Читать книгу Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman - Herman Charles Bosman - Страница 7

DIE ROOINEK

Оглавление

ROOINEKKE, SÊ OOM SCHALK LOURENS, is vreemde goed. Vat byvoor­beeld die dag toe ek en my susterskind Hannes met ’n paar Engels­manne naby Dewetsdorp te doen kry. Dis kort ná Sannaspos, en ek en Hannes lê agter ’n rots en hou die pad dop. Hannes bring sulke tye deur op wat hy ’n nuttige manier noem. Hy vyl sy mauserkoeëls se punte op ’n stukkie plat klip totdat die lood deur die staal sigbaar is, wat van hulle dum-dum-koeëls maak.

Ek praat dikwels met my susterskind Hannes daaroor.

“Hannes,” sê ek. “Dis ’n sonde. Die goeie Vader sien jou.”

“Dis reg so,” antwoord Hannes dan. “Die Here weet dis die Boere­oorlog dié, en in tye van oorlog sal hy ’n bietjie dwaasheid vergewe, veral aangesien daar so baie Engelse is.”

In elk geval, terwyl ons agter die rots skuil, sien ons verder af in die pad twee ruiters aangegalop kom. Ons lê doodstil en laat hulle nader kom tot so vierhonderd tree van ons af. Dis Engelse offisiere. Hulle perde is eersteklas en hulle uniforms mooi en baie deftig. Hulle is loshande die deftigste mans wat ek in ’n lang tyd gesien het, en ek kry skaam vir my verslete broek en velskoene. Ek is bly dat ek agter die rots is en dat hulle my nie kan sien nie. Veral omdat my baadjie ’n lang skeur op die rug het, oor ek drie dae gelede redelik vinnig deur ’n doringdraadheining moes klim. Ek het ook nét betyds deurgekom. Die veldkornet, ’n vet kêrel wat nie so vinnig kon hardloop nie, was omtrent twintig jaart agter my. En hy het in die draad bly hang met ’n koeël in sy lyf. Ek was regdeur die Boereoorlog bly ek was maer en sonder liddorings.

Ek en Hannes skiet omtrent gelyktydig. Een van die offisiere val van sy perd af. Hy tref die grond met sy skouers en rol twee keer om, en jaag ’n wolk rooi stof op terwyl hy rol. En toe doen die ander offisier ’n vreemde ding. Hy trek sy perd in en klim af. Hy gee ’n kyk in ons rigting. Toe lei hy sy perd na waar die ander man op die grond krul en rondrol. Dit vat hom ’n rukkie om die man op sy perd te tel, want dis nie maklik om ’n man wat hulpeloos is op te tel nie. Deur alles bly hy koel en kalm, asof hy glad nie bekommerd is oor die feit dat die twee mans wat sy vriend geskiet het net ’n paar treë weg lê nie. Hy kry dit op ’n manier reg om die gewonde man oor die saal te laat lê en stap langs die perd aan. Ná ’n paar jaarts stop hy en dit lyk asof hy iets onthou. Hy draai om en wuif na waar hy meen ons skuil, asof hy ons uitdaag om te skiet. Die hele tyd lê ek net en kyk na hom, verstom deur sy ongeërgdheid.

Maar toe hy met sy hand wuif, druk ek nog ’n koeël in die slot van my martini en korrel. Op daardie afstand kan ek nie mis nie. Ek lê baie versigtig aan en is op die punt om die sneller te trek, toe Hannes sy hand op die loop sit en my geweer boontoe stoot.

“Moenie skiet nie, oom Schalk,” sê hy. “Dis ’n dapper man daardie.”

Ek kyk verbaas na Hannes. Sy gesig is spierwit. Ek sê niks, en laat my geweer sak tot op die gras, maar ek kan nie verstaan wat oor my neef gekom het nie. Dit was nie net die Engelsman wat vreemd was nie, Hannes was net so vreemd. Dis pure bog om ’n man nie te skiet nie net omdat hy dapper is. As hy ’n dapper man is en hy veg aan die verkeerde kant, is daar des te meer rede om hom te skiet.

Ek en my susterskind Hannes was nog ’n paar maande daarna saam. Toe, eendag in ’n skermutseling naby die Vaalrivier, word Hannes en ’n paar dosyn burgers afgesny van die kommando en moet oorgee. Dit was die laaste keer wat ek hom gesien het. Ek het later gehoor dat, nadat hy gevange geneem is, die Engelse Hannes deursoek het en dum-dum-koeëls in sy besit gekry het. Hulle het hom daaroor doodgeskiet. Ek was baie hartseer toe ek van Hannes se dood hoor. Hy was altyd opgewek en vol lewe. Dalk was Hannes reg toe hy gesê het die liewe Vader gee nie om oor ’n klein dwaasheid soos dum-dum-koeëls nie. Maar die fout wat hy gemaak het, was om te vergeet dat die Engelse wel omgee.

Ek was in die veld tot vrede verklaar is. Toe het ons ons wapens neergelê en huis toe gegaan. Ek het my plaas uitgeken aan die klipgat onderkant die koppie waar ek leiklip vir die dorsvloer uitgegrawe het. Dit was omtrent al wat oor was van hoe ek dit agtergelaat het. Die res was weg. My huis was afgebrand. My landerye verwoes. My beeste en skape geslag. Selfs die klippe wat ek opgestapel het vir die krale was omgestoot. My vrou het uit die konsentrasiekamp gekom en ons het saam gaan kyk na ons ou plaas. My vrou het konsentrasiekamp toe gegaan met ons twee kinders, maar sy het alleen daar uitgekom. En toe ek haar weer sien en merk hoe sy verander het, het ek besef dat ek, wat deur al die vegtery is, nie die Boereoorlog gesien het nie.

Nie ek óf Sannie het die moed gehad om weer op dieselfde plek te gaan boer nie. Dit sou anders wees sonder die kinders wat om die huis speel en kattekwaad aanvang. Die regering het ons ’n bietjie geld uitbetaal vir ons verliese. Ek het toe ’n wa en osse gekoop en die Vrystaat verlaat, wat nie meer die Vrystaat was nie. Dit was nou die Oranjerivier-kolonie.

Ons het deur die Transvaal getrek tot in die noordelike deel van die Marico-bosveld. Jare gelede, as ’n seun, het ek saam met my ouers deur dieselfde kontrei getrek. Toe ek nou teruggaan, het ek gevoel dit is steeds ’n goeie landstreek. Anderkant die Dwarsberg, naby Derdepoort, het ons ’n Goewermentsplaas gekry. Daarna het ander boere ook soontoe getrek. Een of twee van hulle was ook van die Vrystaat, en ek het hulle geken. Daar was ook ’n paar Kaapse rebelle wat ek op kommando gesien het. Ons het almal familie in die oorlog verloor. Party is in die konsentrasiekampe dood, of op die slagveld. Ander is geskiet omdat hulle by die rebellie aangesluit het. Alles in ag genome, was ons klompie wat na daardie deel van die Marico getrek het wat die naaste aan die Betsjoeanalandse grens lê, maar baie bitter jeens die Engelse.

Dit was toe dat die Rooinek gekom het.

Dit was in die eerste jaar nadat ons ons naby Derdepoort gevestig het. Ons het gehoor dat ’n Engelsman ’n plaas langs Gerhardus Grobbelaar s’n gekoop het. Ons het gesit in die voorkamer van Willem Odendaal se huis, wat as poskantoor gedien het. Die poskar het een keer ’n week met die pos van Zeerust af gekom, en ons het by Willem Odendaal se huis byeengekom en gesels en gerook en koffie gedrink. Weinig van ons het ooit briewe gekry, en dan was dit meestal eise om te betaal vir boorgate wat op ons plase gesink is of vir sement en materiaal vir heinings. Maar klokslag elke week het ons die pos gaan inwag. Partykeer het die pos nie gekom nie, omdat die Groenrivier sy walle oorstroom het, en die meeste van ons sou huis toe gegaan het sonder om dit agter te kom as iemand nie daaroor gepraat het nie.

Toe Koos Steyn hoor dat ’n Engelsman tussen ons gaan kom bly, staan hy op van die riempiesbank.

“Nee, kêrels,” sê hy. “Elke keer as die Engelsman kom, beteken dit dat die Boer ’n rukkie later moet skuif. Ek gaan maar my wa oppak en koffie maak, en douvoordag moreoggend trek ek.”

Die meeste van ons lag toe. Koos Steyn raak dikwels sulke snaakse goed kwyt. Maar party lag nie. Om ’n onverklaarbare rede voel ons daar steek te veel waarheid in Koos se woorde.

Ons bespreek die saak en besluit dat, as dit van ons Boere in die Marico afhang, die Rooinek nie baie lank in ons geledere gaan vertoef nie. Omtrent ’n halfuur later kom een van Willem Odendaal se kinders in en sê dat ’n vreemde wa op die grootpad aankom. Ons gaan na die deur toe en kyk uit. Soos die wa nader kom, sien ons dat dit hoog gepak is met allerhande meubels en sinkplate en plaasimplemente. Daar is soveel goed op die wa dat die kap afgehaal moes word om alles gelaai te kry.

Die wa kruie voort en stop voor die huis. Saam met die wa is ’n wit man en twee kaffers. Die wit man skree iets vir die kaffers en gooi die sweep neer. Toe loop hy tot waar ons staan. Hy is, nes ons, in hemp, broek en velskoene aangetrek, en is met stof bedek. Maar toe hy bo-oor ’n doringbos tree, sien ons hy het kouse aan. Dis hoe ons weet hy’s ’n Engelsman.

Koos Steyn staan voor die deur.

Die Engelsman stap na hom toe en hou sy hand uit.

“Goeiemiddag,” sê hy op Afrikaans. “My naam is Webber.”

Koos skud sy hand.

“My naam is Prince Lord Alfred Milner,” sê Koos Steyn.

Lord Milner is die Goewerneur van die Transvaal, en ons lag almal. Die Rooinek lag ook.

“Wel, Lord Prince,” sê hy, “ek kan jou taal ’n bietjie praat, en ek hoop om dit later beter te kan praat. Ek kom hier bly, en ek hoop ons kan almal vriende wees.”

Hy stap toe na ons toe, maar die res draai een ná die ander weg en weier om sy hand te skud. Hy kom heel laaste na my toe; ek voel jammer vir hom, en hoewel sy nasie myne onregverdig behandel het en ek albei my kinders in die konsentrasiekamp verloor het, is dit nie soseer hierdie Engelsman se skuld nie. Dis die Engelse regering se skuld, wat ons goudmyne wou hê. En dis ook koningin Victoria se skuld, wat nie van oom Paul Kruger gehou het nie, want hulle sê toe hy oor is Londen toe, het oom Paul net een keer ’n paar minute lank met haar gesels. Oom Paul Kruger het gesê hy’s ’n getroude man en versigtig vir weduwees.

Toe die Engelsman, Webber, terugstap na sy wa, stap Koos Steyn en ek saam. Hy vertel ons dat hy die plaas langs Gerhardus Grobbelaar s’n gekoop het en dat hy nie veel van skape en beeste en mielies weet nie, maar dat hy ’n paar boeke oor boerdery gekoop het en dat hy soveel moontlik uit hulle gaan leer. Toe hy dit sê, kyk ek weg na die poort se kant toe. Ek wou nie hê hy moet sien ek lag nie. Maar Koos Steyn was anders.

“Man,” sê hy, “laat ek daai boeke sien.”

Webber maak die doos aan die agterkant van die wa oop en haal ses dik boeke met groen omslae uit.

“Dis baie goeie boeke dié,” sê Koos Steyn. “Ja, hulle is baie goed vir die rysmiere. Die rysmiere sal hulle almal in twee nagte opvreet.”

Soos ek gesê het, Koos Steyn was ’n snaakse kêrel, en niemand kon help om te lag vir die goed wat hy kwytraak nie.

Dit was slegte tye. Daar was droogte en ons kon nie mielies saai nie. Die damme het opgedroog en net laas jaar se gras was oor op die veld. Twee weke aaneen moes ons water uit ’n boorgat pomp. Toe kom die reën en ’n tyd lank is dinge beter.

Nou en dan sien ek vir Webber. Uit wat ek van hom hoor, klink dit asof hy hard werk. Maar uiteraard kan geen Rooinek uit boerdery ’n bestaan maak nie, tensy hulle elke maand vir hom geld uit Engeland stuur. En ons het gehoor dat Webber amper al sy geld gebruik het om vir die plaas te betaal. Hy is altyd besig om in daardie groen boeke te lees wat hy moet doen. Gelukkig is daardie boeke in Engels geskryf en kan die Boere dit nie lees nie. Anders sou nóg meer boere elke jaar ten gronde gegaan het. As sy beeste hartwater het of sy skape bloutong, of daar is snywurms of stronkboorders in sy mielies, slaan Webber dit in sy boeke na. As die kaffers sy skape gesteel het, sou hy dit ook seker nageslaan het.

Tog help Koos Steyn Webber heelwat en leer hom ’n paar dinge, sodat dit nie so sleg met hom gaan soos dit sou as hy hom deur al die leuens in daardie groen boeke laat lei het nie. Webber en Koos Steyn raak goed bevriend. Koos Steyn se vrou het ’n baba gehad ’n paar weke voor Webber opgedaag het. Dis hulle eerste kind ná ’n huwelik van sewe jaar, en hulle is baie trots. Dis ’n dogtertjie. Koos Steyn sê hy sou veel eerder ’n seun wou hê, maar dis nietemin beter as niks. Reg van die begin af is Webber verknog aan daardie kind, wat Jemima gedoop is, na haar ma. Dikwels, wanneer ek by Koos Steyn se huis verbygaan, sien ek die Engelsman op die voorstoep sit met die kind op sy skoot.

Intussen is die ander boere in die omtrek omgekrap oor Koos Steyn se vriendskap met die Rooinek. Hulle sê Koos is ’n hensopper en ’n landsverraaier. Hy is eie met ’n man wat gehelp het om die ondergang van die Afrikanervolk te bewerkstellig. Nietemin, dit was nie regverdig om Koos ’n hensopper te noem nie. Koos het in die Graaff-Reinet-distrik gewoon toe die oorlog uitbreek, dus was hy ’n Kaapse Boer en hy het nie nodig gehad om te veg nie. Nogtans het hy by ’n Vrystaatse kommando aangesluit en gebly tot vrede verklaar is, en as die Engelse hom op enige stadium gevange geneem het, sou hulle hom as ’n rebel geskiet het, soos hulle met Scheepers en vele ander gemaak het.

Gerhardus Grobbelaar praat eenmaal hieroor toe ons in Willem Odendaal se poskantoor sit.

“Wat jy doen, is verkeerd,” sê Gerhardus. “Boer en Engelsman was al voor Slagtersnek vyande. Ons het hierdie oorlog verloor, maar eendag gaan ons wen. Ons is dit aan ons kleinkinders verskuldig om teen die Rooinekke op te staan. Moenie die konsentrasiekampe vergeet nie.”

Vir my steek daar waarheid in wat Gerhardus sê.

“Maar die Engelse is nou eenmaal hier en ons moet met hulle saamleef,” antwoord Koos. “As ons mekaar eers beter leer ken, sal dit dalk nie meer nodig wees om te veg nie. Hierdie Engelsman, Webber, praat al goed Afrikaans, en wie weet, eendag kan hy dalk amper een van ons wees. Die enigste ding wat ek nie kan kleinkry nie, is dat hy elke oggend bad. Maar as hy daarmee ophou en nie meer sy tande borsel nie, sal jy hom skaars van ’n Boer kan onderskei.”

Hoewel hy ’n grap daarvan maak, voel ek daar is ook waarheid in wat Koos Steyn sê.

Toe, die jaar ná die droogte, breek miltsiekte uit. Dit lyk of die siekte in die gras op die veld is en in die water in die damme, en selfs in die lug wat die vee inasem. Ek kom oral op dooie koeie en osse af. Ons is almal moedeloos. Amper almal in hierdie deel van die Marico het begin boer met wat die regering ons uitbetaal het. Noudat die vee gevrek het, het ons niks oor nie. Eers het die droogte ons teruggeslaan na waar ons begin het. Nou, met die miltsiekte, kan ons niks doen nie. Ons kan nie eers mielies saai nie, want teen die tempo waarteen die vee vrek, sal ons binnekort geen osse oorhê om die ploeg te trek nie. Mense begin praat oor alles verkoop en op die goudmyne werk soek. Ons stuur ’n petisie aan die regering, maar dit help niks.

Dit is toe dat iemand die idee kry om te trek. Binne ’n paar dae praat ons oor niks anders nie. Die vraag is waarheen ons kan trek. Hulle sal ons nie in Rhodesië toelaat nie, uit vrees dat ons die miltsiekte daar ook kan versprei. En dis nutteloos om na enige ander deel van die Transvaal te trek. Iemand noem Duitswes-Afrika. Nie een van ons was al ooit daar nie, en ek reken dis waarom ons op die ou end besluit om soontoe te gaan.

“Die Engelse plaag is oral in Suid-Afrika,” sê Gerhardus Grob­belaar. “As ons hier bly, gaan ons net vrek. Ons moet iewers heen waar die Engelsman se vlag nie wapper nie.”

Binne ’n week is alles gereël. Ons gaan oor die Kalahari tot in Duitse gebied trek. Ons laai al ons besittings op. Ons jaag die vee vooruit en kom met ons waens agterna. Daar is vyf families: die Steyns, die Grobbelaars, die Odendaals, die Ferreiras en ek en Sannie. Webber kom ook saam. Ek glo nie dis omdat hy angstig is om weg te kom nie, maar eerder omdat hy en Koos Steyn baie geheg aan mekaar geraak het en die Engelsman nie alleen wil agterbly nie.

Die jongste persoon in ons trek is Koos Steyn se dogter, Jemima, wat toe om en by agtien maande oud is. En omdat sy nog net ’n baba is, kruip sy in almal se harte in.

Webber verkoop sy wa en trek saam met Koos.

Toe ons aan die einde van die eerste dag ’n paar myl binne die grens van die Betsjoeanalandse protektoraat uitspan, is ons bly om die Transvaal agter te laat, waar ons soveel ongeluk beleef het. Natuurlik is die protektoraat ook Britse gebied, maar ons voel nogtans gelukkiger daar as in ons eie land. Ons sien Webber nou elke dag, en hoewel hy ’n vreemdeling met vreemde gebruike is en ’n Uitlander sal bly tot die dag van sy dood, verkwalik ons hom tog minder as vroeër dat hy ’n Rooinek is.

Die eerste Sondag kom ons by Malopolole aan. Tydens die eerste deel van ons trek was die wêreld nog bosveld. Die doringbome was dieselfde as dié in die Marico, behalwe dat hulle al hoe minder geraak het hoe dieper ons die Kalahari in getrek het. Die grond het ook meer sanderig geraak, totdat dit oral woestyn was nog voor ons Malopolole bereik het. Maar heelpad was daar steeds hier en daar ’n doringboom. Daardie Sondag hou ons ’n kerkdiens. Gerhardus Grobbelaar lees ’n hoofstuk uit die Bybel voor en bid. Ons sing ’n paar psalms en daarna bid Gerhardus weer. Ek sal altyd daardie Sondag onthou, hoe ons op die grond langs een van die waens gesit en luister het na Gerhardus. Dit was die laaste Sondag wat ons almal saam was.

Die Engelsman het langs Koos Steyn gesit en die kleine Jemima het voor hom gelê. Sy het met Webber se vingers gespeel en hulle probeer byt. Dit was snaaks om haar dop te hou. Webber het ’n hele paar keer afgekyk en vir haar geglimlag. Ek het gedink dat, hoewel Webber nie een van ons was nie, Jemima dit glad nie geweet het nie. Miskien is ’n kind wyser as ons wat so iets betref. Vir haar het dit geen verskil gemaak dat die man wie se vingers sy probeer byt in ’n ander land gebore is en ’n ander taal as sy praat nie.

Daar is baie dinge wat ek onthou van daardie trek die Kalahari in. Maar een ding wat nou vir my vreemd lyk, is hoe ons, reg van die eerste dag af, Gerhardus Grobbelaar as ons leier aanvaar het. Wat ook al hy gesê het, het ons gedoen sonder om veel daaroor te praat. Ons het almal gevoel dit was reg, bloot omdat Gerhardus dit wou doen. Dit was ’n vreemde ding omtrent ons trek. Dit was nie net dat ons geweet het Gerhardus dra die Here in sy hart nie – want dít het ons geweet – maar eerder dat ons in Gerhardus sowel as in God geglo het. Ek dink, selfs al was Gerhardus Grobbelaar ’n goddelose man, sou ons hom steeds op dieselfde wyse gevolg het. Want as jy in die woestyn is en daar is geen water nie en die pad terug is lank, dan voel jy dis beter om ’n sterk man by jou te hê wat nie dikwels die Boek lees nie, as ’n goeie, godsdienstige man wat nie seker is hoe ver om elke dag te trek en waar om uit te span nie.

Maar Gerhardus Grobbelaar wás ’n man van God. Terselfdertyd was daar iets aan hom wat jou laat voel het jy kan net slaag as jy doen wat hy voorstel. Ek het net een ander man geken wat mense so maklik kon laat doen wat hy wou hê. En dit was Paul Kruger. Hy was baie soos Gerhardus Grobbelaar, behalwe dat Gerhardus Grobbelaar minder skoorsoekerig was. Maar van die twee was Paul Kruger die groter man.

Ek kan net een keer onthou wat Gerhardus sy humeur verloor het. En dit was met die Nagmaal by Elandsberg. Dit was ’n Sondag en ons het langs die Krokodilrivier kamp opgeslaan. Gerhardus gaan die oggend van wa tot wa en vra dat ons oorkom na waar sy wa staan. Die Here was goed vir ons in daardie tyd, ons het baie reën gehad en ons vee was vet. Gerhardus verduidelik dat hy ’n diens wil hou om die Here te bedank vir al sy goedheid, maar veral vir als wat Hy vir die boere van die noordelike deel van die Groot-Marico-distrik gedoen het. Dis ’n goeie idee, en ons kom almal met ons Bybels en gesangeboeke byeen. Maar een man, Karel Pieterse, bly by sy wa agter. Gerhardus gaan roep hom twee maal, maar Karel Pieterse lê op die gras en wil nie opstaan om die diens by te woon nie. Hy sê dis alles goed en wel om die Here te bedank noudat daar goeie reëns was, maar wat van al die jare toe daar droogte was en die diere gevrek het van die dors? Gerhardus Grobbelaar skud sy kop treurig en sê daar is niks wat hy kan doen nie, want dis Sondag. Maar hy bid dat die Here broer Pieterse se hart sal versag, en hy sluit sy gebed af deur te sê dat hy in elk geval môreoggend self sal help om die broer se hart te versag.

Die volgende oggend stap Gerhardus met ’n sambok en ’n osriem oor na waar Karel Pieterse voor sy vuur sit en kyk hoe die kaffer koffie maak. Hulle is albei groot mans. Maar Gerhardus kry in die stoeiery die oorhand. Uiteindelik wen hy. Hy maak Karel met die osriem aan die wiel van sy eie wa vas. En toe kom hy hom met die sambok by terwyl Karel se vrou en kinders toekyk.

Dit het jare gelede gebeur. Maar niemand het dit vergeet nie. En nou, in die Kalahari, wanneer Gerhardus ons na ’n diens oproep, is dit opvallend dat nie ’n enkele man wegbly nie.

Net buite Malopolole is daar ’n modderige stroom wat ’n gedeelte van die jaar droog is en die res van die jaar ’n voet of so brakwater het. Ons is gelukkig om daar te wees juis toe dit water het. Vroeg die volgende oggend maak ons die waterdromme vol wat ons op ons waens gelaai het toe ons uit die Marico weg is. Ons trek die woestyn in en weet nie waar ons weer water sal kry nie. Selfs die Bakwena-kaffers kan ons nie vir seker sê nie.

“Die Groot Dorslandtrek,” roep Koos Steyn uit toe ons regmaak om aan te beweeg. “Ten minste sal ons nie so sleg vaar soos die Dorslandtrekkers nie. Ons sal minder vee verloor as hulle, want ons het minder vee om te verloor. En aangesien ons net vyf families is, sal nie meer as ’n dosyn of so van ons van dors omkom nie.”

Ek het gedink Koos tart die noodlot deur met die Dorslandtrek te spot, en ek dink die ander het dieselfde gevoel. Ons trek regdeur die dag, en dis heelpad woestyn. Teen sononder het ons steeds nie ’n teken van water teengekom nie. Teen skemer sê Abraham Ferreira dit sal dalk beter wees as ons teruggaan Malopolole toe en probeer uitvind presies wat die beste manier is om deur die Kalahari te trek. Maar die res sê dis onnodig om so iets te doen, want ons sal ongetwyfeld die volgende dag op water afkom. En, in elk geval, ons is Doppers en as ons eers ’n koers ingeslaan het, draai ons nie terug nie. Maar nadat ons die vee laat suip het, is daar nie baie water in ons dromme oor nie.

Teen die middel van die volgende dag is al ons water op buiten ’n bietjie wat ons vir die kinders uithou. Maar steeds druk ons deur. Noudat ons so ver getrek het, is ons bang om terug te draai, oor die lang pad sonder water terug na Malopolole. Saans is ons baie angstig. Ons kniel almal op die sand en bid. Gerhardus Grobbelaar se stem klink diep en opreg wanneer hy God smeek om ons genadig te wees, veral vir die kleingoed se onthalwe. Hy noem Jemima by die naam. Die Engelsman kniel langs my, en ek let op dat hy bewe toe Gerhardus Koos Steyn se kind noem.

Dis ’n maanligaand. Oral om ons strek die woestyn. Ons waens lyk baie klein en verlate; iets aan hulle lyk selfs droewig. Die vroue en kinders slaan hulle arms om mekaar en sit lank en huil. Ons kaffers staan ’n ent weg en kyk na ons. My vrou, Sannie, sit haar hand in myne, en ek dink aan die konsentrasiekamp. Arme vrou, sy het soveel gely. En ek weet sy dink aan dieselfde ding as ek: dat dit op die ou end dalk beter is dat ons kinders al destyds dood is.

Ons trek so diep in die woestyn in dat ons vir mekaar begin sê ons moet naby die einde wees. Hoewel ons weet dat Duitswes ver is, en dat, soos óns trek, ons kwalik verder as die begin van die Kalahari kan wees, probeer ons nietemin vir mekaar lieg oor hoe naby die water waarskynlik is. Maar natuurlik vertel ons net vir mekaar daardie leuens. Elkeen weet in sy eie hart wat die waarheid is. Later hou ons selfs op om vir mekaar te lieg oor hoe goed ons kanse is om lewend anderkant uit te kom. Jy sal verstaan hoe sleg dit gegaan het as jy weet dat ons nie meer probeer het om ons situasie vir die vroue en kinders weg te steek nie. Party van hulle het hardop gehuil. Maar teen daardie tyd maak dit geen verskil nie. Niemand probeer die huilende vroue en kinders troos nie. Ons weet dat die trane vergeefs is, en tog, op ’n manier voel ons dat die vroue se troostelose gehuil nie meer vergeefs as die mans se moed is nie. Ná ’n tyd hou die gehuil in ons kamp op. Party van die vroue wat die ontberings van die daaropvolgende dae oorleef en veilig in die Transvaal aangekom het, het daarna nooit weer gehuil nie. Dit was asof die dinge wat hulle gesien het hulle hard gemaak het. In hierdie opsig het hulle soos mans geword. Ek dink dis die droewigste ding wat ooit op hierdie aarde kan gebeur, as vroue groot lyding deurmaak wat hulle soos mans laat word.

Daardie nag slaap ons kwalik. Vroeg die volgende oggend vertrek die mans om na water te gaan soek. ’n Uur ná sonop kom Ferreira terug en deel ons mee dat hulle ’n modderpoel ’n paar myl verder gekry het. Ons gaan almal soontoe, maar daar is nie baie water nie. Nietemin kry ons ’n bietjie in, en dit laat ons beter voel. Dis eers toe dit tyd word om die vee na die moddergat toe aan te jaag dat ons ontdek dat ons kaffers in die nag gedros het. Hulle het weggesluip ná ons gaan slaap het. Party van die swakker vee kan nie opstaan om na die poel te loop nie. Ons laat hulle dus agter. Party word doodgetrap en ander verstik in die modder, en ons moet hulle uitsleep sodat die ander vee by die gat kan uitkom. Dis hartverskeurend.

Net voor ons daar weg is, sterf een van Ferreira se dogters. Ons grawe ’n vlak gat in die sand en begrawe haar.

Dis toe dat ons besluit om terug te trek.

Ná sy dogter se dood gaan Abraham Ferreira na Gerhardus toe en sê hom dat, as ons vroeër sy voorstel aanvaar het om om te draai, sy dogter nog sou geleef het.

“Jou dogter is nou dood, Abraham,” sê Gerhardus. “Dit help nie ons praat verder oor haar nie. Ons moet almal eendag sterwe. Ek het vroeër geweier om terug te draai. Nou het ek besluit om terug te draai.”

Abraham Ferreira kyk Gerhardus reg in die oë en lag. Ek sal altyd die klank van daardie lag in die woestyn onthou. In Abraham se stem is daar die skorheid van sand en dors. Sy stem is gebroke deur wat die woestyn aan hom gedoen het; sy gesig is vol skerp lyne en sy lippe is swarterig. Maar niks omtrent sy voorkoms verraai iets van sy smart oor sy dogter se dood nie.

“Jou dogter lewe nog, oom Gerhardus,” sê Abraham Ferreira, en wys na die wa waar Gerhardus se vrou lê, baie verswak, en ook die kind aan wie sy ’n paar maande gelede die lewe geskenk het. “Ja, sy lewe nog … tot dusver.”

Ferreira stap laggend weg, en’n rukkie later hoor ons hoe hy met krakende stem vir sy vrou vertel van die grap wat hy gemaak het.

Sonder om iets te sê, staan Gerhardus Grobbelaar en kyk hoe die ander man wegstap. Tot dusver het ons Gerhardus deur alles heen gevolg, en ons het groot vertroue in hom gehad. Maar noudat ons besluit het om terug te trek, het ons ons geloof in hom verloor. En ons het dit eensklaps verloor. Ons besef dat die beste ding sal wees om terug te trek, en dat om voort te gaan sal beteken dat ons almal in die Kalahari sal sterf. En tog, as Gerhardus gesê het ons moes voortgaan, sou ons dit gedoen het. Ons sou saam met hom deurgedruk het tot aan die einde. Maar noudat hy so te sê erken het dat die woestyn hom geknak het, het ons geen geloof meer in Gerhardus nie. Dit is waarom ek sê dat Paul Kruger ’n groter man as Gerhardus was. Want Paul Kruger was die soort man wat ons steeds verafgood het, al het hy besluit om die stryd gewonne te gee. As dit Paul Kruger was wat ons aangesê het om terug te draai, sou ons met moed in ons harte omgedraai het. Ons sou presies dieselfde liefde jeens ons leier gekoester het, selfs al het ons geweet dat hy verslaan was. Maar van die oomblik wat Gerhardus sê ons moet terugdraai, weet ons almal dat hy nie meer ons leier is nie. Gerhardus weet dit ook.

Ons weet wat tussen ons en Malopolole lê en daar is groot twyfel in ons harte terwyl ons ons waens omdraai. Ons trekdiere is baie swak, en ons moet almal inspan wat kan loop. Ons het nie genoeg jukke nie, en daarom sny ons gate in pale wat ons van die enkele bome kap en aan die trekkettings vasmaak. Aangesien ons ook nie skeie het nie, moet ons die nekke van die osse met stroppe direk aan die jukke vasmaak, en heelparty van die osse word doodgewurg.

Toe kom ons agter dat Koos Steyn van sy kop af is. Want hy weier om terug te draai. Hy span sy osse in en maak reg om verder te trek. Sy vrou sit doodstil op die wa met die baba; waar haar man ook al gaan, sou sy hom volg. Dis natuurlik te verstane. Party vroue groet haar met ’n soen, en sommige huil. Maar Koos Steyn se vrou huil nie. Ons probeer met Koos redeneer, maar hy sê hy’t klaar besluit om deur die Kalahari te trek en hy gaan nie vir enige nonsens terugdraai nie.

“Maar, man,” sê Gerhardus Grobbelaar, “jy’t niks water om te drink nie.”

“Dan sal ek koffie drink,” antwoord Koos Steyn en lag soos altyd, en tel die sweep op en stap aan langs die wa. En Webber is saam met hom weg, en waarskynlik net omdat Koos Steyn vir hom goed was, dink ek. Dis hoekom ek gesê het Engelsmanne is vreemde goed. Webber moes geweet het dat, as Koos nie inderdaad van lotjie getik was nie, was sy optrede waansinnig, en tóg het hy by hom gestaan.

Ons paaie skei. Ons waens begin stadig in die rigting van Malopolole terugbeweeg. Koos Steyn se wa beweeg dieper die woestyn in. My wa vertrek laaste. Ek kyk terug na die Steyns. Op daardie oomblik kyk Webber ook om. Hy sien my en wuif. Dit herinner my aan die dag tydens die Boereoorlog toe daardie ander Engelsman, wie se vriend ek geskiet het, ook omgedraai en gewuif het.

Uiteindelik bereik ons Malopolole met twee waens en ’n klompie vee. Ons het die ander waens agtergelaat. Vreeslike dinge het in daardie woestyn gebeur. ’n Paar kinders is dood. Gerhardus Grobbelaar se wa was reg voor myne. Op ’n keer sien ek ’n bondel deur die kant van die wakap val. Ek weet wat dit is. Gerhardus sou nie die moeite doen om sy kind te begrawe nie, en sy vrou lê in die tent, te swak om te beweeg. Daarom klim ek van my wa af en skraap ’n hopie sand oor die bondeltjie. Al wat ek van die res van die tog na Malopolole onthou, is die son en die sand. En die dors. Hoewel ons in ’n stadium dink ons het verdwaal, maak dit nie eintlik vir ons saak nie. Ons is verby die punt waar ons enigiets voel. Ons kan nie bid of vloek nie, ons droë tonge kleef aan ons verhemeltes vas.

Tot vandag toe is ek nie seker hoeveel dae ons terugtog geduur het nie, tensy ek gaan sit en dit uitwerk, en dan voel ek steeds ek is verkeerd. Ons was terug by Malopolole en water. Ons het gesê ons sou nooit weer daarvandaan weggaan nie. Ek dink nie eens die ouers wat kinders verloor het, het oor hulle getreur nie. Hulle was afgestomp deur wat hulle deurgemaak het. Maar ek het geweet dat alles later sou terugkom. Dan sou hulle onthou van vlak grafte in die sand, en Gerhardus Grobbelaar en sy vrou sou aan ’n bondeltjie dink wat iewers in die Kalahari lê. En ek het geweet hoe hulle sou voel.

Later rus ons ’n wa toe met vars osse; ons vat ’n ruim voorraad water saam en gaan terug woestyn toe om die Steyn-gesin te gaan soek. Met die hulp van Setsjoeana-kaffers wat spore kan sien wat ons nie kan sien nie, kry ons die wa. Die osse is uitgespan; ’n paar lê dood langs die wa. Die kaffers wys voetspore in die sand uit wat aandui in watter rigting die twee mans en die vrou geloop het.

Uiteindelik kry ons hulle.

Koos Steyn en sy vrou lê langs mekaar in die sand; die vrou se kop rus op die man se skouer; haar lang hare het losgekom en waai liggies in die wind. ’n Groot hoeveelheid fyn sand het oor hulle liggame neergesif. Naby hulle lê die Engelsman, gesig na onder. Ons het nooit die baba, Jemima, gekry nie. Sy moes iewers langs die pad gesterf het en Koos Steyn moes haar begrawe het. Maar ons stem saam dat die Engelsman, Webber, verskriklike dinge moes deurgemaak het; hy kon nie enige begrip meer gehad het van wat die Steyns met hulle baba gedoen het nie. Hy het waarskynlik, tot die oomblik van sy dood, gedink dat hy die kind dra. Want toe ons sy liggaam oplig, kry ons, steeds in sy dooie en stokstywe arms vasgeklem, ’n paar ou flenters lap en die klere van ’n kind.

Dit het vir ons gevoel asof die wind wat altyd in die Kalahari waai daardie oggend baie stil en sag waai.

Ja, die wind het baie sagkens gewaai.

Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman

Подняться наверх