Читать книгу Tafelberg Kort: Die enigma van Hendrik Verwoerd - Hermann Giliomee - Страница 4

Оглавление

Gedryf deur “immergie”


Piet Cillié, redakteur van Die Burger van 1954 tot 1978, het ’n woord geskep om die besondere dryfkrag van ’n Hendrik Frensch Verwoerd te beskryf. Dit is “immergie”, ’n nuutskepping wat die woorde “immigrant” en buitengewone “energie” saamvoeg.

Dit pas vir Napoleon, wat van Italiaanse ouers op Korsika gebore is in dieselfde jaar dat Frankryk die eiland van Italië verower het.[4] Dit is ook waar van Stalin, gebore in Georgië iets meer as ’n halfeeu voor Rusland sy land geïnkorporeer het. En ook vir die Oostenryker Adolf Hitler, wat meer as enige gebore Duitser oor Duitsland se roeping gepraat het. Iets het hierdie manne gedryf het om heel bo te kom en dan, ten goede of ten kwade, die politieke stelsel in die land wat hulle aangeneem het, te omvorm.

In die VSA kan ’n immigrant nie president word nie, maar in Suid-Afrika en die meeste ander lande kan so iemand wel die hoogste politieke amp beklee. As hy suksesvol is, word hy op die hande gedra, maar as hy ’n flater begaan, word hy gou as die “verdomde Korsikaan” (Napoleon) of die “vervlakste Hollander” (Verwoerd) uitgekryt.[5]

Vereenselwiging met ’n nasionalistiese beweging is dikwels vanselfsprekend vir diegene wat die volk as ’t ware as ’n verlengstuk van die familie en gemeenskap sien. Vir immigrante en hul kinders is dit egter dikwels ’n doelbewuste daad en oorwoë keuse.[6] Verwoerd het doelbewus gekies om ’n Afrikanernasionalis te word. Heel eerste was hy ’n taalnasionalis. Al het hy Engels vlot gepraat en geskryf, het hy in 1919 by die Universiteit van Stellenbosch ingeskryf. Hy het die eerste student in Suid-Afrika geword wat reg deur sy studies Afrikaans gebruik het – van sy voorgraadse eksamens af tot sy doktorale proefskrif.

As ’n Afrikanernasionalis wat eers in die joernalistiek en toe in die politiek gestaan het, het Verwoerd die Afrikanergeskiedenis opgehemel – tot irritasie van sy kabinetskollega Ben Schoeman, wat sy loopbaan as stoker op die spoorweë begin het: Hy het altyd van “óns voorgeslagte, óns glorieryke verlede gepraat . . . Dit was asof hy homself en sy ondersteuners wou oortuig van sy Afrikanerskap,” het Schoeman gesê.[7]

En tog was daar iets onmiskenbaar Europees in Verwoerd se benadering tot die rassepolitiek. Afrikaners wie se geskiedenis in die land verskeie geslagte teruggegaan het, is bewus of onbewus gevorm deur die patriargale orde op die plaas met die patriarg en sy vrou aan die spits en diensbodes en werksmense onder hul beheer en “sorg” en kinders wat oor die rassegrens heen saamgespeel het.

Vir Verwoerd, die immigrant van Europa, was die verwysingsraamwerk Europa waar daar ’n versameling nasiestate was, elkeen op sy eie grondgebied. Hy het dit so gestel: As daar in die grondgebied van suidelike Afrika ’n blanke staat was, soos wat daar ’n blanke Nederland of ’n blanke Frankryk is, en as daar vir swart mense “naturellestate” bestaan het, dan “was daar nie ’n probleem nie”. Dit was inderdaad vir hom die ideale toestand. Maar, het hy voortgegaan, dat dit nie so is nie beteken nie dat ’n mens die ideaal moet laat vaar nie. Die wit mense in Suid-Afrika moet hulle rassebeleid so inrig dat daar so na as moontlik aan die ideale toestand gekom kan word. Dit is onmoontlik om aan enige gebore Suid-Afrikaanse politikus te dink wat so ’n konstruksie die grondslag van sy beleid sou gemaak het.

Veel meer as sy kollegas het Verwoerd besef dat die Weste besig was om vinnig van statutêre rassediskriminasie weg te beweeg. Die buitewêreld wil ’n swart Suid-Afrika hê, het hy op ’n vroeë stadium gesê. Daarom moes Suid-Afrika die buitewêreld oortuig dat hy ’n regverdige oplossing soek. [8]

4. Universiteit van Stellenbosch Dokumenteversameling: Piet Cillié, “Momente”, ongepubliseerde outobiografie, ongepagineerd.

5. Cillié, “Momente”.

6. Henry Kenney, Architect of Apartheid: HF Verwoerd – An Appraisal (Johannesburg: Jonathan Ball, 1980), pp. 20-22.

7. Ben Schoeman, My lewe in die politiek (Johannesburg: Perskor, 1978), p. 288.

8. Pieter W. Grobbelaar, Man van die volk (Kaapstad: Human & Rousseau, 1966), p. 71.

Tafelberg Kort: Die enigma van Hendrik Verwoerd

Подняться наверх