Читать книгу Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman - Herman Charles Bosman - Страница 11
STERLIG OP DIE VELD
ОглавлениеDIT WAS ’N KOUE NAG (sê oom Schalk Lourens), die sterre het geskyn met daardie ysige soort lig wat jy party oggende op nat gras sien, wanneer jy vergeet dis winter, en jy staan per abuis vroeg op. Die wind was soos ’n meisie wat snikkend haar storie van verraad aan die sterre vertel.
Ek en Jan Ockerse was Derdepoort toe met die donkiekar, en ons het eers die aand teruggekom. En Jan Ockerse vertel my van ’n pad om die voet van ’n koppie wat ’n kortpad is terug Drogevlei toe. So sit ons toe in die veld, naby die vuur, en wag vir die oggend. Want dan sal ons ’n kaffer kan vra om ons ’n kortpad terug na die voet van daardie koppie te beduie.
“Maar ek weet dis die regte pad,” hou Jan Ockerse vol en gooi nog ’n arm vol hout op die vuur.
“Dan moes dit die verkeerde koppie gewees het,” antwoord ek, “of die verkeerde donkiekar. Behalwe as jy wil hê ek moet glo dat ek op hierdie oomblik in my voorkamer by die huis sit.”
Die vlamme se lig dans bleek op die speke van ’n donkiekarwiel, en ek is bly om te dink Jan Ockerse kry net so koud soos ek.
“Dis ’n snaakse soort nag,” sê Jan Ockerse, “en ek is honger en ek voel ellendig.”
Ek is daaroor ook bly. Ek het begin vrees dat hy dit dalk geniet.
“Weet jy hoe hoog is die sterre?” vra Jan my toe.
“Nee, nie van hier af nie,” sê ek, “maar ek het dit eenkeer uitgewerk, toe ek ’n potlood gehad het. Maar dit was op die Hoëveld. Van waar ons nou is, in die Laeveld, is die sterre verder weg. Jy kan mos sien hulle lyk kleiner.”
“Ja, ek reken so,” antwoord Jan Ockerse, “maar ’n onderwyser het my in die kroeg op Zeerust iets anders vertel. Hy’t gesê die sterrekykers werk uit hoe ver ’n ster is deur te kyk na die aantal jare wat dit hulle vat om dit in hulle teleskope te kry. Daardie onderwyser het sy vinger in die brandewyn gesteek en ’n klomp prente en goed op die kroegtoonbank geteken om my te wys hoe dit gedoen word. Maar een deel van sy tekeninge het altyd opgedroog voordat hy klaar was om die ander deel met sy vinger op die toonbank te teken. Hy het gesê dis die ergste van daardie soort droë brandewyn. Maar hy het nie sy verduideliking klaargemaak nie, want die kroegmeisie het alles met ’n lap kom afvee. Toe sê die onderwyser ek moet saamkom, dan sal hy die swartbord in die ander klaskamer gebruik. Maar die kroegmeisie wou nie toelaat dat ons ons glase in die privaat kroeg invat nie, en dit was ook min of meer toe dat die onderwyser neergeslaan het.”
“Klink vir my na een van daardie nuwe soort onderwysers,” sê ek, “die soort wat kinders leer dat die aarde om die son draai. Ek is verbaas hulle het hom nie afgedank nie.”
“Ja,” antwoord Jan Ockerse, “hulle het.”
Ek was net so bly om dit te hoor.
Dit het gelyk of daar ’n watergat naby ons uitspanplek kon wees. Want ’n paar jakkalse het droefgeestig begin tjank. Jan Ockerse het opgespring en nog hout op die vuur gepak.
“Ek hou nie van daardie wildediergeluide nie,” sê hy.
“Dis net jakkalse, Jan,” sê ek.
“Ek weet,” antwoord hy, “maar ek dink aan ons donkies. Ek wil nie hê ons donkies moet skrik nie.”
Skielik kom daar ’n diep gegrom uit die donker bos. En dit klink ook nie na ’n besonder droefgeestige gegrom nie. Jan Ockerse werk toe baie vinnig met die hout.
“Dalk sal dit nog beter wees as ons twee vure maak en tussen hulle gaan lê,” sê Jan Ockerse. “Ons donkies sal minder skrikkerig voel as hulle sien ek en jy is veilig. Jy weet hoe ’n donkie se kop werk.”
Die lig van die vuur skyn flou op die geraamtes van die hoë bome wat deur die rysmiere gevreet is, en ons het gou twee vure aan die gang. Teen die tyd dat die tweede diep gegrom uit die bos ons bereik, het ek ’n vuur gemaak wat selfs groter as Jan Ockerse s’n is, ter wille van die donkies.
Daarna raak dit weer stil. Daar is net die wind wat die doringtakke roer, en die geritsel van goeters wat mens maar snags in die Bosveld hoor.
Jan Ockerse lê op sy rug en sit sy hande onder sy kop, en kyk nogmaals op na die sterre.
“Ek het gehoor dat die sterre wêrelde is, net soos ons s’n,” sê hy, “en dat daar selfs mense op hulle woon.”
“Ek dink nie hulle sal geskik wees vir mielies kweek nie,” antwoord ek, “hulle is te hoog op. Soos die rante van die Sneeuberg in die Kaap. Maar hulle sal seker goeie perde- en beeswêreld wees. Dis die probleem met hierdie laagliggende distrikte, soos die Marico en die Waterberg: Daar is te veel perdesiekte en tsetsevlieë hier.”
“En skoenlappers,” sê Jan Ockerse slaperig, “met goue vlerke.”
Ek raak ook kort daarna aan die slaap. En toe ek wakker word, is die vure amper dood. Ek staan op en gaan haal nog hout. Dit neem egter ’n tydjie om Jan Ockerse wakker te kry. Omdat ek die verkeerde soort velskoene dra, met sagte punte. Eindelik sit hy regop en vryf sy oë; en toe sê hy natuurlik hy’t heelnag wakker gelê. Wat hom so seker maak hy het nie geslaap nie, sê hy, is dat hy hom die hele tyd verbeel het hy jaag brommers tussen die sterre.
“En ek sou hulle gevang het ook,” voeg hy by, “as dit nie was dat ’n vreemde ding met my gebeur het terwyl ek van een ster na die ander spring nie. Dit was amper asof iemand my skop.”
Jan Ockerse kyk my agterdogtig aan.
Ek vertel hom toe dat dit duidelik is dat hy gedroom het.
Toe die vure hoog met hout gestapel is, sê Jan Ockerse weer dat dit ’n vreemde nag is, en hy begin weer oor die sterre praat.
“Wat dink jy maak matrose op see, Schalk,” sê hy, “as hulle nie die pad ken nie en daar is nie ander skepe in die omgewing om te vra nie?”
“Alles word vir hulle in rooi en blou op ’n stukkie papier neergeskryf,” antwoord ek, “en daar is swart lyne wat jou die roete wys van die Kaap na St. Helena. En syfers om jou te sê hoeveel myl die skip sal afsak as dit sou sink. Ek was St. Helena toe tydens die Boereoorlog. Jy kan op ’n skip leef nes op ’n ossewa. ’n Skip is net nie so gerieflik nie. En die uitspanplekke lê verder uitmekaar.”
“Ek het iewers gehoor matrose gebruik die sterre om koers te hou,” sê Jan Ockerse. “Ek wonder waarom mense my sulke dinge staan en vertel.”
Hy lê ’n ruk lank stil, en kyk op na die sterre en dink.
“Ek onthou een aand toe ek op Annie Steyn se stoep gestaan het en met haar oor die sterre gepraat het,” sê Jan Ockerse later. “Ek wou met die vee Limpopo toe trek oor die droogte. Ek het vir Annie gesê ek sal weg wees tot die reëns kom, en ek het vir haar gesê sy moet elke aand, terwyl ek weg is, na ’n sekere ster kyk en aan my dink. Ek het haar gewys watter ster. Daardie drie sterre dáár, wat so na aan mekaar sit, in ’n lyn. Sy moet my onthou met die middelste een, het ek gesê. Maar Annie het verduidelik dat Willem Mostert, wat ’n week tevore Limpopo toe getrek het, reeds die middelste ster gekies het waarmee sy hom moet onthou. Nee, maar reg, antwoord ek, die boonste ster sal ook deug. Maar Annie verduidelik dat daardie een reeds aan Stoffel Brink behoort. Op die ou end stem ek in dat sy my aan die onderste ster kan onthou, en Annie sê nog hoe sy na die onderste van die drie sterre sal kyk en aan my dink, toe haar pa, wat skynbaar die hele tyd agter die deur staan en luister het, op die stoep uitkom en vra: ‘Wat van bewolkte aande?’ op ’n manier wat hy gedink het hom baie slim laat klink.”
“Wat gebeur toe?” vra ek vir Jan Ockerse.
“Annie was baie vies,” sê hy, “sy het vir haar pa gesê hy loop en bederf altyd alles. Sy’t hom gesê hy is regtig nie in die minste snaaks nie, aangesien ek die derde jongkêrel is vir wie hy dieselfde ding sê. Sy’t gesê dit maak nie saak hoe verspot ’n jongkêrel mag wees nie, haar pa het nie die reg om hom nog meer verspot te laat lyk nie. Dit was goed om te hoor hoe Annie vir my opkom. In elk geval, wat daarna gebeur het, is ’n lang storie. Ek het Willem Mostert en Stoffel Brink by die Limpopo raakgeloop. En ons het ’n klompie maande saam daar gebly. En dit moes seker ’n vreemde gesig gewees het om drie jongkêrels elke aand rondom ’n kampvuur te sien sit en opkyk na die sterre. Ná ’n ruk het ons bevriend geraak, en toe die reëns kom, het die drie van ons na die Marico teruggetrek. En ek het uitgevind dat Annie se pa reg was. Oor die bewolkte aande, bedoel ek nou. Want ek verstaan dat Annie op presies so ’n soort aand Johannesburg toe weggeloop het saam met ’n bywoner wat werk op die myne gaan soek het.”
Jan Ockerse sug en mymer voort.
Maar so tussen die gesels en geslaap deur, glip die meeste van die nag verby. Ons hou teen daardie tyd net een vuur aan die gang, en ek en Jan Ockerse maak beurte om hout op die vuur te sit. Dit raak baie koud net voor dagbreek, en ons bewe al twee.
“In elk geval,” sê Jan Ockerse ná ’n wyle, “nou weet jy waarom ek in die sterre belangstel. Ek was ’n jong man toe dié dinge gebeur het. En ek het baie min mense daarvan vertel. Omtrent sewentien, sou ek sê. Die ander wou nie luister nie. Maar altyd, op ’n helder nag, wanneer ek daardie drie blink sterre so op ’n ry sien, dan kyk ek lank na daardie onderste ster, en dis asof daar iets baie vriendeliks is aan die manier waarop dit skyn. Dis mý ster daardie, voel ek, en sy lig is anders as die ander sterre se lig … en weet jy, Schalk, Annie Steyn het sulke rooi lippe gehad. En sulke lang, sagte hare, Schalk. En daar was haar glimlag.”
Later begin die sterre dowwer raak en ons kry die donkies bymekaar en maak gereed om te vertrek. En ek wonder wat Annie Steyn daarvan sou dink as sy moes weet dat daar al hierdie jare ’n man was wat op helder aande na die sterre opgekyk het, en van haar lippe en haar hare en haar glimlag gedroom het. Maar die oomblik toe ek daaroor nadink, ken ek ook die antwoord. Natuurlik sou Annie Steyn niks van Jan Ockerse dink nie. Absoluut niks.
En Annie was ongetwyfeld reg ook.
Maar dit was vreemd om te dink ons het ’n hele nag oor die sterre gepraat. En tot op daardie oomblik het ek nie geweet dit was as gevolg van ’n liefdesverhaal van baie lank gelede nie.
Ons klim op die donkiekar en begin die pad huis toe soek.
“Ek weet daardie onderwyser in die kroeg op Zeerust was heeltemal verkeerd,” sê Jan Ockerse oplaas, “toe hy probeer verduidelik het hoe ver die sterre is. Die onderste een van die drie sterre – daar het dit so pas verdwyn – is baie naby aan my. Ja, baie naby.”