Читать книгу Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman - Herman Charles Bosman - Страница 6

MAKAPAN SE GROTTE

Оглавление

KAFFERS? (SÊ OOM SCHALK LOURENS). Ja, ek ken hulle. En hulle’s almal eners. Ek is godvresend, en ek het respek vir Sy werke, maar ek kon nog nooit verstaan waarom Hy kaffers en die runderpes gemaak het nie. Die Hottentotte is ’n bietjie beter. Die Hottentot sal net die biltong steel wat aan die draad hang om droog te word. Hy sal nie die draad óók steel nie. Dis waar die kaffer anders is.

Tog, mens loop soms ’n goeie kaffer raak, wat getrou en opreg is, en ’n ware Christen, en wat nie die wildehonde jou skape sal laat vang nie. Ek dink altyd dis nie reg om daardie soort kaffer dood te maak nie.

Ek onthou een kaffer wat ons gehad het, by name Nongaas. Hoe ons aan hom gekom het, het só gebeur: Dit was in die jaar van die groot droogte, toe daar niks gras was nie, en die water in die pan opgedroog het. Ons vee het soos vlieë gevrek. Dit was verskriklik. Elke dag het tien of twaalf of twintig gevrek. My pa besluit toe ons moet alles op die waens pak en na die Dwarsberg trek, waar hy gehoor het daar goeie reëns was. Ek was toe ses jaar oud, die jongste in die huis. Ek het meestal agter in die wa saam met my ma en my twee susters gesit. My broer Hendrik was sewentien, en hy’t my pa en die kaffers gehelp om die vee aan te jaag. Dis hoe ons getrek het. Nog baie van ons vee vrek tydens die trek, maar ná omtrent twee maande bereik ons die Laeveld en my pa sê God is goed vir ons. Want die gras is groen al met die Dwarsberg langs.

Een oggend kom ons af op ’n klompie kafferhutte, waar my pa twee sakke mielies vir ’n rol tabak ruil. Voor ’n hut staan ’n piekanien omtrent so oud soos ek, en hy kyk heeltyd vir ons en glimlag breed. Maar hy kyk veral na my broer Hendrik. En dis g’n wonder nie. Selfs in daardie dae was my broer al baie gesteld op sy voorkoms, en hy het altyd probeer om na die jongste mode aan te trek. Sondae het hy selfs kouse gedra. Nadat ons die mielies opgelaai het, sny my pa ’n stop boertabak af en gee dit vir die piekanien, wat nog breër glimlag, sodat ons elkeen van sy tande kan sien, wat baie wit is. Hy sit die pruimpie in sy mond en byt daarop. Ons bars almal uit van die lag. Die piekanien lyk nes ’n klein hondjie wat ’n stukkie vleis ingesluk het en sy kop eenkant toe draai om uit te vind hoe dit smaak.

Dit was in die oggend. Ons druk deur tot die middag, want my pa wil Tweekoppiesfontein bereik, waar ons ’n tyd lank met die vee wil oorstaan. Dit is laat in die middag toe ons daar aankom en begin uitspan. Net toe ek besig is om uit die wa te klouter, kyk ek om en sien iets vinnig agter ’n bos inspring. Omdat dit soos een of ander gedierte lyk, is ek maar lugtig, en vertel my broer Hendrik daarvan. Hy vat sy geweer en beweeg stadig in die rigting van die bos. Byna onmiddellik sien ons dis die piekanien wat ons daardie oggend voor die hut sien staan het. Hy moes omtrent tien myl agter ons waens aangeloop het. Hy is vuil en moeg, maar toe my broer na hom toe stap, glimlag hy weer van oor tot oor en lyk baie bly. Omdat ons nie weet wat om met hom te doen nie, sê Hendrik hy moet terug huis toe gaan en steek hom onder die klippe. Maar my pa is ’n barmhartige mens, en nadat hy na Nongaas se storie geluister het – want dit was die piekanien se naam – sê hy hy kan maar bly, mits hy hom goed gedra, en nie soos die ander kaffers lieg of steel nie. Nongaas vertel ons in die Setsjoeana-taal, wat my pa verstaan, dat sy pa en ma deur leeus doodgemaak is, en dat hy by sy oom bly, van wie hy nie hou nie, maar dat hy van my broer Hendrik hou en dit is waarom hy agter ons waens aangeloop het.

Nongaas bly baie jare by ons. Hy word saam met ons groot. Hy is ’n baie goeie kaffer en raak met verloop van tyd baie geheg aan ons. Maar hy aanbid my broer Hendrik. Namate hy ouer word, praat my pa soms met Nongaas oor sy siel en vertel hom van God. Maar hoewel hy vir my pa sê hy verstaan, kan ek sien dat, wanneer Nongaas aan God dink, hy eintlik aan Hendrik dink.

Net ná my een-en-twintigste verjaarsdag kry ons die nuus dat Hermanus Potgieter en sy hele familie deur ’n kafferstam onder leiding van Makapan uitgemoor is. Ons hoor ook dat, nadat hulle Hermanus vermoor het, die kaffers die vel van sy lyf gestroop en sakkies daarvan gemaak het om hulle dagga in te hou. Dit was ’n baie bose ding om te doen, veral omdat dagga jou mal maak en dit ’n sonde is om dit te rook. ’n Kommando is uit ons distrik opgeroep om die stam aan te val en te leer om respek te hê vir die wit man se wette – maar veral om meer respek te hê vir die wit man se vel. My ma en susters bak ’n groot klomp hardebeskuit, wat ons saam met mieliemeel en biltong inpak. Met die lood-gietvorm smelt ons koeëls. Die volgende oggend ry ek en my broer te perd na Makapan se kraal. Ons vat Nongaas saam om na die perde om te sien en vuur te maak. My pa bly agter. Hy sê hy is te oud om op kommando te gaan, tensy dit is om teen die Rooibaadjies te veg, as daar nog enige van hulle oor is.

Maar hy gee ons wel ’n stukkie goeie raad.

“Moenie vergeet om julle Bybels te lees nie, seuns,” roep hy agter­na toe ons wegry. “Bid dat die Here julle sal help, en wanneer julle skiet, mik altyd vir die maag.” Hierdie opmerkings is kenmerkend van my pa se diep godsdienstige geaardheid. Hy weet natuurlik ook dis makliker om iemand in die maag as in die kop te tref en dis ewe doeltreffend, want geen mens kan lank leef nadat sy binnegoed flenters geskiet is nie.

Wel, ons ry toe verder, ek en my broer, met Nongaas ’n paar jaarts agter ons op die pakperd. Nou en dan sluit ons by ander burgers aan, baie van hulle met waens, tot ons drie dae later Makapan se kraal bereik, waar die groot kommando reeds kamp opgeslaan het. Ons kom in die aand daar aan, en so ver ons kan sien, brand daar vure in ’n groot kring. Daar is meer as tweehonderd waens, en die vure flikker rooi en geel op die tentseile. Ons meld aan by die veldkornet, wat ons ’n plek wys waar ons kan kamp opslaan, reg langs die vier Van Rensburg-broers. Nongaas het pas die vuur aangesteek en koffie gemaak toe een van die Van Rensburgs oorstap en ons na hulle wa oornooi. Hulle het ’n rietbok geskiet en is besig om stukkies daarvan oor die kole te braai.

Ons skud met almal blad en merk op dat dit die regte soort weer is vir mielies as die wurms hulle net nie opvreet nie, en dat dit hoog tyd is dat ons ’n ander president kry, en dat rietbok darem baie lekker smaak so oor die kole gebraai. Toe vertel hulle ons wat met die kaffers gebeur het. Makapan en sy volgelinge het die kommando’s van ver af sien aankom en, nadat hulle ’n paar skote afgevuur het, het almal by die grotte in die krans ingevlug. Hierdie grotte strek baie ver ondergronds, met baie kinkels en draaie. Aangesien die Boere nie die kaffers kon bestorm sonder om baie swaar verliese te ly nie, het die kommandant opdrag gegee dat hulle die rant moet omsingel en die kaffers in die grotte moet laat verhonger. Hulle was toe reeds ses dae binne die grotte, die hele stam, mans, vroue en kinders, en aangesien hulle nie meer baie kos kon oorhê nie en daar net ’n klein brakwaterdam was, was die Boere hoopvol dat hulle die meeste van die kaffers sou kon uitmoor sonder om ammunisie te mors.

Wanneer die wind van die grotte se kant af waai, was die stank reeds erg. Ons sou verder terug kamp opgeslaan het, as ons nie bang was die kaffers ontsnap tussen die vure deur nie.

Die volgende oggend sien ek die eerste keer hoekom ons nie die kaffers uit hulle lêplek sal kan verdryf nie, selfs al is ons kommando vierhonderd man sterk. Oral tussen die klippe en bosse sien ek donker openinge in die krans wat reguit na die diepste dele van die aarde lei. Hier en daar sien ons dooie liggame. Maar daar is ’n klomp kaffers wat steeds nie dood is nie en ons kan húlle nie sien nie. Maar hulle het gewere wat hulle van swartmarkhandelaars en sendelinge gekoop het, en hulle skiet op ons elke keer as ons binne trefafstand kom. En oor alles hang deurentyd die stank van ontbinding.

Die beleg sleep nog ’n week voort. Toe hoor ons dat ons leiers, Marthinus Wessels Pretorius en Paul Kruger, stry gekry het. Kruger wil die kaffers onmiddellik aanval en die saak afhandel, maar Pretorius sê dis te gevaarlik en hy wil nie nóg burgers verloor nie. Hy sê die hand van God lê reeds swaar op Makapan, en oor ’n paar weke sal die res van die kaffers almal van honger dood wees. Maar Paul Kruger sê dit sal selfs béter wees as die hand van God nóg swaarder op die kaffers lê. Uiteindelik kry Paul Kruger toestemming om met vyftig vrywilligers die grotte van een kant af te bestorm, terwyl kommandant Piet Potgieter met tweehonderd man van die ander kant af opruk om die kaffers se aandag af te lei. Kruger is baie gewild in ons geledere en feitlik almal wil by hom aansluit. Maar hy kies vyftig manskappe, onder wie die Van Rensburgs en my broer. Omdat ek nie wil agterbly en die kamp oppas nie, is ek verplig om by Piet Potgieter se kommando aan te sluit.

Al die voorbereidings word gedoen en die volgende oggend maak ons gereed om aan te val. My broer Hendrik is baie trots en bly hy is vir die gevaarliker deel van die aanslag gekies. Hy het sy geweer sorgvuldig geolie en sy velskoene blink gepoets.

Nongaas kom nader en ek kan sien hy lyk baie mismoedig.

“My baas,” sê hy vir my broer Hendrik, “jy moenie gaan veg nie. Hulle gaan jou doodskiet.”

My broer skud sy kop.

“Laat my dan saam met jou gaan, baas,” sê Nongaas. “Ek sal voor loop en na jou kyk.”

Hendrik kan maar net lag.

“Luister, Nongaas,” antwoord hy, “jy kan agterbly en kosmaak. Ek sal betyds vir ete terug wees.”

Die hele kommando kom byeen en almal kniel en bid. Dan sê Marthinus Wessels Pretorius ons moet Gesang nommer 23 sing, “Rus my siel, jou God is Koning”. Daarna sing ons nog ’n gesang en ook ’n psalm. Die meeste mense sou voel een gesang is genoeg. Maar nie Pretorius nie. Hy het altyd seker gemaak van alles wat hy doen. Toe vertrek ons vir die aanslag. Ons veg dapper, maar daar is baie kaffers, en hulle lê in die donkerte van die grotte en skiet op ons sonder dat ons hulle kan sien. Terwyl die geveg voortduur, is dit erger as die liddietbomme by Paardeberg. En die stank is verskriklik. Ons bind sakdoeke om die onderste helfte van ons gesigte, maar dit help niks. En aangesien ons nie Engelsmanne is nie, het baie van ons nie sakdoeke nie. Maar ons hou aan veg en skiet op ’n vyand wat ons nie kan sien nie. Ons storm tot reg by die bek van een van die grotte en is selfs al ’n ent in toe ons leier, kommandant Piet Potgieter, sy hande in die lug gooi en met ’n borswond agteroor val. Ons dra hom uit, maar hy is reeds dood. Dit breek ons moed en ons val terug.

Toe ons terugkeer van die geveg, ontdek ons dat die ander flank ook ’n neerlaag gely het. Hulle het baie kaffers geskiet, maar daar was steeds honderde van hulle oor, wat al hoe dapperder geveg het, hoe erger die honger aan hulle mae knaag.

Ek gaan terug na ons kamp toe. Net Nongaas is daar. Hy sit vooroor gebuig op ’n klip, met sy gesig op sy arms. ’n Aaklige vrees neem van my besit en ek vra hom wat fout is.

“Baas Hendrik,” antwoord hy, en toe hy na my kyk, is sy oë vol smart. “Baas Hendrik het nie teruggekom nie.”

Ek gaan onmiddellik terug en begin rondvra, maar niemand kan enigiets met sekerheid sê nie. Hulle onthou heel goed dat hulle my broer Hendrik gesien het toe hulle die grot bestorm. Hy was reg in die middel van die voorste linie. Toe ek dit hoor, is ek opreg trots op my broer, hoewel ek ook besef dat mens niks anders van my pa se seun sou verwag nie. Maar niemand kan my sê wat van hom geword het nie. Al wat hulle weet, is dat hy nie onder dié was wat saam teruggekom het nie.

Ek praat met Marthinus Wessels Pretorius en vra hom om ’n soek­geselskap uit te stuur om na my broer te gaan soek. Maar Pretorius is woedend.

“Ek sal nie ’n enkele man laat gaan nie,” antwoord hy. “Dis alles Kruger se skuld. Ek was van die begin af daarteen. Nou is kommandant Potgieter dood, wat ’n veel beter man was as Kruger en sy hele Dopper-kliek tesaam. As enigiemand teruggaan na die grotte toe, sal ek hom van die kommando ontslaan.”

Maar ek dink nie dit was regverdig van Pretorius nie. Want Paul Kruger het net sy plig probeer doen, en agterna, toe hy vir president benoem is, het ek vir hom gestem.

Dis elfuur toe ek weer terug is by ons deel van die laer. Nongaas sit steeds op die plat klip, en ek sien hy het my broer Hendrik se opdragte uitgevoer en dat die pot staan en prut op die vuur. Aandete is gereed, maar my broer is nie daar nie. Die toneel is te veel vir my en ek gaan lê alleen onder die Van Rensburgs se wa.

Omtrent ’n halfuur later kyk ek op en sien Nongaas wegstap met ’n waterbottel en ’n sakkie op sy rug vasgemaak. Hy sê niks, maar ek weet hy gaan na my broer Hendrik soek. Nongaas weet as sy baas nog lewend is, gaan hy hom nodig hê. Daarom gaan hy na hom toe. Dis al. ’n Lang tyd kyk ek hoe Nongaas tussen die rotse en bosse deurkruip. Ek veronderstel sy plan is om naby een van die grotte te lê en wag en in te sluip wanneer dit donker is. Dis ’n baie dapper ding om te doen. As Makapan se kaffers hom sien, sal hulle hom sekerlik doodmaak, want hy is besig om die Boere te help, en daarby is hy ’n Betsjoeana.

Nag kom, maar nóg my broer Hendrik nóg Nongaas keer terug. Heelnag sit ek met my gesig na die grotte gedraai en slaap niks. In die oggend staan ek op en laai my geweer. Ek sê vir myself dat, as Nongaas tydens sy reddingspoging vermoor is, daar net een ding oorbly vir my om te doen: Ek moet self na my broer toe gaan.

Ek stap eers die veld in, ingeval een van die offisiere my sien en dwing om om te draai. Dan loop ek met die rant langs, onder dekking van die bosse. Van daar af kruip ek, verskuil deur lang gras en rotse, totdat ek ’n deel van Makapan se vesting bereik waar dit stiller is. Ek vorder tot sowat tweehonderd jaart van ’n grot af. Daar lê ek doodstil agter ’n groot rots om uit te vind of enige kaffers aan daardie kant waghou. Af en toe hoor ek die geluid van ’n skoot wat afgevuur word, maar dit kom van baie ver af. Ná’n ruk raak ek aan die slaap, want die angs en min slaap van die vorige nag het my uitgeput.

Toe ek wakker word, is die son reg bo my. Dis warm en daar is geen wolke in die lug nie. Net ’n paar aasvoëls wat baie stadig sirkel, sonder dat dit lyk of hulle ooit hulle vlerke klap. Nou en dan vlieg een ondertoe en gaan sit op die grond, en dis aaklig. Ek dink aan my broer Hendrik en ril. Ek kyk na die grot. Dit lyk asof iets daarbinne beweeg. ’n Oomblik later sien ek dis ’n kaffer wat versigtig na die uitgang beweeg. Dit lyk asof hy reg na my kyk, en uit vrees dat hy my sal sien en die ander kaffers sal roep, spring ek vinnig op en skiet op hom, en mik na sy maag. Hy val soos ’n sak patats en ek is dankbaar vir my pa se raad. Maar nou moet ek vinnig optree. As die ander kaffers die skoot gehoor het, sal hulle almal gelyk aangestorm kom. En dit wil ek nie hê nie. Ek hou ook niks van daardie aasvoëls nie. Ek besluit om ’n groot kans te waag en hardloop so vinnig ek kan tot by die grot en by die ingang in, sodat, al kom die kaffers, hulle my nie in die skemerte sal kan sien nie. Ek lê ’n tyd lank en wag. Maar toe geen kaffers opdaag nie, staan ek op en loop stadig met ’n donker tonnel langs, en kyk kort-kort om om seker te maak niemand volg my nie en dat ek my pad terug sal vind. Want daar is baie kinkels en draaie en dit lyk asof die hele krans uitgehol is.

Ek weet my soektog gaan nie maklik wees nie. Maar daar is iets wat my laat voel dat my broer naby is. Daarom is my geloof sterk, en ek weet dat die Here my na hom sal lei. En ek kry my broer Hendrik, en hy lewe. ’n Groot vreugde oorweldig my toe ek hom kry. Ek sien hom in die flou lig wat deur ’n groot skeur in die dak van die grot val. Hy lê teen ’n rots, hou sy been vas en kreun. Toe sien ek dat sy been verstuit en baie opgeswel is, maar dis al wat fout is met hom. So verras is my broer Hendrik om my te sien, dat hy vir eers nie kan praat nie. Hy hou net my hand vas en lag saggies, en toe ek aan sy voorkop raak, kan ek voel hy is koorsig. Ek gee hom ’n bietjie brandewyn uit my fles, en hy vertel my kortliks wat gebeur het. Toe hulle die grot bestorm, was hy reg voor en soos die kaffers terugbeweeg het, is hy agterna. Maar hulle het in alle rigtings uiteengespat totdat my broer hom alleen bevind het. Hy het probeer teruggaan, maar het verdwaal en in ’n sloot geval. Op dié manier het hy sy enkel so erg verstuit dat hy in intense pyn verkeer het. Hy het in ’n hoek ingekruip en daar gebly, met die gevaar, die donker en sy pyn. Maar die ergste van alles was die stank van die verrottende lyke.

“En toe kom Nongaas,” sê my broer Hendrik.

“Nongaas?” vra ek.

“Ja,” antwoord hy. “Hy het my gekry en my kos en water gegee, en op sy rug getel. Die water het opgeraak en ek was baie dors. Toe vat Nongaas die bottel om dit by die pan te gaan volmaak. Maar dis baie gevaarlik om daar uit te kom, en ek is bang hulle maak hom dood.”

“Hulle sal hom nie doodmaak nie,” sê ek. “Nongaas sal terugkom.” Ek sê dit, maar in my hart is ek bevrees. Want die grotte is eindeloos en donker, en die kaffers is bloeddorstig. Ons kan nie langer wag nie. Dus tel ek vir Hendrik op my skouer en dra hom na die uitgang. Hy verduur baie pyn.

“Jy weet,” fluister hy, “Nongaas het gehuil toe hy my kry. Hy het gedink ek is dood. Hy was baie goed vir my – baie goed. Onthou jy die dag toe hy agter die waens aangeloop het? Hy het so vol vertroue gelyk en so klein, en tog het ek – ek het hom met klippe gegooi. Ek wens ek het dit nie gedoen nie. Ek hoop maar net hy kom veilig terug. Hy het gehuil en oor my hare gestreel.”

Soos ek sê, my broer Hendrik was koorsig.

“Natuurlik sal hy terugkom,” antwoord ek. Maar dié keer weet ek dat ek lieg. Want toe ek deur die bek van die grot loop, het ek geskop teen die kaffer wat ek vroeër daar geskiet het. Die liggaam het op sy sy gerol en ek het die gesig gesien.

Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman

Подняться наверх