Читать книгу Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman - Herman Charles Bosman - Страница 12
PRAG EN PRAAL OP RAMOUTSA
ОглавлениеNEE, SÊ OOM SCHALK LOURENS, nee, ek weet nie waarom mense my altyd vra om vir hulle stories te vertel nie. Selfs al weet hulle dat ek beter stories as enigiemand anders kan vertel. Baie beter. Wat ek bedoel is, ek wonder waarom mense so graag na stories luister. Dis maklik om te begryp waarom ’n man my sou vra om vir hom ’n storie te vertel wanneer daar droogte in die Marico is. Want dan kan hy op die stoep sit en pyp rook en koffie drink terwyl ek praat, en my storie sorg dat hy nie in die warm son boorgat toe hoef te gaan om vir sy vee water te pomp nie.
Aan die ernstige manier waarop die boere van die Marico my sekere tye vir stories vra, weet ek altyd dat daar nie ’n bries is om die windpomp te draai nie, dat die pomphandvatsel swaar is en dat die water baie diep ondertoe lê. Sulke tye sien ek dikwels daardie hartseer trek wat in ’n man se oë kom wanneer hy weet ek is naby die einde van my storie en hy sal binnekort na sy hoed moet reik.
En as ek my storie klaar vertel het, sê hy, “Ja, oom Schalk. Dis die weg van die wêreld. Ja, daardie storie loop diep.”
Maar ek weet hy was heeltyd eintlik besig om te dink aan hoe diep die water in die boorgat lê.
Soos ek gesê het, dis wanneer mense my om ander redes vir ’n storie vra dat ek begin wonder, soos nou. As hulle my vra daardie tye wanneer daar geen ploegwerk is om te doen nie en geen doringdraad om in die hitte van die dag te span nie. En ek dink hierdie redes lê baie dieper as enige van my stories en dieper as die water in die boorgate wanneer daar droogte is.
Vat nou maar vir jong Krisjan Geel, byvoorbeeld. Hy het op ’n keer na ’n storie geluister. Dit was natuurlik dwaas van hom om te luister, veral aangesien dit nie ek was wat die storie vir hom vertel het nie. Hy het dit by die koelie agter die toonbank van die winkel op Ramoutsa gehoor. Krisjan Geel het hierdie storie aan my oorvertel, en ek het hom reguit gesê dat ek nie veel daarvan dink nie. Ek het gesê enigeen kan reg van die begin af raai waarom die prinses langs die put sit. Enigeen kan sien sy het nie soontoe gegaan net omdat sy dors was nie. Ek het ook gesê die storie is te lank, en selfs al was ek besig om aan iets anders te dink, sou ek dit steeds op so ’n manier vertel het dat die mense tot aan die einde daarna sou wou luister. Ek het heelparty ander dinge van dié aard uitgewys.
Krisjan Geel het gesê hy het geen twyfel dat ek reg is nie; die man wat hom die storie vertel het, was maar net ’n koelie, maar miskien was dit nie te sleg vir ’n koelie nie. Hy het ook gesê daar was heelwat klante in die winkel, wat dit nóg moeiliker gemaak het vir die koelie om sy storie behoorlik te vertel, want hy moes die hele tyd op ’n baie ongemaklike manier staan, so met sy voet op die skaal, terwyl hy negosiegoed afweeg.
Uit sy stemtoon het dit geklink asof Krisjan Geel nogal jammer gevoel het vir die koelie.
Daarom het ek hom baie ferm aangepraat.
“Die koelie in die winkel op Ramoutsa,” sê ek, “het my voorheen veel beter stories vertel. Hy het my op ’n keer vertel dat daar geen gebrande mielies ingemeng was by die koffiebone wat hy aan my verkoop het nie. Nog een wat amper so goed was, was toe hy gesê het –”
“En om te dink die prinses het by die put sit en wag,” onderbreek Krisjan my, “net omdat sy op ’n dag die jong man daar gesien het.”
“– Nog ’n goeie een,” hou ek vol, “was toe hy gesê het daar’s geen Kalaharisand in die sak geelsuiker wat ek by hom gekoop het nie.”
“En sy het hom net een keer gesien,” gaan Krisjan Geel voort, “en sy was ’n prinses.”
“– En ek moes die meeste van daai suiker vir die varke voer,” sê ek, “dit het nie gesmelt of die koffie soet gemaak nie. Dit het soos modder op die bodem van die koppie bly lê.”
“Sy het by die put gewag, want sy was verlief op hom,” eindig Krisjan Geel sy storie flouerig.
“– Ek het dit sommer met die varke se semels gemeng,” sê ek, “hulle vreet baie vinnig. Dis snaaks hoe vinnig ’n vark vreet.”
Daarna het Krisjan Geel niks verder gesê nie. Hy het ongetwyfeld besef ek gaan hom nie toelaat om my te beïndruk met ’n storie wat ’n koelie vertel het nie; en nie baie goed vertel het nie, daarby gesê. Ek kon sien wat die koelie se plan was. Net omdat ek ophou koop het by sy winkel ná die onaangenaamheid oor die koffiebone en die suiker – wat gewoon gebrande mielies en Kalaharisand was, soos ek ’n paar van my bure vertel het – het hy op hierdie ongevraagde metode besluit om my terug te kry. Hy het hom as my mededinger opgestel. Hy sou ook stories vertel.
En omdat ek so ’n groot voorsprong op hom gehad het, het hy allerlei soorte onregverdige taktiek uitgehaal. Soos om prinsesse in sy stories te sit. En paleise. En olifante met geel en rooi drapeersels wat opgelei is om die koning se vyande op bevel te vertrap. Terwyl die enigste olifante waaroor ek kan praat, dié is wat nie rooi drapeersels dra, of goue voetringe nie, en hulle nie sorge maak oor of jy vriend of vyand van die koning is nie: Hulle vertrap jou sommerso, en sonder enige soort opleiding.
Aanvanklik was dit onregverdig van die koelie om met sulke stories te kom. Ek kon nie meeding nie. En ek het begin dink daar steek nogal waarheid in wat sommige van die sprekers tydens verkiesingsvergaderings oor die koelieprobleem sê.
Maar toe ek dit deeglik oordink, het ek besef dit maak eintlik nie saak nie. Die koelie kon soveel stories vertel as wat hy wou oor prinsesse wat op olifante rondry. Want daar was een ding wat ek geweet het ek altyd beter as die koelie sal kan doen: In net ’n paar woorde, en sonder om ooit oor die prinses te praat, kan ek mense subtiel laat weet wat in haar hart omgaan. En dit is belangriker as die paleise en die tempels en die olifante met goue versierings aan hulle voete.
Dalk het die koelie die waarheid besef van wat ek nou sê. Ewenwel, ná ’n ruk het hy opgehou om sy klante se tyd te mors met stories oor keisers. Terwyl hy hulle terselfdertyd vertel dat die prys van skaapdip of wa-ghries weer op is. Of dalk het sy klante net moeg geraak om na hom te luister.
Maar voor dit gebeur het, het heelparty van die boere by my geskimp, op wat hulle gemeen het ’n gemoedelike, grappige manier was, dat ek meer opwinding in my stories sal moet begin sit as ek dit in aanvraag wil hou. Hulle het aan die hand gedoen dat ek op ’n manier ten minste ’n koning en ’n paar prinsesse in my stories inwerk, en sommer ook ’n string olifante met Namakwalandse diamante in hulle ore.
Ek het gesê hulle praat snert. Ek het uitgewys dat dit nie sin maak dat ek mense probeer vertel van konings en prinsesse en opgeleide olifante, en so meer, nie as ek niks van hulle weet of selfs wat hulle veronderstel is om te doen nie.
“Hulle hoef niks te doen nie,” verduidelik Frik Snyman, “jy kan net noem dat daar so ’n optog naby was, terwyl wat jy ook al aan die vertelle is, gebeur het. Jy kan hulle net in die verbygaan noem, oom Schalk, en jy hoef niks verder oor hulle te sê totdat jy so in die helfte van jou volgende storie is nie. Jy kan verduidelik dat die mense in die optog niks met die storie te make het nie en net verbybeweeg op pad êrens anders heen.”
Natuurlik sê ek dit is louter onsin. En dat, as ek dieselfde optog oor en oor sou gebruik, die mense daarin ná ’n paar stories bra gehawend daar sou uitsien. Dit sou ’n toiingrige, stowwerige optog wees.
“En die volgende keer as jy ons vertel van ’n nooi wat Nagmaal toe gaan op Zeerust, oom Schalk,” gaan Frik Snyman voort, “kan jy sê dat twee mans ’n rooi sambreel bo haar kop oopgehou het en dat sy juwele in haar hare gehad het en ’n slangdans gedoen het.”
Ek het geweet Frik Snyman sê maar net sulke onbesonne goed as gevolg van dinge wat hy in die bioskoop gesien het en wat reguit na sy kop toe is.
Nietemin, ek moes na baie onredelike aanmerkings van hierdie aard luister voordat die koelie op Ramoutsa ophou probeer het om sy klante met leë vertellings te vermaak.
Die dae stap aan, en die droogte kom, en die boere van die Marico bring baie tyd deur by die boorgate, waar hulle die swaar handvatsels op en af moet pomp. Sodat die koelie se kort tydperk van stories vertel amper vergete is. Selfs Krisjan Geel moet toegee dis moontlik om hierdie stories van prag en praal te oordoen.
“Al hierdie dinge wat hy oor tempels en so aan sê,” sê Krisjan Geel, “met wit vloere en blink rooi gesteentes daarin. En radjas. Weet jy wat ’n radja is, oom Schalk? Nee, ek weet ook nie. Mens kan te veel daarvan kry. Dit was net daardie een storie van hom wat goed was. Die een oor die prinses. Sy het edelgesteentes in haar hare gehad, en daar was pêrels aan haar rok vasgewerk. En die jongman het nooit verstaan waarom sy daar opgedaag het nie. Hy het nooit kon raai dat sy op hom verlief was nie. Maar dalk het ek nie die storie die eerste keer reg vertel nie, oom Schalk. Miskien moet ek dit weer vir jou vertel. Ek het dit al vir soveel mense vertel.”
Maar ek wys sy aanbod vinnig van die hand. Ek sê dis glad nie nodig vir hom om alles te herhaal nie, ek onthou die storie baie goed en, as dit vir hom om’t ewe is, sal ek verkies om dit nie weer te hoor nie. Hy kan dit dalk net bederf met die hervertelling.
Dis net omdat hy jonk en onervare is, sê ek, dat hy toegelaat het dat die koelie se storie hom so op loop neem. Ek vertel hom van ander jongkêrels wat ek op verskillende tye in die Marico geken het, wat ook verkeerde menings oor dinge gevorm het en my agterna daarvan kom vertel het.
“Waarom jy so in daardie storie belangstel,” sê ek, “is omdat jy jou graag wil verbeel jy is daardie jongman.”
Krisjan Geel stem met my saam dat dit die rede is waarom die koelie se storie hom so aantrek. Daardie jongman staan in elk geval nie ’n kans in die Marico nie, gaan hy voort, met al die droogtes, die diere wat miltsiekte kry, en die muskiete wat saans so gons dat jy nie geslaap kry nie.
En toe Krisjan Geel wegstap, kan ek baie duidelik sien hoeveel hy die jongman in die koelie se storie beny.
Soos ek vantevore gesê het, daar is soms iets vreemds aan stories en die mense wat na hulle luister. Ek dink weer daaraan op ’n besonder warm middag ’n paar weke later, toe ek vir Lettie Viljoen raakloop. Sy kyk in die lug op en die sonlig val op haar gesig en op haar glansende blonde hare. Sy sit op laas somer se droë gras en leun op een arm, en dit val my op wat ’n grasieuse prentjie sy maak en hoe slank haar polse is.
En omdat Lettie Viljoen nie daar opdaag op ’n olifant met oranje tooisels en goue voetringe nie, en omdat sy nie ’n string rooi steentjies om haar nek dra nie, weet Krisjan Geel natuurlik dat sy nie ’n prinses is nie.
En ek veronderstel dis waarom, tydens al die kere wat hy met haar gesels en haar daardie storie van die prinses en die put vertel, Krisjan Geel nooit kan raai wat Lettie Viljoen in die hitte van die son daar na die boorgat toe bring nie.