Читать книгу Die verlore seun vannie Gaatjie - Ivor Swartz - Страница 9
BOSSTRAAT 197
Оглавление“Jy speel seker. Kan daar uit Nasaret enigiets kom wat die moeite werd is?” was Natanael se reaksie. “Kom kyk self,” het Filippus egter volgehou
– Johannes 1:46 (Die Boodskap).
In Bosstraat 197, Pineview, is ek gemaak en laat staan, en oorgelaat aan ’n lot wat enige duiwel ’n run vir sy money sou gee. Jy’t ’n PhD plus 15 jaar se ondervinding in survival nodig om by hom kers op te steek. Dis ’n huis wat se fondasie nie die gewig van al sy stories kon dra nie.
Ons het in die middelste huis van drie gebly – ’n skakelhuis-eenheid reg langs die bruin hoërskool, Groenberg Sekondêr. Net die skool se vibracrete-muur het ons van mekaar geskei. Al drie families in ons eenheid van huise het weduwees as hoofde van die huis gehad. Antie Nettie aan ons regterkant en antie Meisie aan ons linkerkant. Saam met my ma het hulle gereeld gekuier en by mekaar gekla.
Die huise was daai soort waar jy alles kon hoor wat by die bure aangaan as jy jou oor teen die muur sit met ’n koppie of ’n glas. So dun was die mure. Ek het baiekeer myself verbeel ek hoor hoe die bure aangaan oor watter slim kind ek is en dat ek dit nog eendag groot gaan maak. Ek verbeel my steeds dat mense dit van my sê in my afwesigheid – al het ek “groot gaan maak” se definisie al ’n paar keer verander.
Maar dis waar ek grootgemaak en gevorm is. Dis waar ek hardop gedroom het, en saggies gehuil het, en bang was vir God. Dis waar ek gewys is hoe liefde nié moet lyk nie. Dis waar ek gehoor het God tug dié wat Hy liefhet, en waar ek een aand op die agterstoep gesit en huil het terwyl die reuk van vars dagga in die lug hang, en ek vir God gevra het om ons nie meer lief te hê nie, want sy tug los merke.
Al is ek die tweede jongste van ses kinders, het Bosstraat 197 meestal gedraai om die stories van die drie jongstes – almal seuns. Deon, die oudste, en Peter, die jongste. Ek en Peter was baie laatlammertjies, soos ’n mens sou sê. Almal ken vir Peter as Pikes, of “Korrupt” – vanweë die tatoe in sy nek. Ons almal het vir Deon “Boet” geroep. Ek wil glo ons het hom so geroep omdat ons respek vir hom gehad het, of omdat hy ’n rolmodel vir ons was. Maar dit sou ’n leuen wees.
Ek kan wel goed onthou hoe ouer ek geword het, hoe meer het ek “Boet” uit my woordeskat gehaal wanneer ek na hom verwys het. Want hy was die monster aan my tafel. Hy was die nagmerrie wat ek gesukkel het om af te skud, wat ek by tye steeds sukkel om af te skud. Ek het so lank doelbewus geweier om sy naam te gebruik as ek van hom praat. Hy was altyd maar net “die monster van die blou huis”.