Читать книгу Bitter heuning - Hermione Suttner - Страница 10
4. Tussen soutbosse en sonkwasriet
Оглавление4
Tussen soutbosse en sonkwasriet
Jakob se pa, John Foster Brandt, het hom permissie gegee om ’n paar stuks skaap aan te hou, en ’n koei wat hy kan laat wei. Al is Jakob in g’n posisie om te kies nie, beskou hy die kleihuisie as ’n belediging.
Nie ver van hulle af nie is die matjieshuise van die Nama-plaaswerkers. Saans luister Bavaria graag in die kleihuisie na die klanke van ’n ramkie en konsertina uit outa Piet en ai’ Bloutjie Dirkse se kookskerm. En sy dink aan haar eie Oufonteinse huis waar daar altyd musiek en gelag in die aande is. En aan die donker vrouestemme in die Namakwalandse nag saam met die klank van die mandolien uit die groen smouswa. As iets net deur die stilte van die kleihuis se rowwe mure wou breek . . .
Outa Piet en ai’ Bloutjie was kennelik bly om Bavaria te sien. Hulle is al baie jare op die plaas, en in die stilligheid het hulle gehoop dat sy die humeur sou kalmeer van die seun wat die groot skeur in die Brandt-familie veroorsaak het. Hulle ken Jakob. Sy wederstrewigheid. Sy vinnige vlamvat. Sy moertrekkery.
Omdat John Brandt nie outa Piet of een van die ander werkers kan spaar nie, moet Jakob en Bavaria alles self doen. Dwarsdeur die dag werk hulle om die pampoene en aartappels wat hulle geplant het nat te maak. Voor sonuit en weer in die namiddaghitte dra hulle emmers water aan van hoër op in die rivier waar dit vars is, buite bereik van die sout seegety.
Hoewel Bavaria tree vir tree langs haar man werk, is sy rol dié van baas en hare dié van klaas. Tog is dit sy wat die veelgeroemde bonevelde van die Sandveld begin met die groot, glimmende heerbone. Sy beplan die plant van die boontjies uit die skaapwagterkaia fyn – vir haarself. Sy vra haar skoonpa vooruit of sy haar eie boontjieakker kan aanlê op ’n ongebruikte deel van die plaas. Hy het niks daarteen nie.
Die bone plant sy toe Jakob veld toe gaan met die skape om bietjie weiding te soek. Elke dag rol sy die vat met water van die rivier af oor die sandstrook, heeltemal op haar eie. Dan maak sy haar bone nat terwyl sy bid dat hulle tog sal groei. Eers toe hulle opgekom het, vertel sy vir Jakob. Hy snork minagtend oor die handjievol bone waaruit sy ’n oes verwag, maar hy gaan haar nie teë nie.
Soos die groen sprietjies elke môre sterker staan, stuur sy ’n dankgebedjie op. Haar stryd om te oorleef, haar hele toekoms, so voel dit, hang van die boontjies af. Die natuur sal haar tog nie ook teleurstel nie . . . ?
Wanneer sy af en toe rus en die vergesig vanaf haar boontjieakker bekyk, verwonder sy haar oor die mooi skadubome voor die groot kliphuis waarin Jakob se mense woon. Om haar kom ’n effense seegeur aangesweef. Bokant haar kop vlieg riviervoëls vry rond. Sy is terug in die Sandveld; sy het weer hoop.
Ná ’n klompie maande is die bone gereed om geoes te word. Sy besluit om haar oes merendeels te bêre en die volgende jaar weer te plant. Sy verkyk haar aan die blink, gesonde bone wat in die arm, sanderige grond floreer. Boontjies in goeie grond gee welig blare, maar die oes is klein en min. Per geluk het sy die regte plek vir haar boontjies gevind: die baie son en die knaende namiddagwinde hou hulle pesvry. Toe sy die eerste kooksel week en gaarmaak, weet sy haar plan is ’n sukses.
Selfs Jakob se digte wenkbroue wip van verbasing toe hy die boontjies sien waaroor almal in die familie aan ’t praat is. Sy pa het Bavaria se akker vergroot omdat niemand in elk geval daardie stuk sandgrond benut nie.
Jakob sou Bavaria egter nie help natlei nie. Sy belangstelling is by sy skaaptrop. Hy het klaar ’n paar verkoop om goeie skaap by te koop.
Met die tweede boontjie-oes op pad weet Bavaria ook dat sy weer vrugbaar is.
Toe dit tyd is vir die geboorte, staan tant Tollie haar by in die beknopte kleihuisie. Die vroedvrou is onopgelei, maar het baie jare se ervaring. Sy spog dat sy nog nooit ’n ma met melkkoors gehad het nie. Alles om haar moet silwerskoon wees: Bloutjie moes die kleertjies en handdoeke in die oond “bak”.
Tant Tollie skrop haar hande met blouseep en boender nuuskierige toeskouers en helpers weg. Sy onthou nog goed hoe Elna, Bavaria se halfsuster, dood is by die geboorte van haar kind.
Dis ’n seuntjie, en hy kry die naam Hugo. Want Jakob Brandt het geweier om die naam van sy Engelse ouma se Ierse pa – John Foster – te laat voortleef soos die familiegewoonte was.
Bavaria het genoegsaam melk en alles loop voorspoedig. Jakob neem tant Tollie terug huis toe na Rooiverlorensand ná die geboorte, maar die volgende môre is sy terug met haar treppie en donkie om Bavaria se voorkop te voel en op haar maag te druk om seker te maak daar het nie van die nageboorte agtergebly nie. Ook die res van die week kom sy verby om in die algemeen op alles te let.
“Jy moet eet, Bavaria. Vleissoppies, dié moet Bloutjie vir jou maak, en sulke goete vir krag. ’n Kooivrou moet eet.”
Dominee Van Rensburg doop die kind in Velddrif toe hy een maand oud is. Die eerste van my kinders wat gedoop word, dink Bavaria.
Omtrent die enigste woorde wat Jakob ná die seremonie sê, is: “Hugo gaan ’n boer wees.”
Jakob was suinig op sy skape; hy het nooit een van hulle geslag nie. Maar soos die ander Sandveldvrouens het Bavaria ’n eie verdienstetjie waaruit sy geld spaar: sy hou hoenders aan. Agter die kleihuis het sy ’n hoenderhok aanmekaargesit. Die vars eiers sal goed wees vir Hugo, en nou en dan kan hulle ’n hoender slag vir ’n vleisigheidjie.
In die somer gaan sy daagliks rivier toe. Soms om haar bondel wasgoed saam met die ander vrouens in te seep by die deel waar die water vars is. Dit word uitgevryf, gespoel en oor die bosse oopgesprei om te bleik of te droog. Dis ook tye om saam met die ander vrouens te gesels, selfs te lag. Maar dikwels gaan Bavaria net om vis te vang, iets waarmee sy bedrewe is. Sy word die een wat die kosvoorsiening in die huis behartig.
Van die geld wat sy maak uit haar boontjie-oes sit sy weg in ’n Mazawattee-teeblik wat sy by haar ma gekry het. Boontjiegeld, het sy netjies op die blik uitgekrap. Dis haar afknypgeld, sonder dat Jakob dit weet. Om nuwe klere vir Hugo te koop vir Kersfees, of ietsie vir haar ma, koffie miskien, of ’n koekie seep. “Jy moet knippel,” het Dolly Gold gesê, en sy doen dit.
Op haar seldsame togte na Velddrif om dinge soos tee of koffie of paraffien te koop by HSC Bester Algemene Handelaar, gebruik sy soms van haar bêregeld om ’n paar hande wors by die slaghuis te koop – ’n lekkerny wat hulle nie aldag sien nie. Op pad huis toe gaan sy by haar mense op Oufontein aan, altyd met ’n sakkie bone vir haar ma.
Algaande kry Bavaria se lewe ’n vaster gang op De Heuwel.
Ek, Mara Brandt, word gebore toe Hugo vyf is en die Tweede Wêreldoorlog in Europa al begin het. Ek was byna ’n Nuwejaarsbaba, want ek is gebore op die tweede dag van Januarie 1940.
Al moes my ma, Bavaria Mara wat uit die see gekom het, aan my geboorte skenk in die ou kleihuisie, was dinge darem al ’n bietjie meer voorspoedig, want Moeder se boontjie-oes het elke jaar groter geword. Met outa Piet se hulp het Vader nog ’n kamer aan die huis aangebou. Ek en Hugo sou die kamer deel.
Dit was Fytjie, die dogter van ai’ Bloutjie Dirkse, wat my alles van my geboorte vertel het en hoe sy kamma gehelp het. Maar sy was maar so om en by tien daardie tyd, so hoedanig sý gehelp het, sal ek nie weet nie!
Sy onthou goed hoe outa Piet die donkiekar gevat het in die diepnag om tant Tollie te gaan haal. “Jy wou nie wag totlat die rooidag breek nie,” het sy vertel. Die wêreld was glo dig van die toemis en outa Piet kon net stadig aankruie, so ai’ Bloutjie het heeltyd by my ma gebly.
Fytjie kon haarfyn opnoem wat alles gebeur het. Tant Tollie het in ’n spierwit voorskoot en kappie aangekom, met ’n trommel uit ’n ou Laurel-paraffienblik in haar hand. “Die goeterse wat uit daai vrou se trommeltjie gekom het!” vertel Fytjie. “Skêr, dun toutjie, spirits om die nawelstring uit te droog, olyfolie, blikkietjie poeier. Ek het Mame gehelp om jou mame op te lig om die olieklot onder haar in te sit. Oumies Tollie het jou mame se rug gevrywe, want jy’t haar baie pyn gegee.”
Ai’ Wiesa wat soms op die plaas uitgehelp het, was ook by met my geboorte, volgens Fytjie. Sy en Bloutjie het saamgewerk, een aan elke kant van Moeder, en as tant Tollie “Druk!” sê, het hulle Moeder se bene opgedruk en hulle by die knie gebuig.
“Daai mame van jou was ’n sterk kooivrou,” vertel Fytjie. “Sy’t nie eigenlik geskrou nie. Toe jy uitkom, roep ons ammal eietyd: ‘Dis ’n meisiekjind!’ Oumies Tollie het gesê: ‘Sien julle, ek kan skaars lees en skryf, maar ek het ’n gawe van die Jere gekry en hier’s die lieflike ou dogtertjie nou.’ ”
Later het ek gehoor dit was einste tant Tollie wat die toorkrag van die heerboontjie ontdek het. As ’n spinnekop jou byt, druk jy ’n groen peul teen die bytplek. As dit vassit, is dit ’n giftige spinnekop. Laat dit op die bytplek sit tot dit afval. Dit trek die gif uit. As die peul sommer afval, weet jy dis ’n onskadelike spinnekop.
“Toe sy jou nawelstringetjie knip,” vertel Fytjie verder, “wou ek ’n miskoek gaan haal om ’n proppietjie op jou naweltjie te sit. Maar toe was daai oumies Tollie darem vir jou die vieste in. Sy stamp my weg en sy sê: ‘Skoert jy, voor daar vuiligheid in haar naweltjie kom.’ Maar ek is as-aan; ek staat waar ek staat, want ek wil mos sien.
“Jy’s ’n veldkjind, Maratjie. Ons weet ammal jou mame het uit die see uit gekom, maar jý was ’n annerlike enetjie! Jy’t so geskrou, jou pape het jou doer op die lande gehoor. Jy’t soos ’n weggooilam geblêr. Maande lank. Vandag se dag skrou jy nog altyd.”
“Nie as ek by julle in die matjieshuise is nie, Fytjie, jy weet dit goed,’’ sê ek gou. “Net hier in ons huis . . . Ek huil ook nie as jy my saamvat veld toe nie.”
Moeder het my Mara genoem, haar middelnaam, en my eie middelnaam was Tollie. Ek is gedoop Mara Tollie Brandt. Vader het die name nie teëgestaan nie; hy was glo vreeslik bly oor sy dogter. Hy het Moeder toegelaat om materiaal vir my klere te koop, al het hy altyd steen en been gekla as daar smouse op die plaas kom: “Kom hier aan met allerhande prulle net om die vroumense te mesmeraais.”
Toe ek drie was, is Klaas gebore. Ek onthou party dinge self; ander het Moeder my vertel. Tant Tollie het die laaste maande wat sy in die ander tyd was, af en toe kom kuier en haar gepamperlang.
“Jy’s nou veertig, Bavaria. Jy moet baie rus. Sit jou voete op. En jy moet melk drink.”
Klaas is gebore op Boxing Day, soos ons gesê het. Klaas Krige, so het Moeder hom genoem, na haar eie pa wat sy nooit geken het nie.
En van die eerste dag af – hoekom weet niemand – wou Vader niks weet van Klaas nie. Miskien oor hy kleintyd so tingerig was vir ’n seunskind. Vader het sommer weggedraai en anderpad gekyk toe hy die dun beentjies en maer armpies sien.
Maar ek, ek het in my kinderlike eenvoud gehoop Klaas moet nooit groot en sterk word nie. Dan kon ek hom vir my pop vat, al had hy so ’n lelike rooi gesiggie en al wou ek eintlik ’n sussie hê.
“Hy lyk so misrabelik, nes ’n klein rooi Ingelsmannetjie. Ek gaat hom Klaas Ingelsman noem!” was tant Tollie se uitspraak.
Toe die bure na die tweede seun kom kyk, is dit elke keer ’n gelag, want tant Tollie se grappe is altyd die hele Sandveld oor vertel. “Geluk met Klaas Ingelsman!” sê hulle.
Vader het rooi geword tot in sy nek en sy bossierige wenkbroue het kwaai gefrons.
“Vaderweet waar hý vandaan kom!” was al wat hy vir Moeder gesê het, sy eie rooigeit vergete.
Die bynaam het bly steek: Klaas Ingelsman.
Vader kon dit nie vat dat hy so ’n tingerige kêrelkind verwek het nie. Vir Moeder het hy gesê: “Hugo is groot en sterk. En hy het kopnaat. Hy sal die boer wees. Klaas kan ons maar vir die kerk gee.”
Ek weet nou dit was een van Vader se groot foute: hy was altyd aan die planne maak om ander te regeer. Hy het planne gehad toe hy met Moeder getrou het. Hy het planne gehad vir my broers. Met my het dit nog slegter gestaan. Hy sou my hele lewe regeer.
Die dag van Klaas se doop het ouma Sannie en oupa Knud met presentjies vir die kleinkind gekom. Hulle was bly dat hy sy oorlede oupa Krige se naam gekry het. Ook my ooms en tantes aan my ma se kant het gekom. Hulle was gaaf met ons kinders en het my gesoen en Hugo se hand geskud.
Vader het darem ook met die hand gegroet en toe geloop. Hy het nie eens iets te ete of te drinke aangebied nie. Toe ai’ Bloutjie wou rooibostee maak, het Vader glo gesê: “Hulle’s vissersmense. Hulle hoort by die see; hier is niks vir hulle nie.” Hy het steeds geglo hy het benede sy stand getrou.
Ná daardie dag het Moeder se mense nooit weer by ons kom kuier nie. Ek kan onthou dat Moeder hard gesnik het toe Ouma-hulle weg is.
Ai’ Bloutjie het ’n skinkbordjie rooitee vir Moeder geneem, wat lusteloos op die katel gelê het. Ek het van angs agter die kas in die kombuis weggekruip. Bang oor Moeder so huil en bang dat Vader enige oomblik sou inkom.
Maar Hugo het na Moeder in die kamer gegaan. Sy het sy een hand in hare geneem en die Bybel in sy ander hand gesit en gevra dat hy vir haar moet lees. Moeder het later vir my vertel dat hy Psalm 23 gelees het, dit was haar geliefde Psalm.
Ná Klaas se geboorte was daar ’n koudheid tussen Moeder en Vader, ’n verwydering wat nooit oorkom is nie.
My ouma Brandt was ’n groot, sterk vrou, een van die Rooi Smitte van Dwarskersbos. Hoewel sy vroeër tog partykeer na ons huisie gekom het, het ons nooit na die kliphuis gegaan nie. Ons het glad nie met die Brandt-familie gemeng nie. Ek was te jonk om te verstaan en het gedink dis maar soos dit moet wees.
Op ’n dag het Moeder gesê ek en Hugo moet haar help om ’n sak boontjies te pluk vir ouma Brandt. Toe die sak halfvol was, het ons drie daarmee na die kliphuis geloop, ek met een punt van die goiingsak in my hand, Hugo met die ander punt. Moeder het aan die deur geklop. Toe dit eindelik oopgaan, staan tant Hendrieka, Vader se suster, daar.
Moeder het ongemaklik gelyk en die sak boontjies uitgehou. “Ons het hulle nou net gepluk; hulle’s lekker vars.”
Tant Hendrieka het ’n glimlaggie na my kant toe gegooi, maar ons innooi, dié het sy nie.
Van oupa John Foster Brandt het ek net een helder herinnering. Eendag toe ek seker so vyf was, het hy na ons kleihuis gekom en my saamgevat om een van sy bokke te gaan soek. Hy het my hoog op sy skouers gedra en so het ons die veld gefynkam. Ek moes kyk of ek die bok nie sien nie.
Ek was nog nooit vantevore alleen met hom nie, en ek was baie skaam, want hy was soos ’n vreemdeling vir my. Die bok het ek nêrenster gesien nie, maar ek kon ver oor die graanlande uitkyk na hoe die wind rimpels daardeur stoot soos wanneer die see vol joppels is.
“Ver, ver weg in Engeland is die gras die hele jaar deur so groen soos hierdie graanland, want hulle kry baie reën daar,” het Oupa gesê. “Dit moet mooi wees, nè, Mara?”
“Was Oupa in Engeland?” het ek gevra. Hugo het my prente van Engeland in sy skoolboeke gewys.
Oupa het gelag. “Nee, maar my ma was ’n rou Engelse meisie wat kom nursing doen het in Suid-Afrika en toe’t sy hier met my pa getrou. Jeanie Anne Foster was sy. Haar pa het glo van Ierland af oorgekom Engeland toe; haar ma was Engels. Weet jy dat sy g’n woord Afrikaans met my pa kon praat toe hy haar leer ken het nie? Sy moes eers sy taal aanleer. Maar hulle het reggekom. As jy lief is vir iemand, is dit maklik om iets te leer. Sy het baiekeer vertel hoe sy verlang na die ‘green hills and dales’ van Engeland, soos sy dit genoem het. ’n Mooi vrou, met voshare die ene krulle. Dis sý, jou oumagrootjie, wat gesê het daar moet ’n John Foster – haar pa se naam – in elke Brandt-geslag wees.”
Toe sê Oupa so half vir homself: “Net jammer dat Jakob die naam laat uitsterf het . . .”
Ek is spyt dat ek oupa Brandt nooit regtig leer ken het nie, en later was daar ook niemand meer om my van hom te vertel nie. Maar ek het altyd gedink: As ek eendag ’n seun het, sal ek hom na my oupa noem, John Foster.
Daardie einste jaar is oupa Brandt dood. In sy testament het hy De Heuwel verdeel tussen sy seuns, met die beste deel vir sy oudste seun, die een met die naam John Foster, altyd Johnnie genoem. Vader het die deel verder weg van die rivier gekry. Ouma Brandt en tant Hendrieka het die groot kliphuis naby die rivier geërf.
Daardie tyd was mense so dikwels in rou dat selfs trourokke swart was. Buitendien het hulle so baie rondgetrek op soek na weiveld dat ’n wit trourok nie prakties was nie. Trourokke is van bruid tot bruid aangegee. Voor oupa Brandt dood is, het hy vir Ouma gesê sy moet sorg dat ek die familie se trourok kry, aangesien ek die oudste kleindogter was.
Dit was ’n swart rok.
Moeder het dit in haar klerekas met die kamferreuk opgehang. Dit was so lank dat dit op die vloer gesleep het en dit het yslik groot en trietsig daar gehang. Al was daar mooi fyn borduurwerk om die middel, het ek gedink dis ’n treurige rok, en ek het dit ook vir Moeder gesê.
“Jy moenie so dink nie,” het Moeder my betig. “Eendag kan jy dit dra. Ouma Brandt was baie gelukkig in haar huwelik.”
Al was Fytjie soort van my oppasster en my speelmaat en altyd by my wanneer Moeder in haar groenteakkers besig was, was Hugo die belangrikste mens in my lewe. Soggens moes hy natuurlik skool toe, maar in die namiddae of saans het hy altyd tyd gemaak om iets saam met my te doen.
“Hugo,” sê ek op een van daardie wonderlike Saterdae wanneer Vader weg was om skaap te gaan verkoop. “Fytjie wil hê ons moet in die veld gaan baroe soek. Dan braai ons hulle op die kole, sê sy. Dis nog lekkerder as patats. Kan sy maar saamkom?”
“Natuurlik.”
En so het ons veldin geloop. Fytjie en Hugo het al twee so baie geweet oor watter veldkos ons kan eet en wat word gebruik as medisyne en wat is sommer vir die mooi en kos vir die skoenlappers, motte, kewers en skilpaaie.
Hulle het selfs geweet waar die erdvarkgate was. Ons het baiekeer ystervarkpenne naby die uitgeholde gate in die grond gekry. Nes grotte, het ek gedink. Hugo het gesê die ystervarke is slim, hulle vat partykeer die erdvark se gat vir hulle huis wanneer dié weg is om ’n ander miershoop te gaan oopgrawe.
Fytjie het graag die swart-en-wit ystervarkpenne in haar hare gesteek. Ek wou haar daardie dag help, maar sy het gekeer omdat die penne so skerp was. Toe vat Hugo ’n klompie bymekaar en sny die skerp punte met sy knipmes af. Daarna kon ek Fytjie se hare met hulle versier. Dit was vir my lekker om aan haar hare te vat, so anders as my lang, gladde hare.
Fytjie kon vol perkate wees as sy wou. Sy val sommer plat op die grond neer en druk haar oor teen die sand.
“Wat luister jy, Fytjie?” wil ek weet.
“My oë soek bo-op die grond langs na baroe se stammetjie, maar my ore luister onder die grond.”
Ek val ook neer. “Ek hoor ook iets,” sê ek. “Nes klein voetjies wat rondtrap, so trap-trap-trap.”
“Loop hulle of hol hulle?” lag Fytjie. “Dis die voormense wat dourie tyd al hier gelewe het. Jy sal die bokke se kloutjies ook hoor. Innie voortyd het tamaai troppe wildsbokke van enige soort oor dié veld gehol.”
Ek het regtig gevoel Fytjie se voormense was nog hier rond. Nie net die mense nie, die diere ook. En dat hulle spesiaal teruggekom het om by ons te wees.
Soos Fytjie my vertel het, glo haar mense in die matjieshuise hulle voormense wat lankal dood is, is maar nog al die tyd by hulle. Hulle het hulle eie musiek en danse, hulle het nooit weggegaan nie. Húlle slaap nie vir ewig in die sandkooi soos wit mense nie.
Daardie dag gryp Fytjie my hand en sy sê: “Kom ons dans. Luister hoe maak die kopergoete kliek-kliek om my nek soos ek trap. Kyk so, ek leer jou die riel.”
En ek dans en ek klap hande daar in die veld in die helder son – op die maat van die kliek-kliek van Fytjie se kopergoete en die trap van haar voete. Om my nek het ek die stringetjie krale wat Hugo vir my gemaak het. Dis van vyf stukkies volstruiseierdop wat hy bietjie glad en ronderig geskaaf het op ’n klip. Hy het aande lank met ’n els gesukkel om gaatjies daarin te boor om dit aan ’n riempie te ryg. Ek kon dit net dra as Vader my nie sou sien nie.
Ag, om soos Fytjie te wees! Vry om te sing en te dans. En jou hande en arms met boegoe in te vryf dat almal die lekker groen daarvan kan ruik.
Ons het daardie dag ver veldin geloop. Fytjie kon maar nie ’n baroe kry nie.
“Kyk hoe helder is die berg,” sê Hugo op ’n keer. “Die Piketberg is hoog, hy lyk glad pers vandag. En die veld en die lug weer so groen en so blou.” Hugo het altyd sulke goed raakgesien.
“Is die hemel nou dour bo?” vra Fytjie vir Hugo terwyl hy in die lug opkyk.
“Kan wees,” sê Hugo. “Die hemel is waar dit mooi is. Bo in die lug, ja . . . of hier onder tussen die kapokbossies en die soutbosse en die sonkwasriet, die jakkalskos en die bittergousblom – in als wat leef. In elke ding waarin daar lewe is, selfs in ’n skilpad en ’n voël. God is oral.”
Fytjie het gesug. “Hoog bo-op daai berg sal ek graag wil staat.”
“Miskien doen ons dit nog eendag,” het ek gesê. “Hoog daar bo. Wat kan ons nou sing, Hugo?”
“Hoekom nie Kersliedjies nie?”
Toe sing ons Kersliedjies, al was Kersfees nog ver. “Die Heiland is gebore” en “Betlehemster”. Fytjie had ’n goeie oor en sy het gou saam met ons ingeval.
“Mara, nou moet jy alleen sing. Toe, ons luister,” vra Hugo skielik.
Toe sing ek “Twinkle, twinkle, little star” wat Hugo in die skool geleer het en toe weer vir my.
Hugo het gelag en hande geklap, en Fytjie ook. “Mara, jy sing nes ’n engeltjie.”
Seker omdat ek aan sterre gedink het, sê ek toe: “En nou ‘Laat ons skyn vir Jesus’ ook, Hugo.”
En ons sing dit ook, daar op die haai vlak. En so sing-sing loop ons huis toe. Weer “Betlehemstêêr, lieflike stêêr . . .” vir die lekkerte. Fytjie rek dit die heel langste uit van ons drie; dit klink of haar stem dour bo die Piketberg loop draai.
Maar toe Fytjie afdraai om eers te gaan hout maak, sê Hugo hy moet vir outa Piet met die skaap gaan help. Ek begin bewe nes of dit winter is.
“Ag, Hugo, moenie loop nie. Bly by my.”
“Nee toe, Maratjie, jy’s mos al mooi groot. Moeder is by die huis, dalk kan jy haar help met iets.”
Hugo had altyd iets besonders om vir my te gee voor ons uitmekaargaan. Eenkeer ’n klippie met ’n merk soos ’n kruis daarop, of sommer ’n handvol rooiryp skilpadbessies om te eet. Hy het allerhande goed in ’n boks onder sy bed gehou, spesiaal vir my. Daar was selfs ’n uitgedroogde blinkswart roltoetjie in, mooi netjies opgerol met sy duisend pootjies onbeskadig, wat Hugo eendag in die sand opgetel het. Ek het later eers verstaan hoe wys hy was – met sy presentjies wou hy my aandag aflei van wat dalk by die huis op my wag.
Ná daardie dag in die veld saam met Fytjie het hy my ’n haaitand gegee wat hy teen die rivierwal opgetel het. Hy het dit uit sy broeksak gehaal en in my hand gedruk. Toe vertel hy my iets wat sy onderwyser vir hulle vertel het: dat al die plaasgrond miljoene der miljoene jare gelede een groot see was – dis hoekom daar seediere onder die sanderige grond begrawe lê.
Ek kon dit nie glo nie; tot by die huis het ek daaroor loop en wonder.
Maar toe ek die huis ingaan, bewe my hart weer nes altyd van die bang.
Is Vader al terug? Skree hy weer op Moeder? Was daar dalk iets fout met sy kos? Was sy hemp vandag nie netjies genoeg gestryk nie? Was Klaas weer in sy pad?