Читать книгу Samba - Jeanne Els - Страница 10

Оглавление

AS JY ’N AAP VIR ’N APPENDIEKS AANSIEN

Is ’n mens oningelig, kan jy omstandighede vir jouself so skeef inprent dat jy angsbevange raak en skoon van jouself ’n bobbejaan maak. Maar dis wanneer jou petaljes boonop jou medemens se tyd en energie tap dat die rooi ligte behoort te flikker: Trap tog net rem en besef jou brein haak vir die oomblik in die verkeerde rat vas. As jy kalm en nugter dink en doen, hoef jy nie onnodig hulp in te roep nie.

So hou jy stil by ’n garage en maak ’n afspraak om jou motor oor ’n paar dae te laat versien. By die besprekingstoonbank parkeer jy op die blink gepoleerde oppervlak, langs die werkwinkel met sy herstelgeruis. Dis ’n geboor en gefluit, ’n gegorrel en gestofsuig. Cecilia, wat pas jou afspraak bevestig het, bied aan om jou na buite uit te beduie, want die spasie is knap met die ry motors om gediens te word wat al hoe langer geraak het.

Jy ry skuins agteruit, trek netjies in tussen die luierende voertuie voor en agter jou. Cecilia wys: Draai skerp regs, hou dan verby. Maar meteens het jou motor nie krag nie. Jy gee petrol … die wiele beweeg nie. Jy dink jy sit die ligte aan … verniet of hulle wil skyn.

“Kry iemand om die kar uit die pad te help stoot voordat die mense hul toeters druk,” soebat jy Cecilia. Intussen het die ry klante by haar toonbank opgehoop. Oomblikke later daag sy en ’n man in ’n pak klere op: die besturende direkteur wie se oog sy vinnig kon vang en oortuig om sy foon neer te sit en te kom hand bysit met die “noodgeval”.

Dan erken jy: “Jammer, mense, tussen die geroesemoes deur het ek nou eers besef ek het met daardie skerp draaitjie die kar laat vrek. Ek moes net weer die sleutel in die aansitgat gedraai het.”

Ander kere is jy doodeenvoudig te lui om jou ondersoekwerk deeglik te doen. Soos wanneer jy by ’n gastehuis in Oudtshoorn ’n kragpunt soek vir jou haardroër en jy loop vra sommer vir die gasheer: “Is daar ’n kragpunt in die kamer?”

“Kom ons loop doen ’n bietjie speurwerk,” sê Monty en stap saam. Hy gooi ’n oog na die plafon. Dan trek hy die stoel by die spieëltafeltjie weg en sê: “Kom ons loer wat kruip dalk hier weg.” En ons albei verklaar tegelykertyd: “Hier’s hy!” Jy, hand op die mond van verstomming dat jy nie gedink het om die stoel te skuif nie … Monty, die galante heer wat hy is, waai jou verleentheid met ’n glimlag weg. En ’n gerusstellende “ag, dis niks”.

Iewers in die Bosveld was dit allesbehalwe niks vir Karel Potgieter (skuilnaam) om sy blindederm te laat uithaal. Hy loop jaag skoon die bobbejaan agter die bult uit toe hy homself oortuig God gaan hom nie laat wakker word ná sy operasie nie. Karel is te bang om sy dokter te vra wat is die appendieks wat moet uit, want hy vrees hy gaan moet hoor dis sy einde.

Toe hy ná die operasie tog sy bewussyn herwin, bid hy in groot dankbaarheid tot God, maar sy oningeligtheid laat hom steeds in die steek toe hy die blouapie opmerk wat intussen van buite ingespring en hom op die kassie langs die hospitaalbed kom tuismaak het. Leepoog en bewerig laat Karel van hom hoor: “Appendieks, my kind, jy moet nou mooi soet sit, want jou pa is nog ’n ba-a-a-ie siek man.”

Samba

Подняться наверх