omdraai, en toe weer na sy vrou.

Toe staan hy met ’n lui beweging op en kom nader, sy fletsblou oë op Eugene.

“Peet se vriend?” vra hy met ’n glimlag en nog voor iemand iets kan sê, steek hy sy hand uit.

“Eugene Basson,” antwoord Eugene gelykweg en neem die man se los groet in sy vaste greep.

Die ander meisie sit hulle ook met ’n klein laggie en bekyk, beskou veral Sylvie se fyn gesig, wit van ingehoue spanning, met ooglopende kritiese belangstelling.

“O ja,” sê George, “dis Aaltje Wiersma, en Aaltje, dis nou Peet se vriend, soos jy hoor.” Die twee glimlag met mekaar, en daar kol ’n stilte oop tussen die vyf mense in die gegrendelde stilte van die ou biblioteek.

“Ons moet nou weer gaan,” sê Sylvie haastig en haar skraal hand vat-vat na die gordyntjie oor haar voorkop.

“Het jy hulle net kom wys wat ek alles doen?” vra George heel vriendelik en tik Sylvie speels op haar ken, maar sy woorde drup van iets wat Eugene onwillekeurig laat kriewel.

“Dit sal bepaald interessant wees om te weet wat julle alles doen,” sê Eugene onskuldig, met sy oë op die dik handboek op George se lessenaar. Hy tree selfs vorentoe en blaai met ’n vinger deur een of twee bladsye, kyk toe op in Aaltje se basiliskblik. Tot op hede het sy nog nie boe of ba gesê nie, maar skynbaar is die ander haar eienaardighede gewoond. En toe, onder Aaltje se starende blik, draai Eugene die groot boek reg sodat George nie langer onderstebo hoef te lees nie. “Daar’s hy,” sê hy saggies aan Aaltje, sodat sy haar meteens versluk en regdraai om verder te studeer en te krap-krap in ’n aantekeningboekie wat sy by haar het.

“Nou kom,” sê hy aan Elsje, “kom ons gaan eet eers iets voordat ek verder wys word.” Hy lig sy hand in ’n waaigroet en stap vinnig uit met George se oë op sy breë rug. Dié se gesig het ’n dowwe rooi gloed gekry, en hy hou Sylvie aan die arm terug sodat Eugene en Elsje alleen in die koel gang af stap.

Toe hulle ’n ent weg is en bly staan om vir Sylvie te wag, sê Elsje onderlangs: “Hou jou asseblief hier uit, Eugene, hou jou asseblief uit. George is ’n gevaarlike mens, en jy het nou van hom ’n vyand gemaak …”

“Ek sal onrustig wees as hy iets anders van my is,” sê Eugene net so sag, maar sy oë blits blou.

Maar Elsje rem aan sy mou, haar oë groot. “Gene, luister na my. Ons leef ten nouste met George en Sylvie saam, en ons moet óf ’n skynvrede handhaaf, óf dit vir onsself, en glo my, vir haar ook, baie swaar maak.”

Hy kyk verwoed na haar, maar sy stem is fluistersag toe hy sê: “Geen mens het die reg om ’n ander so te terroriseer nie. Het jy haar gesig gesien? Sy was asvaal van angs, of watter mislike emosie ook al, by die blote gedagte dat sy hom moet gaan groet op jou aandrang. Watter soort man wat sy vrou behoort lief te hê, sluk haar persoonlikheid só in?”

Elsje staan verslae. “Gene …” sê sy eindelik. “Ag, Gene, dis so swaar … Maar wat gaan dit jóú aan?”

Hy hoor die teregwysing in haar woorde en klamp sy mond toe oor wat hy verder wou sê.

“Hoe kry hy geleer?” wil hy net bot weet.

Elsje sug. “Maak geen fout nie, Eugene, George is veel slimmer as Peet. Wanneer hy studeer, dan studeer hy, al vergaan die wêreld. En wanneer hy nie studeer nie, dan … wel … hy …”

“Hy pak dus alles met oorgawe aan,” vul Eugene sinies aan.

“Sjuut,” sê Elsje en draai om om gerusstellend te glimlag met Sylvie wat na hulle aangestap kom.

Een blik na die swartkop meisie se troebele bedeesdheid, asof sy pas geroskam is, laat Eugene se bloed opnuut kook, maar hy stap swygend saam met hulle na buite. Tog word hy daarvan bewus dat dit nie ’n skawende swye is na die wrywing van so pas daar in die studiesel nie. Dis asof Sylvie haarself meteens volkome oorgegee het aan sy en Elsje se begrip van die situasie, en daarom is dit nie vir haar of hulle nodig om veel te sê nie. Dis ook vir hom duidelik dat die twee vroue mekaar baie goed verstaan, want Elsje het vinnig ’n paaiende hand op Sylvie se arm gesit en sy het net winterig geglimlag en voor hulle uitgeloop.

Buite besluit hulle om sommer Koffiehuis toe te stap, want dis naby.

In die Koffiehuis is dit warm en geurig, en Elsje bestel vir hulle al drie koffie met koffieroom en vir Eugene korentebolle en Jonge Belegen, ’n lekker pittige soort kaas. Hulle drink die koffie toe dit kom en Eugene eet lekker, verklaar dat die ergste honger nou gestil is. Dit laat die twee vroue lag, en stadigaan begin hul gesprek weer vloei en ontdooi Sylvie se bevrore uitdrukking.

Daarna stap hulle na die Akademie – die hoofgebou van die Leidense Universiteit, wat ook in Rapenburg geleë is. Die grys eksterieur van die gebou, wat oorspronklik die kerk van ’n Dominikaanse klooster was, word verlewendig deur die rooi-en-wit geskilderde luike van die dakkapelle. Binnekant, in die groot lesingsaal wat dateer uit die jaar 1578, word Eugene bewus van die digte dampkring van eeue se geleerdheid. Dis asof dit ’n mens byna tasbaar omvou. Die hoë eikebalke en die koel teëlvloere dra by tot die gewyde stilte wat op sigself swye afdwing.

Eugene laat sy asem eerbiedig uit, en Elsje kyk glimlaggend na hom.

“Indrukwekkend, nè?” sê sy.

“Sjoe!” antwoord Eugene. “Peet is seker in sy element hier.”

“Hy is werklik,” sê Elsje en haar oë word sag.

Hulle gaan met die trap op na die beroemde “Zweetkamertje”, waar studente senutergende oomblikke beleef voordat hulle na die senaatsaal gaan om te promoveer. Eugene verkyk hom aan die illustrasies aan die mure, aan die menigte handtekeninge op die mure van almal wat al hier gesweet het, onder andere ook Churchill s’n, al het hy glo net ’n eredoktorsgraad hier ontvang. Hy lag lekker oor een inskripsie op die muur wat lui: Lei mij nie naar Lijden …

“So sal Peet en George ook nog hul beurt hier kry,” glimlag Sylvie. “En weet jy, hulle moet swaelstertpakke aanhê, hulle sowel as hul paranimfe wat al die reëlings vir die promosieplegtigheid moet tref.”

Die blote sprake daarvan verlig Elsje en Sylvie se gemoedere, dit kan Eugene goed sien.

“Klink my na ’n deftige affêre,” meen Eugene.

“O, dit is,” gaan Sylvie entoesiasties voort. “Na die plegtigheid is daar ’n onthaal wat ook deur die paranimfe gereël word, want hulle nooi almal in húl naam uit, sien!” Daar is ’n blos op haar wange en haar oë blink by die vooruitsig. Sy plaas haar hoop vir die toekoms op dié dag, besef Eugene, en nie omdat haar man se studie dan voltooi sal wees nie, maar omdat dit sal saamhang met hul vertrek. Sou Aaltje die eerste wees, of sou sy een van ’n reeks wees wat telkens verdwyn wanneer die Bosmans na iewers vertrek? Hy wonder. Hy weet net dat sy hart saamtrek ter wille van Sylvie.

“Sal dit in die nabye toekoms plaasvind?” vra hy.

“Min of meer. Hy en Peet sal stellig saam promoveer, so teen November se kant …”

“Ja, jy bly seker tot dan?” vra Elsje vinnig.

Eugene aarsel, glimlag oor haar gretigheid.

“As dit vir julle iets sal beteken, sal ek probeer bly.”

“Jy weet hoeveel dit vir Peet sal beteken, Gene …”

“Maar jy gaan gou verveeld wees,” konstateer Sylvie asof sy Eugene se geaardheid gou gelees het. Sy verkleur effens toe sy sy verbaasde blik op haar voel.

“Hoe weet jy?” vra hy reguit, maar sy haal net een skouer ligweg op en antwoord nie. Dis Elsje wat voorstel dat hulle mettertyd vir hom ’n werkie iewers moet kry. Eugene is dadelik daarvoor te vinde, sê aan hulle dat Mieke selfs nog beter as hulle sal weet waar hy geholpe kan raak.

“Wie’s Mieke?” wil Elsje en Sylvie tegelyk weet. En hy vertel hulle terwyl hulle weer deur Rapenburg aanstap na die nabygeleë Pieterskerk. Albei die meisies luister met ’n vrou se skerp oor, en toe hy klaar is, sê Sylvie sonder skroom: “Dié Mieke klink asof sy weet wat sy wil hê.”

“Sy’s agter jou aan,” verklaar Elsje met soveel grootogige verdoeming dat Eugene moet lag kry. Hy ontken dit ook nie, sê net paaiend dat hy nie op hom laat jag maak nie.

Maar hy, en stellig ook hulle, vergeet gou weer van Mieke de Kuiper toe hulle die groot, indrukwekkende Pieterskerk nader.

Hulle stap binne, waar hy die grootse, ruimtelike effek waardeer.

“Hier het Peet die uur van jou pa se begrafnis kom deurbring,” sê Elsje gedemp, en dit ontroer Eugene so dat hy moet wegkyk en toe moet uitstap na buite. ’n Rukkie later voeg hulle hulle weer by hom, en kan hy hulle weer in die oë kyk. Hulle besluit om maar weer van die Hondatjie gebruik te maak, want Elsje lyk moeg, al protesteer sy ook dat sy nie is nie. Oplaas moet sy ingee vir ’n hoesbui wat haar uitasem laat. Dis Eugene wat besluit dat hulle genoeg gesien het vir een dag en dat dit buitendien al lank na middagetenstyd is – en hoe lyk dit met ’n rustige ete en ’n wyntjie daarby? Hulle is dadelik geesdriftig, maar wys hom daarop dat hy in die studenterestaurante waarheen hy graag wil gaan, dié tyd van die dag net ’n boterham te ete sal kry, want dis al wat die Hollanders smiddae eet. Op sy verstomde navraag kom dit uit dat boterhamme doodgewone toebroodjies is. Hy erken ruiterlik dat hy ’n bedorwe plaasmens is en liefs nou iets behoorliks wil eet. Hulle knik net vir mekaar en weet dat hy gou sy deuntjie sal verander hier tussen die Hollanders. Maar hulle verwys hom nietemin na ’n restaurant wat in braaigeregte spesialiseer, en erken dat hulle darem self watertandlus is vir vleis wat nie na hoender of maalvleis lyk of ruik nie.

Hulle gaan na Steenstraat 51, na ’n restaurant genaamd Oudt Leyden, waar hulle in gesellige stilte heerlike biefstuk en wyn by handgekerfde Middeleeuse stoele en tafels geniet. Daarna gaan Eugene die twee by Rapenburg 49 aflaai en beloof om die aand weer in te loer vir koffie. Die Honda los hy onder die eikeboom en stap terug na De Witte Singel.

Toe hy instap by die klein hotelletjie, sien hy Mieke de Kuiper in ’n stoel sit en gesels met die eienaar, en toe haar blik op hom val, glimlag sy ingenome en sê: “Ek het vir jou gewag.”

Helene De Kock Omnibus 10

Подняться наверх