Читать книгу In die skadu van soveel bome - Hennie Nortjé - Страница 4
ОглавлениеDie dendroloog besoek die woud
Die dendroloog besoek die woud
Wie sou ooit gewoond kon raak
aan die gewuif van sulke skares,
die opgewonde samedromming,
orals linte, die see van groen vlae?
Geduldig het hy elke hand geskud,
hier en daar na ’n kleuter afgebuk,
beterskap gewens aan ’n bejaarde.
En dán, as hy weer vort moes gaan,
immer agter hom die groot geritsel,
die massas aan die fluister, stomverbaas:
Sy Hoogheid ken elke onderdaan sowaar,
op beide sy swaar Latyns en boerenaam.