Читать книгу Helene De Kock Omnibus 10 - Helene de Kock - Страница 9

6

Оглавление

Die dag na hul besigtigingstoer deur Leiden ontglip Eugene vir Mieke deur heel vroeg op te staan en sommer self stegie op en stegie af te stap. Deels is dit ’n poging om Mieke se volgehoue teenwoordigheid vry te spring, en andersyds om heeltemal alleen te kan dink oor die afgelope week. Daar het meer met hom in hierdie week gebeur as in die hele res van sy lewe, so voel dit vir hom. Hy het betrokke geraak, diep betrokke by mense van wie se bestaan hy nie eens gedroom het nie.

Dis hierdie besef wat hom vroegdag al uit die vere het. Hy moet hier en nou uitsluitsel kry oor sy gevoel vir Sylvie. Maar dis asof daar ’n sluier skuif oor daardie deel van sy gemoed wanneer hy dit wil ontleed. Dis asof hy nie die hart het om werklik met oop oë daarna te kyk nie. Veral die wete dat hy net so laag as die Miekes en die George Bosmans sal daal as hy een beweging na Sylvie toe maak, weerhou hom daarvan om heeltemal eerlik te wees met homself. Ook dit is pynlik vir Eugene, om nie eens teenoor homself te durf erken wat hy voel nie. Daarom besluit hy oplaas: ek mag Sylvie Bosman bejammer, want sy ís te bejammer.

Toe stap hy Rapenburg toe, gaan staan ’n wyle op die voetbrug om ’n lang kano vol opgeskote seuns dop te hou terwyl dit stadig verbyvaar op die grag. Op die kade reg voor Rapenburg 49 sit twee ouerige mans rustig en visvang in die vroeë oggend.

“Vang julle ooit iets?” wil Eugene geamuseerd weet.

Hulle kyk op na die forse jong man met sy helderblou oë en songebruinde gesig, en hulle glimlag.

“Soms wel,” sê die een, “maar dit is maar net die bonus.”

“Ons sit soggens en smiddae hier ter wille van ons siele,” sê die ander.

Eugene loop tot by hulle, waar hulle reg teenoor die groot voordeur van nommer 49 sit.

“Dankie dat julle my daaraan herinner,” sê hy met ’n glimlag, maar met soveel erns in sy stem dat die twee oues hul verweerde pette soos een man lig.

Daarop verander Eugene sy plan om by Rapenburg 49 in te gaan, en stap straataf om Peet op sy pad na die Gravesteen-biblioteek in te wag. Hy wil met Peet praat; hy het mos nie verniet gekom om te put uit sy broer-vriend se meerdere ervaring en insig nie.

Hy wag dan ook skaars tien minute of hy gewaar Peet se lang gestalte. Toe hy feitlik reg teenoor hom is, tree hy uit van onder die groot eik waar hy gestaan het, en Peet steek verbaas in sy spore vas.

“Gene!” roep hy verras uit, en toe in een asem: “Ai, man, dis heerlik dat jy hier is. Hoeveel maal het ek my dit nie voorgestel nie?”

Eugene lag net, knik instemmend, en val by Peet in toe dié weer begin aanstap.

“Gawe meisie, die Mieke,” sê Peet voordat Eugene sy sê kan sê. “Reken, sy kom vanoggend vroeg daar by ons aan. Kom vir Elsje help, sê sy. Sy’t toe die ontbyt reggekry en afgestof en so aan. En voordat sy weg is, het sy ’n groot pot ertjiesop op die gasstoof gesit. Nou kan Elsje vanoggend die hele oggend rus. Sy het dit regtig nodig. Maar sê my, waar pas Mieke de Kuiper nou eintlik in? Ek dag daar’s iets tussen jou en Lilette?”

Eugene slaan sy verslaenheid oor Mieke se nuutste doen en late hok, en sê kortweg: “Haar probleem is dat sy nêrens inpas nie, en daar ís iets tussen my en Lilette.”

“Waarom het jy haar dan nie saamgebring nie?” vra Peet luiters en stoot sy dik bril reg op sy neus.

“Omdat ek wil seker maak wat daardie iets tussen ons is,” antwoord Eugene bot.

Peet gaan staan, bekyk hom behoorlik. “Kom ons gaan Koffiehuis toe, ek sien jy wil gesels.”

Hulle stap daarheen en maak hulle tuis by ’n tafel met twee koppies sterk swart koffie.

“Wat pla, Gene?” wil Peet weet.

“Ek is maar net ’n bietjie onseker oor my gevoel vir Lilette, Peet. Veral ná Pa se dood het ek nie meer geweet wát ek voel nie. Ek moes net wegkom. Maar nou is ek nie meer so seker of dit wel ’n oplossing is nie. Ek is skaars hier of ek is betrokke by mense – en nou kla die betrokkenheid my aan.”

Peet sit lank doodstil, en toe hy praat, is dit met die volkome begrip wat Eugene by hom verwag het.

“Dis dus nie Mieke nie, en daaroor is ek verlig. Want gaaf en behulpsaam soos wat sy is, is daar van haar oortuigings wat ek betwyfel. Vertel my meer van haar?”

Eugene doen dit met die volle wete dat hy op Peet se diskresie kan staatmaak.

“Jy is dus vir haar jammer,” sê Peet toe Eugene klaar is. “Ai tog, julle Bassons se medemenslikheid ruk soms handuit, Gene.”

“Ja, ek is jammer vir haar, maar nie die jammerste nie,” antwoord Eugene en kyk Peet vas in die oë. Maar hierdie keer misgis hy hom. Peet klik vererg met die tong toe hy snap dat Eugene nou na Sylvie verwys.

“Ag nee, my magtig, Gene, moenie jou gek hou nie! Sylvie behoort aan George Bosman, of weet jy dit nie?”

Eugene word rooi in die gesig, beteuel homself tandeknersend. “Ek weet dat George Bosman ’n lae lak is, Peet, iets waarvoor jy en Elsje skynbaar blind is.” En hy vertel hom van die episode in die biblioteek en George se woorde in die Mensae, toe hulle gaan kos haal het. “Ek weet nie waarom jy die vent nog verduur nie, Peet.”

Peet gooi rustig nog suiker in sy koffie, drink ’n teug, en antwoord bedaard: “Ek het ook vermoed dat hy hom met Aaltje vermaak, Gene. Want as dit nie Aaltje is nie, is dit wel iemand anders. George het ’n siek sug na vermaak, na enigiets buite die alledaagse. Daarby is hy pervers, en hoe meer ’n mens hom teëgaan, hoe moeiliker maak hy dit vir sy vrou. Dit het ek vroeg al geleer toe ek hom wou betig. En nou sê ek vir jou arme Aaltje was maar net afleiding, hierdie Mieke is vérleiding …”

“Juis! Maar nie vir my nie. Ek dink egter dis dalk my plig om haar van George weg te hou, want dis per slot van rekening ék wat haar na julle toe gebring het.”

“Kyk, Gene, iets wat ek nie kan verduur nie, is swartgallige berou. Die meisie is nou eenmaal tussen ons klomp, en soos dit gaan in ’n studentegemeenskap raak ’n mens gou en sterk betrokke. Hier aanvaar ons mekaar, en basta met die res.”

“Goed, goed. Maar ek weet nog steeds nie wat jou en Els se danige verbondenheid met die Bosmans is nie. Behalwe as julle werklik sulke groot vriende is?”

“Nee, ons is nie. Altans nie met George nie. Maar nou is dit so dat ons Rapenburg 49 gesamentlik huur en ook die Honda saam gekoop het. Tussen ons het ons ook net twee fietse, wat George eendag voor die kraakwa weggeraap het. Maar, soos wat jy wel raakgesien het, gaan dit by ons ook maar om Sylvie. Sy is eensaam en het werklik net vir my en Elsje. En wat sy alles vir Elsje gedoen het toe sy so erg siek was, kan nie in woorde beskryf word nie. Ek is haar meer as dankbaar. Daarom verdra ons vir George.”

“Ek sien, ja.”

“Ek kwel my in elk geval nie oor Mieke nie. Jy is mos darem al mooi weerbaar, of hoe?” Peet loer geamuseerd oor sy koppie na Eugene, sodat hy ook maar moet lag. “Jy weet, sy het selfs aangebied om vanoggend Elsje se boodskappe te doen.” En toe hy sien Eugene verstaan nie: “Inkopies. Sy is juis met Elsje se groot boodskapsak daar weg na Jema in Haarlemmerstraat.”

“Beduie maar waar dit is,” sug Eugene, “ek het ook ’n paar goedjies wat ek wil koop.”

Peet beduie, en hulle groet om op Peet se aandrang weer met middagete te ontmoet.

Eugene stap verby die Gravesteen tot by Vroom en Dreesman, of sommer V en D, soos Peet gesê het. Dis ’n groot, deftige selfdienwinkel, en Eugene draai ’n paar minute om die uitgestalde ware en snuisterye te bekyk, stap toe deur na Haarlemmerstraat, wat vir verkeer gesluit is. Hy loop vinnig verby die vismark en loop Mieke reg voor die ingang van Jema raak, haar groot boodskapsak propvol blikkies, toegedraaide kase en geurige broodjies, wat by voorbaat sy mond laat water.

Sy is uitbundig bly om hom te sien.

“Het jy my kom soek?” vra sy gretig.

Hy glimlag net en neem haar arm. “Kom help my gou. Ek wil skeergoed koop.”

“Gaaf. Jy kan dit dan sommer hier in Elsje se boodskapsak sit, want hier sal jy geen plastieksak kry nie.”

“So? Ek het baie om te leer, lyk dit my.”

“Daarom is ék hier, Eugene Basson.”

Hy lag weer, maar weet met ’n dowwe beklemming dat sy bepaald nie van inkopies praat nie. Sy help hom egter gou om die regte rak met skeergoed en naskeermiddels te kry, en gou is hulle weer buite die winkel, hy stadig tellend aan die paar gulden kleingeld op die palm van sy hand.

Hulle stap stadig terug in die rigting van Rapenburg. In ’n steeg kom hulle op ’n haringventer af wat op die sypaadjie agter sy dofgroen geverfde mobiele toonbank staan.

“Oe! Wanneer laas het ek dit geëet!” roep Mieke verheug uit en trek Eugene dadelik aan die arm nader. Sy koop terstond vir haar ’n rou haring by die glimlaggende venter, gooi haar kop agteroor en sluk die vissie vernuftig weg sonder om ’n oog te knip. Die haringman lag vir Eugene se verstomming en vee met sy hande oor sy breë groen voorskoot. Mieke sluk nog een weg en hou toe ’n haring, bengelend aan sy stert, na Eugene uit, maar hy retireer en skud heftig kop, sodat die venter en Mieke weer vir hom lag.

Hulle stap verder en Mieke wys aan hom ’n paar versteekte winkeltjies waar eg Hollandse soeweniers gekoop kan word. Eugene besluit om die een of ander dag weer hier langs te kom en vir Damplaas se groot sitkamer ’n mooi Oosterse mat te koop, ’n paar Hollandse klompe wat hy in die gang wil ophang, en ’n majolika-teëltjie of twee vir Lilette.

By Rapenburg 49 keer Mieke hom toe hy die knoppie wil druk wat die deur sal laat oopgaan.

“Eugene,” sê sy sag, byna smekend, “dis vir my lekker hier tussen julle klomp. Ek dink daaraan om ook by De Witte Singel in te trek. Ek het reeds verneem dat daar ’n kamer oop is.”

“Mieke,” sê Eugene en sy stem beef, “as jy by De Witte Singel intrek, trek ek uit. Dit moet jy goed verstaan. Ek het niks teen jou nie. Om die waarheid te sê, jou geselskap is vir my baie aangenaam. Maar …”

“Maar jy is ’n moeilike man,” glimlag sy skeef.

Hy staar ’n oomblik na haar, plaas toe versigtig ’n hand op haar skouer. “Nee, Mieke, ek is nie moeilik nie, ek is net heeltemal onbekombaar – vir jóú!”

Sy laat sak haar wimpers, haar oë op sy sterk bruin arm, sodat hy sy hand verleë wegneem.

“Die hoop beskaam nie,” sê sy met soveel weemoed dat sy hart krimp om haar onthalwe.

“Mieke,” begin hy huiwerig, “sê my, wat van jou ouers? Jy is nog maar ’n week, nie eens heeltemal ’n week nie, terug uit Suid-Afrika, en jy soek naarstig ander verblyf. Hoe is dit dan?”

Sy draai haar kop weg, kyk na die grag waar daar twee klein plat bote verbyvaar. Toe sê sy: “Ek het jou tog vertel? Al wat ek meer kan sê, is dat my moeder reeds die eerste dag ná my terugkoms vir my werk gekry het in Oestgeest by ’n vriendin van haar. Dié was onlangs siek en sy wil hê ek moet haar gaan verpleeg en help met die huishouding. Ag, Eugene, glo my, ek doen dit honderd maal eerder vir iemand soos Elsje wat ek in elk geval vermoed sieker is as dié danige vriendin van my ouers. Ek het jou tog al gesê ek is ’n verleentheid vir my nobele familie!”

Hierop kan Eugene nie antwoord nie. Wat sê ’n mens vir iemand wat nie ’n rusplek het nie? Steek ’n mens nie maar jou hand uit nie en sê: hier, hou vas …?

Maar hy druk net die knoppie sodat hulle kan ingaan.

Bo kom skuif Sylvie vir hulle oop en nooi hulle in. Sy is klaarblyklik aan die klere was, want haar wit bloesie se moue is opgerol en haar hande en arms nat. Sy beduie dat sy net gou Elsje se wasgoedjies gedoen het, want as Elsje so baie met haar arms woel, hoes sy haar gedaan.

“Dis lief van jou,” sê Mieke opreg, stap verby haar en sê aan Eugene om die boodskapsak sommer op die tafeltjie neer te sit. Toe gaan roer sy ywerig aan die ertesop.

“My aarde,” laat Sylvie verbaas hoor, “en ek het nogal gedink dis Elsje se kookkuns wat aan die ontpop is! Dit ruik te heerlik, hoor!”

Mieke lag net met haar, vis ’n paar stukkies droë, gerookte wors uit die sak en voeg dit by die mengsel op die gasstoof, begin dun snytjies van die volkoringbrood afkerwe, en dit lyk asof sy haar lewe lank nog in die woonplekkie woeker.

Die ander twee laat haar maar begaan, en Eugene gaan staan by die venster om af te kyk op die grag wat vandag nogal lewendige verkeer het. Sylvie verdwyn na die klein badkamertjie en kom met ’n emmer vol nat wasgoed uit. Eugene draai om, net betyds om haar in die rigting van die trap te sien verdwyn.

“Wag!” roep hy. “Ek kom jou help!”

Hy sien hoe die weiering op haar lippe huiwer, maar toe glimlag sy tog skugter met hom.

“Jy sal deur ’n soldervenster moet klim om by ons wasdraad uit te kom!” waarsku sy.

Hy kom staan by haar, neem die emmer uit haar hande.

“Alles wat jy kan doen, kan ek beter doen!” spot hy, en sien ’n spontane laggie op haar hartseer gesig. Die bietjie humor laat haar elfiegesiggie sommer straal.

“Kom dan,” sê sy, en stap vooruit om met ’n stelletjie trappe op te gaan wat vanuit Peet se klein studeerhokkie loop. By ’n kleinerige deur buk sy en stoot dit oop. Hulle loop deur ’n muwwe kamertjie wat die reuk van die gragte dig teen hulle bring, tot by ’n klamvuil venster wat sy oopmaak en waardeur sy sonder seremonie klim. Eugene volg haar en sy hart gaan amper staan toe hy sien dat hy op die skuinste van die dak staan, en dat Sylvie vlugvoetig soos ’n bergbokkie afspring tot in die holte wat die dak van Rapenburg 49 met die volgende huisdak vorm. Daar staan sy vir hom en wag by ’n dikkerige tou wat klaarblyklik as wasdraad diens doen.

“Kom!” skree sy, en lag nou hard. “Ek dog jy’s sterker en beter!”

Gedagtig aan sy bravade van so pas, kan Eugene nie bra anders nie, en slaag darem daarin om heel rats onder te kom, maar net voordat hy haar bereik, gly sy voet op die gladde teëls, nog nat van die vorige nag se misreën, en hy beland op sy sitvlak met die emmer wasgoed bo-op hom. Hy is soos blits weer op sy voete en keer die wasgoed terug emmer toe sonder dat een stukkie op die vuil teëls beland het. Toe eers kyk hy kamma kwaai na Sylvie, wat met oë groot van die lag en hande voor die mond staan en toekyk.

“Lag net, dan sal ek jou laat betaal!” brom hy, begin die wasgoed stuk-stuk uithaal en vir haar aangee.

Maar sy kan dit nie hou nie en staan binne oomblikke met hande vol wasgoed en skud van die lag. Toe gooi sy haar kop agteroor op haar slanke nek en gee in vir die lag.

Eugene staan doodstil na haar en kyk, voel hoe daar ’n bewing kom in sy hand wat na haar toe uitgesteek is, sodat hy dit liewer laat sak en die druppende kussingsloop terugsit in die emmer.

“Goed,” sê sy oplaas, “goed dan. Ek sal betaal. Jy kan my laaste drie gulden vir die week kry. Maar ek kon nie anders nie, dit was só snaaks! Jy moet eers jou sommetjies maak voordat jy weer sê jy kan alles nadoen!”

“Jy is pragtig as jy lag,” sê Eugene stadig, en sy blou oë lyk soos die binnekant van ’n pers vlam. “En ek wil meer hê as drie gulden.”

Dis asof die wind, wat skerp om die gewels waai, die lag tussen hulle wegswiep. Dis so stil tussen hulle dat Eugene hom verbeel hy hoor die geklots van die gragwater teen die kade, en hy kyk verby haar na die yl son wat blink op die water in die ou grag, wat glinster op die fietsspeke in die straat, maar wat hom koud laat voel asof daar geen enkele sonstraal hier op die geweldak reik nie.

“Ek … kan jou nie betaal nie,” sê sy baie sag, en die wind lig haar hare weg van haar gesig.

In die sterk drang van die oomblik tree Eugene vorentoe en raak met sy handpalm aan die sygladde hare, wat nou waaier oor haar wang. Haar oë staar groot en verskrik en vasgevang in syne. En hy moet veg teen die branding van ’n belaglike begeerte om haar in sy arms van staal op te raap, sy mantel te flap en die ruimte in te skiet met haar.

“Ek wens ek was Superman,” sê hy laf, met sy vlammende oë op haar mond, haar swart wimpers, die blos wat haar wange tint, die klop in haar kuiltjie. En die lag wat op haar lippe beef.

“Dit sou nogal gaaf gewees het,” sê sy net, “as dit nie was dat ek hoogtevrees gehad het nie.”

“Dan moet jy liewer dakke vermy,” antwoord hy, en daar is ’n bitter klank in sy stem.

“Ék moet hier wees, maar jy hoef nie,” antwoord sy sag, geraak, en dis asof daar dadelik weer ’n aura van weemoedigheid om haar toevou.

“Ag nee,” sê hy jammer, “ek wou jou nie seermaak nie … Dis net dat ek werklik wonder …”

“Wat?”

Eugene trek die mistige lug diep in sy longe en waag die vraag wat hom so pla. “Waarom het jy met iemand soos George getrou?”

Dis asof Sylvie terugdeins sodat sy tellings lank net stilbly en hom sku aankyk. Toe sug sy, draai van hom af weg sodat ook sy haar oë kan laat sak na die grag, die woeling van verbygangers en fietse in die straat.

“Waarom wil jy tog weet? En jy wil tot elke prys weet. Van die eerste dag af het ek dit kon aanvoel.” Sy vou haar skraal arms styf teen haar lyf aan.

Hy kom langs haar staan, maak ook met sy oë ’n studie van die toppe van die groen eike, die gewelweerkaatsings in die water, twee vaalbruin eende wat luiters aangeswem kom na die kade en hulle niks steur aan ’n groot motorboot wat in skuimende aantog is nie.

“Ek kan nie speletjies speel nie, Sylvie,” sê hy net-net hoorbaar. “Ek moet erken dat ek baie van jou hou. Ek kan werklik nie verstaan waarom jy met iemand getrou het wat nie vir jou omgee nie.”

’n Klein uitroep ontsnap haar. “Jy spaar my nie! Maar goed dan. Jy moet weet dat George nie altyd so … so is nie. As George iets werklik begeer, sal hy alles doen om dit te bekom. Hy kan ook gaaf wees, sjarmant, bedagsaam en vol beloftes. Hy was van kleins af my held – ’n bietjie waaghalsiger as die ander – en nadat hy my raakgesien het, eenvoudig oorweldigend …”

“Het jy hom nog lief?” wil Eugene onstuitbaar weet.

Sy huiwer.

“Nee,” sê sy tog later, “nee, ek glo nie. Die liefde bly nie blind nie, weet jy. My oë het oopgegaan kort na ons huwelik. Toe het ek nie meer verskonings gefabriseer nie, net om aanvaarding gebid. Ek het dit gekry, maar my gevoel vir hom verloor.”

“Waarom bly jy dan nog by hom?”

Sy kyk op na die sterk gesig bo haar skouer, die vasberade mond, en die oë wat dwarsdeur haar wil kyk. Sy glimlag effens.

“Gene,” sê sy sag, “jy het so ’n verskriklike wil aan jou. Peet het my soveel male vertel hoe jy is. Hoe niemand jou kan keer as jy jou kop op ’n ding gesit het nie. Maar ek sê nou vir jou, jy sal nooit berge kan verskuif nie, want hoe sal jy die gat vul waar dit eens gestaan het?”

“Ek verstaan nie wat jy sê nie,” brom hy koppig.

Sy keer haar meteens na hom, ongekende drif in die hand wat sy op sy arm plaas. “Eugene Basson, los my uit! Moenie iets tot elke prys wil doen terwyl jy goed weet watter geweldige gevolge dit gaan hê nie. Jy kan nie wil hê ek moet my beloftes, voor God gemaak, verbreek net omdat jy reken George behandel my verkeerd nie. Want as ek dit sou doen, is ek niks beter as hy nie. Jy vergeet ook dat dit nie aan hom is dat ek verantwoording verskuldig is nie.”

Hy vang haar hand voordat sy dit kan terugtrek, druk dit hartstogtelik teen sy bors vas.

“En ek dag nogal jy is weerloos! Jy maak my skaam, weet jy!”

“Maar ek is weerloos. Dis net dat ek weet aan Wie om my vas te klem.”

Dit voel vir Eugene asof hy homself nooit weer sal kan losmaak uit die diep blougroen van haar blik nie, maar hy laat haar hand los.

“Jy is reg,” sê hy swaar, asof hy lank laas gepraat het. “En dis verregaande van my om jou sulke vrae te vra. Die hemel weet, ek kan myself nie help nie. Vandat jy daardie voordeur vir my kom oopmaak het, het ek met jou te doene, dag en nag. Ek weet nie wat ek vir jou voel nie, maar ek kan jou nie net uitlos nie. Laat my dan toe om jou vriend te wees. Asseblief, net dit.”

Sy draai om, stap terug na die emmer met wasgoed en begin dit aan die wastou ophang. Hy kom haar help, gee dit woordeloos vir haar aan. Toe hulle alles opgehang het, vee sy haar klam hande aan haar broek af, kyk verleë op na hom.

“Vriendskap was seker nog nooit verbode nie. En ek kan nie ontken dat dit wonderlik sal wees om iemand te hê met wie ek soms werklik kan praat nie. Moet net nooit dink dat jou ongevraagde tussenkoms iets kan verander aan wat is nie.”

“Goed,” sê hy stadig, voel hoe ’n wonderlike warmte hom vul. “Ek sal jou vriend wees, wat daar is as jy hom nodig het. Niks meer nie. En dankie daarvoor!”

Maar sy skud haar kop heftig, haar oë toe.

“O Gene, jy moet goed dink. Jy is dalk nie die soort man wat ’n mak maatjie sal kan bly nie. Gaan liewer terug na … na Lilette toe.”

Dis te laat! wil hy uitroep. Veels te laat! Maar hy bly stil totdat sy weer bedaard aanstap met die leë emmer in haar hand en wil opklouter na die soldervenster. Toe kom neem hy die emmer by haar, hou haar lig aan die arm terug.

“Daar is soveel krag in jou,” sê hy, en sy oë sak na haar smal skouers, die brose lyn van haar heupe. “Ek het veel om by jou te leer.”

Maar sy maak haar arm los. “Ek is seker dat ek niks gesê het wat jy nie reeds weet nie.” Maar sy glimlag vriendelik met hom voordat sy vlugvoetig teen die skuins helling oploop en by die venster inklim. Eers toe sy al heeltemal deur die opening verdwyn het, kom hy tydsaam agterna.

Die Sondag van die uitstappie na Keukenhof daag wolkloos, en Eugene wil net bly raak oor so ’n vooruitsig in dié wolkeland toe Mieke, wat kort ná nege by Rapenburg 49 opdaag, hom vroeg ontnugter.

“Neem maar jou parka saam,” lag sy. “Vandag gaan ’n reëndag wees!”

Eugene murmureer, maar gaan haal tog maar die parka by De Witte Singel onder groot gelag van die ander, wat al Holland se nukkeweer aanvaar het. Eindelik is almal gereed vir die uitstappie. Mieke het met groot gedoe ’n kosmandjie gepak met allerlei kase, korentebolle, boterhamme en heerlike gekoopte gemmerpannekoeke. Elsje lyk heelwat beter ná die paar dae se rus waarin Mieke hoofsaaklik vir die etes gesorg het, en Sylvie soos altyd met die wasgoed gehelp het. Ook die mans, bleek om die kiewe van al die studeer, lyk op die oog af ingestem vir ’n uitstappie. Eugene het al aan almal vertel hoe ’n knap gids Mieke is, en dus sien hulle daarna uit om Keukenhof deur haar oë te sien. Ook sal sy hulle op pad daarheen veel meer van die landskap kan vertel as wat hulle voorheen daarin gesien het.

In die bus op pad na Lisse is dit vir Eugene, wat heel voor langs Mieke sit, ’n louter genot om meer van Suid-Holland te kan sien. Dit is ’n prenteboekland – die swart-en-wit koeie wat rustig wei op die drooggelegde polders in die raamwerk van blink kanale; die draaiende arms van windmeulens; seilbote en platboomskuite; huise wat laag in die weivelde staan en spierwit swane op vierkantjies silwer water.

By Lisse klim hulle van die bus af en stap na die meer as sestig akker blomtuin – Keukenhof, uitstalvenster vir die wêreld se bolle-industrie. Hier hoef Mieke niks te sê nie, want ook sy is weer opnuut stomgeslaan deur die glorie van die blomvelde. Saam met Eugene en die ander stap sy woordeloos deur die derduisende tulpe in volle blom. Dis ’n jubelende kariljon van kleure waarin die mooiste uiting van bewondering net verswelg word. Selfs die rustelose George loop rustig langs sy vrou, wys haar kort-kort op ’n tulp of ’n hiasint hier en daar wat besonder mooi is, sodat Eugene dit byna nie met sy gewone botheid teenoor haar kan vereenselwig nie. Die man is voorwaar ’n verkleurmannetjie. En die bedenkinge wat Eugene koester, is ook nie heeltemal ongegrond nie, want toe hulle gaan tee drink in ’n rooidakrestaurant vlak langs ’n meer waarop blomblare swewend drywe, bewimpel George dit so dat hy langs Mieke sit. En ’n hele kwartier lank gesels en lag hy net met haar, asof die ander hoegenaamd nie teenwoordig is nie. Maar Peet en Elsje en ook Sylvie ignoreer dit. Dis net Eugene wat lus kry en vlieg op en skud die man. Maar hy vang Sylvie se oog, en met ’n klein gebaar van haar hand wys sy aan hom om liewer te bedaar. Uit skone frustrasie knoop Eugene ’n hortende gesprek met Peet aan, totdat dié hom later vreemd aankyk en vra wat skort.

“Niks spesifieks nie,” sê Eugene met ’n geïrriteerde handgebaar sodat Peet skeef en nadenkend opkyk. “Maar ek begin dink dis miskien tyd om vir my ander verblyf te soek.”

Peet se oë vlieg na Mieke se blonde kop, wat vooroor gebuig is om mooi te hoor wat George sê, en sy wenkbroue lig veelseggend.

“Ek kan haar tog nie verbied om in dieselfde hotel as ek in te trek nie,” verweer Eugene, “maar dit gaan net onnodige kompli-kasies meebring.”

“Hm. Daar is natuurlik ’n leë kamer op die grondverdieping van nommer 49, maar daar is geen badgeriewe nie. Slegs ’n toilet en ’n kraantjie teen die plafon, wat as stortbad moet dien.”

“Sal goed wees,” antwoord Eugene. “En ek wil nou begin werk soek. Ek is nie gemaak vir so ’n leeglêery nie. Ek sal veel liewer naweke wil rondtoer.”

Peet beloof om ’n dag af te staan en hom met sy soektog te help. Toe deel Mieke die pannekoek en broodjies uit, en hulle eet eers klaar voordat hulle verder wandel deur die blomme wat soos kleurfonteine oor grasperke en deur klein woude vloei. Oplaas gaan kyk hulle ook na die magiese amarillisse in die glashuise. Dis toe hulle binne is en hulle verwonder aan die wasagtige perfeksie van die lelies, dat Eugene agterkom dat George en Mieke nie by is nie. Peet en Elsje loop al geselsend die skone blomme en bekyk, en ook Sylvie buig nader aan die kelk van ’n blom om daarna te kyk asof sy haar voorneem om die byna heilige skoonheid daarvan nooit weer te vergeet nie. Eugene kry lus om die glashuis met een magtige kreet aan skerwe te laat spat, maar hy bedwing hom. Hy bedwing hom vir die soveelste maal vandat hy met Sylvie Bosman kennis gemaak het. Hou jou blind, het sy gesê, en het Peet gewaarsku. Nou ja, dan sal hy hom blind hou.

Hy stap glimlaggend nader net toe Sylvie weer orent kom.

“Lieflik, nè?”

“Wonderlik,” sug sy. “So volmaak.”

Maar toe hy haar arm neem om agter Peet en Elsje aan te loop, voel hy die bewing wat deur haar hele lyf sidder, en hy vergeet sy voorneme.

“Hy verneder jou met opset,” sê hy deur sy tande, maar waag dit nie om na haar te kyk nie, hou sy oë op die goddelike skoonheid van die potte en potte amarillisse.

“Miskien,” sê sy, nietemin beheers, “maar dit sal verbygaan …”

“Daarvoor sal ek sorg,” antwoord hy verwoed, en voordat sy nog ’n woord kan kwytraak, stap hy vinnig by die glashuis uit.

Net buite die glashuis loop hy George en Mieke raak. Sy staan vertroulik na aan hom, glimlag op in sy gesig en lyk asof sy innig waarderend luister na elke woord wat hy sê.

“Nou toe nou,” sê Eugene met sy wit glimlag, maar sy oë flikker oor die man by haar, “ek het jou gesoek.” En sonder om in die minste te toon dat hy van George bewus is, slaan hy ’n arm om Mieke se middel en stap met haar weg.

Toe hulle ’n entjie weg is, druk hy sy gesig feitlik teenaan hare en glimlag vriendelik toe hy sê: “Flankeer weer met George Basson en ek sal persoonlik met jou afreken. Maak weer asof jy nie weet hy het ’n vrou nie, en ek skop jou by Rapenburg 49 uit!”

Tot sy konsternasie hou sy hom ook vas, lag op na hom.

“Ek weet jy hou van Sylvie. Ek sien dit in jou oë as jy na haar kyk. Oppas jy maar dat George jóú nie uitskop nie!”

Eugene voel hoe die kwaad in hom loskom, hoe dit verwoestend in hom kolk, en hy haal diep, diep asem. Hy druk haar weg, hou haar net aan die skouers.

“Mieke,” sê hy en sy stem tril, “wat jy ook al dink – my motiewe is suiwer. Moet asseblief nie vir George die geleentheid gee om sy huwelik te laat wankel nie. Ek vra mooi.”

Sy glimlag stadig. “Dit klink beter,” sê sy lui. “Laat ons dan mekáár se hande vashou en op die smalle weg bly …”

“Met afdreiging gaan jy niks bereik nie, Mieke.”

“Jy ook nie, Eugene.”

Hy staan ’n oomblik op die drumpel van die drif waarmee hy die aarde wil omkeer. Toe sug hy maar, kyk haar net aan met oë wat vlam.

“Wát wil jy van my hê, Mieke de Kuiper?”

Die vol mond plooi in ’n sagte lag. “Net maar vir jou alleen, my lief. Ek het klaar gesoek. Die oomblik toe jy in die son voor my gestaan het op die trappe van die katedraal in Valetta, toe het ek geweet dat ek jou wil hê.”

En toe, uit lae wolke wat asof uit die niet verskyn het, sak daar ’n bui reën uit op hulle sodat hulle al twee vervaard na reënjas en parka gryp en uiteindelik, al hardlopend, papnat by die bus aankom. In die bus is dit nie moontlik om verder te praat nie. Ook die ander is moeg gestap en versadig gekyk na die wondertuin en sit en dut tot in Leiden. Net Eugene kyk starend by die venster uit na die bome en meulens wat hier en daar opdoem deur die mis en reën. En hy weet met versengende helderheid dat hy woord vir woord, hartgrondiglik, kan herhaal wat Mieke aan hom gesê het – nie aan Mieke nie, maar aan Sylvie – met dié verandering:

“… Die oomblik toe jy voor my gestaan het en my verwyt het dat ek laat is … Die oomblik toe jy vorentoe getree het en ek die trane in blink spore op jou wange gesien het, toe het ek geweet dat ek jou wil hê … al het jy glad nie eens met my gepraat nie …”

Helene De Kock Omnibus 10

Подняться наверх