Читать книгу Die verlore seun vannie Gaatjie - Ivor Swartz - Страница 12

BOSSTRAAT 197 SE MONSTER

Оглавление

He who makes a beast of himself gets rid of the pain of being a man

– Samuel Johnson.

Just because you’re a man, it doesn’t mean you have to become a monster

– die karakter Emily Dickenson in die TV-reeks Dickenson.

Ma Lettie was amper net so bang vir Deon soos die res van ons. Want Deon het altyd ’n punt daarvan gemaak om elke plesierige geleentheid te gebruik om ons te herinner dat die toorn van God in sy hande gelaat is, en hy vat sy verantwoordelikhede ernstig op. Hy’t gevoel hy moet ons die hel gee wat ons so begeer om in die hiernamaals te ontsnap. Hy het dit gereeld en met genot gedoen. Dit was sy idee van sy manlikheid aan ons bewys; sy manier van Pieter-Bingo se skoene vol staan.

Deon was 17 toe Bingo dood is, en dalk het hy sy bes probeer om my en Peter in sy voetspore te laat loop. Om ook ons pyn as die middel tot manlikheid te gebruik. Dalk was pyn al wat hy geken het. Dalk het hy – nes ek later – ook baie vrae gehad oor Bingo se dood, en niemand kon hom voorsien van bevredigende antwoorde nie. Deon het te vroeg ’n verlore seun geword, sonder dat daar vir hom die opsie gegee is om te kies of hy wou wegloop en verlore raak. Dis hoe ek soms sy dade in my kop probeer regverdig. Dat hy ook seer gehad het, en dit as brandstof gebruik het om ander seer te maak. Soos ons almal weet: seer mense maak ander seer, veral wanneer hulle nie weet wat om met hul seer te maak nie.

Ek was omtrent tien jaar oud toe ek in die veld deur ’n by gesteek is. Ek het die regte ding gedoen en huis toe te hardloop, want Deon was daar. Hy sou weet wat om te doen. Hy sou die regte salf kon aansmeer. Die teenoorgestelde het gebeur. Hy het my vieslik aangerand met ’n besemstok. Eerstens omdat ek in die veld gaan speel het sonder sy toestemming, en tweedens omdat ek toegelaat het dat ’n by my steek.

Tydens een Kersete, terwyl ons almal gesit en kuier het en gesellig was, het Deon en sy vrou aan die stry geraak oor iets. Sy was ’n klein, saggeaarde mens wat jy maklik kon oorreed of om jou pinkie kon draai. Deon het nooit nodig gehad om haar met geweld te dreig nie. Maar tog het hy. Dis al wat hy geken het. Sy wou liefde en veiligheid hê. Hy wou respek en mag hê. Twee wêrelde wat nooit met mekaar moes getrou het nie. Hulle het later geskei, seker oor sy nie meer onder Deon se gesag kon leef nie. Hulle het ’n tweeling gehad, wat by ons in die huis grootgeword het en soos ’n boetie en sussie vir ons was. Selfs hulle het baiekeer deurgeloop.

Die kans dat daar nié ’n bakleiery sou uitbreek wanneer Deon naby was nie, was baie skraal. En nie eens hierdie Kersfees was ’n uitsondering nie. ’n Mens sou dink Jesus se geboortedag sou ’n bietjie vrede bring. Maar, nee, Deon moes eenvoudig met sy vrou baklei en haar die lelikste goed toesnou, en almal moes net maak of dit nie hul besigheid is nie en nie inmeng nie. Ons almal was in elk geval te bang om in te meng, netnou draai hy sy woede in ons rigting. Suutjies trap was maar die ding.

Die volgende oomblik, met die kinders se gelag naby en glasies wat klink, byt hy ’n stuk van sy vrou se oor morsaf. Dit lê net daar op die grond, leweloos, vuil en rooi soos rou vleis. Al wat ek kan onthou, is hoe sy vrou geskree het, die gevloek van die ander volwassenes, en Deon wat gelyk het of hy aan niks skuldig was nie. Hy het dit laat lyk asof sy verdien het wat na haar toe gekom het. Dat haar optrede ’n tikkende tydbom was.

Dit was maar altyd iemand anders se skuld. Hulle het nie gedoen wat hy vra nie; hulle het nie reg geluister nie; hulle het nie genoeg geld of kos gegee nie.

Ek wonder baie hoe hy homself elke dag in die oë kon kyk. Het die vinger nooit teruggewys na hom toe nie? Of was hy so totaal en al oorgegee en verbind aan sy ego, sy hongerte na beheer oor ander? Wat sou spieëltjie-spieëltjie speel oor hom sê? Natuurlik is jy die beste in die land, Deon! Dis hoekom almal in die huis buig voor jou, Deon!

Die kastige verlore seun was toe die hele tyd die wolf met die skaapklere aan. Hy’t ons almal geflous. ’n Mens kan ook maar net so lank ’n masker dra voordat jou ware kleure wys. Dit het hom gewoonlik net ’n paar glasies bier of een Mandrax-pyp gekos om sy masker af te haal. Dan weet niemand waar hulle met hom staan nie. Hardloop jy weg en kom later terug, of bly jy staan en vat dit soos ’n man? Selfs wanneer hy jou warm en glimlaggend nadergetrek het, was jy onseker of jy ’n drukkie gaan kry, of ’n klap deur die gesig. Dit was maar ’n waagstuk met hoë risiko’s. En maak nie saak hoe die dobbelsteen val nie, jy verloor altyd. Jy kom altyd tweede.

Deon het lang, dun, gespierde arms gehad, waarop die are uitgebult het, nes die wortels van ’n akkerboom met te veel jare se stories. Jy kon nie maklik uit hul greep losbreek nie. Sy hande was groot, vol krake, en hy hoef ’n lyfband net een keer daarom te gedraai het om dit stewig en lojaal te laat sit, gereed vir aksie. Van alles wat hy met al daai liggaamskrag kon doen, het hy gekies om ander te onderdruk.

Die groeiende haat in my wou dikwels nie meer onderdruk of verder verneder word nie. Die haat wou sy man staan. Sou daar ’n kans kom om weg te loop van die huis af? Is dit die moeite werd? En waarheen? En wat van skool, van dokter word, van ma Lettie en van Peter? Ek wou dan juis ’n dokter word vir húlle, nie vir my nie. En nou wou ek wegloop. Die idee van wegloop het vir my net so lafhartig gevoel soos om te bly.

Wanneer die monster gerook en kwaad by die huis aangekom het, het hy ons om die een of ander rede herinner dat ons in sý pa se huis bly. Ons het dieselfde ouers gehad. Donker pa, spierwit ma. Ek het later besef hoe belangrik gesag en stempel afdruk vir baie mans is. Dat die respek wat hul ego’s hulle oortuig hulle verdien, afgedwing moet word op dié wat die naaste aan hulle is, dié in hul eie huis. Maar boelietaktieke het nog nooit ware respek of liefde bewerkstellig nie. Dit lei net tot respek en liefde uit vrees. En liefde uit vrees is nie volhoubaar nie. Jy doen dit omdat jy nie ’n keuse het nie. En Deon het elke beweging van jou gemeet aan waar jy hom daarmee op die respek-skaal sou sit.

Dalk het hy by ons pa die narratief gekry dat hy die man van die huis moes wees wanneer ou Pieter-Bingo die dag nie meer daar was nie; dalk was dit net sy ego. Wie sal weet. Hy het elke slag volgehou dat die huis aan hom behoort, dat hy na die huis moet kyk, al het hy nooit eens ’n sent vir kos of elektrisiteit bygedra nie. Maar enigeen wat in sy pad sou staan of van hom sou probeer verskil hieroor – selfs ons ma – sou die volle gloed van sy toorn beleef. Jy hoort dan nié in sy huis nie. Sulke verset is nie geduld nie.

Deon sou sommer elke liewe venster in die huis stukkend slaan om ons te straf. So asof ’n see van gebreekte glas en swart plastiek ons ’n les sou leer. Ma Lettie het dan maar die polisie gebel. En Deon sou hom skaars maak vir ’n paar dae totdat die stof gaan lê, en ons dalk van alles kon probeer vergeet. Dan sou hy terugkeer asof niks gebeur het nie. Ons sou sy wasgoed was, vir hom kos gee, hom weer met ware liefde en respek probeer hanteer, totdat die kringloop hom weer die volgende naweek herhaal.

Terwyl ek hier skryf, kom sit daar weer ’n bitter knop in my keel, maar darem nie ’n traan in my oog nie. Ek dink ek sukkel steeds om te verstaan, en dit maak my kwaad. Want hy’s dood. Ek is redelik gesond, en het myle gegroei.

Trauma het seker maar ’n manier om ons altyd onkant te vang en die goed te ontbloot waarmee ons nog nie heeltemal vrede gemaak het nie. Dis al amper twee dekades sedert Deon se dood, en die kwaad kom nog baie vinnig in my op.

Gelukkig weet ek goed dat die pad na volkome vergifnis ’n grondpad is waaroor jy baie stadig moet ry anders doen jy meer skade aan jou eie menswees. Die fyn stukkies glas in my voete daardie tyd, die toegeplakte swart vensters, dit was ’n groot motivering vir my om my weg te baan en my wegbreek van die familie te regverdig. Om weg te breek van die bekendheid en die vreemdheid van my familie, die betekenis sowel as die ongenooide lyding waarmee dit gepaardgegaan het.

Dié tye wanneer sy ego hopeloos te groot was vir ons eenslaapkamerhuis, het Deon dit goedgedink om ons ’n paar dae uit die huis te jaag sodat hy en sy vriende, en ’n klomp vreemde vroue, daar kon partytjie hou. Ons moes dan by bure gaan slaap totdat dinge bedaar het. Dít was vir my van die seerste oomblikke, want ek sou nou en dan by die huis insluip as hulle so dronk daar lê. Dan sou ek die bietjies drank wat nog in die bottels oorgebly het in een glas gegooi en dit probeer afsluk soos ’n grootmens. Het ek daai tyd al geweet dat drank afsluk vir baie mense ’n manier is om hul probleme te verdryf? Ek het altyd gewonder of die halfkaal slapende vroue dalk droom oor wie hulle oorspronklik gemaak is om te wees. Wie is ek oorspronklik gemaak om te wees? het ek dan gewonder.

Dan was daar ook kere toe Deon ou motorbande aan die brand gesteek en dit in die huis gegooi het om die huis te probeer afbrand. Ons moes dan rondskarrel om dit uit die huis te kry en alles te blus.

Die polisie het eenkeer vir Deon by die huis kom arresteer. Hy was dronk en het alles probeer doen om te keer dat hulle hom vat. Hy gryp daardie dag toe sy seuntjie en klou met alle geweld aan sy dun armpies vas terwyl die polisie sukkel om die kind uit sy greep los te ruk.

Ek het niks anders geken nie, maar ek het ook geweet waardeur ons gaan, is nie normaal nie. Ek het geweet ons leef in ’n gebroke wêreld, maar dat niemand onveilig hoef te voel in die huis waarin hulle grootgemaak is nie.

Ek het ook gehoor dat God ’n hart vir families het, maar dit was duidelik nie ’n hart vir alle families nie, en sekerlik nie óns familie nie. Hoe kan jy God sien as jy glassplinters uit jou voete probeer haal, of as jy al wéér skuiling soek by die bure? Watse God kan nie na kinders kyk nie? Of is God nét ’n grootmens-God?

Ek het God toe nie geken nie, maar ek weet nou sy hart het saam met ons harte gebreek oor die gebrokenheid van ons samelewing, van ons familie, van waarheen ons paadjies op pad was. Ek weet nou hoe vol liefde sy hart vir my, vir Peter én vir Deon was, en is.

Maar ek kon nie wag totdat God eendag sy liefde, of sy plan – die storie agter die storie – aan ons sou bekendmaak nie. Dis nou, ás daar ’n God was. God, nes my drome, het ál meer onbereikbaar begin lyk en voel en stadig verdwyn namate my oë begin oopgaan het. Tog het iets in my steeds vasgehou en geglo daar moet méér wees, béter wees. Ek wou gaan uitvind hoe daai meer en beter kon lyk, maak nie saak teen watter prys of met watter risiko’s nie. Ek was ’n kind. Maar ek was nie dom nie.

Peter het voor my die pad begin byster raak. ’n Mens sou dink dat ons in trappe van vergelyking sou werk. Eers Deon, dan ek, en dan Peter. Maar chaos het nie tyd om te wag vir wie volgende in lyn is nie. Dit vra net wie gewillig is. En Peter was reg, gewillig en heeltemal vatbaar.

Hy steel toe een oggend vroeg geld van ons arme moeder. Sy het gewoonlik aan die einde van die maand al haar geld uit haar rekening getrek en dit dan op verskillende plekke in die huis weggesteek – in ou jasse, onderklere, skoene of daai ou koekblikke met die klomp naaldwerkgoed in. Ek hoor dis ’n oumensding, dié om nie banke met hul geld te vertrou nie.

Hulle sou daardie dag hof toe gaan vir Peter se eerste amptelike kriminele hofsaak. Hy het by ons laerskool ingebreek. Die meeste van ons in die Gaatjie het dit al gedoen. Peter was net hierdie keer een van die unlucky ones wat gevang is. Hy is toe “gelukkig” net verbeteringskool toe “gevonnis”, maar dit was Peter se deur na ’n lewelose doolhof van hof-in en hof-uit, verbeteringskool, tatoes, dagga, Mandrax, groter misdade, nog hofsake en, uiteindelik, tronkstraf.

Die verlore seun vannie Gaatjie

Подняться наверх