Читать книгу Helene De Kock Omnibus 10 - Helene de Kock - Страница 6

3

Оглавление

Die oggend van Eugene se vertrek is dit koud. Vroegdag al is daar misvure by die werkers se huise gemaak en nou trek die rokies in lang, lui slierte oor die werf en die veld en oor die dolblink damwater, om te meng met die mis wat daarvandaan opstyg.

Eugene het opgestaan toe dit nog donker was, vir laas sy tasse en dokumente nagegaan en hom toe soos ’n tiener wat vir die eerste maal na ’n buurpartytjie gaan, met die grootste sorg geklee. Hy wou-wou darem vir homself lag kry. Maar vlak onder die stuwende opgewondenheid is daar ’n knabbelende vrees – dat hy dalk weer kan verloor, dat hy dalk te lank gaan wegbly. Oplaas keer hy homself in die kombuis voor toe hy koffie drink. Besluit: Ek gaan, en daar is niks wat my keer om vroeër terug te kom nie. En ’n tweede gedagte: Daar is niks wat Lilette verhoed om in die vakansie vir my te kom kuier nie! Dié gedagte kikker hom so op dat hy in ’n opgeruimde stemming is toe Marcel, Maryn en Lilette voor die huis stilhou om hom te kom oplaai na Johannesburg. ’n Halfuur later het hy almal op die plaas gegroet en hulle vertrek.

Die vier jong mense ry lustig geselsend deur die winterse oggend, gaan eet in Johannesburg en dwaal lank in die middestad rond. Hulle kom kort voor vyf op die lughawe aan. Daar is nog ruimskoots tyd om eers weer rustig te gaan eet, en hulle maak so. Lilette gesels vrolik saam, maar toe die oomblik aanbreek dat Eugene die lokaal vir oorsese passasiers moet binnegaan, klem sy woordeloos aan sy arm en groot trane biggel uit haar oë. In ’n oomblik van stomme weet-nie-wat-nou-nie, druk hy haar krampagtig teen hom aan.

“Ek kom sommer gou weer. Jy moet dadelik vir my skryf. Jy moet wag vir my. Ek kom vir seker terug,” praat hy, en bly eers stil toe sy sag ’n hand oor sy lippe plaas, haar strek om hom te soen en toe vinnig tussen die mense in wegbeweeg. Half verdwaas groet hy sy suster en Marcel, draai vir laas by die toonbank om om vir hulle te waai, en stap toe deur.

Maar dis eers toe die reusevliegtuig se romp van die aanloopbaan af lig, dat Eugene ’n sidderende sug van verligting en ontlaaiing slaak. Dis asof die spanningsgreep waarin hy sedert sy vader se siekbed en afsterwe onophoudelik geleef het, stadig en byna traag verslap, en toe hulle hoog bo die grootse wydtes van die kontinent vlieg, sit hy steeds roerloos soos ’n marionet waarvan die toutjies geknip is. Tog weet hy vir die eerste maal seker dat hy die regte ding gedoen het, want selfs in hierdie kort tyd en groeiende afstand wat hulle skei, kan hy al helderder dink – oor hom en die klein rooikopmeisie. Daar is ’n goeie kans, dink hy nou in luilekker en veilige bespiegeling, dat ek en sy dalk net saam geluk sal vind. As ek my twakkerigheid, soos sy pa sou sê, my kortgebondenheid en koppigheid laat vaar, sal sy my dalk baie liefkry en ek vir haar.

Dat hierdie siening geensins deur die ware liefde onderskryf word nie, val hom glad nie op nie. Want die ware liefde ken Eugene Basson nog glad nie. Maar voordat die seisoen van die een halfrond na die ander kan glip, sal hy dit nog vind en weet hoe dit smaak om ’n struikelblok te word vir jouself en vir ander – sonder dat jy dit so wou.

Hoe langer die vlug duur, hoe meer voel Eugene hom ontkoppel van sy gebaande lewe op Damplaas, en hoe meer voel hy hom deel van die kapsule-bestaan van die geselsende, opgeruimde passasiers, almal op pad na Luxemburg via die eiland Malta. Want so het hy dit ook beplan. Hy sal ’n dag op die eiland oorbly en die wêreld daar ’n bietjie bekyk. Ook wil hy homself ’n paar uur in ’n aartsvreemde plek gun om so geheel en al los te kom van onlangse indrukke en gevoelens. Dis goed om afstand te kry – so het sy pa ook altyd gesê – want dan neem die verstand oor en die hart skik hom. Nou ja, mog dit so wees!

Die sitplek langs hom is gelukkig leeg sodat hy kan hoop op ’n taamlik gerieflike nagrus. Toe hy later die aand, na ete en ’n filmvertoning, die armleuning tussenin opslaan om skuins te lê, vang sy oog dié van ’n meisie skuins oor die paadjie. Dis ’n aantreklike witkop meisie met hoë wangbene en amandelvormige, groenerige oë, wat hom ’n lang oomblik deurtastend aankyk voordat sy haar kop met ’n effense glimlaggie om haar vol lippe wegdraai. En lank ná die kajuitligte gedoof is, sitlê Eugene met die eienaardige gewaarwording dat sy hom met een felle oogopslag klaar opgesom het, sy vernis afgestroop en hom gekategoriseer het.

Hy slaap soos ’n mens wat verskeie dagreise ver te voet afgelê het en sy kop dankbaar op die eerste plat klip kan neerlê. Hy word eers wakker toe die luidspreker liggies kraak en die passasiers aangespreek word.

“Goeiemôre, dames en here! Dit is kaptein Schmidt. Op regterhand lê Tripoli, en dan kan u maar kyk hoe die Noord-Afrikaanse kus onder ons uitskuiwe. Ons land oor veertig minute op Malta, waar sommige van u sal oorbly in die Malta Hilton. Geniet u verblyf!”

Eugene sit regop, vee met ’n hand oor sy gesig en ken wat ’n skeer benodig, en kyk reg in die gesig van die meisie van die vorige aand. Sy knik haar kop met die wit bolla effens asof in ’n groet, en kyk toe vinnig weg. Ook Eugene kyk vinnig by die luik uit om die klompie wit geboutjies op die barre geel sand wat as Tripoli aangedui word, te bekyk; sien met verbasing dat die Middellandse See werklik ’n diep turkooisblou is, en plaas toe die meisie met mening uit sy gedagtes. Toe staan hy op om te gaan skeer, en vind dat hy van die eerstes is wat wakker geword het en dus gou-gou plek kry.

Dis toe hy na sy slaapwarm gesig in die spieëltjie kyk dat hy vir die eerste maal weer daaraan dink dat hy nie vir Peet laat weet het dat hy kom nie. Dit was sy opsetlike voorneme om onaangekondig daar aan te land. Dit sal hulle geensins verontrief nie, want deur ’n agentskap het hy vir homself laat plek bespreek by ’n ou hotelletjie genaamd De Witte Singel. Dis glo ’n ou gerestoureerde kanaalhuis wat naby die universiteit geleë is en sommer ook naby die Rapenburg, waar Peet en Elsje woon.

Hy is bly dat hy so besluit het. Sonder enige voorbereiding op sy koms sal Peet se reaksie om hom te sien eerlik wees. Hy sal terstond weet hoe dit tussen hulle staan. Ja-nee, dink hy toe hy die laaste repies skuim van sy gesig vee, van nou af wil ek die dop van elke ontmoeting hier self kraak, self ontdek wat agter elke fasade bestaan, en of ek myself daarby sal kan neerlê of nie.

Toe hy weer gaan sit, hou hy sy oë neergeslaan, en bly kyk in ’n tydskrif totdat die vliegtuig begin daal vir die landing op die barre bruingeel rots in die blou-blou see. Maar Malta blyk gou vol verrassings te wees. Op die lughawe is daar twee klein bussies wat wag om die passasiers na die Malta Hilton te neem. Sommer met die intrap stamp die forse Eugene sy kop teen die lae deurkosyn dat daar ’n rooi knop sit, en hoor die gedempte lag van ’n meisie iewers agter hom – en sonder dat hy omkyk, weet hy dis die witkop. Die Maltese busbestuurder maak hewig verskoning in sy eie taal, Malti – wat Eugene later sou vasstel ’n Arabies-Italiaanse dialek is – en beduie toe in krom Engels dat die Maltese ’n klein ras is en dat menige fris Suid-Afrikaner homself al só verwond het. Eugene glimlag bedremmeld en vryf die seerplek, beloof die ontstelde Lilliputter van ’n mannetjie dat hy in die vervolg sy kop soos ’n skilpad sal intrek voordat hy in ’n bus klim.

Die hele rit na die Malta Hilton sit Eugene by die venster en uitkyk en verwonder hom aan die kaal, byna boomlose landskap op pad na die hoofstad, Valetta. Dié stad is nes die res van Malta baie Mediterreens – die ene songebakte kalksteen en blou waters. Hulle ry die voorstad Floriana binne deur die Porte des Bombes – ’n imposante sewentiende-eeuse poort. By die Kingsgate gaan hulle die stad self binne.

Hulle hou voor die Malta Hilton stil – ’n lae wit Moorse gebou met boë en pilare. In die ontvangsportaal met sy blink marmervloer kry elkeen sy kamersleutel en bagasie, en word daar in verband met bustoere op die eiland reëlings getref. Eugene besluit om die oggend op ’n boottoer te gaan.

Ná ’n heerlike ontbyt in een van die vier restaurante van die luukse hotel voeg Eugene hom by die ander toergangers en hulle word weer per bus na Valetta-hawe vervoer. Daar word hulle in groepies ingedeel. Elke groep word in ’n dghajsa, ’n vrolik geverfde weergawe van die swart Venesiese gondel, gelaai. Toe die dghajsa in sy rustige vaart om die hawe en skiereiland van Valetta vaar, steek die witkop se dghajsa Eugene-hulle s’n verby, en hy sien hoe haar vreemde liggroen oë vir hom lag. Hy knip-knip sy oë vinnig asof die wit en blou van die see en die lug en die bont bote hulle seermaak. Liewe aarde! dink hy half beklemd, wat ’n eienaardige mens.

Later die middag besoek die toergroep die Hypogeum, ’n prehistoriese ondergrondse tempel naby die dorpie Paola. En nog later verskeie kerke in Floriana en Valetta, wat Eugene met vreemde verwondering vervul. Die witkop meisie is ook in die groep, maar hou haar eenkant, kyk swygend na alles wat die gids vir hulle wys. Maar in die Sint Johannes-katedraal, waarin die eerste Groot Ridders van die Orde van Sint Johannes begrawe lê, kom staan sy reg agter Eugene terwyl hy Caravaggio se skildery Die onthoofding van Johannes staan en bewonder.

“Stormagtig en onstabiel,” sê die diep stem meteens reg by sy skouer, “en tog het hy so ’n helder en simpatieke siening gehad van die menslike dilemma.”

Eugene swaai om, sy oë feitlik op dieselfde vlak as hare, en dis die eerste maal dat hy merk hoe lank en skraal sy is. Sy mond gaan oop in hulpelose verbasing.

“Wie?”

Die liggroen oë lag.

“Die skilder,” antwoord sy lakoniek, en stap verby hom om van nader te kyk.

“O,” sê hy en verwens homself onmiddellik. Wat is hy nou nes ’n skoolseun wat betrap word dat hy met ’n ou meisietjie op die skoolterrein gesels! Hy voel sommer ergerlik. “Ek is Eugene Basson,” sê hy ietwat aggressief aan haar smal rug. Sy draai op haar tyd om, glimlag breed en vol.

“En ek is Mieke de Kuiper,” sê sy, en toe merk hy eers haar effense aksent, al praat sy vlot Afrikaans.

Dis asof daar ’n skerm tussen hulle wegskuif. Hulle staan en kyk na mekaar asof hulle pas ’n lisensie bekom het om mekaar van kyk te leer ken. ’n Klompie swart geklede ou vroutjies skuifel fluisterend verby hulle na die Hoë Altaar met sy pragtige soliede marmerbeeld van Johannes en Christus met die Doop en gaan geboë sit om te bid.

“Kom,” sê sy sag, en hy val swygend langs haar in, kyk vlietend na die witblonde kapsel hier digby sy gesig. Hulle loop stil deur party van die sy-kapelletjies en toe na buite. In die milde Mediterreense sonlig stap hulle met die trappies af na die ou kanon voor die kerk en kyk terug, laat hul oë dwaal oor die massiewe gebou.

“Hulle sê dis eintlik ’n goeie voorbeeld van die oorgangsperiode tussen die Gotiese en die Barokstyl,” sê sy en kyk skuins na hom op asof sy deelname van hom verwag.

Eugene kyk af in haar oë en blik weer vinnig weg, gee toe aan ’n kinderagtige impuls om haar te wys dat hy ook iets weet.

“Ietwat strak, is dit nie?” sê hy met ’n vae handgebaar wat die kanon ook insluit.

Sy glimlag fyn.

“Hmmm … maar Cassar was die argitek, en hy het van dié styl gehou,” sê sy.

Dit is meteens vir Eugene te veel. Hy is eenvoudig te eerlik om so ’n soort speletjie werklik te geniet.

“Kyk,” sê hy kortweg, “hierdie dinge trek my aan en fassineer my, maar my kennis daarvan is beroerd!”

Sy begin lag, ’n lae kabbelende lag, en dit klink asof die geluid sag met die trappe af die straat inrol.

“Jy is gaaf!” sê sy eindelik, en lag weer vir die konsternasie op sy gesig. “So óóp!”

“Hmf! Dis stukke beter as om te loop en voorgee!”

“Natuurlik, ja,” stem sy opeens kalm saam, maak haar oë toe en hou ’n skraal hand op. “Wag, laat ek raai. Jy… kom van die platteland … iewers in Transvaal miskien?”

“Nooit! Al wat ’n mens van Transvaal kan sê, is dat ’n mens net die Vaalrivier hoef oor te steek en dan is jy in die Vrystaat!” verweer hy met soveel oordrewe oortuiging dat haar oë oopvlieg.

“Die Vrystaat?” vra sy verwonderd.

“Damplaas in die Riemland,” antwoord hy gladweg.

Sy herhaal die woorde, en dit rol vreemd van haar tong. Sy glimlag skeef en haal haar skouers fyntjies op. “Klink mooi,” sê sy net.

“Is mooi,” brom hy, sy vuurblou oë uitdagend op haar gerig.

Sy kyk lank na hom sodat hy lus kry om verleë rond te trap, maar hy wyk nie voor haar blik nie, kyk na haar met net soveel openlike nuuskierigheid.

“Jy is lief vir jou mooi plek,” sê sy eindelik.

“Ja,” knik hy. “Sê jy my nou waarvandaan jy kom en waarheen jy gaan, Mieke.”

“Graag. Ek het ’n jaar lank in jou land verpleeg. In Johannesburg. Nou gaan ek huis toe.”

“Holland, vermoed ek?”

“O ja. Na Wassenaar, waar my ouers woon. Dan sal ek maar weer ’n verpleegwerkie iewers soek. En jy, gaan jy orals rond toer?”

“Ja en nee. Ek gaan eintlik om by vriende van my te kuier. Hulle woon in Leiden. Daarvandaan sal ek maar uitbeweeg.”

“Wassenaar is maar ’n kort entjie van Leiden af,” sê sy half ingedagte, en haar amandeloë vee oor sy sterk gesig en die breë skouers en gespierde bruin arms wat hy nou voor sy bors gevou het.

Maar Eugene is nie so naïef as wat sy uitgesproke eerlikheid hom soms laat voorkom nie, en hy glimlag net baie effentjies hierop sonder om verder daarop te reageer. O nee, dink hy, jy sal veel harder moet probeer as jy my werklik wil uitlok tot beter kennismaking. Jy mag baie lewenswys wees, gereed om te gryp wat voorkom, maar ek is versigtig. Ek het my nog nooit in my lewe deur vlugtige begeertes laat lei nie – waarom sou ek dit nou doen, noudat ek juis ingestem wil raak tot nadenke?

“Kom,” sê hy, en draai weg van haar, “hier is die ander al.”

Daardie aand gaan eet die groep in ’n tipies Maltese restaurant genaamd Coleiro’s Tavern. Omdat die ander dit skynbaar so aanvaar dat Eugene en Mieke toermaats geword het, ruim hulle vir haar ’n plek langs hom in aan die lang tafel wat spesiaal vir die gaste van die Malta Hilton gedek is.

Eugene voel nogal verleë oor die vanselfsprekende manier waarop Mieke dit aanvaar. Maar hy kan dit nie ontken nie: sy is aantreklik en ’n interessante mens.

Hulle eet ’n soort vispastei genaamd lampuki, en ’n oestergereg wat Eugene dadelik pront laat verklaar dat hy van lekkerder dinge weet. Hulle drink van Malta se plaaslik vervaardigde wit wyn en ook – vir die dors, want dis warm – ’n koeldrankie wat hulle Kinnie noem – Malta se bittersoet alternatief vir Coke.

Toe hulle die volgende oggend die vliegtuig na Luxemburg bestyg, dring dit vir die eerste maal tot Eugene deur dat hy en Mieke de Kuiper, afgesien van hierdie korterige vlug na Luxemburg, ook nog ure lank saam op die lugdiensbussie sal wees wat van Luxemburg na Utrecht loop. Nie ’n man wat hom oor die onvermydelike verknies nie, lê hy hom gou daarby neer en besluit om sommer alles omtrent haar uit te vis. Sy interesseer hom nou ten ene male.

Hulle sit ook langs mekaar in die vliegtuig en gesels land en sand tot in Luxemburg, waar hulle saam op die lugdiensbussie na Utrecht klim. Hulle ry eers deur die posseëlstaat en toe deur die malse heuwels van België, en Eugene is stil terwyl hy met die opgetoënheid van ’n eerste besoek aan Europa die wêreld sit en beskou.

Dis ’n nege uur lange rit, en spoedig begin hulle weer gesels. Sy vertel hom alles van die plekke waardeur hulle ry, vul hier en daar aan met staaltjies uit die geskiedenis, waarvan sy skynbaar honderde ken. Sy vertel egter onderhoudend en met gesag.

“Waar kom jy aan alles wat jy weet?” vra Eugene op ’n keer met ’n laggie. “’n Mens het mos nie ’n kennis van kuns en die geskiedenis nodig om te kan verpleeg nie, of hoe?”

“Nee,” sê sy met ’n glimlag, kyk ver by die venster uit na die plat aarde waar hulle Holland al binnegery het, na die jong gras en bottende bome. “Nee, jy is reg. Ek het my liefde en dalk ook my kennis van die geskiedenis by my vader gekry. Hy was ’n professor aan die Rijksuniversiteit in Leiden, en wel in die geskiedenis. Vir die kuns het hy bloot net ’n liefde gehad en sy kennis het maar daardeur aangegroei. My susters het almal, al vier van hulle, in die kuns of die geskiedenis gestudeer.”

“Net jy is anders,” sê Eugene kortweg, kyk deurdringend na haar hier langs hom.

Sy kyk kalm in sy felblou oë en ’n glimlag raak aan haar vol mond.

“Jy sal aard in Holland. Jy sê ’n ding soos wat hy is. Ja, ek is baie anders, die buitebeentjie van die familie.”

Eugene glimlag oor die uitdrukking, maar sê paaiend: “’n Interessante buitebeentjie, wat ’n mens nie sonder meer opsy skuif nie.”

Dis eers toe sy genoeglik lag dat hy besef dat hy miskien te veel gesê het.

“Niemand het my nog só opgesom nie,” sê sy. “My familie sê net altyd … O, wag, hier hou ons stil vir ete. Ek móét jou net jou eerste Hollandse pannekoek laat eet!”

En voordat hy ’n woord verder kan uitvra, staan sy op en hy is verplig om haar te volg. En toe hulle na ’n ruk weer terug is in die bus, verseker Eugene haar dat die heerlike pannekoek vol geurige gehak – maalvleis-met-kruie – baie lekkerder is as lampuki of oesters, en dat dit sekerlik sy stapelvoedsel hier in Holland sal wees. Daarna sak ’n lomerigheid oor hulle toe en voordat hy hom kom kry, knik sy kop en dut hy in vir lang ente. Na ure wat vir Eugene gevoel het asof hy in ’n sittende standbeeld verander het, kom hulle in Utrecht by die stasie aan. Toe hulle styf-styf van die bussie afklim en strammerig begin bagasie soek, neem Mieke hom onverwags aan die arm.

“Hier skei ons,” sê sy iewat dramaties. “Ek sal jou kom opsoek in De Witte Singel. My ouers was taamlik bevriend met die eienaars.”

“O …?” sê-vra Eugene, uit die veld geslaan.

“Ja, ek sal jou sê wat – ek kom haal jou een Sondag, dan gaan wys ek jou Keukenhof se tulpe, anders word dit te laat in die jaar en dan sluit hulle.”

“Gaaf,” sê Eugene, maar sy praktiese geaardheid kry die oorhand. “Maar hoe gaan jy nou in Wassenaar kom? Ek neem die trein na Leiden.”

“My suster, die tweede oudste, kom my hier haal.”

“So, dan ontferm die familie hulle darem oor die buitebeentjie,” kan Eugene nie help om op te merk nie.

“Ek het nooit gesê die fout lê by hulle nie. Hulle sal stellig ’n tyd lank bly wees oor my. Nou ja, ek sou jou graag wou saamnooi, maar om nou met ’n vreemdeling by my suster aan te kom, sal nooit deug nie. Dáág, hoor!”

“Tot siens!”

Hy staan haar en agterna kyk en wonder oor haar woorde totdat die lang, slanke figuur met die arrogante, byna uitdagende houding tussen die massa wegraak. Toe draai hy om en gaan koop sy treinkaartjie na Leiden.

Toe hy teen agtuur die aand op die Stationplein in Leiden afklim, is hy verbaas dat dit nog so laat lig is en onthou dan dat Peet so geskryf het in een van sy briewe. In die Hollandse somer kom die aand eers wanneer ’n mens al doodvaak is, het hy gespot. Hy sien op linkerhand die bekende landmerk uitrys – ’n groot windmeul wat De Valk genoem word en waarvan Peet ook geskryf het. Toentertyd is daar glo koring gemaal. Hy staan nog ’n rukkie en kyk met die tasse in sy hande en die handtas oor sy skouer, merk toe ’n taxi op wat hoopvol huiwer.

Hulle ry heel stadig, en Eugene besef gou waarom. Die straatjies en stegies is meesal so smal dat dit bepaald gevaarlik sou wees om vinniger te ry. Hy verwonder hom aan die digte eike langs die gragte, die ouwêreldse spitsgewelhuise met die blombakke in die witraamvensters, die mense wat oop en bloot met oopgetrekte gordyne sit en eet in hul verligte huise, en hulle min steur aan die oog van ’n verbyganger.

Eugene is aangenaam verras met sy tuiste. De Witte Singel is klein, en soos die taximan hom ook meegedeel het, baie na aan die universiteit. Dis ’n ou kanaalhuis met slegs tien kamers, maar die bestuur is baie aangenaam, het die taximan hom verseker. Dit is ook so. Dis ’n ouwêreldse plekkie en die atmosfeer is een van opregte gasvryheid. Eugene voel dadelik tuis in die klein kamertjie, wat teen sy verwagting in ook nog ’n badkamertjie en telefoon het. Hy besluit om eers te gaan eet in die klein restaurantjie van De Witte Singel voordat hy, ten spyte van die late uur, na Peet-hulle toe gaan. Hy het darem gesien dat die meeste mense hier nog op en wakker is, al is dit halftien in die aand.

Toe hy weer bo in sy kamer kom, besef hy dat hy meer gespanne as honger was. As hy nie nou na Peet-hulle gaan nie, slaap hy vannag nie. Hy kam gou hare en gaan na onder.

Met ’n stadskaart wat hy by die gawe eienaar bedel, vind hy tot sy vreugde dat De Witte Singel werklik net ’n hanetreetjie van Rapenburg 49 is. Hy stap deur nou stegies en oor ’n bruggie tot in Rapenburg. Dit is ’n straat wat deur ’n grag in twee gedeel word, en hy sien dat die huise hier baie ver terug moet dateer, minstens na die 17de eeu. Ook hier is daar groen-groen eike langs die stil vloeiende water van die grag, en die vensters is vol vrolike blomme.

Hy kry nommer 49 sommer gou. Dit het ’n hoë, groot voordeur wat lyk asof dit van soliede hout gemaak is, met ’n ou koperknop, dofblink gevat deur baie hande.

Hy wil eers die swaar klopper gebruik, maar sien toe die ry knoppies wat gedruk kan word. Op ’n ingewing druk hy die middelste knoppie, draai toe rustig om met sy hande agter die rug om weer die eeue oue straat te bekyk. Hy staan lank so sonder dat iemand kom oopmaak, en toe druk hy die knoppie weer. Na nog ’n ruk vroetel iemand aan die deurknop aan die binnekant, en die deur gaan met ’n gesukkel en ’n diep basserige gekraak oop.

“Waarom is jy so láát?” vra ’n vrouestem op die rand van trane. En toe eers sien hy haar staan in die donker gang agter die oop deur: ’n skraal, donker meisie met ’n baie pikante gesig waarin haar groot oë dominant is onder die gordyntjiekapsel. Toe sy haar fout agterkom, vlieg ’n fyn hand na haar mond. “O … ek is jammer, ek het gedink dis my man.”

Eugene staar haar nog ’n oomblik verbaas aan. Sy is sigbaar ontsteld. Hy sien dit aan haar blink oë, die hoë kleur op haar wange, die sensitiewe mond wat liggies bewe.

“Ek is ook jammer,” sê hy kalm en tree nader. “U sien, ek soek eintlik na Peet Baumann.”

Sy kyk op na hom met ’n nuwe kyk, wat meteens haar gesig verhelder.

“Jy is nie dalk Eugene nie?” En toe hy bevestigend antwoord, sê sy vinnig: “Hy praat dikwels van jou. Ja, hy en Elsje woon net bokant ons op die derde verdieping. O, hy gaan baie bly wees om jou te sien!” Sy lag senuagtig. “Dis natuurlik waarom jy nie opgekom het boontoe toe ek die knoppie in ons woonvertrek gedruk het dat die deur moet oopgaan nie?”

“Seker, ja.” Eugene glimlag, en hy vind dat hy steeds wonder oor die oorsaak van haar ontsteltenis.

“Nou kom, kom ek neem jou na Peet-hulle toe,” sê sy en glimlag terug met hom. Dis ’n mooi, breë lag wat haar gesiggie omtower sodat sy baie jonk en onbesorg lyk. En toe sy omdraai en voor hom in die lang donker gang afloop, sien Eugene hoe smal haar skouers is, hoe fyn haar bou; en met ’n luggie wat bo van die stel smal trappe af trek, kom daar na hom die blomgeur van haar steil swart hare, wat om haar skouers wip soos sy stap. Daar kom ’n eienaardige sensasie oor hom, soos iets wat hom in sy binneste vasgryp. As sy myne was, dink hy in die greep van die gevoel wat in hom wring, sou ek haar nooit laat wag nie. Maar toe die gedagte geformuleer is, skrik hy daarvoor en frons hy hewig asof hy dit só kan uitwis.

Hulle stap verby ’n groot ontvangskamer met diep leunstoele en ’n groot, oop kaggel, verby nog ’n kleiner deur wat toe is, en op met twee stelle steil en baie smal trappe. Halfpad na bo draai sy na hom, haar elfagtige gesig naby syne, en sê verleë: “O ja, ek is Sylvie Bosman.”

“Aangenaam, Sylvie,” sê Eugene warm, steek sy sterk, bruingebrande hand na haar uit, voel hoe sy half skugter haar skraal vingers ’n oomblik lank daarin laat rus.

“Studeer jou … e … man ook hier?” vra hy sonder dat hy sy skielike gedrewe nuuskierigheid kan hokslaan.

Haar gesig vertroebel dadelik, en sy draai om.

“Ja. Ook Regte,” sê sy oor haar skouer. Sy gaan staan voor wat aanvanklik vir Eugene soos ’n deur sonder ’n handvatsel lyk. Sy lig haar hand, maar voordat sy klop, sê sy: “Dis ’n leë hangkas wat hulle hier voor geskuif het, anders is hier ewig ’n trek in hul woonstel.” Toe klop sy.

Hulle wag ’n oomblik lank, waarin al Eugene se maagspiere op ’n harde knop trek. Hy ervaar ’n hele potpourri van emosies – blydskap, opgewondenheid, ’n bittersoet hartseer wat niks met Peet uit te waai het nie, ’n skerp verlange na Lilette se bekende en vertroostende warmte, opstandige verset om die meisie wat hy pas ontmoet het, se onthalwe …

Toe hoor hulle voetstappe en die hol kas word tjierend oor die swart-en-wit teëls eenkant toe geskuif.

In die opening staan Peet. Hy was duidelik aan die studeer, want sy digte swart krulhare staan orent en sy dikraambril sit op die punt van sy neus. Met ’n vinnige handbeweging druk hy dit terug, en toe hy sien wie voor hom staan, trek hy sy asem skerp in en tree so vinnig vorentoe dat hy wankelend op die bopunt van die trap bly staan.

“Gene!” roep hy gedemp. “My hemel, Gene!”

Sylvie het teruggetree, en sonder dat die ander twee dit sien, gaan sy na onder.

Die twee mans, met Eugene ’n paar trappe laer as Peet, staan na mekaar en kyk. Hulle lees in mekaar se oë wat onlangs met hulle gebeur het, dat hulle albei ’n vader verloor het. Die een sien die ander se leed asof dit vir hom geskryf staan. Toe trek Peet se gesig en Eugene spring die drie trappies na bo om hom aan die skouers te gryp.

Hulle bly lank só staan met hul hande op mekaar se skouers, sonder dat een ’n woord durf sê.

“Kom in,” sê Peet naderhand hees, “maar moenie te veel praat nie, want ek huil nie graag voor my vrou nie!”

Toe bars al twee hard uit van die lag, en Eugene klop Peet op die skouer dat hy hik.

En toe weet Eugene met dank wat hom wil laat duisel: tussen hulle gaan alles weer reg wees. Ten spyte van Elsje, of dalk juis as gevolg van haar, het hulle mekaar werklik gevind. Want intuïtief voel hy ook dat sy geen rol meer in sy lewe het nie, behalwe dié van ’n geliefde suster. Hy is dubbel dankbaar dat hy dit besef voordat hy haar gaan dagsê …

Helene De Kock Omnibus 10

Подняться наверх