Читать книгу Tafelberg Kort: Die enigma van Hendrik Verwoerd - Hermann Giliomee - Страница 5

’n “Kerkartikel”

Оглавление

Maar daar was ’n paradoks. Aan die een kant het Verwoerd ’n idealistiese konstruksie van apartheid gegee wat dit laat lyk het of alle vorme van rassediskriminasie gou sou verval. Aan die ander kant het hy aangedring op kru vorme van rassediskriminasie wat groot skade aan die beeld van sy beleid gedoen het. Die bekendste voorbeelde was die weiering in 1961 om swart diplomate van onafhanklike Afrikalande te ontvang en die weiering in 1965 om ’n All Black-rugbytoerspan wat Maori-spelers sou insluit in Suid-Afrika toe te laat. Die eerste het beteken dat daar geen kans was dat Suid-Afrika in die Statebond sou kon bly nie en die tweede het tot die kansellering van die All Black-toer gelei. Ben Schoeman het geglo dat ras Verwoerd se Achilleshiel was en dat hy ongelooflik kortsigtig oor dié kwessie was.[9]

Die rede was dat Verwoerd wou hê sy beleid moet konsekwent wees. Piet Cillié gebruik ’n analogie: “Soos ’n predikant wat meedoënloos aandring op sy gemeente se absolute en voortdurende gehoorsaamheid aan die suiwerste beginsels, het Verwoerd geëis dat sy aangenome volk nie net Sondae (figuurlik gesproke) Afrikaners moet wees nie, maar elke dag van die week.” Cillié skryf voorts: “Dit het mettertyd op heelparty van hulle [die Afrikaners] se senuwees gewerk. Hulle was bereid om saam met die Prediker ‘nie alte goddeloos’ te wees nie, maar nie saam met hom ‘te regverdig’ te lewe nie.”[10] In die eerste ses jaar van die Nasionale Party (NP) se bewind met die Kaapse Nasionaliste aan die roer van sake het die regering ’n beleid van sterk rasseskeiding afgedwing wat heelwat verder as die tradisionele segregasiebeleid gegaan het. Maar op sekere gebiede het die regering dit wys gevind om sy oë van ’n beperkte vorm van integrasie af te wend. Een daarvan was gesamentlike aanbidding, wat in sekere Engelse stadsgemeentes algemeen begin word het. Die algemene siening was dat die staat nie die reg het om sulke godsdiensoefeninge te verbied nie. Dit sou op ’n aantasting van geloofsvryheid neerkom.

In 1957 het Verwoerd as minister van naturellesake ’n wetsontwerp ingedien wat ’n sogenaamde “kerkartikel” bevat het. Dit sou veelrassige samesyn in kerke, hospitale, skole en klubs moeilik of selfs onmoontlik maak. Dit het gelyk of gemengde kerkdienste nie meer moontlik sou wees nie.

Dit het ’n storm in die pers veroorsaak en Verwoerd is, in Cillié se woorde, as “monsteragtig” voorgestel, veral oorsee. Daar was ’n gebrom onder Verwoerd se kollegas in die kabinet en Paul Sauer het opgemerk: “Voortaan sal ons sy wetsontwerpe versigtiger lees.” Cillié skryf dat daar waarskynlik een of twee ministers onder mekaar gesê het: “Wat kan ’n mens van ’n vervlakste Hollander verwag?” [11]

9. Schoeman, My lewe in die politiek, pp. 246-47.

10. Cillié, “Momente”.

11. Cillié, “Momente”.

Tafelberg Kort: Die enigma van Hendrik Verwoerd

Подняться наверх