Читать книгу Hykie Berg - Hykie Berg - Страница 6
STAP 1
Оглавление“Ons het erken dat ons magteloos was teenoor ons verslawing;
dat ons lewens onbeheerbaar geword het.”
Genesing kon slegs plaasvind toe ek erken het dat ek wel ’n probleem het. Dit het beteken dat ek die chaos en die onbeheerstheid van my lewe onder oë moes sien. Ek moes erken dat my lewe onbeheerbaar geword het en dat net ek verantwoordelikheid vir my eie herstel kan dra.
Dit is die eerste stap van Narkotika Anoniem se Twaalf Stappe tot herstel: Erken dat jy nie beheer het oor jou verslawing nie. Agteruitgang en die onvermoë om verhoudinge of ’n werk te behou is kenmerkend van ’n lewe wat deur verslawing beheer word. Indien jou fisieke verslawing en kompulsiewe gedrag so erg is dat jy nie kan ophou om uur ná uur konstant die dwelm van jou keuse te gebruik nie, sal jy jou by ’n rehabilitasieprogram moet aansluit.
Daar is uitstekende rehabilitasiesentrums oor die hele land wat jou kan help. Onthou egter, dit is nie net rehabilitasie wat jou gaan “skoon kry” nie; jou herstel hang alles van jóú af. Die keuse om te wil verander, is slegs die begin. Genesing is nie iets wat oornag gebeur nie; dis ’n bitter lang proses. As jy in ’n dronk perdedief ontaard (sien die storie van die dronk perdedief later) het en jy hou aan alkohol gebruik, is jy steeds ’n perdedief. So, dan kan jy net so wel aanhou drink. Die een is net so erg soos die ander.
As verslaafde probeer jy jou dikwels wysmaak dat jy in beheer is van jou verslawing. Ek het alles in my vermoë gedoen om my verslawing te beheer. Ek het die een dwelm vir die ander verruil, rondgetrek, van vriende verander, medikasie gebruik, selfs my stash vir my meisie gegee om my elke uur te monitor en vir my net die regte hoeveelheid te gee. Niks het gehelp nie.
Jy vertel jouself jy het nie rehabilitasie, ’n program, ’n god of enigiemand se hulp nodig nie. Jy glo jy sal jouself deur wilskrag alleen van jou verslawende gedrag kan bevry, maar wilskrag is nie genoeg nie. Soms was ek by my gesonde verstand, maar sonder uitsondering het ek herhaaldelik net weer in verslawende gedrag verval. Ek het ander mense vir my probleme aanspreeklik gehou en die wêreld blameer vir alles wat skeefgeloop het. Ek het die waarheid ten alle koste vermy.
Ek kon egter nie meer vir myself lieg nie. As verslaafde sê jy gereeld vir jouself dat nog een keer nie saak sal maak nie; dat jy volgende week of volgende maand sal ophou. Jy glo jy is sterk genoeg om enige tyd op te hou as jy sou wou. Hierdie soort gedagtes skep net valse oortuigings. Dit het my laat glo dat ek in beheer van my verslawing was, maar dit was op leuens en selfbedrog gegrond. Die dag toe ek aanvaar het dat ek nie in beheer is nie en erken het dat ek hierdie oorlog nie alleen gaan oorwin nie – slegs toe het ek die heerlike paradoks van die wit vlag opsteek ontdek.
Oorgee vereis opregte eerlikheid. Ek moes erken ek het die geveg verloor. My grootste liefde het my grootste vyand geword. Tog het dit die deur na genesing oopgesluit. Daar is geen skaamte in die erkenning van ons verslawing nie. Dit is ’n dapper en eerbare stap. Mense wat in oorwinning leef, weet wanneer om te veg en wanneer om oor te gee. Dit was juis my tyd om oor te gee. Dit was nie maklik nie, maar dit was my enigste keuse. Óf ek gee oor en hou op om met my wilskrag alleen te baklei, óf ek hou aan tot die bitter einde, wat my dood sou beteken.
Ek verstaan dat hierdie erkenning vernederend kan wees, veral wanneer verslaafdes daaraan gewoond is om in beheer te wees. Die meeste lei aan die een of ander kompulsiewe versteuring. Wanneer jy as verslaafde weier om jou magteloosheid te erken, staan jy egter die kans om alles te verloor. Jou ego, swak gewoontes en kompulsiewe gedrag is nie net lewensgevaarlik nie; dit sal vir ewig tussen jou en ware Liefde staan.
Die oomblik toe ek oorgegee het, het ek stadig maar seker meer bewus geraak van die gedrag wat tot die verkeerde besluite gelei het. Verslawende gedrag, swak gewoontes en die siekte van verslawing is baie sterker as wat ek self is. Ek het nie die krag gehad om op my eie op te hou nie. Ek moes alles oorgee sodat ek kon plek maak vir ’n Krag wat groter as ek is om my te help.
Hoewel my lewe in totale chaos was, het ek geweet iets baie groters en magtigers gaan van nou af die kompas in my lewe wees. Ek hoef nie meer in ’n verminkende vrees vir die toekoms te lewe nie. Alles was soos God dit beplan het en dit is uit liefde vir my gedoen. Ek was oukei.
Ouers en vriende het dikwels nie my genesingsproses verstaan nie. Die gewone mens verstaan nie die siekte van verslawing nie. Mense hou nie van iemand wat bo probeer uitkom nie – hulle voel minderwaardig in die teenwoordigheid van iemand wat dit regkry.
Almal is altyd stomgeslaan oor verslaafdes se gedrag en wil niks met hulle te doen hê nie. Vir jare het ek geglo ek is sleg en daar skort iets drasties met my. Ek moes besluit om sterk te wees sonder dat ek krag ervaar het, my kop hoog te hou, in stilswye die uitdagings van die lewe en die gedagtes van ander in die oë te kyk en vorentoe te beweeg.
Sosiale aanvaarding is nie gelykstaande aan herstel nie. Om op die een of ander manier herenig te word met jou familie en vriende of ’n werk te behou beteken nie jy is in die herstelfase nie. Genesing gebeur slegs wanneer jy jou ou denkwyses verander en verantwoordelikheid vir jou dade aanvaar.
Genesing is ’n lewenslange leefstyl. Dit is vreesaanjaend en skrikwekkend, maar as jy soos ek is, het jy geen ander keuse nie. Die meeste ouers dink: Ag wat, gooi die kind in rehabilitasie en siedaar, hy moet reg wees en nou kan hy maar perform. Tog moes ek leer, in watter situasie ek my ook al bevind, ek moet glo en bid vir die wysheid om te weet wat is die dinge wat ek wel kan verander en wat is die dinge waaroor ek geen beheer het nie.
Daar was niks wat ek aan my gesin se disfunksionele gedrag kon doen nie. Ek was net ’n kind en daar was sekere dinge wat ek beslis nie verdien het nie. Ek het nie die seer verdien nie. God weet dat soveel herinneringe van ons kinderjare juis met die gruwels verbonde aan ’n gevoel van magteloosheid verband hou.
As kinders moes ons leer om nie kwesbaar te wees nie. Van jongs af word ons geleer om sterk te wees. Om myself teen die wêreld te beskerm, het ek my in stilte beloof om nooit weer so weerloos en blootgestel te wees soos toe ek ’n kind was nie. Ek sou my pyn en vrese diep binne-in my wegsteek. Dit was my behoud – my strategie om te oorleef. Maar ek het besef, indien ek werklik gesond wil word, sal ek hierdie vrese onder oë moet sien om sodoende my verlede te oorwin.
Jy moet selfondersoek doen en na jou binnekant kyk. Doen dit om vas te stel wat die kern van jou probleme is: die redes agter jou verslawende gedrag. Baie verslaafdes doen dit nie en ervaar so nooit volhoubare soberheid en volle bevryding nie. Ek moes ’n hartsverandering ondergaan, ’n alghele innerlike spring cleaning. Slegs dan word die pad na vryheid oopgebaan en kan jy die eerste stap waag.
Verslaafdes ken hartseer, gebroke verhoudinge en teleurstellings. Ek was al tot op die punt van volledige hopeloosheid en hartseer gedruk; ek was al tot op die uiterste beproef en het baiekeer teruggeval. Dis egter ’n goeie ding om tot op ’n punt te kom waar jy siek en sat daarvan is om siek en sat te wees; dan is jy op die regte plek. As verslaafde het jy dikwels nie beheer oor wat in jou lewe gebeur nie, maar jy het wel beheer oor jou besluite; ons het beheer oor wat ons besluit om te glo.
Verslaafdes moet glo en hoop! Sonder hoop en ’n bietjie geloof in jouself sowel as ’n liefdevolle Mag sal jy nie die krag hê om môre se sonskyn nugter te sien nie. Die dag toe ek my magteloosheid erken en aanvaar het, het ek myself ontvanklik gemaak vir ’n nuwe idee: die moontlikheid dat daar ’n Krag is wat groter is as ek self, en dat die Krag se liefde en omgee sterk genoeg is om my van my obsessies en kompulsiewe gedrag te verlig. Ek weet nou dat ek én geen ander verslaafde op sy eie kan slaag nie, maar dat ons ’n Krag groter as onsself nodig het.