Читать книгу Die verlore seun vannie Gaatjie - Ivor Swartz - Страница 8

GRABOUW

Оглавление

Elke merk op my lyf het ’n naam en ’n plek. Die meeste van hulle is familie, en kom van dieselfde plek af

– Ivor Swartz.

Ek is gebore en getoë op Grabouw in die Wes-Kaap. Nie die prentjiemooi Elgin-gedeelte nie, maar die stowwerige rooigrondstrate van die Gaatjie – die noemnaam van die gebied waar ek grootgeword het. Dit staan steeds as die Gaatjie bekend. Die Gaatjie met die baie rondloperhonde en die min teenwoordige pa’s. Die meeste se pa’s het “gaan brood koop”. Woorde wat jy gereeld as ’n grap op straat sal hoor. Dis my mense se manier om te sê sekere pa’s maak net kinders en vat dan die pad. Ander sal sê hy’t gaan seep of piesangs koop. Dis nogal snaaks om te sien hoe die mans gestuur word om die bare minimum te gaan koop, en sommer besluit om nooit weer terug te kom nie. Dis nie asof hulle die wêreld moet gaan oorwin nie. Gaan koop net seep, of piesangs, of brood – dis al. En nie eens dit kan hulle reg doen nie. Ek het later ook een van hulle geword – maar nie een gebly nie.

Grabouw staan eintlik bekend as die appelkoninkryk van Suid-Afrika. Ek is nie seker of ek dié titel self opgemaak het of wat nie. Hoe ook al dit sy, as jy nie op ’n plaas bly of werk nie, sien jy ook maar net soveel appels soos die gemiddelde vakansieganger wat by Peregrine-padstal stop op pad na hul huisies by die see. Kyk, jy moet weet, as die strate van jou grootwordjare “die Gaatjie” genoem word, klink dit reeds of daar min hoop vir jou is, asof die lewe en die toekoms klaar besluit het jy word gediskwalifiseer in die reis na geluk.

Die naam klink sommer so of jy nie maklik daar gaan uitkom nie. Dit sou makliker wees vir ’n ryk man om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n laaitie om die Gaatjie te verlaat. Jy’s gemaak en laat staan. Jy vat wat jy kry, en jy kla nie daaroor nie, en vra nie te veel vrae nie.

Daar was seker baie kinders van my tyd wat bo hulle Gaatjie-omstandighede uitgestyg het. Ek kan nie veel van hulle onthou nie. Ek het wel met groot verwondering opgekyk na elke kind van die Gaatjie wat ek persoonlik geken het, wat dit gemaak het om te kan gaan studeer, wat die siklus kon breek en hul stories kon verander.

Hulle was heroes vir my: Chantal, Trish, Bianca, en nog ’n paar ander. Doodgewone mense van omtrent my ouderdom, na wie ek opgekyk het. Wat my laat glo het ’n Gaatjie-kind het tog ’n plek, ’n stem in die wêreld. Ek het vasgehou aan hul stories vir my eie storie se oorlewing. Dit het gevoel of daar tog ’n moontlikheid is om uit die gemaak-en-laat-staan weg te breek.

Daar was nie veel om aan vas te hou nie – nie in my huis nie en nie op die straat nie. Dit breek ook my hart as ek terugkyk na hoeveel potensiaal daar in die Gaatjie was wat verlore gegaan het, wat steeds verlore gaan. Jonk en oud, met drome en ideale, wat die leuen glo dat daar nie hoop, werk of redding vir hulle is nie. Dit vul my wel met die grootste klomp hoop dat al was ek een van laasgenoemdes, ek meer as twee hande vol genade-kanse gegee is om die storie te herskryf. Dit beteken daar is hoop vir vele ander wat ook in hul Gaatjie-omstandighede vasgevang sit en die begeerte het om hul stories te herskryf.

Dit het soms gevoel of Jesus self ook maar die Gaatjie ’n paar keer verbygesteek het. As dit nie was vir die tentpredikers wat Sondagaande opelugdienste gehou het nie, sou Jesus seker nooit daar ingeloer het nie. En het hulle nou met vuur gepreek oor Jesus se ongelukkigheid met die mense!

Een aand, terwyl die pastoor so preek, sit ’n dronk man sy meisie agterna met ’n tuingraaf in die hand. As selfs die tentdienste so rof kon raak, hoe kon ons Jesus kwalik neem as Hy verby die Gaatjie loop? Hy is mos ’n ou wat parking spots by die mall gee, of wat ’n wakende oog hou oor die voordeure in die suburbs. Tussen dié twee wêrelde is daar maar min tyd om by die huise in die Gaatjie uit te kom, of om te lank in die tentdienste te sit. Wanneer moet ’n ou dan rus, jy weet! Daar was mooier huise in die onderdorp, en skoner kerkmense in Pineview-Noord. Die Gaatjie was soos ’n Nasaret van ouds – min mense sou glo dat enigiets goeds uit die Gaatjie kon kom.

Die verlore seun vannie Gaatjie

Подняться наверх