Читать книгу Tafelberg Kort: Die enigma van Hendrik Verwoerd - Hermann Giliomee - Страница 7
’n Ander siening
ОглавлениеDie meeste mense in die swart en bruin middestand het geensins die Afrikaners se bewondering vir Verwoerd gedeel nie. Wat hy in sy toesprake gesê het, het hulle ernstige aanstoot gegee.
Een so ’n geval was die kampanje voor die referendum van Oktober 1960 oor republiekwording. Verwoerd het feitlik op sy eie die meerderheid van amper 75 000 vir ’n ja-stem bewerkstellig. In een van sy toesprake het hy verklaar dat die referendum die toekoms van die Suid-Afrikaanse nasie sou beslis, en bygevoeg: “Wanneer ek praat van die nasie dan praat ek van die wit mense van Suid-Afrika.” Net ná die aankondiging van die uitslag het dr. Richard van der Ross, ’n bruin leier, geskryf dat die uitspraak beteken dat geen swart of bruin Suid-Afrikaner “Die Stem” as sy volkslied of die nasionale vlag as sy vlag kan beskou nie.[14] In 1961 het Nelson Mandela, toe een van die opkomende leiers, ’n brief aan Verwoerd gestuur waarin hy namens die African National Congress (ANC) ’n beroep op Verwoerd doen om ’n Nasionale Konvensie byeen te roep. Hier moes verteenwoordigers van alle partye probeer om ’n ooreenkoms oor ’n nuwe grondwet te bereik. Mandela het geen antwoord ontvang nie.
In 1963, in sy verhoor op verskeie aanklagte, het Mandela gesê dat in enige beskaafde land sulke optrede deur die regeringshoof as skandalig beskou sou word. Verwoerd se private sekretaris het getuig dat die brief onbeantwoord gelaat is omdat dit “aggressief” en “onhoflik” was. Mandela het later geskryf dat “there may have been something in this”.[15]
In 1962 het Albert Luthuli, ANC-president, Verwoerd as “die outeur van ons rampspoed” bestempel. Sy wette het elke aspek van swart mense se lewens, van Bantoe-onderwys tot in die graf, beheer. IB Tabata, leier van die Non-European Unity Movement, het spesifiek na Verwoerd verwys met die titel van sy boek Education for Barbarism.[16]
14. R.E. van der Ross, Coloured Viewpoint (Kaapstad: Universiteit van Wes-Kaapland, 1984), pp. 102, 181. Die artikel is oorspronklik op 6 Oktober 1960 in die Cape Times gepubliseer.
15. Tom Lodge, Mandela: A Critical Life (Kaapstad: Oxford University Press, 2006), p. 105.
16. Albert Luthuli, Let My People Go (Londen: Fount Paperbacks, 1962), pp. 176-77.