Читать книгу Samba - Jeanne Els - Страница 14

Оглавление

WANNEER DIE GROEN BLOED BRUIS

“Hayi, sisi, es verkeerd om,” het ’n man gelag, en beduie na my plakkertjie met die toe nog nuwe Suid-Afrikaanse vlag op. Dit was op my motor se agterruit, naby die Parlementsgebou in Kaapstad. Net weke tevore het Nelson Mandela die president geword, en op daardie dag, in Junie 1994, het ek die voorreg gehad om ’n koerantonderhoud met hom te doen.

In die eerste jare daarna was daar genadetye in ons land. Die opgaar van blikkieskos oor die gerugte en vrese vir ’n burgeroorlog was verniet. In 1995 volg die droomjaar toe Madiba op Ellispark met die nr. 6- Springbok-rugbytrui op sy rug op die veld stap en die Bokke die Wêreldbeker huis toe speel. Ons dans, lag, huil, blaas ons motors se toeters, omhels mekaar en skud sommer blad met vreemdelinge op straat. Al ken ons nie eens die reëls van rugby nie.

Sestien jaar later, nog ’n keer in Junie, skop nog ’n Wêreldbeker-saamtrek in ons land af. Opnuut ’n tyd waarin ons mekaar in die oë kan kyk en sê: Veral die laaste tyd is ons land en baie van sy mense uit vele hoeke in ’n groef van moedeloosheid. Armoede en verlies. Aanhou werk verloor, en werk soek.

Maar hier in 2010 was weer die kans. In Zoeloe sê ons Ke Nako: Dit is tyd. Om soos in 1995 hande te vat. Die Wêreldbekersokkertoernooi was vir ons land en sy mense weer ’n geleentheid: sokker vir hoop.

Al het Bafana Bafana nie (hierdie keer) die beker op die veld gewen nie, kon ons die beker vir saamstaan wen. Ons groen bloed laat bruis en in die stadions en voor die televisie betower toekyk hoe die wêreld se top-spelers doele skop en punte keer. Van ons het selfs ons harte verloor op Zakumi, die kordate luiperd-gelukbringertjie.

Ja, sestien jaar later het ek my Suid-Afrikaanse vlag regte kant na bo geswaai, en was hy lank nie meer nuut nie. Ek sing “Nkosi Sikelel’ iAfrika” luid en trots. En met my hand elke keer op my hart.

Samba

Подняться наверх