Читать книгу Helene De Kock Omnibus 10 - Helene de Kock - Страница 8

5

Оглавление

Dis eienaardig, dink Eugene toe sy oë op Mieke de Kuiper rus, wat ewe gemaklik vertel dat sy al lank op hom wag, hoe sy skielik verskyn asof sy net gewag het op ’n sleutelfrase om toetrede tot die verhoog te kry.

Sy lag en knik kameraadskaplik vir die plomp eienaar van De Witte Singel, wat met haar gesit en gesels het voordat Eugene ingekom het.

“Ek het gehoop op ’n vriendelike ontvangs,” sê sy steeds glimlaggend.

Dit laat Eugene besef dat hy haar met ’n frons staan en aanstaar. ’n Laggie plooi om sy mondhoeke.

“O nee,” spot hy, “ek is maar net verbaas dat jy so gou jou belofte nagekom het om my te kom besoek!”

“Ek is maar gou om te belowe,” sê sy en skreef haar amandel oë. “Kom drink saam met ons koffie, dan gesels ons.”

“Gaaf,” sê Eugene en gaan sit by hulle, hang sy parka oor die rugleuning van die stoel.

“Ek sien jy het klaar by die Hollandse weer aangepas – gereed vir enige gebeurlikheid,” sê Mieke, haar oë op die parka.

Eugene beskou haar ’n oomblik lank voordat hy antwoord. Sy lyk goed. Haar witblonde hare is soos hy haar laas in Utrecht gesien het, styf teen haar kop weggevat in ’n bolla in haar nek. Sy is baie fyn geklee in ’n donkergroen pakkie wat haar blondheid en haar liggroen oë beklemtoon. Die vol mond lyk steeds asof dit klaar alles gesê het, die laaste woord gespreek het. Haar wit wimpers flikker onder sy blik, maar sy verloor niks van haar serene selfvertroue nie. Háár moet ’n mens trompop loop, besluit Eugene. Jy sal jou asem en jou tyd mors deur fyn te werk te gaan.

“Sal ons oor die Hollandse weer praat?” vra hy reguit.

Sy maak haar mond oop, maar sluk ’n antwoord weg, bekyk hom met ’n nuwe oog. Die hoteleienaar staan op en maak verskoning. Hulle knik.

“Ek het jou net kom nooi om Sondag saam met my na Keukenhof te gaan,” sê sy kalm. “Dis werklik iets om te sien, eie net aan Holland.”

“Ek wil graag gaan. Maar ek is nie alleen hier nie. My vriende sal dit vreemd vind as ek die eerste Sondag wat hulle werklik aan my aandag kan gee, sommer net weggaan. Buitendien gaan ek op Sondag graag eers kerk toe.”

Sy sit ’n ruk stil, net haar lang vingers beweeg effens asof hulle nie weet of hulle op haar skoot hoort nie. Maar sy herstel gou.

“Ek is seker jou vriende sal dit ook geniet om ’n slag daar uit te kom. Wil jy hulle nie saamnooi nie?”

“Nou praat jy!”

“Dan is dit so,” glimlag sy. “Ek sal so teen elfuur Sondag hier wees.”

“Goed.” Eugene glimlag vir die eerste keer weer. “Enne, dis moontlik dat ons dalk ses mense sal wees. Dan sal ons met twee motors moet gaan.”

As sy verbaas is, laat sy dit nie blyk nie. Wat Mieke ook al is, sy is slim en geskool en weet wanneer om die leisels te laat slap hang.

“Afgespreek. Daar is geen probleem nie,” sê sy. Hy is dominerend, hierdie Suid-Afrikaner. Maar sy laat haar dit welgeval. Vir Mieke de Kuiper is dit ’n geheel nuwe ervaring om voorgesê te word, en sy vind dit nie onaangenaam nie.

“Dit sal ook goed wees as ek jou eers aan hulle kan gaan voorstel.”

“Vir goedkeuring?” vra sy met ’n fyn laggie.

“Vir kennisname,” sê hy, en kyk haar reguit in die oë. Hy het meteens tot die intuïtiewe besef gekom dat iemand soos hy, wat in sy lewe nooit suksesvol aan die klein intrige sal kan deelneem nie, liewer ook nie met woorde moet draaitjies gooi nie. “Mieke,” sê hy, “dit sal beter wees as ek en jy mekaar goed verstaan. Ek is nie te vinde vir ’n vat-en-los-verhouding nie. Ook nie vir terloopse vriendskappe nie. Buitendien, daar is iemand wat vir my wag.”

Die ligte wenkbroue skiet op. “Nou seg!” sê sy stadig. “En vir jou soort mens beteken dit alles …?”

“Ja.” Maar hy dink met ’n skryning wat byna soos ’n fisieke pyn in hom opwel: dit behoort alles te beteken. Maar het ek dit werklik die afgelope paar dae voor oë gehou? Nee. Lilette is op die oomblik slegs ’n vae skim wat meer gedempte skuldgevoelens as ware verlange wek. Tog kan ek haar nie afsweer nie. Hoe kon ek so vermetel gewees het om haar daarvan te beskuldig dat sy Hennie Smit as agterdeur oophou? Dit was waar wat sy gesê het: ek hou ook ’n deur oop. Meer as een.

“Maar jy is ’n interessante mens, Mieke,” voeg hy by. “Ek sal graag wil hê dat jy Leiden, en ook Amsterdam, vir my moet wys.”

Sy bly lank stil. “Jy is die eerste van jou soort van wie ek heel veel hou, Eugene Basson. Goed dan maar, dan is ons vriende …”

“Reg. Maar sê my, want dit pla my, waarom noem jy jouself die buitebeentjie van jou familie?”

Sy gooi haar kop agteroor op haar slanke nek, hou haar asem in. “Jy is self so blindweg eerlik. Ek wonder of jy iemand anders se volstrekte eerlikheid sal kan sluk?”

“Ek dink so.”

“Wel, ek is een grote teleurstelling vir my mense. Hulle is konserwatief en ek vrydenkend.”

“Hoe vrydenkend?”

Sy sug, keer haar gesig vol na hom. “Ek het, pas uit die skool, saam met ’n man gaan woon terwyl ek my verpleegopleiding voltooi het. Hy het iemand anders gevind, en ek het Suid-Afrika toe gegaan om weg te kom. Daar was ook iemand, ’n jong huisdokter in sy hospitaaljaar. Hy was ook alleen, hy het ook iemand gesoek …”

“My hemel, Mieke, dis nie die manier om te soek nie!” Hy het opgestaan uit sy stoel, voor haar kom staan waar sy sit. Hy is onteenseglik geskok.

“Jy weet natuurlik van ’n ander manier,” sê sy sag en sinies, en sonder dat sy ’n greintjie van haar gemoduleerde selfvertroue ingeboet het.

Hy steek sy hande ergerlik in sy langbroek se sakke, kyk fronsend op haar af.

“Ek weet, ja, en ek vermoed jy weet ook.”

Sy ignoreer die laaste gedeelte van sy sin, vra net met die snykant van haar stem: “En volg jy dit altyd na?”

“Ek probeer,” antwoord hy dadelik. “Dis nie vir my om jou te oordeel nie, Mieke, maar ek weet dat ek sal sterf van berou as ek val, juis omdat ek weet hoe ’n wonderlike genade dit is om te kan staan.”

Dit maak haar stil, en hy sien met jammerte hoe sy in haarself terugtrek en daar ’n verwarde trek in haar liggroen oë kom.

Hy steek sy hand uit en trek haar op. “Kom, jong, ek dink dis koffietyd by die Baumanns.”

Later sou Eugene menigmaal wrang wonder hoe sy besoek aan Leiden sou verloop het as hy tóé vir haar laat verstaan het dat hy nie daarin belang stel om hul vriendskap verder te voer nie.

Toe hulle teen skemer oor die voetbruggie in Rapenburg stap, styg daar ’n vae mis van die grag af op en bring die klam groen reuk van die donker water tot in Eugene se neus. Dis die eerste keer sedert sy aankoms dat hy erg bewus raak van die muwwe geur van die ou grag, so asof dié geskiedenis deurdronge, vreemde plek met sy bruinrooi regop huise en ou-ou eike langs die water skerp teen hom wil aandring.

By Rapenburg 49 druk hy die regte knoppie en die deur gaan vir hulle oop. Aan die bopunt van die trap bly Mieke staan en lag vir die leë kas voor die opening van Peet en Elsje se woonstel.

“Dit lyk soos iets wat die kraakwa kon vrygespring het,” lag sy, verduidelik toe sy sien Eugene weet nie waarvan sy praat nie. Die kraakwa, sê sy, bied vir menige arm student groot uitkoms, want omdat hier geen bergruimte vir ou meubels is nie, gooi die mense dit wat hulle nie meer gebruik nie, eenvoudig uit. Hulle laat dit op die sypaadjie staan vir een en almal om hulself te help, en dit wat oorbly, word deur die kraakwa opgetel en letterlik fyngemaal tot stof en saagsels. Sy lag weer. “Ek kan jou wed dat jou vriende al hul meubels, en dalk hul fietse ook, so gekry het.”

Eugene grinnik. “Stellig. Dit lyk maar na ’n saamgeraapte spul daarbinne.” Toe klop hy teen die hol kas.

Peet kom maak byna dadelik vir hulle oop, lyk verras om die lang blonde meisie by Eugene te sien. Eugene knik vinnig vir Peet en stel haar aan hom voor, vertel hoe hulle kennis gemaak het. Peet vra nie verder uit nie, en Eugene lei geamuseerd af dat Elsje hom deeglik vooraf moes ingelig het omtrent dié Mieke. Hulle word dan ook gul ontvang in die klein woonvertrek waar Eugene nou met nuwe oë na die geverfde meubels en ronde grasmatte kyk. Alles van die kraakwa gered, vertel Peet op sy navraag, ook die dubbelbed in die solderkamer en ’n groot mat van seilgare geweef.

Elsje en Mieke gesels, aanvanklik huiwerig, maar namate Elsje ontdooi en Mieke haar selfvertroue ’n bietjie demp, voer die twee heeltemal ’n lekker gesprek. Mieke is gou om raak te sien dat Elsje nie heeltemal wel is nie, en sy bied aan om die koffie vir haar te maak. ’n Veelseggende blik na Eugene bevestig haar vermoede dat sy daardeur heelwat in sy estimasie gestyg het. Hy glimlag goedkeurend in haar rigting. Peet weet duidelik nie wat om van die Mieke-meisie te maak nie, maar gesels op sy ou rustige trant.

Net toe hulle met die koffiekoppies in die hand sit en Mieke vir hul elkeen koffieroom uit ’n kannetjie inskink, is daar weer ’n klop aan die kas en Peet staan op om oop te skuif. Dis die Bosmans.

George kom heel op sy gemak ingedrentel met ’n hand om sy vrou se nek. Dis eienaardig, dink Eugene, maar dié gebaar van die man wek eerder die indruk van familiariteit as van intimiteit. Ook Sylvie lyk asof sy vasgehou word eerder as liefdevol aangeraak word.

“Hallo,” sê sy sag toe sy Eugene sien, kyk skugter na Mieke.

Peet stel hulle aan mekaar voor, en George kom gee Mieke die hand, bekyk haar mooitjies van kop tot tone.

“Nou toe nou, die vriendjie het nog goeie smaak ook!” groet George aweregs met slegs ’n vinnige kyk na Eugene.

Vir Mieke is dit egter nie ’n haastige kennismaking nie. Op ’n byna ongelooflik seepgladde manier het sy vir George eenkant om vir hom en Sylvie ook koffie in te skink in twee taamlik ingeduikte emaljebekers. Sylvie het, ná ’n verlore blik in die rondte, haar by Elsje op die divan geskaar. Dis net met ’n sterk wilspoging dat Eugene hom daarvan weerhou om haar vertroostend met sy oë aan te raak. Dus bepaal hy hom by Peet, vra hom meer in die besonder uit oor sy studie en oor werkmoontlikhede vir homself. Peet is ingenome met die idee dat Eugene ’n tydelike werkie wil bekom en beloof om daaroor onder die studente uit te vind. Dit val Eugene op dat niemand poog om ’n gesamentlike gesprek aan te knoop nie. Hy bly met Peet gesels; Elsje en Sylvie praat sag met mekaar en George en Mieke vind blykbaar dat hulle veel het om saam oor te lag.

“Nou ja,” sê George later toe daar ’n stilte val, “ons het eintlik kom hoor of ons Sondag die Honda kan kry om ’n bietjie uit te ry na Katwijk-aan-Zee. My vrou reken mos ek verwaarloos haar.” Net soos vroeër die dag in die Gravesteen-biblioteek, versuiker hy sy laaste woorde só dat sy toehoorders eers heelwat later die bitter proe. Net Eugene byt nie hieraan nie, kyk hom met ’n uitdrukkinglose gesig aan toe die ander effens glimlag.

Dis Mieke wat in ’n oogwink die situasie opsom, en dit na haar hand draai.

“Dis net wat ons ook kom vra het, nie waar nie, Eugene? Ons wou seer graag na Keukenhof gaan vir die dag. Maar nou kan ons mos almal saamgaan.”

Dis Elsje wat dadelik reageer, want die ander is te vasgevang in verbasing oor die vreemde meisie se gemaklike oorreding. Sy het so soetjies die gedagte in hul midde gelê dat dit steeks sal lyk as hulle weier.

“Ek wil graag gaan,” sê Elsje, en kyk pleitend na Peet. “Ons was so lank laas saam iewers heen, skat; en ek wil Keukenhof weer sien voordat ons teruggaan.”

“Goeie plan,” sê Peet, maar sy oë agter die brilglase bly nadenkend op Mieke rus.

“Uitstekend, sou ék sê,” is George se bydrae terwyl hy glimlag, en ook hy kyk na Mieke, maar daar is soveel koelbloedige spekulasie in sy uitdrukking dat Eugene ril. Sylvie sit doodstil, vee met haar vingers oor die knieë van haar jeans, kyk bo-oor hulle koppe na die grys vierkant van die venster.

“Gaaf,” sê Mieke en glimlag breed in die kring van haar nuwe vriende. “Maar ek stel voor dat ons met die NZHVM-bus na Lisse gaan. Dis nogal gesellig, en mens moet buitendien daarvandaan die entjie na Keukenhof stap.”

Die ander stem in, ietwat verdwaas deur die onbeskroomde leiding wat die vreemdeling in hul gesprek neem. Hulle gesels nog ’n rukkie oor hul voorgenome uitstappie, en later skink Peet vir almal ’n glasie Jonge Jenewer, ’n drankie met ’n milde smakie wat glad afgaan. Dis George wat die besoek verder verleng deur voor te stel dat hy afgaan na een van die Mensae – ’n groep studenterestaurante in Rapenburg – om ’n klomp poffertjies en pannekoek te gaan koop, wat moet dien as vroeë aandete. Dit word allerweë as ’n goeie plan aanvaar en Peet en Eugene gaan saam om te help dra.

Terwyl die vroue ekstra borde en eetgerei bymekaarskraap, stap die drie mans in betreklike swye na die Augustinus, een van die drie Mensae-eetplekke. Dis toe hulle toustaan saam met ’n klomp ander studente met Eugene tussen Peet en George, dat George skuins draai en met sy stem ’n toon laer as die roesemoes rondom hulle by Eugene se oor sê: “Ek sien dis nie benede jou om jouself te vermaak terwyl jou meisie mooi soet op jou wag nie.”

’n Rooiwarm ergernis trek soos ’n woestynwind deur Eugene, en hy voel hoe sy mond kurkdroog word. Sy hande klem om die rand van die lang toonbank waarlangs hulle afskuifel om hul beurt te kry. Tog glimlag hy net effens sonder om sy oë te lig van die stapels blink skinkborde op die vinieltoonbank. En hy bly stil. Meer, hy veronagsaam die vent se woorde.

Maar George Bosman laat hom nie veronagsaam nie.

“Of is jy maar net so onkundig dat jy Mieke de Kuiper nie kan lees nie?” vra hy vriendelik, net die fletse oë is priemend op Eugene gerig.

Eugene haal diep asem. “Nie so onskuldig dat ek ’n handboek onderstebo sit en lees en verwag dat mense moet dink ek leer my dood nie. En o ja, sê vir Aaltje haar aantekeninge in daardie klein boekie het regtig geen betrekking op die boek wat sy voor haar gehad het nie. Behalwe nou as jy nie Regte swot nie, maar dalk Drama. Jy weet, sla om mijn nek … je armen, vol zoete belofte … Klink soos iets uit De Verliefde Ezel van Couperus. Vreemd, ek het nooit kon dink dat Couperus in ’n Regsleerplan ingesluit sou word nie.”

Die ligte man se bleek oë word nog bleker, en dit lyk asof sy vriendelikheid, sy suikersjarme, met ’n vadoek afgevee is. George se gesig is onleesbaar, maar daar drup gif toe hy sê: “Skei uit, o vrome!”

Toe moet hulle aanstap, en Peet sien iemand raak wat saam met hom studeer en knoop gou eers met dié ’n geselsie aan. Later voeg hy hom weer by Eugene en George, betyds om die pakkies pannekoek en poffertjies met maalvleis by die ander aan te vat en te help dra. Die man met wie hy gesels het, beduie hy aan Eugene, is Hans van Loo, een van sy toekomstige paranimfe. Eugene knik met glimlaggende belangstelling, maar kan die knop op sy maag om die dood nie weggesluk kry nie. Wat het hom besiel om die man so die harnas in te jaag? Maar hy kon dit darem ook waaragtig nie duld om so in die gesig gevat te word nie.

Tog handhaaf George ’n koel vriendelikheid teenoor hom, sodat Eugene nie anders kan as om oor koeitjies en kalfies te gesels ter wille van die vrede nie. Dit word, verbasend genoeg, ’n genoeglike aand, sodat Eugene, toe hy en Mieke eindelik vertrek, begin wonder of hy hom nie George se woorde in die Augustinus-eetplek net verbeel het nie. Want George het hom met ’n klein laggie en ’n “Sien jou Sondag” gegroet asof daar nooit iets wreweligs tussen hulle gesê is nie.

Mieke is egter baie ingenome met Peet en Elsje, en ook selfs met die bra swygsame Sylvie, maar oor George raak sy liries toe hulle in die grys laataandlig terugstap oor die grag na De Witte Singel.

“Hy is nou werklik ’n leuke broeder!” sê sy met haar breë lag. “Hy sê alles so prettig, en tog so koel …”

“Ek vind hom nie prettig nie,” konstateer Eugene met ’n betrokke gesig.

“Ag kom nou, Eugene,” protesteer Mieke verbaas. “Iedereen kan tog sien dat George seer gaaf is!”

Hy gaan meteens staan onder ’n groot eik en hou haar aan die arm terug. “Mieke,” sê hy, “onthou net een ding. Jy gaan Sondag saam met my en dis met my dat jy gaan gesels!” En maak nou maar hiervan wat jy wil, dink hy geïrriteerd.

Sy maak dan ook van sy woorde presies wat sy wou, en dalk presies wat sy beoog het.

“Jaloers, Eugene? Maar goed, ek sal doen wat jy vra.” Hy sien die innige bevrediging in die amandel oë weens sy oënskynlike jaloesie, en kry lus om haar net daar en dan te ontgogel. Maar hy weerhou hom. Kan sy regtig geblameer word dat sy so ’n afleiding maak? Wat waar is, is dat hy besig is om haar as skans op te werp teen George, ter wille van Sylvie. Dit kan hy nie meer ontken nie. Daarom laat hy Mieke begaan, en wonder met diep beklemming hoe hy haar sal kan gebruik sonder dat sy seerkry en sonder dat hy oneerlik is …

Hy sien haar af by die klein motortjie waarmee sy gekom het en wat voor die hotelletjie geparkeer staan. Op sy vraag wie s’n dit is, antwoord sy skouerophalend dat haar moeder dit vir haar geleen het. Toe sy wegry, bly Eugene lank staan. Arme Mieke, dink hy, ’n jaar lank uithuisig en skaars ’n dag tuis of sy voel genoop om weer die pad te vat. Sou hulle haar dan werklik so fel veroordeel dat hulle nie eens kans sien om die swart skapie ooit weer aan te keer kraal toe nie? Sou hul houding haar tog wel so raak dat sy wildweg koers kies net om iewers ’n bietjie aandag, dalk liefde, te kry? Dit wil vir Eugene tog so lyk. Met ’n sug stap hy De Witte Singel in en gaan met die trap op na sy kamer.

Klaar uitgetrek, gaan sit hy by die klein skryftafeltjie en begin ’n brief vir Lilette skryf. Maar verder as die aanhef vorder hy nie. Dis asof sy so ver in sy verlede teruggeskuif het dat hy haar slegs met moeite kan herroep. Hy dink aan haar warmte, haar vroulikheid, haar sagte bruin oë en mond wat so geredelik lag, maar betrokkenheid bly uit. Hoe kan hy haar tog midde-in die werklikheid van die afgelope paar dae plaas? Wat moet hy vertel en wat uitlaat? En meteens weet hy: hy het klaar verander. Eers sou hy spontaan elke klein besonderheidjie van wat met hom gebeur het, aan haar oorgedra het, maar nou moet hy sif. En wéér sif. Hoe gaan hy aan haar verduidelik waarom George hom so grensloos ontstel, waarom hy Mieke bejammer, waarom hy Sylvie wil beskerm? Daarom skryf hy net van Peet en Elsje, van Rapenburg 49, skets vlugtig die Bosmans wat ook daar woon en noem van Mieke.

Toe hy eindelik die lig afskakel, is hy so gedreineer van krag en emosie dat hy dadelik aan die slaap raak.

Die volgende oggend word hy taamlik verfris wakker, maar dis steeds asof daar ’n groot bekommernis oor hom hang wat hy met die beste wil in die wêreld nie kan opsy skuif nie. Toe hy onder kom, sit Mieke jou waarlik weer vir hom en wag, reg by die ingang nes die vorige dag. Hy kan sy oë nie glo nie, wonder vlugtig of sy wel ’n huis het.

Sy groet vrolik, staan op en kom nader, fris en skoon soos ’n madeliefie in ’n wit en geel rok. Die wit hare is vanoggend in twee stertjies weerskante van haar kop vasgebind.

“Jy lyk goed,” sê Eugene met ’n onwillige lag om sy mond.

“Gaaf. Kom ons gaan eet iets,” stel sy voor.

“En dan?”

“Dan gaan ék jou Leiden wys.”

Eugene skik hom daarna omdat hy ook nie veel anders in gedagte gehad het nie. Die werksoekery kan ook maar wag vir volgende week. Die toer word vir Eugene suiwer plesier. Dit voel vir hom asof die bladsye van ’n storieboek vir hom een vir een omgeblaai word, want om elke draai is daar vir hom ’n nuwe verrassing – ’n versteekte klein binnehof, die vierkantjie gras van ’n parkie, ’n ou kerk, ’n glimp van ’n verweerde stadspoort. En reg deur Leiden vloei die Rynrivier, omlyn deur kades met huise en winkels wat in die stadig vloeiende water weerkaats. En tussen hierdie blaaie leer hy ook ’n ander Mieke ken.

In haar kokette amandel oë is daar ’n lig wat deur suiwer entoesiasme aangesteek word, en sy borrel oor van die interessantste insidente uit die geskiedenis, legendariese staaltjies en sommer net stories, soos ’n fonteintjie wat skielik uit ’n rots stroom. Sy weet skynbaar alles van alles af hier in Leiden, en praat daaroor met ’n sensitiwiteit wat getuig van haar liefde vir die plek en dit wat Hollands is. Iemand wat so kan liefhê, moet tog sekerlik kan seerkry ook, dink Eugene onwillekeurig.

Leiden, vertel Mieke hom, besit ’n groot aantal skilderagtige hoffies, maar dit vra ’n hele dag se besigtiging en moet wag tot later. Nou wil sy hom na De Nieuwe Minerva neem vir ete. Dit is in die Vrouwensteeg op die hoek van Breestraat, en dit lyk presies nog soos die ou Hollandse herberg wat dit eens op ’n tyd was.

Een van die restaurante in De Nieuwe Minerva word ’t Wynstraatje genoem, en toe hulle gaan sit, sê Mieke Eugene aan om vir hulle ’n bottel wyn uit te soek uit die eenhonderd vyf en vyftig soorte wat hier gehou word. Eugene soek ’n droë rooi wyn uit wat Mieke goedkeurend laat knik, en hulle gaan sit by die tafel gedek met spierwit linne en Hollandse erdewerk.

Toe hulle elkeen met hul glasie sit, neem Mieke een klein slukkie van hare en sê byna gebiedend: “Vertel my nou van jou wagmeisie.”

Eugene is so midde-in die werklikheid van hierdie eetplekkie met sy keurige tafels en Persiese tapyte dat dit hom ’n oomblik kos om te weet van wie sy praat.

“Waarom het jy haar nie saamgebring nie?” vervat sy voordat hy nog kan praat.

“Ek wou alleen wees,” sê hy stadig, “en Lilette verstaan dit. Sy is baie lief, die soort meisie met wie ’n man trou as hy werklik verstandig wil wees.” Hoeveel hy dáármee sê, besef hy nie, ook nie dat hy Mieke dalk op ’n rou plek raak nie.

Tog sit sy hom heel kalm en beskou asof sy so ’n onregstreekse skimp op haar wel verwag het, en dit haar nie skeel nie.

“jy wil alleen wees,” mymer sy, haar oë op die rooi vloeistof in haar glas, “en ék wil glad nooit alleen wees nie. Jy praat ook van trou en werklik verstandig wees. Maar ek sê jou nou dat George Bosman werklik verstandig was toe hy met sy Sylvie getrou het – en tog was dit verkeerd …”

“Wat bedoel jy?” vra hy vinnig, sy oë deurborend op die mooi oud-ryp gesig van die meisie oorkant hom.

“Sylvie is fyn en byna maagdelik mooi. En George … wel, hy is ’n sjarmante onderkruiper …”

“Ek dag jy vind hom prettig!” antwoord hy doodverbaas.

“Maar ek vind hom heel, heel prettig. Jy verstaan nie. By my sal hy altyd prettig wees, want iemand soos hy weet goed ek sal die klappe wat hy uitdeel net so goed teruggee. Maar Sylvie, nee. Sy’s te bang vir die lewe. Dit staan op haar gesig geskryf, of anders misgis ek my lelik.”

Dis asof daar ’n siddering in Eugene se borskas kom, ’n vibrasie wat sy woorde meteens laat losspring.

“Los Sylvie uit, Mieke! Ek waarsku jou, los haar uit!”

Die vinnige flits van begrip in Mieke se liggroen oë bring hom tot besinning.

“Luister,” sê hy lamlendig, “sy is nie teen jou bestand nie, en … dis waar … ook nie teen George nie.”

Daar sak ’n stilte oor die wit tafeltjie tussen hulle, dig soos ’n damaskdoek.

Mieke sit ongeërg haar wyn en proe-proe, haar oë afgeslaan.

“Wil jy my sê,” fluister Eugene ongelowig, “dat jy al klaar jou oog op George Bosman het?”

Sy glimlag stadig, haal haar skouers effens op.

“Is jy werklik so … so …?” poog hy verslae.

“So gemaak en so laat staan,” antwoord sy, en lag nou openlik. Eugene voel hoe woede – die woede van ’n regverdige, of so dink hy nou – soos ’n kool in hom gloei.

“Ek verbied jou,” sê hy sag maar baie duidelik, “ek verbied jou, hoor jy, om te kom moeilikheid maak op ’n plek waar ek jou uit jammerte ingelaat het.”

Sy kyk hom vierkant aan. “Ek sou sê dat dit van jou afhang, Eugene Basson.”

Dit kos Eugene etlike koue tellings om te besef dat hierdie meisie ’n spel van die allerfynste afpersing speel. Sy is ’n baie skerp waarnemer, en sy het ’n sterk vermoede dat hy vir Sylvie omgee. Dalk te veel omgee. En voordat hy sy mond kan oopmaak om haar die kop te was, skiet ’n wete hom soos ’n skroeiende vlam te binne: hy gee beslis en onherroeplik te veel om vir Sylvie Bosman. Ook dié besef kom soos ’n brandyster op sy hart neer: watter verskil is daar nou eintlik tussen Mieke de Kuiper wat rondslaap en Eugene Basson wat sy naaste se vrou begeer? hy durf nie ’n enkele klip gooi nie.

Daarom sê hy net verwese: “Ek is nie te vinde vir jou speletjies nie, Mieke.”

En sy antwoord: “Ons sal sien.”

Helene De Kock Omnibus 10

Подняться наверх