Читать книгу Tafelberg Kort: Die enigma van Hendrik Verwoerd - Hermann Giliomee - Страница 10

Teelaarde vir apartheid

Оглавление

In sy bespreking van die opkoms van ’n strawwer vorm van rassediskriminasie in die Amerikaanse Suide in die 1890’s het C. Vann Woodward, ’n uitmuntende historikus van die Suide, ’n belangrike punt gemaak. Terwyl ekonomiese en sosiale veranderinge die weg help baan het vir ’n meer ekstreme vorm van segregasie, was die grondliggende motiewe polities van aard. Met die oog op eie gewin het politieke leiers aangedring op die ontkiesering van swartes en ’n meer rigiede vorm van segregasie. Eerder as die werk van “rednecks” was twintigste-eeuse segregasie die “subtiele, buigsame, komplekse maaksel van gesofistikeerde elites”.[25]

Ook in Suid-Afrika was dit die gesofistikeerde elites in die Afrikanergemeenskap wat Suid-Afrika op die pad na eers ’n strenger vorm van segregasie en later na apartheid geplaas het. Daar was drie bronne. Ten eerste was daar die NG Kerk se sending onder bruin en swart mense wat die klem geplaas het op kultuur en volkstaal. Die eerste keer dat die woord “apartheid” in die moderne sin neergeskryf is, is in ’n verslag van 1929 van die Vrystaatse NG Sendingkerk. Ten tweede was daar leiers soos D.F. Malan en Verwoerd vir wie staatsinmenging ter wille van die opheffing van die armblankes ’n prioriteit was. Ten derde was daar die politieke stryd oor die bruin en swart stem, wat soos in die stryd in die Amerikaanse Suide sou lei tot die ontkiesering van alle kiesers wat nie wit was nie. (In sommige kiesafdelings, soos Stellenbosch en die Paarl, was tussen ’n vyfde en ’n kwart van die kiesers bruin.)

In 1924 het generaal J.B.M. Hertzog, leier van die Nasionale Party (NP), in koalisie met die Arbeidersparty die verkiesing gewen en die regering gevorm. Aanvanklik wou die koalisie met sy beleid van “beskaafde arbeid” wit en bruin mense in dieselfde mate bevoordeel, maar Malan en sekere ander NP-leiers het al meer daarop aangedring dat die opheffing van die armblankes die hoogste prioriteit is. ’n Wêreldwye depressie het die NP in 1933 verplig om eers ’n koalisie met generaal J.C. Smuts te vorm en later met sy Suid-Afrikaanse Party (SAP) saam te smelt as die Verenigde Party (VP). Negentien NP-lede onder leiding van D.F. Malan het as Nasionale Party op die opposisiebanke gaan sit. Met sy groot belangstelling in die armblankekwessie het Verwoerd dadelik sy gewig agter die NP onder Malan ingegooi.

25. C. Vann Woodward, “The Edifice of Domination”, New Republic, 17 Desember 1982.

Tafelberg Kort: Die enigma van Hendrik Verwoerd

Подняться наверх