Читать книгу Hykie Berg - Hykie Berg - Страница 8

VERANDERING

Оглавление

Indien jy nie ernstig op soek is na herstel nie, sal jy dit nie kry nie. Jy sal ook nooit ware geluk of langdurige vrede vind indien jy nie alles in jou vermoë doen om skoon te bly en jou ten volle aan God wy nie. Maar om iemand te sien herstel en God se handewerk deur die herstelproses te ervaar, is onmeetbaar en die waarde daarvan onskatbaar.

Verslaafdes se grootste probleem is dat hulle alles dadelik wil hê en dat alles moet wees soos hulle wil hê dit moet wees. Wanneer jy aan verslawende gedrag ly, is jy obsessief, kompulsief en manipulerend. Jy wil altyd alles op die maklike en vinnige manier gedoen hê. Glo my, ek weet. Ons floreer op onmiddellike tevredenheid en as ons dit nie dadelik kan kry nie, gee ons maklik op. God is nie ’n towenaar of ’n feetjie nie en die lewe is nie ’n fliek nie. Verandering is nie ’n gebeurtenis nie, dis ’n proses. Min mense is werklik bereid om op hierdie reis van verandering te volhard.

Hoekom is hierdie reis so uitdagend? Dit verg ’n radikale oorgawe en opoffering. Om uit jou gemaksone te klim is ongelooflik moeilik. Om jou gewoontes en gedrag te laat vaar is nie maklik nie. Jy hou aan dié dinge vas omdat dit eintlik vir jou lekker is. Dit vervul in van jou basiese behoeftes. Daarom is dit so moeilik om dit prys te gee. Selfs wanneer jy tot die besef kom dat jou gedrag en gewoontes nie meer goed is vir jou nie …

Hierdie waarheid is moeilik om te aanvaar. Dis nie maklik om te aanvaar dat jou eie gedrag jou stelselmatig verwoes nie. Dikwels is dit dan makliker én gemakliker om eerder met die gedrag voort te gaan as om te verander, want verandering gaan beteken dat jy iets sal moet opoffer en prysgee.

Rabbi Abraham J Twerski verwoord dit soos volg: “When people who are addicted to alcohol or drugs deny their addiction, it is often because realisation of the truth would necessitate change; namely, to give up the use of their chemical, and this would cause them discomfort. Similarly, when people refuse to acknowledge the truth of the sovereignty of God, it is because such realisations would call for changes in their lives, and it is usually more comfortable not to change. If I pray to be shown the truth, I must be prepared to sacrifice some comfort in order to live the truth.”

Jy moet ongelukkig eers die waarheid ontdek voodat jy daarin kan glo. Slegs deur die erkenning van jou volkome magteloosheid rakende jou verslawing en die erkenning dat jy die stryd verloor het, sal jy die waarheid vind en jouself op die pad na ’n lewensveranderende oorwinning bevind. Die erkenning van jou magteloosheid ten opsigte van jou verslawing word in werklikheid die fondament waarvandaan jy jou krag gaan kry vir die uiteindelike oorwinning oor jou stryd.

Nog ’n rede hoekom dit so moeilik is om te verander is omdat jy eers ná ’n jaar of twee werklik die vrugte van herstel sien. Dit vat lank om ’n nuwe leefstyl te kweek en die resultate daarvan te sien. Verhoudinge, werk, finansies en ’n gelukkige gemoed kom nie oornag reg nie; dit neem tyd, soms baie lank.

Dit is werklik alles die moeite werd. Bewys jouself ’n guns en gee jouself ’n kans om te verander. Gun jouself ’n opregte en regverdige kans in die lewe. Jy het reeds te lank jouself seergemaak en toegelaat dat jou verslawende gedrag jou en jou lewe oorheers. Jy is beter as dit. So, moenie twyfel nie, want jou pad na oorwinning het so pas begin.

Jy gaan ’n God van onvoorwaardelike liefde en onverganklike triomf ontmoet, en Hy sal jou nie teleurstel nie. Hy is groter en magtiger as wat jy ooit kan dink. Hy stel baie meer belang in ons karakter as in ons gemak; tog bring Hy ongelooflike beskerming en gerieflikheid as jy gewillig is om jou deel te bring. Hy sal Homself aan jou openbaar, as jy werklik bereid is om jou lewe te herstel en verander.

Iets beters wag op jou – baie beter as wat jy nog ooit voorheen geken het.

Hykie Berg

Подняться наверх