Читать книгу Bitter heuning - Hermione Suttner - Страница 11

5. Tóé het ons geweet

Оглавление

5

Tóé het ons geweet

Vader het ’n bars gewerk op sy lande, en sy spaarsamigheid het gegrens aan gierigheid.

Een droogtetyd, toe sy broer Johnnie se beeste gevrek het, het Vader s´y deel van die plaas uitgekoop. Oupa Brandt het bepaal dat slegs familie dele van die plaas kon opkoop; ons het dit almal geweet. Buitestanders sou g’n kans staan nie.

Vader se deel van die plaas het beter weiding vir sy skape gehad, en Moeder se boontjies het van jaar tot jaar welig gestoel van die rivierwater. Eindelik het hulle ’n goeie bietjie geld bymekaar gehad.

Oom Johnnie was nie so gelukkig nie. Toe daar boonop ’n siekte onder die beeste uitbreek, was hy verplig om aan sy broer te verkoop. Hy het besluit om Transvaal toe te trek, myne toe. Vader het ’n winskoop gekry, met ’n wa op die koop toe.

Die dag het aangebreek dat oom Johnnie die plaas moes verlaat om in Vredenburg, so twintig myl van ons af, te gaan trein kry. Ouma Brandt, wat baie ontsteld en bekommerd was oor haar seun se onsekere lot, en tant Hendrieka het saamgegaan om hom op die stasie te groet. Vader het sy broer nie gaan groet nie, en hy het Moeder verbied om dit te doen. Oom Johnnie het ook nie sy voete by ons gesit nie.

Nou was die hele De Heuwel Vader s’n, behalwe die kliphuis waarin Ouma en tant Hendrieka gewoon het. Tant Hendrieka se man was ’n kort rukkie ’n bywoner by Vader, maar toe kry Vader ’n uitval met sy suster, omdat hy gesê het haar man weet blou niks van boerdery af nie.

Dit was nie ’n gelukkige plaas nie, maar Vader en Moeder het darem nou baie water gehad. Op oom Johnnie se deel van die plaas was ’n sandloop met water wat uit fonteintjies gevoed is. Die graan- en aartappellande daar het goed gevaar.

Aan die voet van ’n lae koppie was daar ook ’n groen strook wildepiesangs en dadelpalms wat na Misverstand se kant toe gestrek het. Die dadelpalms het glo opgekom nadat Britse soldate met die deurtrek tydens die Boereoorlog dadelpitte daar uitgespoeg het. Of dit waar is, weet ek nie.

Moeder wou haar boontjieakkers graag langs die fonteine hê, maar Vader was obstinaat: hy wou lusern daar plant en die vee daar aanhou waar hulle vet sou word. Die lusern was ’n misoes, en hy het belangstelling verloor in die fonteine. Toe het Moeder die grond oorgeneem vir haar boontjies. Dit was perfek vir heerboontjies wat, net soos palms, die voete in die water wil hê en die koppe in die son.

Vader het sy veetrop uitgebrei. Hy het goeie wolskape gekoop om weer te verkoop. Kwaliteitwol het daardie tyd hoë pryse gekry. Geleidelik, deur sy uiterste spaarsamigheid – eintlik suinigheid teenoor homself en sy familie – het Vader meer voorspoedig geword.

Een Sondag ná kerk toe ons aansit om die tafel, was hy uitsonderlik praatsaam en welgemoed. “Ek het die kliphuis van my ma en my suster gekoop,” kondig hy hoogs ingenome aan toe hy sy bord nader trek. “Ons trek end van die maand uit hierdie kleihuis. Dan is ek baas van die hele De Heuwel.”

Moeder sug. “Waar moet jou ma en Hendrieka-hulle dan heen, Jakob?”

“Dis hulle saak,” sê Vader. “My suster het ’n man, hulle kan waffer plek ook al loop uitkyk vir werk. Die grond kan ons nie almal dra nie. Ma kan vir eers by ons bly tot Hendrieka-goed ’n plek gekry het, dan kan sy by hulle loop bly.”

“Hendrieka se kinders gaan nog in die weeshuis beland. En jou ma sal ten gronde gaan van verlange na hulle.”

“Ek het my hande vol met die plaas, ek kan my nie nog oor hulle môre-oormôres ook bekommer nie,” het Vader geantwoord, reeds weer in sy gewone slegte bui.

Eietyd die volgende môre stap tant Hendrieka by ons huis in. Moeder is by die rivier besig om haar boontjies nat te lei, maar ek staan daar tussen ons bokse en kiste wat alreeds gepak is. Toe moet ek die geskel aanhoor teenoor Vader, wat by die kombuistafel bly sit, besig om koffie te drink. Dis asof tant Hendrieka die hele kleihuis volmaak met haar groot lyf en haar harde stem.

“Ek vervloek jou, Jakob Brandt!” skree sy verbitterd. “Vat De Heuwel onder ons voete uit, maar jy sal wéér weghol. Dis in jou bloed om vir niemand anders om te gee nie. Jaag ons maar weg, maar dié sê ek jou: genot sal jy van hierdie plaas nie kry nie. Ek vervloek jou met droogtes, met dierevrektes, met verliese op die mark. Jy het in jou jong dae misluk, jy sal hier ook misluk! Bedrieër! Vrede sal jy nie smaak nie!” snik sy die woorde woedend uit.

Vader probeer ’n woord inkry, maar sy skree hom dood.

“Jy was jou gehele lewe nog wreed, ’n boelie! Altyd gereed met die sweep of karwats om ons of die volk by te kom. Moeder en Vader wou doodgaan van skaamte dourie tyd met die pont, daai dag toe jy jou ware kleure gewys het. Almal in die Sandveld het daaroor geskinder. En toe hol jy weg myne toe. Tot ons plaas het sy bynaam gekry oor jóú dinge. Weglopersheuwel, ja!”

Ek sien hoe rooi raak Vader se gesig toe hy begin terugskree.

“Wat het ek miskien gehad toe ek ’n kind was? Daar was nooit genoeg kos of klere nie. Ek was ’n jongetjie van sewentien, maar ek het weggeloop om te gaan geld verdien! By Pa het ek nooit ’n pennie gekry vir my werk nie.”

Tant Hendrieka se gesig vertrek. “As die oes misluk het, het al ons kinders saam swaargekry, maar ons het alles gedeel. Nie jy nie! Jy’t jou pakkie Krismislekkers vir jouself gehou, dit weggesteek, ek onthou dit nog so goed ná al die jare. Kyk waffer ellende doen jy jou eie ma en suster aan om ons soos sleg goed uit die huis te gooi!”

Toe Vader nader staan aan tant Hendrieka, dag ek hy gaan haar slaan. Maar hy bly staan asof hy gewortel is, sy gesig bloedrooi soos hy homself probeer inhou.

“Jy dink niemand weet hoe jy geknoei het by die myne nie, Jakob! Wat het jy éintlik daar bo gedoen? Jou ekskuse is nie wat óns gehoor het nie. Ons weet jy’t na die sendingstasie op Kookfontein gegaan en daar het jy ’n meisiekind onder hande gehad. Die stories lê uit Namakwaland tot in Velddrif oor waffer sleg mens jy is!”

Vader se groot hande maak oop en toe.

“Asseblief, Vader, moenie baklei nie,” pleit ek, en ek byt my naels tot in die vleis in.

Maar nie een van die twee hoor my nie, so kwaad is hulle.

“Uit! Weg hier uit my huis uit!” skree Vader.

Hy vat-vat na sy karwats wat agter die kombuisdeur hang, maar tant Hendrieka is al buite. Sy slaan die deur toe dat dit bewe in die kosyn.

Ek het hoeka die storie geken van hoe De Heuwel die naam Weglopersheuwel gekry het. Ek het dit by die matjieshuise gehoor, waar dit met baie tjk-tjks en ai-jees vertel is. Suutjies, asof die verkeerde mens dit dalk kon hoor.

Van hy veertien was, het Vader vir sy pa op die plaas gewerk. Maar omdat weiding skaars was ná twee jaar van min reën, het dit al moeiliker geraak om die groot trop skaap aan te hou. In daardie tyd hoor oupa John toe dat hulle ’n nuwe pontman soek. Jakob, groot en sterk, sal net die regte man wees, het Oupa gedink. Hy het voorspraak vir sy seun gaan doen en Vader het die werk gekry.

Maar John Foster Brandt het hom misreken met sy seun: Jakob het gou verveeld geraak met dié knegsdiens, soos hy dit beskou het. Op ’n dag toe die rivier sterker vloei as gevolg van reën hoër op, het hy die omstandighede verkeerd ingeskat, en toe ’n wa met ’n groot vrag produkte en mense die rivier wou oorsteek, het die pont getip.

Vader kon sterk swem en hy het homself gered daardie dag. Maar net homself. Daar was ’n vrou wat hy nog kon gered het, het die mense gesê. Maar hy het hom uit die voete gemaak en in ’n skuur op die plaas loop skuil en sy klere by ’n vuurtjie drooggemaak. ’n Boomtak in die rivier het gekeer dat hy enigiets of enigiemand anders kon red, het hy later vertel.

Daardie tyd het hy opgehou om met sy mense te praat, en as iemand die woord “pont” oor hulle lippe sou laat kom, het hy sy pa se langsweep afgehaal.

Kort daarna is hy weg myne toe.

Ek was amper sewe toe ons moes trek na De Heuwel se kliphuis. Tant Hendrieka en haar gesin het soos spoke verdwyn. Net ouma Brandt het agtergebly in die groot huis.

Ek onthou so goed hoe Moeder gehuil het terwyl sy ons goed inpak. Dit was kompleet of haar hande afgekap was, en sy het swyend toegekyk hoe die werksmense ons goed oordra na die groot huis toe.

Ek het gekyk hoe outa Boesman en outa Piet die houtkatel oplig en op die wa laai. Die riempiesmat het so kaal gelyk sonder iets daarop. Dit was altyd toe onder die lappieskombers met die rooi diamantjie in die middel, en in die somer onder ’n wit katoenbedsprei.

Die kliphuis had agter én voor ’n lang stoep. Die agterste een het op die veld uitgekyk, die voorste op die rivier. In die middel van die voorstoep was die voordeur wat in die voorkamer oopgemaak het. Tant Hendrieka-hulle het die meeste van die meubels laat agterbly. Daar was ’n lang geelhouttafel en stywerugstoele in die middel van die vertrek. Eenkant het ’n riempiesmatbank gestaan, en daar was ’n groot server van donker hout langs een muur van die voorkamer. Die meubels en vloerplanke was blink van die olie en politoer en die hele vertrek het skoon geruik. Dit was alles net te vernaam vir my.

Ouma Brandt het uit ons pad gebly, niks help uitpak nie, byna asof sy nie daar was nie. Maar dit was asof haar oë orals was.

My kamer – ’n hele kamer net vir myself – het uit die voorkamer geloop. Moeder en Vader se slaapkamer was aan die ander sy van die voorkamer. Klaas het nog altyd by Moeder-hulle geslaap. Hugo se kamer had ’n buitedeur links op die stoep uit. En ouma Brandt het in die smal kamertjie op die agterstoep geslaap – asof sy nie meer in die huis hoort nie. Haar meubels was klaar daarin toe ons daar kom.

Ek het my bietjie klere half skaam in my nuwe kamer ingedra. Ek was veronderstel om bly te wees, maar ek het klaar verlang na die warmte van ’n gedeelde kamer in die kleihuis. Net oor die spieëltafel was ek baie bly.

“Dié moet eendag joune wees, Mara, onthou,” het ouma Brandt gesê toe sy sien ek kyk daarna. Dit had laaitjies en spieëls wat kon oopswaai, en twee groot laaie onder. Die kleur van die geelhout was vir my baie mooi.

My skatte het ek in die onderste laai gepak. Mistroostig, en bang dat ouma Brandt sal hoor, het ek vir Hugo gefluister: “Ek het so gehou van die misvloere in ons ou huis. Ek’s bang hier in die groot huis, dis so stil.”

“Toemaar wat, Mara. Jy sal sien, dis lekker om jou eie kamer te hê. Kom, ons gaan buite rondkyk.”

Daar was ’n muur om ouma Brandt se pragtige tuin voor die huis. Sy was lief om tuin te maak. Ek het geweet dat sy en oupa Brandt die huis saam gebou het, van klippe uit die veld en klei uit die rivierwalle. Met die tyd het hulle vertrek na vertrek aangebou soos dit nodig was.

Klaas het aangehardloop gekom en babbelend vertel van ouma Brandt se kanarie wat in sy hokkie op die stoep sit. Van binne af het Moeder angstig geroep na Klaas, bang dat hy rivier toe kon wegdwaal of met die lang solderleer sou probeer opklim.

“Mara, kom help gou die messegoed uitpak. Vader sal aanstons wil eet!”

Toe ek omdraai om in te gaan, het ek ouma Brandt in die voordeur sien staan. Sy het uitgekyk oor die voorstoep na die rivier met sy rietbosse, haar hande agter haar rug gevou nes ’n mens in ’n vreemde huis wat nie weet wat om te doen nie.

Vader had ’n skilpad wat hy kleintyd opgetel het. ’n Bergskilpad wat iemand seker desjare klein-klein van iewers af daar aangebring en in die veld gelos het. Ou Vegter was tamaai groot. Hy het sy eie blyplek gehad – ’n soort grotjie wat Vader jare gelede vir hom naby die kliphuis se voorstoep gebou het. Vader was vreeslik erg oor hom.

Ek was ontsettend bang vir ou Vegter. Hy sou sommer skielik agter ’n bos uitkom en mens teen jou enkel stamp. Hy sou selfs na jou tone hap as jy nie oppas nie. Die ergste was dat jy nooit geweet het waar hy was nie. Hy was nes Vader, altyd op die uitkyk, kwaai, en iets om voor bang te wees.

In die groot huis moes ek leer om saam met ou Vegter te leef – ek had geen keuse nie.

Vir ouma Brandt was dit seker dieselfde toe sy saam met ons moes woon. Maklik kon dit nie gewees het nie, want sy was gewoond om self in haar eie kombuis te werk. Nou het Vader daarop aangedring dat Moeder moes oorvat. Sy moes ook die brood knie en die bakkery behartig.

Ek sien Ouma nog, hoe sy bystaan met ’n klamgemaakte meelsakkie en die sweet van Moeder se voorkop afvee om te keer dat dit in die deeg drup as sy in die warm kombuis staan en knie. Ouma het niks gesê nie, maar haar oë het op Moeder gebrand en die deeg het slap geword onder Moeder se beswete hande.

“Jakob, jou ma het ’n leeftyd in hierdie kombuis omgestaan. Dis swaar vir haar om boedel oor te gee aan ’n skoondogter. Ek gaan eerder terug kleihuis toe,” het ek Moeder op ’n dag vir Vader hoor sê.

Kort daarna is Ouma weg van De Heuwel. Toe sy die dag Vredenburg-stasie toe vertrek, het sy vir Moeder gesê: “Ek los die naaimasjien hier. Jy sal dit goed kan gebruik soos die kinders groter word. Veral met ’n meisiekind in die huis.”

Sy het my gesig met al twee hande opgelig. “Mara het jou kleur, maar daar’s iets van Jakob ook in haar.”

Ouma se gesig was styf, sonder enige uitdrukking, en haar rug regop. ’n Rooigrys haarstringetjie het onder haar kappie uitgesteek.

Toe sy wegstap, sug Moeder: “Ja, jou pa en Klaas het die Rooi Smitte se hare geërf. Mag Klaas maar van jou oupa Brandt se goeie aard ook hê.”

Daarna het ek altyd aan ouma Brandt gedink wanneer Moeder die slingertjie van die naaimasjien sit en draai en draai, en gewonder waar sy nou woon.

Moeder het ouma Brandt se ommuurde tuin voor die huis mooi onderhou en self ook blomme geplant, heel eerste van die tjienkerientjeebolletjies wat sy uit die Kamiesberg saamgebring het en jare gelede agter die kleihuis geplant het. Van die lang stoep af kon ons uitkyk op die rivier en die rietbosse digby die vlei wat in die ligste briesie hul pluime gewieg het. Ek het altyd gespeel hulle is meisies wat dans.

In die aande het ek graag op die stoep gestaan en kyk na die swerms voëls wat met ’n gekwetter wat al harder word, in die riete kom oornag. Soggens vroeg met sonuit was dit dieselfde ding: hulle het met ’n groot geraas en gefladder weggevlieg, hoog teen die ligrooi wolke in.

Op De Heuwel het die boerdery voorspoedig verloop. Al oupa John se werksmense het op die plaas agtergebly in hul matjieshuise en het nou vir Vader gewerk. Selfs hulle jong kinders het hier en daar gehelp. Ai’ Bloutjie het in die huis kom werk vir Moeder. Vader het meer koring, gars en mielies geplant. Sy veetrop het aangegroei. Moeder se boontjieakkers het oor die hele sanderige deel van die plaas gestrek, tot bo teen die wildepiesangs en dadelpalms.

Vader het baie verbeterings aangebring, en ek moet sê hy het self hard gewerk en baie idees gehad. Naby die kliphuis is ’n dorsvloer vir koring aangelê op ’n skoongemaakte stuk grond.

Ek kon ure staan en kyk as daar gedors word. Eers het outa Piet en outa Boesman die koringgerwe losgemaak en uitgesprei en hulle mooi met die gaffels omgekeer en losgeskud. Dan begin die donkies al in die rondte, al in die rondte loop terwyl die korrels uit die are losgetrap word.

Die gedorste koring word met houtskoppe teen die wind opgegooi om die ergste kaf uit te wan. Ek sien outa Piet en outa Boesman nog, hoe hulle beurte maak met die jaagbesem om die koring verder skoon te kry, en hoe die kaf uitwaai en die skoon korrels agterbly en hoop gewerk word.

Ons het ook graan gemaal vir ander teen betaling, en dit was lekker om die mense te bekyk wat in die kleinskuur net langs die grootskuur ingaan met hul koringsakke. Groot, plat stene het die maalwerk gedoen en die donkies moes die meul trek en die stene laat draai. Die mans het sommer daar gewag tot dit klaar was en dadelik vir Vader betaal. Dan het hulle met hul velsakke vol meel en hul gesigte bleek van die meelstof uitgekom.

Daar was groot opgewondenheid op De Heuwel toe Vader vir hom ’n ryperd koop. ’n Groot swart hings met die naam Donkerwolk.

Dié spesiale perd, meer as enigiets anders wat op die plaas gedoen is, het my laat besef dat dit goed gaan met Vader se boerdery. Jy kon dit ook aan sy spoggerige houding sien. Vir die eerste keer het hy tyd vir homself gehad. Tyd om te dink aan die mooi jong meisie wat hy anderkant die berg gesien het op sy togte om skaap te gaan koop – so het ek dit eers later ingesien.

Maar soos Vader meer suksesvol en vernaam geword het, het sy buie ook erger geword. Ek het my al meer aan Hugo vasgeklem, terwyl Moeder haar oor Klaas ontferm het.

Hugo was slim – almal het so gesê. Hy was lief vir boeke. Dominee Van Rensburg en dokter Pollitt van Velddrif het dit opgemerk en het voorgestel dat hy weggestuur word om verder te gaan leer. Maar Vader het besluit dat Hugo sou boer. Op die ou end sou dit Klaas wees wat sin had vir die boerdery.

Saans kon ek sien dis lekker vir Hugo om naby Moeder te wees. Bedags het hy vir Vader gewerk vandat hy uit die skool gekom het. Pale kap vir die hoenderhok uit die dikste bamboesriet, of lande skoffel en bewerk vir aartappels.

Hugo se skooldae het tot ’n einde gekom toe hy maar dertien was; in daardie dae is dit toegelaat. Moeder het sy hande in hare gevat en gesê: “Hierdie hande is bedoel vir boekwerk; hulle hoort nie so grof te wees nie.” Natuurlik was Vader nie by om dit te hoor nie.

Hugo het my altyd beskerm. By hom het ek geleer om koei te melk, om die hoenders kos te gee, om die eiers van weglêhenne te soek. Ek het weer vir Klaas beskerm en probeer om sy pad gelyk te maak. Van sy kleintyd af het ek aangevoel dat Vader hom nie kon verdra nie, en al het Klaas later lank en aantreklik geword, het Vader nooit teenoor hom versag nie.

Moeder moet in haar wysheid geweet het van die groot foute wat Vader gemaak het. Sy het soms – baie selde – haar saak gestel en probeer om hom dinge van ’n ander kant af te laat sien. Maar dit het hom woedend gemaak as enigeen hom wou voorsê wat om te doen. Hy was baas; net hy het die sê gehad.

Ek onthou nog dat Moeder lank ná Klaas se geboorte baie swak was, dat sy weke, ag, seker maande lank, in die bed gelê het. Van daardie hele tyd kan ek nie onthou dat Vader ooit by haar gaan sit het of enige toegeneentheid getoon het nie.

Stadigaan het ek, kind soos ek was, begin agterkom dat hy drink. Een aand net voor aandete toe ek en Hugo en Vader al in die voorkamer sit, raak hy sommerso uit wans uit praatsaam. Hy lig die bottel voor hom en vra vir Hugo: “Wil jy ook ’n sopie hê?” Toe skink hy ’n bietjie wyn in ’n glas en sit en kyk dat Hugo dit drink, en vertel land en sand hoe lekker dié soort wyn dan nou is.

Sulke tye, wanneer hy skielik vrolik en vol prate was, was ek baie ongemaklik in Vader se geselskap. Hy was dan so anders; hy was net nie dieselfde mens nie. Met Moeder by was hy nooit so vrolik nie.

Sy het saans meesal alleen gesit en was van alle mense afgesny, want Vader wou niks weet van kuiermense nie, en as daar tog nog iemand opgedaag het, het hy stug eenkant bly sit. Moeder het laatnag nog in die kombuis gesit en haar Bybel gelees of by kerslig naaldwerk gedoen, asof sy die slaaptyd wou uitstel. Smôrens voor ligdag was sy terug in die kombuis, besig om brood te knie.

Sy het die skottel met deeg altyd met ’n dik, deurgestikte broodkombersie toegemaak en dit naby die warmte van die houtstoof gesit om te rys. Op ’n dag sien ons een van die katte afspring van die kombersie en ons lag, ek en Moeder, want die kat het ’n diep duik in die deeg onder die kombersie gemaak. Maar Vader het dit ook gesien! Outa Piet moes die kat gaan nek omdraai.

Kort daarna, een aand voor ete, sit twee kleinkatte en miaau onder die kombuistafel. Moeder gryp hulle haastig en gaan sit hulle in die skuur. Vader het dit gesien en toe sy terugkom, lig hy sy hand asof hy haar wil slaan.

Sy slaan haar hande voor haar gesig, maar hy klap haar arms weg en sê: “Ek is in die voorkamer. Roep my as die kos klaar is.”

Tóé het ons geweet – ek en Hugo – dat Vader rof aangaan met Moeder. Dat hy haar dikwels dreig met ’n opgeligte hand.

Een aand nadat hy ’n bottel wyn uitprobeer het wat ’n handelaar daar gelos het, gaan sit hy by die kombuistafel. Ek kon die wyn van ver af ruik. Terwyl Moeder besig is om die tafel af te dek, gaan staan hy op onvaste bene in haar pad.

“Jakob, ek dink jy moet liewerster daardie bottel wegsit,” sê sy kalm.

Toe haal hy sy karwats agter die deur af en kom weer voor Moeder staan.

Sy staan waar sy staan en kyk hom in die oë.

Langs my hoor ek Hugo se asem jaag soos een wat ver gehardloop het.

“Vader, laat ek die karwats maar weer ophang,” sê hy en loop vat dit saggies uit Vader se hand. “Môre vroeg wil Vader dalk iewerster heen ry, en dan is die karwats op sy plek.”

Vader gaan sit sonder ’n woord by die tafel en skink vir hom nog wyn uit die bottel.

Bitter heuning

Подняться наверх