Читать книгу Die verlore seun vannie Gaatjie - Ivor Swartz - Страница 5

PROLOOG

Оглавление

ek is die oudste broer,

en was ook al die jongste een;

fees gevier al saam met boemelaars,

en verbitterd gestaan al oor ander se seën!

ja, soms verlore maar steeds hoopvol,

diep dankbaar vir genade;

in die verte soos ek aankom,

blink die blye trane van my Vader!

Die gelykenis wat Jesus in Lukas 15 vertel, die een van die verlore seun, was nog altyd vir my ’n fassinerende, ’n na-aan-die-hart- en ’n too-close-to-home-storie. Selfs in my dae voor ek ’n Jesus-volgeling was, het hierdie storie my aangegryp op ’n manier wat min ander stories kon regkry. Ek het myself daarin gesien nog lank voordat ek geweet het ek is regtig daarin. Ek lees dit steeds oor en oor. Dis soos my go-to-storie om te lees.

’n Vriend vra my eenkeer hoekom ek so lief is vir dié storie. Hy het my dit al te veel keer hoor vertel, en elke keer met dieselfde passie, sê hy. Ek kon hom nie dadelik antwoord nie – behalwe die voor die hand liggende sêgoedjies soos dat dit in die Bybel is, dat dit God se onmeetbare liefde vir ons weerspieël, en so meer. Ek het later myself afgevra hoekom ek so aanklank vind by dié storie. Hoekom was hierdie storie so na aan my hart nog voordat ek tot geloof gekom het? En hoekom hou ek daaraan vas as een van die mooiste, aangrypendste, lewensveranderendste stories oor die goeie nuus van Jesus?

Wel, hierdie boek gaan oor die kom-en-gaan, die soek-en-vind van ’n verlore seun en sy verlore broers, en die moeder wat tot op haar sterfbed gewag het vir hulle om terug te keer huis toe. Dis my persoonlike verlore-seun-verhaal. Dis my jare lange reis van die verlore jongste broer én die verlore oudste broer wees, van die huis wat ek nooit gehad het om na toe terug te keer nie, van die pa wat ek nooit geken het nie, en van die bitterheid wat langer in my rondgespoel het as wat nodig was.

Ek is lief vir die storie van die verlore seun, nie net omdat ek lank ook verlore was nie, maar meer omdat ek gevind is toe ek dit die minste verwag het; omdat God my gesoek het meer as wat ek Hom gesoek het. Hy het nie opgehou om agter my aan te kom nie. Hy het aanhoudend maniere gekry om my te herinner dat ek meer werd is as waarmee ek besig was. Hy het my gewys dat dit waarna ek eintlik soek en smag, by Hom, in sy huis, te vind is: liefde, aanvaarding, vryheid, genesing. En dat daar vir my ’n kamer is, met warm komberse en my gunsteling-kunswerke teen die muur.

Ek ken baie verlore seuns wat verlore pa’s geword het, en wat dan weer verlore kinders grootmaak, en so gaan die kringloop aan. Dis ’n kringloop wat te veel kinders beroof van die voorreg om God as hul liefdevolle Vader te sien en te ken. God was, en is, vir my so genadig en so goed tydens al my kronkelpaaie en bospaaie dat ek nooit te ver verdwaal het vir Hom om my te vind nie. Trouens, nêrens kan ons vir God wegkruip nie. Hy het my deur al die vrae en worsteling gelei tot by sy huis, my aan sy tafel laat sit, vir my broers en susters en familie gegee, meer as wat ek ooit kon droom.

Ek is dankbaar.

Ek is vol hoop.

Ek is gevind.

Die verlore seun vannie Gaatjie

Подняться наверх