Читать книгу Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman - Herman Charles Bosman - Страница 10
DIE PAD NA MAFEKING
ОглавлениеAS MENSE MY VRA – soos dikwels gebeur – hoe ek dit regkry om die beste stories van almal in die Transvaal te vertel (sê oom Schalk Lourens beskeie), dan verduidelik ek vir hulle dat ek leer bloot deur te kyk hoe die lewe met mans en vroue omgaan. Wanneer ek dit sê, knik hulle hulle koppe en sê hulle verstaan, en dan knik ek my kop ook, en dit lyk of hulle tevrede is met die verduideliking. Maar wat ek hulle vertel, is natuurlik ’n leuen.
Want dit is nie die storie wat tel nie. Wat tel, is hoe jy dit vertel. Dis belangrik om te weet presies wanneer om jou pyp teen jou velskoen uit te klop, en op watter plek in die storie jy oor die skoolkomitee op Drogevlei moet begin gesels. ’n Ander noodsaaklike ding is om te weet watter deel van die storie om uit te laat.
En dis dinge daardie wat jy nooit kan aanleer nie.
Kyk nou vir Floris, die laaste van die Van Barnevelts. Daar bestaan geen twyfel dat hy ’n goeie storie het nie, en daar is geen rede waarom hy nie mense kan oorreed om daarna te luister nie. En tog steur niemand hulle aan hom of aan wat hy te vertelle het nie. Bloot omdat hy nie die storie behoorlik kan vertel nie.
Gevolglik maak dit my telkens hartseer wanneer ek na hom luister. Want ek kan sien presies waar hy droogmaak. Hy kan nooit verstaan wanneer dit die regte tyd is om die as uit sy pyp te klop nie. Hy gee altyd sy mening oor die Drogevlei-skoolkomitee op die verkeerde plek. En, erger nog, hy weet nie watter deel van die storie om uit te laat nie.
En dit sou vergeefs wees vir my om hom te probeer leer, want, soos ek gesê het, dis iets wat jy nooit kan aanleer nie. Elke keer as hy dus sy storie klaar vertel het, sien ek hoe hy wegdraai van my met ’n miserabele uitdrukking op sy gesig, en stadig, met hangskouers, in die pad af loop, die laaste van die Van Barnevelts.
Teen Floris se voorkamermuur is ’n lang familiestamboom van die Van Barnevelts. Jy kan self gaan kyk. Dit gaan meer as tweehonderd jaar terug, na die Van Barnevelts van Amsterdam. Vroeër het dit selfs verder teruggegaan, maar dit was voor die rysmiere bo begin en ’n hele klomp van die Van Barnevelts weggevreet het. Nietemin, as jy na daardie lys kyk, sal jy sien heel onder, onder Floris se eie naam, is die laaste inskrywing, “Stephanus”. En ná “Stephanus”, tussen twee krom strepies, lees jy die woorde “Obiit Mafeking”.
Met die uitbreek van die Tweede Boereoorlog is Floris van Barnevelt ’n wewenaar met een seun, Stephanus, wat sewentien jaar oud is. Die kommando uit ons deel van die Transvaal vertrek in ’n vrolike luim. Ons lyk indrukwekkend, met ons perde en ons breërandhoede en ons bandeliers, en met die son wat op ons mausers se lope blink.
Jong Stephanus van Barnevelt is die opgewekste van ons almal. Tog is daar een ding van oorlog waarvan hy nie hou nie, sê hy, en dit is dat ons uiteindelik oorsee sal moet gaan. Hy sê, nadat ons die hele Kaap verower het, sal ons kommando Engeland per skip moet gaan aanval.
Maar ons gaan nie oorsee nie, nie toe al nie. In plaas daarvan vertel ons veldkornet ons dat die burgers uit ons streek opdrag gekry het om aan te sluit by die groot kommando wat Mafeking beleër. Ons moet ’n man by name Baden-Powell daar gaan skiet.
Ons kry koers in ’n westelike rigting. Ná ’n ruk kom ons agter dat ons veldkornet dikwels van sy perd afklim en met verbygaande kaffers gesels nadat hy hulle eers ’n hele entjie van die pad af weggelei het om dan ernstig met hulle te praat. Dis natuurlik reg van ons veldkornet om aan die kaffers te verduidelik dat ons nou in ’n tyd van oorlog verkeer, en dat die Republiek van elke kaffer verwag om nie so baie dagga te rook nie en ernstig na te dink oor wat aan die gang is. Maar ons kom agter dat die kaffer aan die einde van die gesprek na iets in die verte wys, en dat ons veldkornet dan groot moeite doen om in die rigting te ry wat die kaffer se vinger aangedui het.
Ons verstaan toe natuurlik waaroor dit als gaan. Ons veldkornet is ’n jong kêrel, en hy is skaam om ons te laat agterkom dat hy nie die pad na Mafeking ken nie.
Uiteraard het ons daarna nie meer soveel vertroue in ons veldkornet nie.
’n Paar dae later kom ons op Mafeking aan. Ons bring ’n lang tyd daar deur, totdat die Engelse troepe aankom om die plek te bevry. Toe is ons daar weg. En sommer vinnig ook. Die Engelse troepe bring ’n groot klomp grofgeskut met hulle saam. En as ons moeite gehad het om die pad na Mafeking te kry, het ons geen moeite om die pad uit Mafeking te kry nie. En hierdie keer het ons veldkornet ook nie kaffers nodig om met hulle vingers te wys waarheen ons moet ry nie. Selfs al lê ons ’n groot deel van die pad in die nag af.
Lank daarná gesels ek met ’n Engelsman hieroor. Hy sê dit gee hom ’n aardige gevoel om die ander kant van Mafeking se storie te hoor. Hy vertel daar was groot gejubel in Engeland toe Mafeking bevry word, en dis vreemd om aan die ander kant van die storie te dink – aan ’n verslane land en versplinterde troepe wat deur die donker aanstrompel.
Ek onthou baie dinge wat op pad terug van Mafeking gebeur het. Daar is geen maan nie. Af en toe verlig die sterre die gewere en verskrikte perde en desperate manskappe in die pad. Die veld sidder van die hoefslae van verblufte kommando’s. Die sterre kyk af op somber tonele van ’n volk se ondergang; op die lope van mausers wat die Transvaal vir die eerste keer gefaal het.
As ’n burger van die Republiek weet ek wat my plig is. En dit is om so ver moontlik weg te kom van die plek waar ek laas die Engelse artillerie in die lig van die sakkende son gesien het. Die ander burgers ken ook hulle plig. Ons kommandante en veldkornette het nie nodig om baie bevele te gee nie. Nietemin, al ry ek baie vinnig, is daar ’n jong man wat nog vinniger ry. Hy bly heeltyd voor my. Hy ry soos ’n burger behoort te ry wanneer daar dalk dwaalkoeëls kan wees, met sy kop baie laag en met sy arms amper om die perd se nek.
Dit is Stephanus, Floris van Barnevelt se jong seun.
Daar is heelwat murmurering en ontevredenheid, heelwat later, toe ons leiers ’n poging begin aanwend om die kommando’s weer tot orde te roep. Op die ou end slaag hulle daarin om ons tot stilstand te bring. Maar die meeste van ons voel dis ’n dwase ding om te doen. Veral aangesien daar steeds oral skietery aan die gang is, op lukrake wyse, en ons nie kan sê hoe ver die Engelse ons in die donker agtervolg het nie. Buitendien, die kommando’s het in soveel rigtings uiteengespat dat dit onmoontlik lyk om hulle weer bymekaar te kry voor die oorlog verby is. Ek en Stephanus klim uit die saal en bly by ons perde staan. Dis nie lank nie of daar is ’n groot klomp manne om ons. Hulle gestaltes is vreemd en skimagtig in die sterlig. Party staan by hulle perde. Ander sit op die gras langs die pad. “Vas staan, burgers, vas staan,” kom die bevel van ons offisiere. En die hele tyd hoor ons steeds geluide wat baie na liddiet klink. Dit voel dwaas om daar te wag.
“Die volgende wat hulle sal wil hê, is dat ons moet teruggaan Mafeking toe,” sê Stephanus. “Dalk het ons kommandant sy twaksak daar vergeet.”
Party van ons lag oor hierdie opmerking, maar Floris, wat steeds op sy perd sit, sê Stephanus behoort hom te skaam om sulke dinge te sê. Van wat ons van Floris in die skemerdonkerte kan uitmaak, lyk hy nogal indrukwekkend, regop in die saal, met die sterre wat sy baard en geweer verlig.
“As die veldkornet my aansê om terug te gaan Mafeking toe,” sê Floris, “sal ek teruggaan.”
“Dis hoe ’n burger moet praat,” sê die veldkornet, gevlei. Want hy het min gesag oor sedert ons uitgevind het waaroor hy met die kaffers gepraat het.
“Ek sal vir niemand teruggaan Mafeking toe nie,” antwoord Stephanus, “behalwe miskien om my aan die Engelse oor te gee.”
“Ons kan jou skiet as jy so iets doen,” sê die veldkornet. “Dis teen die krygswet.”
“Ek wens ek het iets van die krygswet geweet,” antwoord Stephanus. “Dan sou ek ’n vredesooreenkoms tussen Stephanus van Barnevelt en Engeland opgetrek het.”
Party van die manne lag weer. Maar Floris skud sy kop meewarig. Hy sê die Van Barnevelts het dapper teen Spanje geveg in ’n oorlog wat tagtig jaar geduur het.
Meteens klink ’n skerp geratel van geweervuur uit die donker op, en ons manne begin weer onrustig raak. Maar die geluid van geweervuur laat Stephanus ’n besluit neem. Hy spring vinnig op sy perd.
“Ek gaan terug,” sê hy, “ek gaan my aan die Engelse oorgee.”
“Nee, moenie gaan nie,” roep die veldkornet halfhartig, “of wag ten minste tot moreoggend. Hulle kan jou maklik per ongeluk in die donker skiet.” Soos ek gesê het, die veldkornet het min gesag gehad.
Twee dae gaan verby voordat ons weer vir Floris van Barnevelt sien. Hy is in ’n uitgeputte en gekwelde toestand, en sê dit was baie moeilik vir hom om sy pad na ons toe terug te vind.
“Jy moes die kaffers gevra het,” sê een van ons en lag. “Al die kaffers ken ons veldkornet.”
Maar Floris praat nie oor wat daardie nag gebeur het toe ons hom in die sterlig sien uitry het agter sy seun aan nie, terwyl hy vir hom skree om ’n man te wees en vir sy land te veg. Floris noem ook nie weer Stephanus se naam nie, sy seun wat dit nie werd is om ’n Van Barnevelt te wees nie.
Daarna gaan ons uitmekaar. Ons veldkornet is die eerste om gevange geneem te word. En ek het dikwels gedink hy voel seker baie alleen op St. Helena. Want daar was geen kaffers vir wie hy die pad uit die doringdraadkamp kon vra nie.
Toe kom ons leiers uiteindelik op Vereeniging byeen, en vrede word verklaar. En ons keer terug na ons plase, verlig dat die oorlog verby is, maar met swaar harte, wetend dat dit alles verniet was en dat die Vierkleur nie weer oor Transvaal sal wapper nie.
En Floris van Barnevelt sit die afdruk van sy familiestamboom wat hy regdeur die oorlog in sy knapsak saamgedra het, terug op sy plek teen die voorkamermuur. Toe kom daar ’n nuwe skoolmeester na hierdie deel van die Marico, en ná ’n lang gesprek met Floris, skryf die meester agter Stephanus se naam, tussen twee krom strepies, die twee woorde wat jy nou nog daar kan lees: “Obiit Mafeking”.
As jy dus enige persoon hier rond vra wat “obiit” beteken, sal hy jou dadelik kan sê dat dit ’n uitheemse woord is, en dat dit beteken om na die Engelse toe te ry met jou mauser in die lug en ’n wit vlag aan die loop vasgebind.
Maar dis eers lank daarna dat Floris van Barnevelt sy storie begin vertel.
En toe steur niemand hulle aan hom nie. En hulle wil nie toelaat dat hy vir die Drogevlei-skoolkomitee benoem word nie omdat ’n man wat sulke onverantwoordelike dinge sê, sekerlik nie reg in sy kop kan wees nie.
Maar ek weet dat Floris ’n goeie storie het, en al wat fout is daarmee, is dat hy dit sleg vertel. Hy noem die Drogevlei-skoolkomitee te gou. En hy klop die as op die verkeerde plek uit sy pyp. En hy hou aan om daardie deel van die storie te vertel wat hy eintlik moet uitlaat.