Читать книгу Die verlore seun vannie Gaatjie - Ivor Swartz - Страница 6
INLEIDING
ОглавлениеDie verlore klong van die Gaatjie is nou ’n man wat ’n tuiste gevind het. Wat in liefde leef, en vanuit liefde beweeg. Hy kruip nie meer weg nie. Hy staan sterk en hy staan vas, al is hy soms bang en al bewe sy broek. Hy het vrede gemaak met wat was, en kyk met dankbaarheid na wat voorlê. Hy help ook nou ander om sin te maak uit hul Gaatjie-ervarings, om hul pad terug huis toe te vind, na waar Liefde vir hulle wag.
Nou nooi hy jou uit om saam met hom te reis deur sy storie sodat jy ook gevind kan word; sodat jy ook jou bitterheid buite by die hekkie kan los wanneer die Vader jou nooi vir ’n feesmaal aan sy tafel. As jy reeds gevind is, moet jy ook met dankbaarheid kan vorentoe kyk en die mense na aan jou met soveel meer genade en liefde waardeer. Ons almal is net een besluit weg van ’n varkhok af – nes die jongste broer in Jesus se storie, en nes ek deur my lewe en in my storie.
Hierdie boek vertel nie alles waardeur ek is of waaraan ek my alles oorgegee het nie. Dis grotendeels die hooftrekke van ’n lewe wat nie so lank moes gehou het nie. Dit sluit ook nie almal in wat deel was – en is – van my verlore-en-gevind-storie nie. Daar is ongelukkig te veel wat ek in my kort leeftyd gesien, beleef, bedink, ontvang en hopelik ook gegee het om alles hier te vertel. Ek het by sekere dele van my storie soms langer as ’n uur net gesit en staar na die flitsende lyn waar ek ’n woord moes insit – bloot omdat ek nie met die gepaste woorde kom opkom om ’n situasie ten volle te beskryf nie, omdat dit te seer was om weer daaraan te dink. Dinge wat ek jare terug uitgeblok het omdat ek nooit weer daaraan herinner wou word nie. Dinge wat ek aan myself en aan ander moes erken.
Ek skryf oor die letsels – dié letterlik op my lyf en dié in my binneste – waar ek in jare nie wou gaan nie. Maar dis waar ek voel dat hierdie hele skryfproses vir my so helend was. Ek het met baie dinge vrede gemaak tydens die proses; ek moes baie dinge herleef, ook die pyn wat daarmee saamgegaan het. Ek moes ’n paar WhatsApp-boodskappe stuur en oproepe maak aan mense wat ek weet ek te na gekom het, of vir wie ek moes vergewe. Omdat ons nie kan oorwinning kry oor goed as ons nie bereid is om dit op die naam te noem nie, as ons dit nie kop-in-die-lug in die gesig kan staar en erken “dis wat met my gebeur het, en dis hoe dit my laat voel het” nie. Maar dis ook soos Glaskas sing in een van hul liedjies: “Ek wens ek kon vir jou wys hoe my werklikheid lyk. Maar ek wonder of jy dit sal verstaan.”