Читать книгу Hykie Berg - Hykie Berg - Страница 9

’N HERBESOEK AAN DIE VERLEDE

Оглавление

Ek het reeds van jongs af die lewe gehaat. Ek was siek en sat vir almal en alles om my – vir myself ook. Ek het myself en die mense om my geïrriteer. Ek was ongemaklik in my eie vel. Ek het gerebelleer en met alles geëksperimenteer. Dit was my manier om te probeer ontsnap.

My soeke na ontsnapping het reeds tydens my vormingsjare begin. Ek was altyd anders – die anti-establishment soort ou. Soos Jimi Hendrix gesê het: “All I’m gonna do is just go on and do what I feel.” En dis presies wat ek gedoen het.

My hele lewe lank is daar vir my gesê: “Hykie, jy is ’n stoute kind; jy is mal en weird.” In die huis waarin ek grootgeword het, het ek die idee gekry dat ek die minder slim een was. My broer en suster het baie beter in akademie gevaar as ek en my broer was baie beter in sport as ek. Ek glo glad nie dat dit my familie se bedoeling was om my so te laat voel nie, maar dis wat ek ervaar het.

Op skool was ek nooit regtig goed in enigiets nie; ek was ’n middelmatige kind. So-so. Al waarin ek goed was, buiten om aandag te trek, was om mense se geduld te toets. Ek het gekyk hoe ver ek mense kan druk voordat hulle ontplof. Of dit nou my ma, suster of onderwysers was, dit het my ’n kick gegee om mense teen die mure uit te dryf.

Ek het afgryslike dinge gedoen waaroor ek my doodgelag het. Ek sou my sussie vasdruk onder ’n poefkussing en vir ure op haar lê terwyl ek spoeg op haar gesig laat drup. Ek het haar konstant probeer skrikmaak. Ek het om elke hoek en draai gewag vir ’n oomblik om haar te terroriseer. Dit het later so erg geraak dat my ma my sussie na die bure toe gevat het as my ma dalk ’n aand saam met vriende wou uitgaan; net sodat ons nie in dieselfde huis op dieselfde tyd sou wees nie. Eers later jare het ek besef wat ek aan my suster gedoen het en die impak wat dit op haar lewe gehad het. As jong seun wat in ’n tiener ontluik en verveeld is met homself en die wêreld, is dit nie iets waaraan jy dink nie.

Ek het op laerskool probeer sport doen, maar ongelukkig was ek ’n bietjie oorgewig. Waarom sal ek my hoeka tog nou so ooreis! My liefde vir lekkers en sjokolade was groter as enige vorm van oefening. “’n Bietjie lomp,” is wat ’n juffrou op my rapportkaart vir liggaamsopvoeding geskryf het toe ek in graad vier was. Nou ja, sy was ’n grootmens; dus het ek haar maar geglo en die woorde my eie gemaak. En elke keer dat ek nie gewen of ’n doelwit bereik het nie, het ek daai oortuiging net dieper in my siel ingemessel. Ek het later ook geglo dat ek lomp is en dat ek glad nie gemaak was vir sport nie. Elke keer dat ek ’n mislukking ervaar het, het ek haar afbrekende leuens toegelaat om in my wêreld reg bewys te word. So het die idee van “nie goed genoeg nie” verder in my psige posgevat. Vandag verstaan ek die mag wat woorde het, veral op kinders. Dit kan jou maak of breek.

Rugby was natuurlik heeltemal verbode. Om rugby te speel, sou beteken dat ek normaal is; nes die ander kinders. Hier het ek ook nie ingepas nie. Ek het gedurende my laerskooldae nogal in die eerste rugbyspan gespeel, maar selde die bal gekry. Daar was een wedstryd wat ek nooit sal vergeet nie.

Vir die heel eerste keer in my rugbyfase het ek die bal gevang. Ek was so oorweldig dat ek heeltemal vergeet het wat om met die bal te doen. “Pass! Pass! Pass die bal!” het die toeskouers langs die veld gegil. “Pass net die blêrrie bal, Hykie!” het hulle geskree. Almal het van alle kante geskree. Ek kon geen gaping sien nie, slegs my eie angs in die ander spelers se oë. Ek was wel in ekstase omdat ek die bal gehad het. In die middel van ’n slagveld wat met ’n skare omring was, was die bal skielik in my hande – vir die eerste keer. Ek het nie lekker geweet in watse rigting om te hardloop nie. Die geraas en die hygende asems het te veel geraak. Ek is geduik en die spel het voortgegaan.

Toe sport nie vir my uitwerk nie, het ek probeer kitaar speel. My ma het vir my en my broer elkeen ’n kitaar gaan koop en sy het ons vir lesse gestuur. Maar dit was ontsettend vervelig. Ek wou heavy metal leer speel – bands soos Iron Maiden, Metalica, AC/DC, Roxette en Alice Cooper was toe groot. Ek wou soos hulle wees: om voor duisende mense te staan met die wêreld wat my toejuig. Die musiekjuffrou het ons egter “Rudolph the Red Nosed Reindeer” en “Little Drummer Boy” geleer. Rum, pum, pum … Dit was ’n groot grap en ek het regtig gedink sy is ’n loser. Sy én my ma.

Daardie tyd was rock ’n roll mos van die bose. Ek onthou die oggend toe pastoor Rodney Seale, ’n welbekende spreker en skrywer, by die NG-gemeente Lynnwood met die jeug kom praat het oor dié duiwelse musiek. Hy het plate van bands soos AC/DC agterstevoor gespeel en vir ons vertel dat daar versteekte boodskappe in die lirieke skuil. Al wat ék kon hoor, was klanke van ’n plaat wat … agteruit gespeel word. Dit het my wel gefassineer.

Later jare het ek as tiener ’n groot death metal-aanhanger geword. Bands soos Obituary, Sepultura, Napalm Death, Deicide en Judas Priest was vir my ongelooflik. Dié musiek is al wat vir my saak gemaak het.

In graad vyf wou ek in die koor gaan sing. Dit het vir my lekker gelyk en hoewel dit nie my vriendekring was nie, het ek gedink ek sal so iets dalk kan doen. Reeds met die eerste oudisie het die sangjuffrou egter vir my gesê: “Sorry, my kind, jy is vals.”

Ek het ’n ruk lank kunsklasse geneem. Ek was baie lief vir kuns. Dit is iets wat ek geniet het en ek het tot vandag toe ’n talent vir teken. Ek onthou ek het in graad vyf nogal ’n prys gewen vir ’n huis wat ek geteken het. Dit was uitgestal in die skoolsaal saam met ’n klompie ander kunswerke en ek sal nooit die goue ster vergeet wat daarop geplak was nie. Ek was verskriklik trots op myself, maar toe word ek weggejaag omdat die juffrou vir my ma gesê het ek is te stout – ek was rusteloos. Toe gee ek dit ook op.

My gedrag het begin handuit ruk en ek het weird dinge begin doen. Vra my hoekom en ek sou vir jou sê ek weet nie. Dis die absolute waarheid; ek het geen idee gehad hoekom my gedrag so ekstreem was nie. Ek sou byvoorbeeld net voor die skool se jaarlikse swemgala ’n klompie dooie voëls in die swembad gooi. Soms sou ek net vir die pret akkedisse met brandende reukweerder aan die brand steek. Van buite af het ek seker normaal gelyk, maar my binneste was in ’n totale warboel. Onverskilligheid het my bevredig op ’n baie verwronge manier.

Ek het selfs akademies probeer verkeer. Dit net om in iets op skool goed te doen sodat ek iewers ’n bietjie erkenning kon kry, maar ’n soet en slim skoolseuntjie was ek wraggies nie. Ek kon dit net nie regkry om al my aandag aan my huiswerk en toetse te gee nie. Al het ek hoe hard probeer, kon ek net nie in my skoolwerk presteer nie. Meer as enigiets anders wou ek eintlik net gehad het my portuurgroep en my ouers moet my aanvaar.

Daar was natuurlik ook ’n meisie oor wie ek dol was op laerskool, ’n blondekop. Haar naam was Liesl en sy was die mooiste ding wat ek nog ooit in my lewe gesien het. Almal het gedink sy was beeldskoon. Sy was die enigste persoon in daai skool voor wie ek nie ’n woord kon uitkry as ek in haar teenwoordigheid was nie. As ek met tye na my Walkman geluister het om my af te sonder van die wêreld, het ek my verbeel daar is ’n skare wat my staande toejuig. Heel voor was Liesl met so ’n liefdevolle glimlag op haar gesig. Sonder om enigiets te sê, het ek altyd die gevoel gekry dat sy eendag myne sal wees.

Haar pa het karate aangebied op skool en dit het my wonderlik gepas toe my ouers besluit ek en my broer moet karate neem. Haar belangstelling in my was egter nul. Al wat ek wou doen, was om haar te beïndruk, maar sy het glad nie aandag aan my gegee nie. Ek kon net nie wen nie. Ek het nie presteer nie en het soos ’n washout gevoel. Hemel, dit was verskriklik! Later het ek die karate ook begin haat en my ma gesmeek om my nie weer te vat nie.

Daarna het ek myself heeltemal onttrek aan enige interpersoonlike aktiwiteite of enigiets wat in groepsverband gedoen moet word. Ek was ’n lugleegte tussen al die ander kinders – sonder om te weet waar ek inpas, soort van leeg en ongemaklik in my eie vel. Niks kon daardie gevoel van vreemdheid in my regmaak nie.

Reeds in die laerskool het my reputasie as die mal kind my vooruitgeloop. Aan die einde van graad sewe het dit gemaak dat ’n paar uitdagings ons in die gesig gestaar het. Blykbaar was daar ’n hele klompie hoërskole in Pretoria-Oos wat nie werklik kans gesien het om my toe te laat nie. Ek was gediagnoseer met ’n dissiplinêre afwyking – wat dit ook al beteken. My ma het vir my gesê ek was te stout en die hoërskole het nie kans gesien vir my nie. ’n Onderwyseres het eenmaal vir my gesê ek is ’n probleemkind wat in die kinderhuis gaan beland. Ek het baie sulke opmerkings weggehou van my ma-hulle: my ouers sou daai tyd in elk geval die onderwysers se kant gekies het en dan sou ek tog maar net weer in die moeilikheid gewees het.

Ek was egter angsbevange. Dit het my so bang gemaak; ek kon dae lank nie slaap nie. Ironies genoeg, al was my tienerjare later ’n nagmerrie saam met my ma-hulle, was die laaste plek waar ek wou wees weg van die huis af. Daar is telkemale vir my gesê dat ek na ’n koshuis gestuur gaan word indien ek nie my gedrag verander nie. Ek kon dit as jong seun nooit verstaan nie: Hoekom is niemand ooit aan my kant nie? Ek was maar net 13 jaar oud.

My ma het later jare begin besef ek was en is nog steeds akuut aandagafleibaar en hiperaktief, maar in daardie stadium het niemand nog van sulke dinge geweet nie. Daar was ook nog geen medikasie vir aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS, Engelse afkorting: ADHD) beskikbaar nie. Baie het gemeen ek hoort eintlik in ’n spesiale skool – daai kolleges waarheen die freaks van die samelewing gaan, want hulle pas nêrens in nie en niemand kan of wil met hulle deal nie. Tog, ná ’n vergadering met die ou Transvaalse Onderwysdepartement (TOD) het Hoërskool Die Wilgers my ingeneem. Die skoolhoof het dit duidelik gestel: Indien ek een misstap begaan, is ek uit.

So het hoërskoollewe vir my aangebreek. My eerste dag op hoërskool was eintlik fantasties. Ek kon oorbegin: nuwe pêlle, nuwe persona. My tas is oor die een skouer getrek en my kouse tot op my enkels afgedruk. My hemp het uitgehang en ek het my das nooit tot bo getrek nie. Die eerste dag het ek die rokers gaan opsoek en vind toe ’n klompie vriende by wie ek aanklank kon vind. Ek wou hê almal in my graad sowel as die ouer kinders moes weet wie ek is en waarvoor ek staan. Ek sou my deur niemand laat voorskryf wat om te doen nie.

Ons is in klaskamers ingedeel en gesê ons moet na ons registerklasse toe beweeg. Ek het in die klaskamer ingestap, kliphard slym in my mond opgetrek en op die vloer gespoeg, my skoene daaroor gevee en sonder enige skaamte geskree: “Dis nou ’n vrot plek dié!”

Ondanks die skoolhoof se aanhoudende waarskuwings het ek steeds uitgerafel. Hy was in elk geval volgens my ’n aap gewees. Ek het baie vinnig agtergekom hoe onderwysers hul gunstelingleerders kies en nie omgee oor die res nie. Hiermee sê ek glad nie hulle moes my met al my stoutighede net so aanvaar het nie, maar nie een enkele onderwyser, tot die dag dat ek matriek klaar geskryf het, het my aan die arm gevat en wou my leer ken vir wie ek werklik was nie. Niemand wou hoor wat dit is wat my opgewonde maak of waarin ek belangstel nie. Daar was absoluut geen belangstelling in my as kind, as seun of as mens nie.

In daardie tyd van my lewe was daar slegs twee volwassenes wat in my geglo het en hulle was glad nie onderwysers nie. Dit was dominee Jorries van die NG-gemeente Lynnwoodrif, vandag doktor Jorries, en die ander was oom Kriek Dreyer, ’n skoolvriend se pa, wat vir my Sondagskool gegee het.

Oom Kriek het my vertroue as kind gewen deur my ná Sondagskoolklas toe te laat om saam met hom ’n sigaret te rook. Dit was vir my ongelooflik gewees. Hier was ’n ouer wat my verstaan, iemand wat my nie net veroordeel tot in die hel in nie en wat ’n verhouding met my wou bou. Hy het natuurlik goed geweet rook is nie gesond nie, maar dit was ons raakpunt met mekaar. Ons het baie gelag en dit was lekker om tyd saam met hom deur te bring. Ek het altyd gesorg dat my Sondagskoolhuiswerk gedoen is wanneer ons na oom Kriek toe gaan en ek het geluister as hy gepraat het.

Oom Kriek het geweet om sonde te preek werk nie; om aan te hou karring oor die moenies en ’n skuldgevoel by jong kinders te kweek, bring nie ware vryheid nie. Ek sê glad nie dat ouers en onderwysers kinders se ongesonde en rebelse gedrag bloot net moet aanvaar en sonder gevolge moet goedkeur nie. Oom Kriek het alles met ’n doelbewuste rede gedoen. Hy het geweet hy kon nie oor iets preek wat hy self nie eer nie. Hy het, anders as die onderwysers en skoolhoof (wat voor die kinders gerook het, maar ons dan met ’n rottang geslaan het as hulle ons betrap het), geweet kinders boots volwassenes na. Kinders doen wat volwassenes doen; nie wat vir hulle gesê word nie. Integriteit is tog juis dit: ons sê wat ons doen en ons doen wat ons sê.

Oom Kriek is later oorlede, maar ek sal altyd sy pakkie Mills-sigarette, sy vriendelike verwelkoming en sy Sondagskoolklasse onthou. Steeds kon ek egter nie die onrustigheid in my siel verdryf nie. Ek het gevoel dat ek nêrens werklik behoort nie. Die enigste manier hoe ek deel van iets kon voel, was as ek aangejaag het saam met die ouens wat soos ek was.

Drank het ’n groot rol in my lewe begin speel. Ek kon nie wag vir naweke om saam met my vriende te gaan kuier nie. Ek het altyd daarna uitgesien om so dronk moontlik te word. Al was ek minderjarig, is daar altyd maniere om drank in die hande te kry. ’n Paar biere was nooit genoeg nie – ek moes myself altyd te pletter suip. Van my portuurgroep het gereeld vir my gevra hoekom kan ek nie net een of twee biere drink en dit daar los nie. Ek was altyd die een wat iewers begin opgooi en uitgepass het. Ek het ook nie omgegee waar ek uitpass nie: of dit nou binne ’n asblik was, in die middel van ’n parkie of buite op die sypaadjie van een van my vriende se huise, het nie saak gemaak nie. Ek het die alkohol laat oorneem en gegaan waar my dronkenskap my gelei het. Dit was lekker om dronk te word, want ek het aandag gekry.

Vandag weet ek dat my verslawing van jongs af al baie duidelik in my gedrag sigbaar was. Ek is net dankbaar dat ek nooit my motor gerol het of in my dronkenskap ’n minderjarige meisie swanger gemaak het nie …

Ek het maagdelikheid in graad nege verloor. Dit was met ’n meisie in my skool. Ons het ’n aand by ’n kroeg in Pretoria-Oos uitgehang en ons albei het verskriklik dronk geword. Die kroeg was op ’n kleinhoewe en voor ons ons kom kry, was ons albei lekker kaalgat tussen die daisies. Bo-op ’n vullishoop in die agterplaas van die hoewe gebeur dit toe nou dat ons seks het. Ek het nie ’n kondoom gehad nie en sy was ook nie op ’n voorbehoedmiddel nie. Dit was dom en onverantwoordelik. Dit was my eerste pregnancy scare en ’n hele maand lank het ek gedink ek gaan pa word.

Nou ja, enigeen wat weet waarvan ek praat, sal weet dis die tyd van jou lewe dat jy die meeste begin bid – of jy nou glo of nie. Skielik belowe jy met hart en siel dat jy jou lewe vir ewig sal omdraai en elke Sondag kerk toe sal gaan solank die meisie net nie swanger raak nie. Dis ’n aaklige tyd. Gelukkig het ek nie pa geword nie. Sjoe.

Die drankmisbruik het verder toegeneem, asook my dagga-gebruik. Ek het die dagga nie eens ’n kilometer ver van ons huis af nie in Lynnwood Glen gekoop. Die petroljoggies by die vulstasie naby ons huis het dit verkoop. Dit was nou nie die beste dagga in die wêreld nie, maar daai tyd het ek gedink dis al wat bestaan. Dagga rook was lekker en opwindend. Juis omdat dit onwettig was, het die behoefte om dit te doen net groter geraak. Dit het my rebelsheid gevoed en my laat voel asof ek gesag het, juis omdat ek altyd die een was wat dit in die hande kon kry en aan my vriende verskaf of verkoop. Ek het besef jy kan geld maak deur dit te versprei, maar meer belangrik, ek het respek begin kry van die mense om my. Ek het dit aan my portuurgroep verkoop sowel as ouer leerders van die skool. In my oë was ek The Man.

Ek het talle kere op die rand van skorsing gestaan. Tydens my eerste sokkie in graad agt vang die hoof my uitgepass met my kop in ’n sak waarin my bensien uitgeloop het. Ons het bensien en verfverdunners gesnuif, want dit was ’n mal manier om hoog te raak. Daar was baie kinders wat bensien of verdunners gesnuif het. Dit was redelik algemeen en baie maklik. Die hoof was natuurlik glad nie beïndruk met my gewees nie. Terselfdertyd was Ihan, my beste vriend wat in die Engelse buurskool was, ook deur die onderwysers gevang. Ons ouers is ingelig en weer eens was daar moles. Nietemin, ná die eerste oueraand wat my ma bygewoon het, was die terugvoer oor my so swak dat sy nooit weer haar voete by die skool gesit het nie. Ek blameer haar ook nie. Ek dink dit was net te vernederend vir haar. Later was sy meer betrokke by my sussie en haar aktiwiteite, want my sussie was soos ’n engel. Onderwysers kon glad nie die kloutjie by die oor kry waarom ons so verskillend was nie; sy soos iets vanuit die hemel en ek so stout en rebels.

Vanweë my impulsiwiteit en onvermoë om aandag te gee, tipies van akute AGHS, was elke dag ’n gesukkel. My gedagtes was oral, en ek kon niks opbouends deurvoer nie. Die drank en al die ander gemors wat ek gebruik het, het dit nie makliker gemaak nie. My ouers het nie geweet wat aangaan nie. Destyds was mense nog nie so bewus van die simptome van dwelmmisbruik nie en het ook nie veel geweet van geestesgesondheidstoestande nie. Daar was nie gepraat oor goed soos depressie of bipolariteit nie, want mense het gedink dis twak. Die dominee van ons gemeente het my ’n paar keer kom sien en gebid dat die Satan my moet verlaat, en ja, jy het reg geraai, dit het nie gewerk nie.

Hykie Berg

Подняться наверх