Читать книгу Bitter heuning - Hermione Suttner - Страница 8
2. Dieprooi tjienkerientjees
Оглавление2
Dieprooi tjienkerientjees
Kort ná hulle huwelik besluit Jakob hulle moet die Sandveld verlaat en na die kopermyne van Namakwaland trek.
Armoede het die Sandvelders daai tyd na die dorpe of die myne gedryf. Onopgelei vir enigiets anders as boerdery, was hulle desperaat om iewerster ’n verdienste te bekom. Baie het knegte vir die rykes geword, of bywoners op die meer vooruitstrewende plase.
Jakob het hul karige besittings gelaai op die wa wat hy vir hul mielie-oes geruil het. Boontjies en uie het betaal vir die vier muile. Dit was al groente wat hy ooit op die sanderige strook grond agter die huis aan die groei kon kry. En hy het verseg om vis te vang.
Die katel wat Knud Pedersen gemaak het, het ingepas onder die seilkap van die wa. Bavaria het self die bulsak en die lappieskombers, die potte en panne wat aan Elna behoort het, gelaai. Haar ma het behalwe bokkoms ook blikke beskuit en gedroogde bokvleis saamgegee, en velsakke met water. Sy het die Pedersens se laaste vark geslag, die vleis goed gebraai, in repe gesny en in lae in ’n ou paraffienblik gepak. Die vet is daaroor uitgegiet tot die blik vol was. Met dié rantsoen sou Jakob en Bavaria die kopermyne kon haal, het sy gehoop.
“Vat die babakleertjies saam,” vermaan sy. “Jy kan hulle nodig kry, al het arme Elna nooit daarvan gebruik gehad nie. Ag, hoe onklaar was ek tog nie toe jy gebore is nie. Maar almal op die skip was so goed vir my. Hulle het stroke ou lakens vir my gebring en ek het jou daarin toegedraai.”
Donkermôre die volgende dag is die twee gereed om Oufontein te verlaat.
“Ek het my woltjalie ook ingepak vir jou, die nagte kan so koud word,” fluister Sannie toe sy haar dogter vir oulaas groet. “Bavaria, my kind, wanneer sal ek jou ooit weer sien?” En sy vee die trane af met die rand van haar kappie.
“Ma, ek is bang,” fluister Bavaria terug terwyl Jakob die muile nagaan. “Hierdie man met wie ek saamgaan, is my man, maar ek ken hom skaars.”
“Dis maar soos dit is, my kind. Ons moet ons mans volg. Dis God se wil, ons moet daarmee saamgaan sonder om te vra.”
Knud hang bossies bokkoms in ’n hoek van die wa op. Bavaria se gemoed lig effens – die bekende bokkomreuk beteken huis vir haar.
Die hele Pedersen-familie kom staan buite om te groet. Lank kyk hulle die wa agterna, tot dit feitlik buite sig is.
Net voor die wa die opdraand vat, hoor Bavaria die klanke van “Ruwe stormen mogen woeden”. Haar ma se afskeidsgeskenk aan haar. En al kan sy dit later nie meer hoor nie, weet sy dat “The old rugged cross” sal volg. Dis óú gewoonte van haar ma.
Stadigaan wyk die reuk van die vlei en die sout seereuk voor die bittersoet kruiebossiegeur van die veld. Die pad lei na die ver berge.
Bavaria en Jakob het die kopermyne van Namakwaland nooit gehaal nie. Toe hulle teen die bar Kamiesberg uitworstel, vloek Jakob hard en wanhopig. Die laaste muil is aan ’t vrek.
Bavaria is nie verbaas dat die muile almal dood is nie. Jakob het hulle gemoor, hulle geslaan en heeltyd aangepor en heeltemal te min rus gegee. Daar was ook nie genoeg water vir hulle nie.
Die diep stilte van die veld is vir haar vreemd, sy wat gewoond is aan die ewige branderslag. Die wye veld sonder ’n mens in sig is so anders as Oufontein. Daar sien jy altyd ’n visserman iewers, waar jy ook al kyk, of ’n skaapwagter, of ’n meeu wat aas.
Die wit sand en die soutlug van haar wêreld het soos sleepmis agter haar weggesyg in die maand wat verby is. Die verlange na Oufontein is ’n pyn in haar. Die harde feite van ’n huwelik met Jakob Brandt is ver verwyder van haar jongmeisiedrome.
Sy sou hom graag nou wou aanraak, graag die troos van ’n man se arms om haar wou hê, maar sy is beangs om hom te nader. Sy dik rooibruin wenkbroue is saamgetrek in ’n frons. Sy woedende bui verskrik haar en sy is doodbang dat hy haar sal slaan.
“Opstaan, julle vloekstene! Staan op en trek!” Hy klap sy sweep wanhopig oor die dooie muile. Net swerms vlieë waai op.
Bavaria bly sit in die skuilte van die wa. Hoe lank hulle gewag het, weet sy nie, hoe lank voor ’n boer daar verbygekom het, want vir haar het die tyd gaan stilstaan.
Vir die boer – “Piet van Niekerk van Droëdap,” groet hy – is sulke tonele nie vreemd nie. Hy is met sy kar en perde op pad van Kamieskroon af, waar sy vrou en kinders bly om naby die skool en kerk te wees. Hy moet terug na sy plaas in die berge. Jakob kan by hom kom vee oppas, sê hy, en Bavaria kan die plaashuis aan die kant hou.
Jakob aanvaar die aanbod met ’n knik. Dis ’n uitkomste. Van Niekerk stuur ’n drywer met ’n span donkies om die wa te kom haal.
Droëdap lê weggesteek in ’n vallei bo in die Kamiesberge. ’n Aanmekaargelapte skuiling van ’n huis word aan hulle toegesê. Dit lê ’n entjie van die plaashuis af, met ’n kookskerm van t’nouroebosse gepak. Die huisie van sinkplaat is vensterloos – ’n ware hel in die Namakwalandse middagson. Daar is ’n boorgat met brakwater ’n halfmyl verder en ’n sinkbad om hulle in te was. Vir water gaan haal gebruik hulle ’n donkie.
Drinkwater kom uit die watertenk van die plaashuis en Bavaria dra dit aan in ’n klein erdekruik. Daagliks word sy gewaarsku: “Water is skaars. Wees spaarsamig daarmee.” Soms staar sy na die koppie water in haar hand voor sy dit drink, asof dit enige oomblik voor haar oë kan verdwyn.
Saterdagaande bad hulle. Eers Jakob, dan Bavaria. ’n Duim of twee water in die badjie, ’n waslap en ’n steentjie boerseep. Met ’n ligter gemoed oor die weelde van skoon voel, sê sy teenoor Jakob: “Nou is ek gereed vir die Here se dag.”
Sy neem haar Bybel met sy lapoortreksel, ’n geskenk van haar ma toe sy aangeneem is, en vra Jakob om ’n stukkie te lees in die skemer. Terwyl hy lees, dink sy daaraan dat ’n vrou aan haar man gehoorsaam moet wees. Die Bybel sê so. Haar ma sê so. Maar . . . haar ma het vir Knud Pedersen.
Ná Jakob die Bybel toegemaak het, sit hulle nog ’n lang ruk buitekant. Vir Bavaria is dit mooi om te kyk na die motte wat rondvlieg, heeltemal ander motte as dié wat sy in die Sandveld geken het. Hierdie motte is uitsonderlik groot en pragtig, ’n sagte perlemoenkleur, met ’n kring op elke vlerk. Amper soos ’n oog van helder glas wat daar ingelê is. Hulle lyk soos borsspelde, dink sy.
Elke aand wag sy op hulle, soos ’n vrou wat uitsien na mooi juwele. Soms kom sit ’n mot op haar hand, of draai om haar as sy stil bly sit. My glasmotte, noem sy hulle in haar enigheid.
Dis ’n wêreld van stilte wat hulle nou bewoon. Alles is stil. Hier hoog op in die berge is die sterre so helder en so laag dat dit voel of sy daaraan kan vat. Op Oufontein in die Sandveld skyn dieselfde sterre nou op haar ma en pa en broers en susters, waar hulle ook al is. Op see of op die rivier, of by die vlei waar hulle vis braai. In haar gedagtes sien sy die vure vlam voor elke huis met sy jettie, elke gesin bymekaar. Haar mond water vir ’n lekker vet vismootjie.
Bedags pas Jakob die skape en bokke in die koppies op. Bavaria vee die misvloer van hulle sinkplaathuis, en sy vryf Piet van Niekerk se klere uit op die wasplaat. Dis ’n ewige stryd met die brakwater wat nie wil skuim nie.
Dis vir haar kompleet of die insekte en kleiner diere by haar onderdak soek. Miere kruip oornag in enigiets met water in, skerpioene kruip onder die biesiematte weg en slange soek skuiling van die lug buite wat soos ’n vuuroond is. Soms glip hulle onder die bed in.
Sy moes leer om nie te skree of vrees te wys nie en Jakob bedaard te vra om die slang uit te kry. Want hy is gou om te kla as sy skree. Dis nie goed vir sy hart nie, sê hy, sy rooi wenkbroue vererg saamgetrek.
Op ’n dag rys ’n groot koperkapel regop toe Bavaria die onderdeur oopmaak. Sy spring agteruit en slaan die deur toe, haar hele lyf bewe van skrik. Toe hol sy gillend na die Namas toe wat hoër op teen die hang van die koppie bly.
“Kom maak dood die slang!”
“Nee, nee, tog, nôientjie, ons moet hom nie doodmaak nie. Die slang-goed is ’n annerlike goete, hy bring groot ongeluk. Hy’t altoos ’n maat, en die maat gaat hom kom soek. Snags kom hy bo-oor die onderdeur en innie huis in. Ons sal onse mans-goed laat roep. Hulle pelielie hom so, pelielie hom so met ’n stok en werk hom suutjies uit.”
Maar Jakob, wat nie ver was nie, het die geskreeu gehoor. Hy staan reeds gereed met ’n graaf in sy hande.
“Moenie hom doodmaak nie!” roep Bavaria.
“Vir wat nie?”
“Hulle sê dit bring ongeluk oor ’n mens. Sy maat gaan hom kom soek.”
’n Snork van Jakob was al antwoord. Binne oomblikke was die slang dood. Jakob het hom oor die kookskerm gehang sodat almal kon kom kyk hoe groot die koperkapel was.
Toe het hy hom afgeslag, die vel laat droog en dit oor die rug van die ou lemoenhoutriempiestoel in hulle sinkkaia gehang. Daar het dit Bavaria elke dag herinner aan die ongeluk wat hulle sou agtervolg, nes die dooie slang se maat hom sou kom soek.
Jakob en Bavaria het nooit kerk toe gegaan van Droëdap af nie. Piet van Niekerk het alleen ingery Kamieskroon toe. Die Brandts moes plaas oppas.
Kort ná hulle aankoms op Droëdap het Bavaria ’n brief vir haar ma geskryf en gevra dat Piet dit op die dorp pos. Haar ma het gou geantwoord, en sy skryf elke paar maande ’n slag, maar Bavaria skryf min terug. Sy voel te sleg om elke keer by Piet ’n seël en koevert te vra.
Dis ’n afgesonderde lewe in die sinkhuisie op die plaas. Aan die einde van elke hittige dag soek hulle lafenis in die skaduwee van ’n allenige olienhout tot die koeler naglug kom. Die bokke en soms ook wildsbokke wat aan die boom kom vreet, hou dit onderlangs netjies gesnoei. Bolangs het dit uitgesprei sodat dit ’n ruim skaduwee gooi, al is die kroon maar taamlik kort bo die klipperige grond.
Een Sondag kom ’n vreemde groengeverfde waentjie op die werf aan. Onder dieselfde olien word daar oordag tuie afgegooi. Bavaria het hulle van ver af gehoor: twee vrouens wat lag en gesels terwyl hulle uitspan en die muile kniehalter. Maar sy is te beskroomd om uit te gaan; sy is skaars meer mense gewoond. Jakob se gesig bly sonder uitdrukking. Hy kyk kwalik in die rigting van die vreemdelinge.
Laatmiddag, toe Piet Droëdap terugkom, hoor sy hom met die vrouens gesels. Hartlik, asof hulle mekaar ken.
Toe Bavaria die volgende môre die plaashuis gaan skoonmaak, hoor sy ’n vrolike gelag. Piet is op die stoep saam met die twee vrouens. Hul lang hare is dig en swart, hul gelaatskleur soel. Donker oë al twee, die mond en neus sterk gevorm. En hoewel hulle lywig is, beweeg hulle gemaklik.
“Bavaria,” sê Piet, “dis Dolly Gold en haar dogter Gerty. Hulle is smouse en ou kennisse van my. Jy moet kom kyk na hulle negosiegoed. Maar sit eers vir ons ’n trekseltjie koffie op.”
Die twee vrouens sou in Bavaria se herinnering vassteek soos ’n vreemde droom. Hulle was vir haar byna soos mans, ten spyte van die helderkleurige tjalies wat hulle oor donker bogoed en skirts gedra het. Sy het hulle nooit sonder ’n sigaret in die mond gesien nie, of sonder dat een ’n sigaret aan ’t rol was nie.
“Ons waentjie is vol, hoor, jy moet kom kyk,” sê Dolly. “Ons is nou op pad noorde toe, myne toe. As ons nie terug is, nog in dié maand, dan los my man vir my.”
Maar sy lag kliphard en gee vir Piet ’n hou op die rug. Haar gesig straal van lewenslus. Sy is kort, maar haar ronde boesem en haar lewendige geaardheid laat haar groot lyk.
Daar word nuus uitgeruil en gelag. Bavaria kyk verstom hoe Dolly ’n hand uitsteek om Piet Droëdap se hare deurmekaar te woel asof sy met ’n kind te doen het. Hy toring oor die twee vrouens. Sy twee groot hande vat byna rondom Gerty se middel toe hy haar optel en speels rondswaai.
Dié vriendskap, so ongekend vir Bavaria, laat haar ongemaklik voel. Terselfdertyd roer dit aan die pynlike verlange in haar.
Piet gaan haal ’n stuk wildsbiltong en sny dit met sy knipmes in plakkies voor hy dit vir die vrouens gee. Binne-in is dit nog klam, maar dis soos hulle van hul biltong hou, stem almal saam.
Toe hulle klaar is met die koffie, gaan haal Gerty die toegewoelde negosie van die wa af. Sy maak dit oop op ’n bank. Daar is ’n kissie met vakkies vir Hollandse medisyne vir enige krankement – vir die lewer, die maag, die niere, vir omtrent elke kwint en kwaal, en almal met wonderlike name. Party daarvan ken Bavaria: duiwelsdrek, wonderkroon, witdulsies, haarlemensis, staaldruppels, versterkdruppels, rooilaventel. En jamaikagemmer – wat haar ma altyd vir hulle gegee het vir maagpyn. Borsdruppels op ’n teelepeltjie suiker vir ’n knaende hoes . . . Bavaria se oë brand, sy voel haar ma se warm hande op haar voorkop.
Gerty wys na die botteltjies met giftige goed; dit het ’n doodskopbeen buite-op om te waarsku. Die reuk van kamfer en bloekomolie hang oor alles. So amper steek Bavaria haar hand uit na die groen-en-wit blikkie Zambuk-salf – altyd haar ma se toevlug vir elke moontlike seerplek of jeukplek.
Dolly haal rolle mooi roksgoed uit. Hou ’n lap blou met blommetjies teen Bavaria se gesig. Sy skud net haar kop.
“Jy moet knippel, jy weet, geldjie afknyp en wegsteek in blikkie,” fluister Dolly. “Eendag dan is daar genoeg vir koop.”
“Hier, Bavaria, dis vir jou.” Gerty haal ’n klein botteltjie met ’n silwer proppie uit.
Bavaria ken dit – haar ma druppel dit altyd aan die onderkant van haar kerkrok se kraag. “Oudekeloun” noem die Sandvelders dit.
“Toe-toe, vat dit – dit maak koel.” Gerty probeer die botteltjie in Bavaria se hand druk, maar sy tree agteruit van skaamte. Gerty kry dit reg om die geskenk in haar voorskootsak te glip. “Sit bietjie agter jou oor. Jou man sal hou van dit.”
Dolly en Gerty beduie heeltyd terwyl hulle praat; as die een ’n woord wil inkry, gryp sy die ander se hand vas om haar stil te kry. Nou het Dolly Gerty se hand beet. “En hier’s ’n mooi rooi kammetjie vir jou,” sê sy vir Bavaria.
Bavaria laat sak haar kop, maar sy neem die rooi kammetjie en streel oor die tande voor sy dit in haar voorskootsak sit.
Toe sy wegstap, hoor sy Piet Droëdap oor haar praat. Haar wange word vuurwarm. Sy hoor die woord “bywoners” en voel hoe iets haar afdruk. Nóg laer afdruk . . .
Op ’n manier het armoede haar nooit so laat voel op Oufontein nie. Almal het maar so gelewe, op dieselfde stryk. Maar hier word armoede nou uitgewys, word sy pynlik bewus gemaak van haar armsalige bestaan.
Teen die middag kom Gerty by hul sinkhuisie aan. “Kom bietjie daar na ons waentjie toe. Ons het nog baie goed om te verkoop, maar ons bly altyd bietjie langer tyd hier. Ons loop na die plase hier naby rond en ons dra ons pak op ons rug. My mama loop vinniger as ek. Sy’s ’n baie goeie smous. Kom jy bietjie praat by ons? Ons vertel jou iets van ver plekke af.”
“Waar gaan julle hiervandaan?” vra Bavaria skugter.
“As ons hier klaar is, vat ons ons wa en ry en ry tot ons daar by Springbok uitspan. En dan gaan ons huis toe.” Sy kyk skielik na Bavaria. “Hoe oud is jy?”
“Twee en twintig.”
“Jy lyk nog nes ’n kind. So mooi!”
Die agtermiddag, met Jakob nog steeds in die berg met die vee, glip Bavaria weg na die smouse se wa. Die vrouens het hul hare met serpe teruggebind en dra dieselfde helderkleurige tjalies. Dit lyk of hulle hul hare geolie het, so blink dit in die son.
Dolly wen ’n vierkantige houtkissie op en wonderbaarlike draaiorreltjiemusiek vul die lug. Gerty wys vir Bavaria allerlei dinge: kant en ander roksgoed, knope en lyfbande, lint van alle kleure. Daar is ook pakkies koffie, tee en suiker, konfyte, en blouseep wat klaar in handgrootte stukke gesny is.
“Wil jy ietsie koop?” vra Dolly vriendelik.
Bavaria skud haar kop, maar haar vingers gly verlangend oor die lappe materiaal. Haar oë val op ’n oop streepsak boontjies. Dieselfde heerboontjies wat op Oufontein groei!
“Die boontjies,” sê sy en beduie daarna. “Hulle groei daar langs die rivier waar ek vandaan kom. Dieselfde klein wittetjies wat so lekker kook.”
“Piet het vir ons gesê jy kom uit die Sandveld. Ons het hulle daar in die Sandveld gekoop. Wil jy bietjie saamvat?”
“Nie vandag nie,” sê Bavaria sag, want geld het sy nie.
Maar Gerty maak ’n kardoessakkie vol vir haar.
“Drink jy koffie saam met ons?” roep Dolly. Sy het klaar hulle beddens onder die wa ingerig en die vuur brand al hoog. “Ek sit gou die blikkie water op.”
Bavaria is doodstil terwyl sy wag vir die koffie; sy is nie meer gewoond aan gesels nie. Haar vingers vryf oor die boontjies in die kardoesie. Sy sal hulle week en ’n goeie ete maak vir Jakob. Die boontjies gly glibberig onder haar hand rond, soos kosbare klein gesteentes. Sy kan die boontjieakker op die sandheuwel agter hulle huis op Oufontein voor haar sien . . .
Skielik kan sy die trane nie meer keer nie. Die vrouens is so vriendelik. Sy vee haar gesig met haar voorskoot af. Dolly troos en troetel haar met beskuit by die koffie, wat sy met drie teelepels suiker versoet.
Gerty sê sy moet die aand weer oorkom en haar man saambring. Haar ma sing ou Jiddisje liedere wat sy nog uit Rusland se dae ken, en sy speel die mandolien.
“Ons is mos Joods,” verduidelik Dolly. “Mense van die Ou Testament.”
“Wag bietjie,” sê Gerty gretig. “Ek sien jy het klaar met jou koffie. Ek gaan jou fortune vertel. Swaai jou koppie rond, dan sit jy dit onderstebo. Die moer sal onderin vassit.”
Bavaria maak so. Gerty keer die koppie om en loer daarin. Sy bly lank stil.
Dan skud sy haar kop. “Nee wat, niks. Ek sien niks. Vandag is nie goed vir fortune vertel.”
Net voor sonsak loop Bavaria terug na die sinkhuisie. Sy wag vir Jakob, maar hou haar heeltyd besig. Sy moet, want Jakob verdra nie ’n vrou wat niks doen nie. Sy week solank die boontjies en steek die vuur aan.
Sy gaan nie vir Jakob sê dat die twee vrouens hulle vir die aand genooi het nie, want sy weet hy sal nie gaan nie. Nog minder sal sy hom vertel dat sy nou seker is sy’s in die ander tyd.
Later sit sy en Jakob by die vuur. Sy roer die pot bone. Van die smouswa af kom gelag en gesels, nes die aande om die vuur by haar mense op Oufontein. Nog later dryf die strelende geluid van die twee vrouens se gesing en die akkoorde van die mandolien tot in hul eensame kamer.
Bavaria se gedagtes is by die ma en dogter wat saam onder die wa naby die vuur slaap, met die bossiegeur van die veld rondom hulle. Sy druk haar gesig diep in die kussing. Onhoorbaar kom die woorde: Ag Here, ek verlang huis toe, my hart pyn, Here.
Die reën bly uit in die Kamiesberge. Jakob moet met die skape en bokke trek tot in die Boesmanland, soos die Namakwalandse boere droënstyd maak.
Bavaria trek saam met hom, sonder om hom te sê dat sy hul kind verwag. ’n Onverklaarbare skugterheid weerhou haar. Hulle sal ’n paar maande in die Boesmanland moet bly. Alleen wil sy ook nie op Droëdap agterbly nie. Dan liewer ’n staning in die veld.
Buitendien, Piet van Niekerk sê dis beter as daar twee van hulle gaan. Soms foeter ’n dier af van die trop, dan kan een ’n koppie uitklim om te soek en die ander een kan by die vee agterbly.
Toe hulle bossieskerm eers staan, voel Bavaria of sy huis gekry het. In die veld is sy gelukkig.
Van tyd tot tyd kom hulle ander skaapwagters teë wat met hul troppe in die Boesmanland rondtrek. Partykeer deel hulle die water by ’n fontein.
Snags slaap Jakob en Bavaria onder ’n helder, sterbestrooide hemel. Sy luister na die naggeluide van die wilde diere. Eers was sy doodonrustig oor elke jakkals wat veldin huil, maar nou ken sy hulle uit. Die nadroe, wat die Namamense t’knie noem, se klakkerige geluidjies en partykeerse gromblaffies laat skrik haar nie meer nie. Sy weet die trop skaap in die takkraal is veilig, want die nadroe is ’n insekvreter.
Saam met die dagster en die misroepertjie is sy elke oggend op. Sy kry ’n koffievuurtjie aan die gang met droë t’nouroebosse en t’kooihout. Daarna maak sy brood in die swart pot wat hulle saamgebring het.
Dié wêreld was gelukkiger met reën, en tussen die koeroekoppe staan panne vol water. Dis ’n botterjaar. Die t’wagras se wit pluime roer in die wind, die doringbosse is groen; die trop sal vet word. Die driedorings staan vol blommetjies, geel en pienkerig, en van die skaapwagters vertel as die bokramme húlle vreet, gooi die ooie twee- en drielinge.
Jakob en Bavaria eet self goed uit die veld: bouroe, veldkool, misbredie, gemsbokkomkommer, uintjies – wat ook al voorhande is vir toekos. Soms in die aande kom die wagters bymekaar en braai ’n stukkie wild wat hulle geskiet het.
Toe hulle die terugtog Kamiesberg toe vat, is Bavaria sewe maande swanger. Eindelik vertel sy vir Jakob.
Al wat hy sê, is: “Dis goed dat ons op Droëdap is voor die kind moet kom.”
Die Namas bly nog steeds in hulle matjieshuise teen die hang bo die sinkhuisie.
Dis Poutjie, die een wat Bavaria voorgesê het om nie die koperkapel dood te maak nie, wat eerste by haar onder die olien kom sit. Sy vertel toe sy van die Grootrivier af op Droëdap aangekom het, het sy gompouvere in haar hare gedra, dis hoe sy die naam Poutjie gekry het. Maar nou dra sy ’n kopdoek soos Nakkie.
Omdat Bavaria so graag onder die olien sit, het hulle haar die naam Iganma gegee – “klein boompie” in hulle taal. Want sy lyk vir hulle soos die olien se skaduwee, sê hulle.
Ná die eerste dag kom Nakkie ook saam met Poutjie om te gesels, en Bavaria begin stadig hulle taal te leer wat kort-kort in kliekklanke ontplof. Dis die enigste tye wanneer sy lag, sy en die vrouens, oor haar stryd met die kliekklanke.
In die hitte is haar gesig altyd bloedrooi. Dan steek Nakkie en Poutjie hulle klein handjies uit en raak verwonderd aan haar wange. “Hee, maar Klein Boompie lyk nes rooisprinkaan!” – en Poutjie spring op en klap haar hande laggend.
“Wie gaat hierie kjind innie wêreld inbring?” vra hulle haar op ’n dag, ongewoon ernstig, en wys na haar bollende maag.
Bavaria skud net haar kop.
Hulle belowe om haar te help, want hulle ken van kinders kry. Bavaria kan nie met Jakob daaroor praat nie, wat nog te sê met Piet Droëdap. Sy is innig dankbaar vir die vriendskap van die twee Namavrouens.
Dit is toe ook Poutjie en Nakkie aan haar sy die nag toe die kind gebore word.
“Dis ’n sterk kjêrelkind!” roep Poutjie uit toe sy die baba aan sy voetjies ophou. “Hom se tate gaat bly wees,” verseker hulle Bavaria.
Maar Jakob, as hy bly is, wys dit nie.
Die kind moet Kobus heet, besluit Bavaria. Na Jakobus, Jakob se doopnaam.
Haar melk droog alte gou op. Maar Nakkie laat die kleintjie aan haar drink; sy het self ’n kleintjie wat nog nie gespeen is nie.
Later leer sy vir Bavaria hoe om die kind met donkiemelk af te speen, en Kobus groei voorspoedig.
Bavaria begin haar al meer op die Namavrouens verlaat; hulle ken al die rate vir tandekry en koliek. Maar Jakob is ontevrede oor hulle besoeke, en sy weet beter as om hom teë te gaan.
Baie bloedig warm namiddae sit sy in die sinkkaia met die baba, maar soms kom die Namavrouens haar haal om by hulle in die koel matjieshuise te sit. Daar vind selfs die ligste briesie sy pad deur die riete en maak die hitte draaglik. Buite rond kan Bavaria kwalik kom met die kleintjie. Die gloeiende lugstote droog haar vel uit en laat haar wange ontvlam.
As die ergste hitte van die dag verby is, kan sy Kobus darem op die arm vat en na die olien loop en ’n wyle in sy skadu sit. Dan is die Namavrouens gou by, en hulle vryf haar wange in met die olie van die olienhoutvruggies. Hulle speel graag met die babatjie, verwonderd oor sy ligte, rosige vel.
Vir Bavaria is sulke tye, met Jakob iewers in die veld besig, kosbaar. Poutjie en Nakkie is die enigste mense wat haar aanraak, haar hand vashou, hulle arms om haar sit en haar kop teen hulle laat rus. Dan kom pynlike herinneringe aan haar familie en die warm samesyn met hulle by haar op. Hulle sou tog sekerlik ook aan haar dink . . . ?
Toe die herfs aanbreek, kom reën dit in Namakwaland. Piet van Niekerk stuur soms ’n emmertjie melk vir Bavaria, en wanneer hy skaap geslag het, is daar altyd ’n stukkie vleis vir hulle.
Oral verskyn die opslag; die wêreld word groen. Die skaap het genoeg om te vreet, en ’n waterloop is weer vol vir hulle om te suip. Dis nie meer nodig vir Jakob om veld toe te gaan om die trôe te gaan volmaak vir die dorstige diere nie.
Die pêrebos staan geel in die blom soos dit lente raak, en vroeg smôrens en saans begin skree die hutjiehu sy rasperige skreetjie.
Saans sit Jakob en Bavaria lank buite. Veral as die maan vol is en die bossies silwerig afgeëts in die maanlig staan en ’n skerp kruiegeur oor die veld hang, is daar tevredenheid in haar hart. Sy ken nou die name van baie bossies: gharra en skilpadbos, koeniebee, ouroena, kootjie-nam-nam, boesmankers en kruidjie-roer-my-nie, die kruid waarmee die Namavrouens haar so graag terg omdat sy die reuk nie kan verdra nie. Hulle slaan die bos met hul hande en woel dit rond sodat die afstootlike skerp reuk haar haar neus laat toedruk. Dan lag hulle skaterend uit die keel.
Met Kobus op die arm loop sy die lenteblomme na: gousblom en botterblom, glansend in die son; hongerblom en sporrie; pietsnotjies met hul oop geel gesiggies . . . Hy steek ’n handjie uit, nou na diétjie, dan na daardie.
Daar is elke aand ’n kikkertjiekoor, en Bavaria dink stories uit wat sy vir Kobus wil vertel: Hoor bietjie, klienk-klienk-klienk, die paddatjies is klein blikslaers. Hulle is besig om blikbekertjies en klein potte en panne te maak.
Sy wens sy kon al regtig gesels met Kobus, dan sou sy nie so alleen wees nie. Jakob sê altyd net die nodige. Hy vertel haar kwalik enigiets van sy werksdag.
Dikwels wanneer hy slaap, gaan sy buitentoe en sit daar in die stil donkerte. Op maanlose nagte vat sy soms ’n bondel droë boesmankerse saam. Sy breek die takkies, bedek met ’n wasagtige laag, af, druk hulle in die sand en steek hulle brand. Die tyd vergaan om haar terwyl sy na die gloed staar en die geurige rook inasem.
As die kind begin huil, gaan haal sy hom haastig. Dan sus sy hom buite met ’n liedjie sodat Jakob ongehinderd kan slaap. Sy neurie die slaapliedjie wat haar ma altyd op die klavier gespeel het. Die saggietjies-slaap-liedjie, soos Knud Pedersen gesê het.
Een Saterdagaand toe Kobus amper twee is en oulik op sy beentjies, sit Bavaria en Jakob buite met hom. Die nag het nog nie lafenis gebring nie en die huis se sinkplaatdak het die warmte vasgevang.
Kobus sit babbelend op sy hurkies by die houthoop en speel. Skielik gil hy angsbevange, en in die skemerige lig sien Bavaria ’n nagadder wegseil.
Ver van enige hulp is daar niks te doen nie. Die kind is dood met skuimborrels wat om sy mondjie vorm, sy lyfie in krampagtige stuiptrekkings verwring.
Doodsklere is daar nie vir klein Kobus nie. Bavaria wikkel haar kind toe in die woltjalie wat haar ma haar saamgegee het. “Die nagte kan so koud word,” het haar ma gesê. “Sodat jy warm kan wees in die diep, koue aarde,” bid Bavaria onder bitter trane. “En saggietjies slaap.”
In die dae daarop waak Nakkie en Poutjie oor haar. So gou as hulle sien Jakob is veldin met die skaap, kom hulle haar haal. Hulle vat haar in die kloof op om kamma plantjies te soek, of om na Boesmantekeninge te kyk. Hulle oë is fyn, altyd eerste om die doringrige lote van ’n ouroenapol te sien. Hulle strek om die vet lootjies by te kom en vryf die dorinkies sommer op ’n klip af voor dit mond toe gaan.
“Kyk,” sê Poutjie, en wys na ’n tekening onder ’n oorhangklip, “daar’s ’n jagter onner die vere van ’n struisvoël. Dis nou ekke, ek hou my lyf struisvoël!” Dan loop sy so lompweg op kamstige lang bene en mik-mik soos ’n volstruis, alles om Bavaria weer te laat lag.
“Iganma,” sê Poutjie toe sy uitasem op haar hurke langs Bavaria kom sit, “annerdag kom ’n anner kjind, jy gaat sien. So is onse lewe.”
En Nakkie, ernstiger, voeg by: “Plant die saadjie in grond wat geil is.”
’n Jaar later help die Namavrouens weer vir Bavaria om geboorte te gee. Hulle vee haar beswete gesig af, druk haar hand styf vas wanneer die pyne te erg raak. En toe die baba kom – hierdie keer ’n dogtertjie – byt Poutjie die naelstring netjies af met haar sterk tande.
Bavaria se borste swel van melk. Sy noem die kind Elna, na haar oorlede suster. Die kleintjie is ’n maklike baba en geen moeite om op te pas nie.
Met groot sorg het Bavaria die werf om die huis vooraf skoongemaak en met haar rietbesem kaalgevee. Jakob het die houthoop intussen verskuif na agter die huis. Daar is g’n skuilplek vir ’n adder oor nie.
Maar die noodlot sou sy gang gaan.
Daar was ’n stukkie koring aangeplant onder in die vallei. Dit was oestyd en Bavaria en klein Elna, drie jaar oud, gaan kyk. Elna aap die Namavrouens na wat ’n gerf koring teen die bors dra. Skielik vertrek haar gesiggie, die bondeltjie are gly uit haar arms en sy val op die grond neer.
Jakob gooi sy sekel neer en is eerste by die kind, wat haar borsie vasgryp. Toe hy die knope van haar hempie oopmaak, sien hy wat hy gevrees het: spinnekopbyt. ’n Knopiesgat moet nesgemaak het tussen die koring.
Die Namavrouens skree nog van watter bossie hulle sal gaan pluk, maar Jakob hardloop met Elna na die sinkhuis toe, Bavaria op sy hakke. Die kind begin hyg, uit haar keel kom ’n fluitende geworstel na lug. Jakob voel die liggaampie slap word. Nog voor hy die huis haal, sterf Elna in sy arms.
Daarna verlaat die wil om te lewe vir Bavaria. Sy bly lê op die bed en staar na die sinkdak en praat nie ’n woord nie.
Poutjie en Nakkie kom troos haar wanneer Jakob veld toe gaan. Hulle kook bossiestee en dra dit vir haar aan in ’n kalbas, skink dit in haar beker en hou dit voor haar mond. “Sluk, Iganma, sluk tog bietjietjie net.”
Hulle kry ’n vars weglê-eier van een van Piet Droëdap se henne onder ’n bos en kook dit vir haar. Hulle bring gharrabessies, geel met ’n rooierigheidjie, ’n hele doek vol, die soetstes wat hulle kon kry. Hulle vryf die doppies af en week dit oornag in melk en die volgende oggend is daar geurige dikmelk.
Geleidelik bring hulle Bavaria terug na die lewe.
Maar toe Jakob hulle eendag in die huis kry, sê hy bars: “Ek wil die vuil hotnos nie weer hier by jou sien nie.”
Op ’n dag toe Jakob op die lande is, kom haal die Namavrouens weer vir Bavaria om, soos Poutjie sê, die donkerte weg te vat wat nesmaak in haar hart. Hulle loop in die kloof op om kruie te soek. Hulle breek stukkies af van die kamiemie, die slymstok. Dit sal haar hart stilmaak, sê Poutjie terwyl hulle in die skaduwee van ’n rots aan die soetsuur stammetjies sit en kou.
Later klim hulle hoër en hoër op, tot hulle die ruwe rotsformasie bereik wat die kroon van die Kamiesberg vorm. Toe sê Nakkie: “Kom, ons gaat jou iets wys wat jou sal verwonner.”
Half omring deur rotse staan daar ’n plaat dieprooi tjienkerientjees. Die donkerrooi kleur is byna swart, so lyk dit vir Bavaria in die laatmiddaglig. Sy staan verstom. Sy ken tjienkerientjees, maar net die wittes. Die blomme is so onaards mooi, hulle maak haar byna bang.
“Ons grou vir jou bolle uit om in die grond te sit daar waar jou se kjinners slaap. As die saadjies ryp is, kom Nakkie-goed saam, dan kom oes ons hulle en ons sit hulle ook in die grond. Met die tyd saam maak ons ’n begraaftuintjie vir jou,” sê Poutjie.
Die Namavrouens het lankal klippe op die grafte gepak, en elke keer as hulle verbyloop, sit hulle nog ’n klip neer. Dis al wat die hopies grond merk. G’n steentjie. G’n naam. Nie eens ’n kruisie van hout nie. Maar die volgende jaar sou die dieprooi tjienkerientjees welig op die grafte groei.
Bavaria en Jakob praat nooit oor die dood van hulle kinders nie. Jakob het dit verbied sonder om dit ooit te sê. Hoe graag sy ook vir hom van haar droefheid wil vertel, haar mond bly gesnoer. As sy maar net vir haar ma kon skryf. Sy kan Piet van Niekerk weer vra vir ’n seël en ’n koevert en om die brief in Kamieskroon vir haar te pos . . .
Ek skryf vir Ma in ’n donker tyd in my lewe. As ek nou maar my kop in Ma se skoot kon druk en Ma se hand styf kon vashou, sal ek dan miskien genoeg moed hê dat ek nie breek nie? Ek het nou twee kinders verloor, ’n seun en ’n dogter. Ek het die dood gesien soos Ma toe Elna dood is. En noudat ek van binne ook doodgaan, verstaan ek wat Ma altoos gesê het. ’n Ma sal liewerster self haar kinders se laste vir hulle wil dra. Ek het ’n diep verlange in my om my stukkende hart, die leegte in my, met Ma te deel. Dis te veel vir my om alleen te dra. Pa Knud was altyd soos ’n eie vader vir my, en ’n getroue man vir Ma, maar my huwelik met Jakob is bitter eensaam. Dit was ’n groot fout.
Die brief kom nooit geskryf nie. Bavaria sien nie kans om weer vir Piet geld vir ’n posseël te vra nie.
Uiteindelik skryf sy met talmende hand op die velletjie papier: Hulle het hier gesterf.
Sy staar lank na die woorde, toe gaan brand sy die velletjie papier in die veld uit. Sy kyk hoe ’n windstootjie die swart flardetjies as in die lug wegwarrel.