Читать книгу Hykie Berg - Hykie Berg - Страница 10

STAP 2

Оглавление

“Ons het mettertyd begin glo dat ’n Mag groter as onsself, ons

gesonde verstand aan ons kan teruggee.”

Uitdagings en probleme is deel van die lewe. Dit vorm ons gewoontes, ons geloofsisteme, ons uitkyk op die bonatuurlike en ons verhouding met God. Dit was belangrik vir my gewees om ’n walk down memory lane te neem en werklik te gaan sit en dink hoekom ek glo wat ek glo, wat daartoe gelei het dat ek die idee van God verwerp het en waarom ek so lank geworstel het om tot enige werklike geloofsoortuiging te kom. My verhouding met God of met ’n god is iets wat net nooit vir my sin gemaak het nie.

Ek was my lewe lank ’n agnostikus gewees. Ek het geweet daar is iets daar buite, ’n hoër mag, ’n soort energie, maar ek het nooit geweet wat dit is nie. Ek was redelik tegemoetkomend en ontvanklik vir verskeie teorieë en ander wêreldse wyshede, maar ek was totaal gekant teen die Christendom. Ek wou niks daarvan weet nie. Ek het hopeloos te veel griewe teen die Christendom gehad. Vir ’n baie lang tyd in my lewe was dit ook nie nodig om enigsins ’n verhouding met ’n god te hê nie – die lewe was mos lekker. Ek het altyd gekry wat ek wou hê en die lewe was een groot partytjie. Ek het gedoen wat ek wou en sou my nie laat voorsê deur enigiets of enigiemand nie. ’n Mens vind eers ’n werklike behoefte en verlange na God of ’n Mag groter as jyself die dag wanneer dit al is wat oor is en jy niks anders het om aan vas te hou nie.

In Stap 1 erken jy dat jou lewe onbeheerbaar geword het. Jy aanvaar dat jy nie uit eie krag sal kan stop en aanhou bly stop wat dwelms betref nie. Om dit met wilskrag te probeer staak, is so goed soos om met jou denke jou maag te laat ophou werk wanneer jy siek is. Dit gaan nie gebeur nie. Dis juis my denke wat my in die gemors gekry het waarin ek was. My beste gewoontes en suiwerste voornemens kon my nooit iewers bring nie. Ek het ’n Mag groter as myself nodig gehad om my gesonde verstand aan my terug te gee.

Slegs ’n groter Mag kan jou verlos van jou verslawing. Verslaafdes is selfgesentreerde mense. Om oor te gee beteken om weg te beweeg van selfgesentreerdheid en nader te beweeg aan ’n Godgesentreerde lewe. Die Mag word nou die Stuurman. Jy moet glo hierdie Mag kan en gaan vir jou doen wat jy nie vir jouself kon doen nie. Jy moet die Mag toelaat om Hom aan jou te openbaar. Dit maak nie saak of jy God nog glad nie verstaan of ken nie, wees net geduldig en waag een tree op ’n slag.

Dis die lekker ding van die volgende stap. Daar is geen druk om elke Sondag kerk toe te gaan, jou Bybel getrou te lees, jou tot die Christendom te bekeer of vir volwasse doop te gaan om skoon te kom nie. Jy hoef nie eens enige ander geloof as jou eie aan te neem nie. As jy ’n soortgelyke geloofsagtergrond het as ek, sou hierdie dinge my baie gou die hasepad laat kies het en sou ek nooit genees het nie. Die prentjie van God wat ek oor die jare gevorm het, was nie ’n baie mooi een nie. Gelukkig is dit nie ’n godsdienstige program dié nie, slegs ’n geestelike een.

Wanneer jy dus by Stap 2 kom, doen die volgende: Fire die huidige idee wat jy van God het! Soos wat ’n baas ’n werknemer afdank, so fire jy elke vooropgestelde idee van God of ’n god wat in jou kop rondmaal. Fire alles wat jy in jou lewe al geleer het van God, geloof, godsdiens, godsdiensgebruike en wat jy dink jy glo. Fire alles wat mense jou al ooit van God vertel het. Dit sluit jou vriende, familie, gemeenskap sowel as jou kerk in. Alles.

Dink ’n bietjie na hieroor: As jou idees van God gewerk het, sou jy nie nou gewees het waar jy vandag is nie, reg? Indien jou manier van verstaan die alfa en die omega van alles is of was, sou jy jou tog nie in hierdie dilemma bevind het nie. Alles wat jy dus in hierdie stadium dink jy van God weet, help jou eintlik absoluut niks in jou lewe nie. Sommige idees wat ons van God het en wat in ons koppe geplant is, is waar, maar baie is nie. Baie van ons begrip hang af van hoe ons die inligting ervaar en vertolk het. Ons het ons eie menings gevorm. Nou is dit tyd vir ’n splinternuwe ontmoeting tussen jou en Hom, wat dit ook al in dié stadium vir jou mag beteken.

Die enigste vereiste vir jou as verslaafde is om in ’n Mag te glo wat groter is as jy, wat omgee vir jou en lief is vir jou. Dan begin jou geestelike reis. As jy voel dat die natuur ’n mag groter as jy is, dan is dit waaraan jy vashou. As dit ’n Narkotika Anoniem-groep of ’n groep mense is wat vir jou omgee, dan is dit waarin jy begin glo.

Wanneer jy in hierdie liefdevolle Mag begin glo, plaas jy jou proses van herstel in die Mag se hande. Jy sal dan die krag ontvang wat jy nodig het – ’n krag wat jou valse gevoel van krag sal vervang. Jy kan dus met volle vertroue voortgaan, want jou eie magteloosheid is reeds gedurende die eerste Stap oorgegee. Toe jy dit gedoen het, het jy die deur oopgemaak vir God om in te beweeg.

Sodra jy dit doen, is jy op die regte pad. Die feit dat letterlik miljoene mense oor die hele wêreld dit al met Stap 2 reggekry het om van hul verslawing genees te word, is ’n getuienis en bewys dat die Mag wel bestaan. Tog kan die bestaan van hierdie wonderlike Mag net in geloof aanvaar word. Jy sal God nooit ten volle kan verstaan of definieer nie; Hy is immers God. Dis nie die punt van die reis nie. Jou reis saam met God is ’n proses sonder eindpunt.

God koester nie onrealistiese verwagtinge van ons nie. Hy verwag nie van ons om Hom dadelik aan te neem en nou ewe skielik allerheilig te word nie. Dit is ’n vars begin tussen jou en Hom met die belofte van ’n persoonlike verhouding – met net die waarheid as hoeksteen en liefde as fondament. Al wat Hy nou van jou verwag, is om Hom ’n kans te gee. Dit vra dat jy jou ou sienswyses prysgee. And to be willing to change your mind.

Dis geensins maklik om te doen nie. Dis vreesaanjaend, want dit sal beteken dat jy erken en aanvaar dat jou totale geloofsisteem gebou was op iets wat eintlik verwronge is. Ons hou nie van die onbekende nie. Ons verkies om in beheer te wees en te weet wat aangaan. As addict baklei jy jou lewe lank om tog net jou wêreldbeskouing te beskerm sodat jy ’n verskoning vir jou wangedrag het. Tog, deur ’n paradigmaskuif te maak en jou ou wêreldbeskouing prys te gee, word volkome vryheid moontlik.

Baie mense gee moed op met jou, maar die Mag sal nooit nie. Dit is regtig nou tyd om dapper te wees en die werklikheid onder oë te sien. Niks anders het voorheen gewerk nie. Jy het hard baklei om jou verslawing te oorkom, maar jy kon dit nie regkry nie. Jy het verloor. Vra jouself nou: “Is ek bereid om te glo dat daar ’n liefdevolle Krag groter as ek is? Glo ek dat daardie Krag my gaan help om my lewe weer in orde te kry?”

Hykie Berg

Подняться наверх