Читать книгу Samba - Jeanne Els - Страница 15

Оглавление

FIETS-VASBYTER

Dit is Woensdagoggend halfagt. Stellenbosch se vroeglente hang bloeiselvars teen my valhelm en fietshandvatsels. Ek ry by die standbeeld van Danie Craven en sy hond, Bliksem, verby. Dan Coetzenburg-rugbystadion, en dan al langs die Eersterivier verby. Studente draf, ander stap haastig klas toe.

By die uitdraaipad na die proefplaas kyk ek om. Net toe ’n tingerige meisiekind op pad skool toe van haar fiets af val – reg voor ’n aankomende motor in. Sy lyk nie ouer as tien jaar nie. Die bestuurder rem net betyds, maar die kind met haar inkblou skooljurk en bandjieskoene wawiel oor die teerpad. Tot reg onder die motor se buffer.

Toe ek by haar kom, het sy haar al self opgehelp en haar fiets opgetel. Haar valhelm hang skeef, haar skoolkouse is geskeur, haar kniekoppe bloei. Ek wil nog troos met ’n pakkie vitamien C-lekkers en ’n “dit sal jou beter laat voel”, maar met haar eekhoringoë en witgeskrikte wange snik sy net: “Nee dankie, ek’s oukei.” Sy byt op haar onderlip.

Sekondes later hou ’n bottelgroen kombi aan die oorkant stil. Pa en Ma stap oor, glimlag bedaard en sê: “Kom, ons laai gou jou fiets in, dan is jy nog betyds.” Dit is die heel eerste dag dat sy skool toe ry, verduidelik hulle. Sy wou, al is dit spitsverkeer en die sypaadjie klipperig.

Ek het al baie van my fiets geval, sê ek. Vrek hard daarby. “Maar klim tog gou weer op, nog voor die seer heeltemal uit jou knieë is. Jou instink sal jou sê wanneer die saal weer reg is vir jou.” En die ma en pa en ek knipoog vir mekaar.

Toe ek met ’n straatjie digby die botaniese tuin terugry, verby huise met ruim stoepe en fynkant-relings, vang my oog ’n elektrisiteitsboks van grys staal op die sypaadjie. Strak swart letters waarsku: Gevaar. Ingozi. Danger.

Op ’n ander sy van die boks het iemand kom verf, rissierooi en krullerig: Sonskyn. Drome. Passie. Het ek verf by my gehad, en ’n kwas, selfs ’n eikelat of wilgeloot, sou ek bylas: Ervaringsmoed. Want hiermee pak jy jou droom en dag aan, al is daar die kans dat jy kan struikel. Jou selfs bloedknieë kan val.

Jou uitdaging lê mos in die vooruitsig dat jy met jou volgende probeerslag dit reg kan doen. En jou beloning, saam met die val, is dat jy ’n ent sterker geleef het. Jou balans op die fiets van die lewe verder ontwikkel het, soos ook jou oordeelsvermoë om op die uitkyk te wees vir die klippies wat jou onverwags van jou koers kan afgooi.

Vra maar die fietsmeisiekind.

Samba

Подняться наверх