Читать книгу Hykie Berg - Hykie Berg - Страница 5
DIE BEGIN
Оглавление“My name is Hykie and I am a recovering addict.” So stel ek en duisende verslaafdes oor die hele wêreld hulself voor in die gemeenskap van Narkotika Anoniem (NA). Ons sê “recovering”, want ’n mens is nooit “recovered” nie. ’n Mens kan skoon kom en ’n wonderlike lewe begin leef, maar ’n persoon met die siekte van verslawing sal nooit, ooit weer dwelms of drank kan gebruik sonder dat dit sy lewe oorneem nie. Jy sal dit nooit kan beheer nie. Die enigste oplossing is algehele onthouding.
Verslawing is ’n lewensbedreigende siekte, ’n siekte wat nooit ten volle genees kan word nie. Dit kan egter aangepak, hanteer, by die wortel van die kwaad blootgelê en beveg word. Soos iemand eenkeer gesê het, dit is nie die alkohol wat die probleem is nie, maar die alkoholisme, die “isme” – die siekte wat met alle mag getakel moet word.
Vandag kan ek sê dat ek uit aktiewe verslawing losgebreek het. Dit was beslis nie ’n maklike pad om te stap nie. Dit was die moeilikste ding wat ek in my lewe moes doen: om van heroïen skoon te kom. Dit was ’n geveg wat ek moes aanhou baklei. Elke keer dat ek geval en ’n insinking gehad het, moes ek maar weer opstaan en van voor af begin. My proses van genesing is iets waaraan ek elke dag moet aandag gee en dit bly die belangrikste aspek van my lewe.
Die obsessie om dwelms te gebruik verlaat ’n mens wel indien jy doen wat jy moet om skoon te bly. Ek vind ek kan dit alleen doen deur aandag te gee aan my geestesgesondheid en die manier waarop ek my lewe leef. Vandag het ek ’n lewe, wáre lewe. My lewe het ’n doel, ’n rede en ’n rigting.
Voordat ek ’n verslaafde geword het, was ek ook maar net ’n kind – een wat nodig gehad het om te weet: Ondanks my onstabiliteit en rebelsheid sou ander my nog steeds liefhê en aanvaar soos ek is.
Ek het soos baie kinders gevoel ek pas net nie in nie. Ek was anders. Ek was die malletjie in die gesin. Een ding wat my as kind byvoorbeeld verskriklik gefassineer het, was kulkuns. “Kul jou hier, kul jou daar en siedaar!” Martino het my sussie by ons huis kom afneem. Hy was nie net ’n kulkunstenaar nie, maar ook ’n fotograaf. “Hier is hy! In my huis! Martino van die televisie en net die beste kulkunstenaar in Suid-Afrika,” het ek met ontsag geprewel. Ek was geweldig opgewonde. Martino wys toe vir my ’n toertjie. Ná daardie dag het ek die toertjie oor en oor geoefen. My nuutgevonde belangstelling in kulkuns het my gedryf om ’n towerboks met toertjies wat ek op ’n TV-advertensie gesien het van oorsee af te bestel. Die dag toe ek daardie boks vol toertjies by die poskantoor gaan haal het, bly een van my opwindendste kinderherinneringe. (Dit en natuurlik toe ek my eerste 50cc-motorfiets gekry het toe ek in graad nege, daai tyd standerd sewe, was.)
Al my ouers se kuiergaste moes altyd na my toertjies kyk. Ek kon nie wag om elke toertjie met enigiemand wat ek teëgekom het te deel nie. Ek het my broer en suster behoorlik mal gemaak. Sonder die wete dat ek eendag ’n akteur sou word, het ek reeds toe al mense begin vermaak. Ek was geensins ’n pro nie, maar ek het dit geniet.
Ek het grootgeword in Lynnwood, Pretoria, in ’n ouerhuis wat geen tekort aan geld en luukshede gehad het nie. Soos enige ander huisgesin was daar probleme, maar ’n mens deal mos maar daarmee soos die tyd verloop – of so het ons gedink. Daai tyd was dit normaal om enigiets wat skande of vernedering vir die familie sal bring, onder die mat in te vee en te hoop en bid die probleem gaan weg. Vir baie jare het ek geglo ons familie is absoluut uniek wat ons uitdagings en familietwis betref. Ek het gedink daar is iets fout met ons almal, altans met my. Dit kon nie verder van die waarheid af gewees het nie. Vandag weet ons dat baie gesinne eintlik inherent disfunksioneel is. Al verskil is die omvang of graad van disfunksionaliteit.
Wanneer kinders in ekstreme disfunksionele gesinne grootword, leer hulle nie hoe om op ’n gesonde manier aan pyn uiting te gee nie. Oormatige streng beheer van kinders, projeksie van innerlike konflik vanaf ouer na kind of omgekeerd, emosionele manipulasie, asook die onvermoë om kwesbaar te word en persoonlike verantwoordelikheid te aanvaar vir eie besluite en dade beskadig die ouer-kind-verhouding.
Almal het probleme, almal het issues. Dit kan tot lewenslange letsels lei wat herhaal word indien die kind nie die ongesonde siklus van die gedrag stopsit nie. Indien een party wel besluit om werklik die siklus van generasiebande of -gebruike te verbreek, veroorsaak dit gewoonlik ongelooflike konflik tussen ouer en kind. Die verhouding word onherstelbaar indien opregte vergifnis nie plaasvind nie. Dit is wat ek ook in ons eie gesin sien gebeur het.
My ma was en is nog steeds ’n beeldskone vrou. Sy was joolprinses saam met Jana Cilliers en het mans behoorlik oor hul voete laat val. Dit was nog altyd vir haar belangrik om mooi na haar voorkoms om te sien. My ma was ’n ruk lank in haar lewe ’n onderwyseres, maar weens ’n hele klomp rugoperasies kon sy nie meer vir lang ure op haar voete staan nie. Die pyn was net te ondraaglik. Boonop het een van die dokters wat op haar rug geopereer het erg drooggemaak: hy het haar linkerbeen se senuwee per ongeluk afgesny. Die gevolg was lewenslange ongemak en pyn, en dit het natuurlik ’n sneeubaleffek op haar lyf gehad. Die een probleem het gelei tot die ander, die een operasie ná die ander het gevolg. Tog was sy ’n voltydse mamma en het alles in haar vermoë gedoen om my, my jonger sussie, Magrikie, en my ouer broer, Nielen, behoorlik groot te maak. Sy was streng en kwaai, maar ook opreg en liefdevol.
My pa is ’n senior advokaat. Enige persoon wat al met my pa te doen gehad het, sal kan getuig dat hy sekerlik een van ons land se slimste regsgeleerdes en vooruitstrewende advokate is. Omdat hy so in aanvraag is, was hy baie min by die huis toe ek klein was. Steeds het hy finansieel alles in sy vermoë gedoen om vir ons net die beste te gee. My pa het byvoorbeeld baie geld aan ons skole en naskoolse opleiding bestee om seker te maak dat ons elkeen ’n sukses van ons lewe sou kon maak. Hy het altyd in ons geglo. Sy lewe getuig van sy onvoorwaardelike opofferings wat hy gemaak het vir sy kinders, selfs ten spyte van homself. Wanneer hy laat in die aande by die huis gekom het, het hy ons altyd eers kom wakker maak om vir elkeen ’n soentjie te gee. Hierdie kosbare oomblikke was wel min. My pa was daar, maar ook nie.
Elke seuntjie het ’n verlange en ’n begeerte na ’n pa – iemand wat hom as’t ware op sy hart se skouers sal dra en gehaltetyd saam met hom sal deurbring. My pa was nie altyd bewus van my verlange na hom nie. Hy was nie ’n pa wat ’n werklik hegte verhouding met sy kinders gehad het nie, maar aan sy liefde vir ons twyfel ek glad nie.
Later in my lewe het ek sy liefdestaal ontdek en toe kon ek hom beter begin verstaan, nes ook my ma. Ons kry nie altyd die liefde van ons ouers soos ons dit graag wil hê nie, maar daar is wel redes daarvoor. Dit dwing ons om na iets Groters te reik wat beter in ons behoeftes kan voorsien.
Albei my ouers was gelowige mense en ons kinders is in ’n godsdienstige omgewing grootgemaak. Ons het baie kennis opgedoen rakende die Bybel en ons het van God geleer, maar ons opvoeding in geloof was nie Geesgedrewe nie. Dit was of ons al die brandhout gegee is, maar nooit die vuurhoutjie nie.
Ek was 11 jaar oud toe my ma en pa geskei is. Ons kinders het saam met my ma in ’n meenthuis gaan bly wat my pa vir haar gekoop het. My ma moes in daardie stadium as “enkelouer” die rol van pa én ma vervul. Dit het groot onderliggende spanning in die gesin veroorsaak.
My ma was reeds voor die egskeiding eintlik ’n enkelma. My ma was baie rigied en wou ons van jongs af leer wat dit beteken om verantwoordelik op te tree. Sy het gedoen wat sy geglo het reg was en het nog altyd by haar waardes gehou. As kind, wanneer ek en my broer onder meer koerante moes aflewer (iets wat ek gehaat het), het ek my ma erg kwalik geneem. En tog, vandag verstaan ek hoekom sy sekere dinge gedoen het soos sy het. Ek moes leer dat indien daar geen doelbewuste poging aangewend word nie, daar ook net mooi niks van niks kan kom nie.
Dit was beslis nie ’n maklike taak om drie kinders so te sê alleen groot te maak nie. Boonop was ek geensins ’n maklike kind nie. Ek het alles wat daai tyd die norm of status quo was, uitgedaag. Ek wou beslis nie soos my ouers wees nie.
Wat tussen my ma en pa gebeur en skeefgeloop het in hul huwelik het niks met ons as kinders uit te waai gehad nie. Hul lewe was hul lewe; hulle het keuses gemaak waarvoor hulle verantwoordelikheid moes aanvaar. Daar is mos altyd drie kante aan ’n storie: haar kant, sy kant en dan die waarheid. Dit is ten eerste wat gedurende en ná ’n egskeiding gebeur en hoe die ouers en/of derde partye dit hanteer wat gaan bepaal hoeveel skade daar aangerig word.
Ek gee hiermee geensins my ouers se egskeiding die skuld vir my gedrag en my latere verslawing nie; tog was dit seer sekerlik ’n baie traumatiese tyd vir almal van ons in die gesin. Nie een van ons het werklik geweet hoe om daarmee te cope nie.
Daar is nie ’n egskeiding ter wêreld wat lekker is of wat nie op die een of ander manier die gesinsdinamika versteur nie. Kinders kry seer, ouers kry seer, almal kry seer. Ouers blameer mekaar, kinders blameer ouers, ouers blameer kinders, en kinders blameer kinders. Ons doen dit omdat ons eenvoudig nie die lewensvaardighede het om ons eie ongemak en pyn op ’n gesonde wyse te hanteer nie.
My ouers is albei goeie mense, maar ek weet tot vandag toe nog nie hoekom hulle met mekaar getrou het nie. Ons kinders is omtrent ál wat my ouers gemeen het. Daai jare is egskeiding as ’n skande beskou. Daar was nie openlik daaroor gepraat nie en die kerk het dit baie duidelik gemaak dat dit sonde is om te skei. Daar was toe nog nie toegang tot inligting, kenners of die ondersteuningsgroepe soos ons vandag het nie. Gevolglik het ons sogenaamde Christenvriende ons tot die dood toe veroordeel. Ek het daarmee probeer deal deur dit alles maar te sluk en aan te gaan.
As tiener het ek later erg teen die Christendom geskop omrede dít wat elke Sondag in die kerk gepreek is beslis nie altyd deur ons ouers uitgeleef is nie. Die bakleiery, magspeletjies en afbrekende gedrag was in direkte kontras met dít wat vir ons voorgesê is.
Gedurende my ouers se egskeiding is ons kinders gebruik as pionne in hul persoonlike vendetta. Ons was gereeld vasgevang in die middel van ons ouers se probleme sodat ons altyd op die een of ander manier hul kruk geword het. Wanneer my ouers hul persoonlike probleme op ons afgepak het, het die rolle soms omgedraai en was ons onbewustelik gedwing om ons ouers se rol in te neem. In ’n huishouding waarin een of meer ouers aan ’n gedragsversteuring ly, ontwikkel die kinders dikwels wat in sielkundige kringe bekend staan as volwassekind-sindroom. Hierdie sindroom word gekenmerk deur oormatige skuldgevoelens, magteloosheid en lae selfwaarde wat tot selfdestruktiewe gedrag lei. (Vir verdere toeligting, lees gerus Life Lessons for the Adult Child deur Judy Kiplin.) Ons het ons bes gedoen om my ma sowel as my pa by te staan, maar ons het geensins as kinders oor die emosionele volwassenheid beskik om sulke dinge te hanteer nie.
Dit was onregverdig van ons ma om heeldag ons pa voor ons af te breek, en dit was onregverdig van my pa om homself heeltemal uit die gemors te verwyder en nie persoonlik verantwoordelikheid te dra vir sy dade nie. Tog het hulle nie van beter geweet nie. Seerkry en pyn laat ons soms dinge doen op die ingewing van die oomblik waaroor ons later jare baie spyt is. Die huisomstandighede het vir heelwat bitterheid, skuldgevoelens, vrees en onenigheid onder ons kinders gesorg.
Ek was daagliks in ’n tweestryd met myself. Kinders is nie veronderstel om kant te kies nie; dit moenie eens ’n opsie wees nie. Ouers moet hul verskille uitklaar sonder om die kinders persoonlik te betrek. Is hulle dan nie as Christene veronderstel om elkeen in hul persoonlike hoedanigheid vir die kinders ’n beeld van mekaar te skep wat God eer nie? Moet hulle dan nie ondanks hul gevoelens vir mekaar eerder hul persoonlike issues eenkant toe skuif nie? Pleks van die kinders besoedel met hul eie menings van mekaar, moet hulle mos eerder mekaar in die ander party se afwesigheid met respek ophef.
Dit het my verskriklik deurmekaar gemaak. Vandag weet ons: kinders word nie wat jy vir hulle sê nie; hulle word wat jy, die ouer, is. Ek het een ding altyd gehoor, maar die teenoorgestelde gesien. Kinders word ’n produk van hul ouers en hul ouerhuis.
Albei my ouers het hul liefde aan ons op hul eie manier bewys. Hulle het seker gemaak dat ons van alle basiese behoeftes voorsien word en meer, maar daar was ’n ontbindende pyn in my waarvan my ouers nie bewus was nie. Ek verbind my kinder- en tienerjare met gevoelens van ontoereikendheid, vrees en eensaamheid. Meestal het ek soos ’n vreemdeling in my eie huis gevoel.
Ek het as kind van ’n baie jong ouderdom af begin steel, nog lank voordat my ma en pa geskei is. Dit het my die een of ander kick gegee; dit was my klein geheimpie waarvan niemand geweet het nie. Ek het nie gesteel omdat ek graag iets wou hê wat my ouers nie vir my kon koop of wat ek nie kon kry nie. Ek het gesteel, want dit het my ’n mate van beheer oor my omstandighede gegee. Ek het in beheer van een ding gevoel, terwyl ek op ander terreine van my lewe so verskriklik buite beheer gevoel het.
Die vrees om uitgevang te word, het my ’n rush gegee. Ek het binne-in my lessenaar ’n geheime plekkie gehad waar ek al my goedjies kon wegsteek. Ek was mal daaroor om luukse aanstekers te steel. Ek het ’n hele versameling van goue, brons- en silweraanstekers gehad. Dit het natuurlik gesorg dat ek so nou en dan skelm op laerskool vir my ’n sigaret kon aansteek. Later het ek ook hierdie kompartement in my lessenaar gebruik om my pakkies sigarette en ’n paar pornografiese flieks weg te steek.
Ek het vroeg al begin sigarette rook. My eerste trek was in graad twee, want ek wou sommer maar net eksperimenteer. My ouma, dis nou my ma se ma, het gerook en dit het altyd so lekker gelyk. Ek het tog daai dag op die strand in Balito my amper doodgehoes. Dit was aaklig.
Ek was stout en uitdagend. My graadtwee-juffrou het daai tyd vir my ma gesê ek gaan eendag in die tronk beland. Sy was seker nie heeltemal verkeerd nie. Teen graad sewe was ek ’n roker. ’n Pakkie van 20 sigarette het my so twee dae lank gehou; 18 jaar later het dit by so 40 ’n dag getrek. Daar was ’n paar laerskoolpelle saam met wie ons altyd skaatsplank gery het en wat my rebelsheid gedeel het. Saam het ons mekaar aangehits en dit was opwindend om sigarette te gaan koop.
My eerste joint was in graad agt toe ek by die Duitse bierfees in Pretoria-Oos saam met ’n vriend in ’n parkie gaan rook het voordat ons die aand sou begin kuier. Dit was in daai stadium ongelooflik pret gewees en ons het ons doodgelag vir alles en almal. Natuurlik meng alkohol en dagga nie altyd so lekker nie. As jy eers dronk is en jy rook dan ’n joint, is jou kanse om tien katte te skiet amper gewaarborg. Green fever oorval jou en al die munchies wat jy gehad het, beland tussen jou wang en die sement waarop jy dan uitgepass het.
Die idee van iets onwettigs doen, het my ’n groot kick gegee. Dit was nie soseer die gevoel wat ek gekry het van die dagga waarvan ek gehou het nie, maar eerder die aandag van mense dat ek anders was, onderduims en uitgesproke.
My tienerjare is grotendeels deur my destruktiewe gedrag verwoes. Die gejaag na opwinding en ’n goedkoop thrill het gou verander in herhaaldelike dwelmmisbruik, partytjies en rebelse gedrag. Dwelmverslawing of enige ander vorm van verslawing is wel net die simptoom van veel groter probleme wat grootliks spruit uit ’n soeke na menswaardigheid op ’n doellose lewenspad.
Min het ek besef dat dít waarna ek eintlik op soek was en smag nie in partytjies, drank of dwelms gevind sou kon word nie, maar in iets wat geestelik van aard was. Eers baie jare daarna, nadat ek my heroïenverslawing oorwin het, het ek besef wat die gat in my siel werklik kan vul. Vir die eerste keer het ek vryheid ervaar. ’n Vryheid wat later jare slegs in my nugterskap my hart kon laat berus en my gees bedaar.