Читать книгу Hykie Berg - Hykie Berg - Страница 7

DIE STORIE VAN DIE DRONK PERDEDIEF

Оглавление

Daar is ’n beginsel wat gereeld in die Twaalf Stappe-vergaderings of in Narkotika Anoniem se gemeenskap gebruik word. Dis die beginsel van die dronk perdedief.

Wanneer jy ’n dronk perdedief is en jy hou op drink, bly jy nog steeds ’n perdedief. Dus kan jy net so wel aanhou drink. Indien hy, die perdedief, nie die kern van sy menswees wil verander nie, sal hy nooit ’n nuwe lewe vind nie. Ons noem sulke “dronk perdediewe” dry drunks.

Baie mense hou miskien op om dwelms of drank te gebruik, maar vorder nooit na die plek waar ware herstel plaasvind nie. Dit is die gebied van ware vrede en geluk, waar die lewe werklik iets vir jou beteken en jy die lewe opwindend vind sonder die gebruik van dwelms of drank. Jy kan miskien fisiek nugter raak, maar as jy nie op emosionele, geestelike of psigiese vlak verander nie, gaan jy gewoonlik maar net voort met jou ontwrigtende en gevaarlike gedrag.

Dry drunks se afwykende of ongesonde gedragspatrone rig byvoorbeeld heelwat skade aan hul verhoudinge aan. Selfs al drink hulle nie meer nie, is hulle steeds besig om ander te manipuleer of emosioneel af te pers. Hul swak selfbeeld maak hulle onseker in hul verhoudinge. Daarom ly baie soms aan aandagsoekende gedrag, en hulle blameer alles en almal vir hul omstandighede. Hulle aanvaar geen persoonlike verantwoordelikheid vir hul keuses nie. Hulle voel vervreemd van ander en verval dikwels in selfbejammering. Hulle voel die wêreld skuld hulle iets. Hulle is gedurig ontevrede, bitter en depressief oor alles en almal in die lewe.

Verslawing is ’n siekte wat as obsessiewe en kompulsiewe gedragspatrone manifesteer. Altesaam 95 % van alle verslaafdes ly dikwels aan ’n dubbele diagnose: depressie, bipolêre versteurings, eetversteurings, seksverslawing, selfverminking en persoonlikheidsversteurings, en so meer. Dit kan óf die oorsaak óf ’n gevolg van die verslawing wees. Dis baie gekompliseerd en daar is nie net een antwoord op die probleem nie. Die siekte is fisiek, geestelik, emosioneel en psigies. Elke probleem moet stap vir stap hanteer word sodat genesing op al hierdie vlakke kan plaasvind.

Werklike genesing is ’n kombinasie van talle prosesse en aksies waarvoor die verslaafde verantwoordelik is. Dit sal proaktief vir die res van jou lewe toegepas moet word. Dit gaan vereis dat jy ou oortuigings sal moet weggooi om ’n radikaal nuwe fondament te gooi waarop jy vir die res van jou lewe sal moet bou. Dis ’n totale paradigmaskuif wat moet plaasvind; ’n hartsverandering, ’n kopskuif, ’n algehele oorgawe aan God.

Jy is nie alleen in hierdie proses nie. Daar is verskillende groepe met verskillende programme wat jou tydens rehabilitasie kan ondersteun. My eerste Narkotika Anoniem-byeenkoms was in ’n kerksaaltjie in Kalkbaai. Almal het hulself as verslaafdes voorgestel en met die groep hul hoop en ervarings gedeel.

Hulle het erken dat ’n lewe wat deur drank en dwelms beheer word ’n verskriklike lewe is, en dat hul lewe onleefbaar geword het. Hulle kon ook getuig hoe die lewe vir hulle ten goede verander het. Deur die God van liefde en omgee is hulle gered, en hul pyn en vrees het verander in ’n getuienis van oorwinning.

Eers het alles vir my soos ’n klomp nonsens geklink. Dit was tot ek een Dinsdagaand ’n man hoor praat het – dié man se storie het presies soos myne geklink. Sy verhaal het my tot stilstand geruk; dit was die eerste keer dat ek myself met iemand kon vereenselwig. Ek was nie die enigste een wat met hierdie soort angs, pyn, probleme, ’n disfunksionele gesin en eensaamheid geworstel het nie. Ek het besef ek is nie alleen nie en dat daar vir my ook dalk ’n klein bietjie hoop is. Daardie dag het iets binne-in my verander.

Die Twaalf Stappe tot herstel help jou om te verander, maar dit help jou ook om anders te dink. Dit is ’n proses wat sagkens die lae van ontkenning en valse persepsies wat ons vir soveel jare gekoester het, verwyder. Stelsematig vind ons uit wie ons werklik is, wie God is en wat ons doel op aarde is.

Jy kán volle bevryding ervaar en ná rehabilitasie ’n vol lewe lei. Vir ’n verslaafde of alkoholis klink so iets totaal onmoontlik. Ek het ook so gedink. Tog bestaan dit en is dit ’n werklikheid vir derduisende mense wat danksy die Twaalf Stappe wel genesing gevind het. As jy werklik ten volle genees wil word, moet jy weet:

•Om jou drinkery, dwelmgebruik of kompulsiewe gedrag stop te sit, is slegs die begin van ’n lewenslange transformasie. Jy sal waarskynlik benewens na ’n primêre binnepasiënt-rehabilitasiesentrum ook na ’n langtermyn- halfway house vir sekondêre behandeling moet gaan. Daar is al oor en oor bewys dat langtermynbehandeling van drie maande of meer doeltreffender is as korttermynbehandeling van drie tot ses weke lank. ’n Lys van goeie rehabilitasiesentrums word verskaf by www.hopeinaction.co.za.

•Gemengde gevoelens en onsekerheid oor die rehabilitasie sal moontlik tot ’n terugval lei. Verbind jou daartoe om alles in te sit.

•Jy moet die proses jou eie maak en aktief betrokke wees daarby. Wees eerlik en nederig, en sluit by ondersteuningsgroepe soos Narkotika Anoniem of Alkoholiste Anoniem aan. Die tye wanneer vergaderings plaasvind, word op die onderskeie webwerwe verskaf.

•Jy moet bereid wees om, indien nodig, weekliks met ’n terapeut of ’n herstelafrigter (coach) byeen te kom.

Daar is absoluut ’n plek vir chroniese medikasie in die proses van herstel en dit kan ook oorweeg word. Was dit nie vir medikasie nie, was ek sekerlik nou al dood. As jy nie jou tweewielfietsie kan ry nie, is ’n derde wieletjie nodig totdat jy weer kans sien om met twee wieletjies te ry. Medikasie sal nooit heeltemal ’n probleem kan wegvat nie, maar dit help om jou perspektief te gee oor jou uitdagings.

Daar is nog baie ander maniere wat jou op jou pad van herstel kan help. Oefening, terapeutiese behandeling, Godgesentreerde aktiwiteite, die korrekte dieet, verhoudinge bou, diens aan die gemeenskap asook om jouself te omring met ’n positiewe, opbouende omgewing en mense speel alles ’n sleutelrol in jou herstel.

Die soeke na herstel gaan jou dwing om met kritiese oë na jouself te kyk – dit gaan beslis nie ’n aangename proses wees nie, maar byt vas. Ek glo dat elke siel in die wêreld dit verdien om vry te wees, om die waarheid te ken, om bemagtig te word en om beter te wees as wat die wêreld van jou verwag.

Die lewe is moeilik, ek weet. Jy word elke dag met uitdagings gekonfronteer: stres by die werk, verhoudinge, die baas, familieprobleme, geweld en armoede. Mense sukkel sonder dat hulle daarvoor gevra het of dit verdien. Kom ek deel my persoonlike oplossing daarvoor met jou: Dit is hoe die lewe is – aanvaar dit. Dit is nie ons werk om God se doen en late uit te redeneer nie. Dit is wat dit is op die oomblik. As jy dink die lewe moet regverdig wees teenoor jou omdat jy regverdig is teenoor die lewe, is dit so goed jy sê die leeu moet jou nie eet nie, want jy eet nie die leeu nie. Jy het wat jy nou het, en vir eers is dit genoeg. Jy is waar jy is met ’n rede en dis in liefde vir jou beplan. Jy sal agterkom hoekom.

Russell Baker het die volgende gesê: “There is a hunger in us … for assurance that our lives have not been merely successful, but valuable – that we have accomplished something grander than just another well-heeled (well-off), loudly publicised journey from the diaper to the shroud. In short, that our lives have been consequential.”

Vandag is ek meer geseënd as ooit: Waar ek eens in sak en as was, het ek vandag ’n ryk en vol lewe. Jou lewe kan ook verander.

Hykie Berg

Подняться наверх