Читать книгу Bitter heuning - Hermione Suttner - Страница 5

Voorwoord

Оглавление

Voorwoord

Ek het tussen Namakwaland en Velddrif aan die Bergrivier grootgeword. Vakansies langs die Bergrivier het my so betower dat ek en my man later daar ’n stukkie grond gekoop het.

Op ons eerste dag in ons nuwe huis was ons sonder elektrisiteit. Toe ek begin rondvra na ’n winkel, het iemand aanbeveel dat ek by Abram Zeligs* se huis gaan aanklop. “Hy mag dalk slaap, so hamer maar aan die deur. Hy kan vir julle kerse, suiker, tee, koffie en sulke nodighede gee.”

Ek maak toe so en ’n kort, bejaarde man maak die bodeur oop.

Toe ek hom vra vir ons benodigdhede, sê hy: “Oh, you speak English? Who is your favourite poet? And what do you think of space and time?”

Hy was so opgewonde om Engels te praat met iemand en nooi my dadelik in. Wat ’n plesier! Die huis was gevul met boeke. ’n Klein private kamertjie vol boeke, en langsaan ’n yslike, ietwat verwaarloosde vertrek met duisende boeke. Orals net boeke, wonderbaarlike boeke met kommentaar op die agterblaaie geskryf. Die spesiale boeke in die private kamertjie was oorgetrek met silwer en goue sigaretpapier.

Iemand klop aan die deur en Abram gaan kyk. “Kom binne, Klaas*,” hoor ek hom sê. “Jy moet vir Hermien (so het hy my naam uitgespreek) ontmoet. Sy ken boeke.”

“Langenhoven – ek sal vir jou sy gedigte opsê,” sê Klaas met die inkom.

Abram vertel dat Klaas die heuningkoning van die Sandveld is. En net daar nooi Klaas my uit na De Heuwel. Hy sê sy suster, Mara*, sal so bly wees om ’n stadsvrou te ontmoet om mee te gesels. Gou-gou teken hy vir my op die agterkant van ’n sigaretdosie hoe om op die plaas te kom.

Die dag toe ek daar aankom, staan Mara reeds en wag by die hek. Ek onthou sy het ’n lang skirt aangehad en ’n groen toeknooptrui. Agter haar het die graanlande uitgestrek. Sy het geglimlag – haar oë was so blou en haar glimlag so warm, ons het sommer dadelik van mekaar gehou.

Ek is saam met haar voorkamer toe, en daar op die lang geelhouttafel het sy ’n boks foto’s tussen die gesels deur begin uitpak. Klaas was ontstig en het by haar gepleit om daarmee te wag tot ’n ander dag. Hy wou my laat proe aan die twaalf flesse heuning wat hy oor die afgelope jare versamel het, want elkeen het ’n ander geur gehad.

Maar Mara wou nie bes gee nie. Toe gaan Klaas maar uit tuin toe en sê hy sal terugkom as ons tee drink.

Heel eerste wys Mara my ’n foto van Matthys*, haar oorlede man. Ek maak ’n opmerking oor hoe aantreklik hy was en hoe ’n wonderlike huwelik sy moet gehad het – altyd tussen blomme en saam met diere op die foto’s.

“Jy was seker so verlief!” sê ek.

“Verlief? Op Matthys? Nee! Hy was nie my groot liefde nie.”

“Wat bedoel jy, Mara? Wie was dan?”

“Theunis*. Theunis was die liefde van my lewe.”

“Wys my ’n foto.”

“My pa het hulle almal vernietig. Almal – op een na.”

Klaas het haar vooraf vertel dat ek skryf. Sy kyk skielik dringend na my. “Jy moet die storie van my liefde skryf. As ons dood is, ek en Klaas, is daar niemand meer wat my storie ken nie. Ons het geen kinders nie, geen nageslag nie.”

En so het ’n lang vriendskap begin. Ek het plaas toe gegaan of sy het na my toe gekom. Ek het al haar herinneringe neergeskryf. Sy het vir my stapels briewe en foto’s gebring, en so het Bitter heuning – deels waarheid, deels fiksie – ontstaan.

DIE SKRYWER

Velddrif 2011

* Persoonsname is verander om die karakters se ware identiteit te beskerm.

Bitter heuning

Подняться наверх