Читать книгу Die verlore seun vannie Gaatjie - Ivor Swartz - Страница 11
MA LETTIE
ОглавлениеDié is met liefde vir mamma, al sy het ons verlaat. Ons verlange is so sterk, ons is nog lief vir haar. Die dag by haar graf sal ek nooit vergeet nie. Elke dag sonder haar is so leeg, niemand kan dit vul nie
– Onbekend.
My ma se naam was Lettie, en met haar blanke vel en dun hare het sy dikwels grappenderwys gespog oor die “wit bloed” in haar are. Vrou-alleen, sonder kla of om te dink aan tou opgooi of om weg te gaan en net nooit terug te kom nie, het sy ons ná my pa se dood grootgemaak. En al sukkel ek om meer van my kinderdae se herinnerings na vore te roep, is daar geen twyfel by my dat my ma vir haar kinders geleef het nie. Ek wens nou meer as ooit daar was tyd vir ons om ook vir haar te kon leef.
Ma Lettie het in die wasgoedafdeling van Huis Silwerjare gewerk, die bruin ouetehuis op die dorp. Baie aande het sy met ’n halwe ongesnyde brood of ’n halwe sak muffinkrummels of oorskiet-sagopoeding van die werk af gekom. Maar honger sou ons nie gaan slaap nie.
Sy’t vetkoekbak soos ’n kuns laat lyk, en dan magic gemaak deur net ’n blikkie sardientjies in peri-peri-sous warm te maak en ons soos konings te laat eet. Dis dalk hoekom ek God makliker as ’n moeder kan sien as God as ’n vader. Ek ken nie vaders wat so verbeeldingryk kan wees om so min tot genoeg – en selfs meer as genoeg – te laat rek nie. Om iets uit niks uit te skep, kos beslis bonatuurlike moederlike vernuf. Warm melk en suiker by muffinkrummels kan jou laat voel daar is min dinge verkeerd in die wêreld. Ek glo nou nog wat sy my geleer het oor kos: Wat jy eet, is nie so belangrik as saam met wie jy dit eet nie. Dis hoekom ek so lief is daarvoor om saam met mense te eet, om uit te gaan, om mense oor te nooi, om myself oor te nooi. Daar is ’n vreugde in saameet wat die beste restaurante nie op ’n spyskaart kan sit en verkoop nie.
Ek onthou een middag toe ek en Peter ná skool by die huis gekom het en daar was niks om te eet nie, net ’n stuk gevriesde ou brood. Daai soort brood wat al grasgroen gemuf sou gewees het as dit buite die vrieskas was. Ons het die stuk brood net so gevries in ou vet gedoop en aan al sy kante gebraai in ’n pan. Die onbeskryflike vreugde van twee broers wat om ’n gebraaide brood sit, al was dit nog halfgevries aan die binnekant, het my nog nooit verlaat nie.
Dis hoe Ma Lettie ons grootgemaak het. Om nie toe te laat dat armoede ons vreugde steel nie. Dit het nooit haar vreugde gesteel nie, al het armoede haar tot in die graf gevolg. Haar rykdom het sy gemeet aan haar liefde vir haar kinders, en daarvan was daar skatkiste vol.
My ma het net een goeie vriendin gehad. En ’n geheime minnaar waarvan almal in die Gaatjie eintlik geweet het, al het hulle baie hard probeer om die verhouding stil te hou. Sy het ’n liefde gehad vir die luuksheid van whiskey en vir Percy Sledge en Elvis Presley se musiek. Ma Lettie was grênd, al het sy min gehad. Sy’t darem ’n ou platespeler gehad en ’n klomp vinyl records wat sy met haar lewe bewaar het. Haar armoede het nie haar liefde vir goeie produkte of hoë kwaliteit bepaal nie. Net omdat sy iets nie kon bekostig het nie, het dit nie haar liefde vir die mooie of die luukse ongeldig gemaak nie.
Dis hierdie soort lesse wat ma Lettie ons geleer het, en ek glo dis wat my so aanpasbaar en veerkragtig gemaak het te midde van gevaar, depressie, woede en hooploosheid. Dis oor dié soort lesse dat ek innig dankbaar is, meer as enigiets anders wat sy ons gegee het of wou gee.
In haar armoede het ma Lettie haar ook ontferm oor Robbie, ’n kind wie se ouers niks met hom te doen wou gehad het nie. Ma Lettie het hom aangeneem en hy het amptelik deel van ons familie geword. Baie ouers dink hulle moet hul kinders alle aardse besittings gee wat hulle self dalk nooit gehad het nie. Maar nét liefde – met of sonder besittings, met oorvloed of met min kos op die tafel – sal altyd genoeg wees. Dit was genoeg vir my.
Maar so vol liefde soos ma Lettie ook al was, het sy geen nonsens van iemand gevat nie, veral nie van haar kinders nie. As sy gesê het tienuur in die aand word die deure gesluit, kan jy maar vergeet van huis toe kom as ’n fliek by die bure te laat geëindig het. Jy slaap buite of jy gaan terug na waar jy vandaan gekom het. Dit vat baie van ’n ma om ’n pa ook te wees. Speeltyd was min en werktyd het nie ’n einde gehad nie. Water gaan haal, huis skoonmaak, skottelgoed was, brood gaan koop – elkeen moes sy of haar deel bydra. Veral in dié weke wanneer ma Lettie sewe dae per week voldag gewerk het.
Tog het sy die balans tussen tawwe liefde se dissipline en ’n moederhen se beskerming redelik goed hanteer. So het my ma my eendag bloedneus geklap met een oophandskoot toe Bakkies, die Gaatjie se grootste tienerskollie in daai tyd, gemik het om haar met ’n klip te gooi en ek dadelik ook een wou optel om hom mee te gooi. Voor ’n hele klomp mense in die straat het sy my die les geleer dat dit beter is om vír mense te baklei en nie téén hulle nie. Ek sou jare later eers daardie les ernstig opneem. Daai dag het meer soos vernedering gevoel as ’n les vir die toekoms.
Respek vir ander was vir ma Lettie ’n groot waarde. Armoede kies jy nie altyd nie, maar respek en dissipline kan jy elke dag kies. Jy kan kies hoe jy ander mense behandel. En waar jy bly, mag nooit bepaal hoe mense jou hanteer of met jou praat nie. Ook mag jy nie mense oordeel op grond van waar hulle bly nie.
Die jaar toe ons laerskool, Pineview Primêr, vir die eerste keer ’n kans gekry het om leerders vir rekenaarvaardigheidsopleiding te stuur, kan ek nog soos gister onthou. Dit was 1997 en rekenaars was skaarser as aanwesige pa’s. Min van ons het al aan ’n rekenaar gevat, wat nog te sê op een gewerk. En nou was daar ’n kans dat ’n groep kinders gekies sou word om aan die skool se eerste rekenaarkursus deel te neem.
Die kinders was veronderstel om op meriete gekies te word. Kandidate moes aan sekere standaarde en kriteria voldoen. Ek het al die akademiese boksies getick gehad. Ek was een van die sterkste akademiese leerlinge in die skool. Ek móés net gekies word. Ek het dit verdien. Maar ek is nie gekies nie. En ek kon dit nie verstaan nie. Wat ook al die redes was, ek was nié gelukkig daarmee nie. Ek het ook geweet ek het nie ’n voet gehad om op te staan nie. Ek was nie ’n kind uit een van die welaf woongebiede nie. Ek sou nie vir myself kon veg nie. Boonop het die geringste vorm van verwerping my altyd lelik laat terugdeins. Maar nie vir ma Lettie nie. Sy het altyd vreesloos voor enige vorm van verwerping gaan staan.
In trane het ek daai middag by die huis aangekom. Ek was nog nooit so bewus van my Gaatjie-status soos daardie dag nie. “Dis omdat ek vannie Gaatjie af is,” het ek deur my trane vir Ma gesê. Ek was oortuig daarvan. Hoe kan ’n Gaatjie-kind dan nou van rekenaars leer? Hulle verlaat in elk geval die skool vroeg, gaan werk op die appelplase, of gaan tronk toe voor hulle skool kan klaarmaak. Dis die etikette wat om die mense van die Gaatjie gehang word. Altans, dis wat ek geglo het.
Wanneer jy jou hele lewe lank nog net swaarkry geken het, is dit maklik om alles wat jy nié kry nie, of waarvan jy nié deel kan word nie, aan jou swaarkry toe te skryf. Maar dis juis dan dat die entitlement jou vinnig beetkry. Hierdie keer was egter anders. Alles wat ek was en hoe ek presteer het, het gewys ek verdien hierdie break. My kaartjie tot ’n stukkie voorreg. Ek moes dit eenvoudig kry, maak nie saak wie of wat teen my was nie.
Dit het ma Lettie nie ’n halfuur gekos om die rots en vuur in haar binneste te laat uitkom nie. Sy’t nie nog gewag vir die volgende dag om haar kind te laat kry wat hy verdien nie. Dit was ’n nou-of-nooit-saak. Dit wat sy nie vir haarself kon gee nie, daarvoor het sy baklei om vir haar kinders te kon gee, veral as dit by onderrig gekom het. Sy’t vir haar ’n Rothmans-sigaret aangesteek en haar vrou gaan staan teen die vooroordeel teenoor haar seun. Ek is toe by die program ingesluit, en ek het ’n stuk selfvertroue gekry wat skrik vir niks, omdat ma Lettie vir niks geskrik het nie.
Ma Lettie is een wintersoggend amper verkrag terwyl sy op pad was werk toe. Sy wou nie die ekstra uitgawe aangaan deur gebruik te maak van die vervoer wat haar werk verskaf het nie. Sy sou dan met baie minder geld per maand moes klaarkom. Dié Saterdagoggend het sy, soos al die ander dae, vroeg die huis verlaat om sewe-uur by die werk te wees, kopdoek, groen pakkie en handsak onder die arm. Skaars vyftien minute later het sy uitasem teen die deur gekap en geskree. Terwyl sy bloed en trane van haar gesig afgevee het, het sy vertel wat gebeur het. Hoe die man haar bestorm het en haar in die bos wou insleep, maar hoe sy hom afbaklei het en huis toe kon hardloop.
Deon het dadelik opgespring, sy lang byl gegryp en die donker oggend in gejaag op soek na die lafaard. Selfs soos ek hier sit en dié oggend se gebeure deur my kop laat hardloop, gee dit my koue rillings. Ek kan my nie indink hoe ’n vrou deur so ’n ervaring aanhou leef en die lewe weer aanpak nie. My hart breek vir elke vrou wat hierdie soort trauma moes beleef.
As jong laaitie het ek nie geweet wat trauma is nie, en dat ma Lettie eintlik vir berading moes gegaan het nie. Maar sy het net die dag afgevat en was die volgende dag terug op haar pos by die werk, al was haar nek seer, haar oog blou en haar gesig vol skrape. Die opoffering vir haar kinders het haar die krag gegee om deur te druk.
Dit het ’n baie lang pad gekos om my die vrugte van my ma se opofferings te laat sien. Maar ma Lettie bly een van die groot redes hoekom ek ’n verskil wil maak in mense se lewe, hoekom ek wil teruggee, hoekom ek wil baklei vír mense, hoekom ek glo niemand se agterstand in die lewe kan so erg wees dat hulle nie kan opstaan, dalk ’n Rothmans-sigaret aansteek en vreesloos vorentoe stap nie.