Читать книгу Samba - Jeanne Els - Страница 12

Оглавление

OMKEER VAN EINA

Hoe gemaak met haar medelye vir mense en diere wat seerkry en swaarkry? vra ’n Ligdans-leser. Meer nog: Met haar drif dat sy alles wat asemhaal uit hul verdriet wil help verlos? Dan sit sy lank agterna nog met letsels in haar gemoed omdat sy diep gemoeid raak in siele wat eerder hulp by hul geliefdes behoort te kry.

’n Belangrike kwessie, want jy hou jouself uit ’n moontlike maalkolk van depressie as jy die kuns aanleer om tog kennis te neem van ander se pyn en te help waar jy kan, sonder dat jy toelaat dat dit jou emosioneel dreineer en opslurp.

Die leser sê sy laai die laaste tyd by Polkadraai tussen Kuilsrivier en Stellenbosch weggooihondjies op wat mense daar agterlaat, en dan versorg sy hulle. Maar nou kan sy nie nog wesies inneem nie. Haar dilemma is sy werk in Stellenbosch en sien daagliks steeds hondjies wat nie ’n heenkome het nie en haar hart pyn vir daardie diere.

Ek vertel haar hoe ek in Turkye in ’n toerbus gehoor het ’n stylvolle boervrou van die Vrystaat maak teenoor haar vriendin ’n afbrekende uitlating oor mense wat nie soos sy ’n wit vel het nie. Toe ek my ontsteltenis met die gids deel, bied sy my dié lewenstoerusting: Daardie vrou se hart is siek. Moenie toelaat dat haar veroordelende, engdenkende uitkyk jou moedeloos, selfs aanvallend maak nie. Draai die seerkry, wat jy namens die mense wat sy slegsê beleef, om in positiewe energie. Dink aan iets opreg moois oor hulle of aan enigiets inspirerends. Gee selfs ’n geliefde ’n drukkie, al is dit net in jou gedagtes. So stuur jy jou goeie bedoelings aan en kom dit selfs in oorvloed terug na jou.

Van nou af rus sy haar toe met die vaardigheid om onnodige leed weg te stuur, sê die weldoener. Sy gaan haar toespits op die hondjies wat sy reeds het: hulle gereeld was, uitborsel en streel. Vertrou ander mense met groot harte sal stilhou en die oorblywende wesies huis toe neem. En so die kringloop van liefde teenoor die lewe aan die gang hou.

Samba

Подняться наверх