Читать книгу Samba - Jeanne Els - Страница 11

Оглавление

AANHOUERS VAN ATLANTIS

Kom vier in die etensuur saam met ons fabriekswerkers die krag van vrouwees en inspireer ons met sjampanje-oomblikke uit jou lewe, nooi ’n ontbytkosfabriek op Atlantis.

Ná ’n uur se ry uit Kaapstad, al met die Weskus-pad, hou ek skuins voor eenuur by die gebou stil. Ek ruik pasgemaakte pap en beskuit. ’n Sekerheidswag begelei my na binne deur ’n staaldraaihek en beduie die pad verder – ’n paar stelle sementtrappe op na die ontspanningsaal.

Met die oopstoot van die saaldeur sweef ballonne aan blink linte van die plafon af. Souttertjies en soetgoed en tee- en koffiekoppies wag op ’n lang tafel aan die vensterkant. Sowat 70 vroue sit op plastiekstoele, die meeste in wit oorpakke en groen voorskote, higiëne-haarnette op, swart inglip-leerskoene aan. Nie juis ’n gesig van vroulikheid nie. Maar hul oë is helder van opwinding om vandag die roetine vir ’n rukkie te vergeet.

Hier en daar dra een ’n kostuum en ’n masker om te pas by die tema: Vroue is superkoel. Dis hier dat Venus Cupido, ’n pakker van die graanvlokkie-afdeling, die kollig steel. Net voor ek met my praatjie begin, swaai Venus die saaldeur oop in haar Superwoman-gewaad. Blou leotard en kouse, rooi onderoorbroek, mantel en stewels, masker, die lot. Teen die tyd dat sy sing “Ek’s ’n dapper vrou”, op die maat van “Ek’s ’n dapper muis”, tril die fabriek se plafon soos die vroue haar toejuig.

Elmarie George van die SAPD vertel van baie gesinne se emosionele seer. Ook sy het op Atlantis grootgeword en ploeg vandag haar waardes hier terug. “Dit was Mammie wat ons gesin bymekaargehou het. Ons kinders trots gehou het op wie ons is; ons laat glo het in wat ons kan word.”

Toe ek terugry, omgewe deur kanola en aronskelke wat hoog staan in die velde, klink Winnie Minnaar se woorde steeds op. Sy het 23 jaar gelede by die fabriek begin werk, as ’n pakker. Vandag is sy die produksiebestuurder van die beskuitafdeling. Winnie het vir haar kollegas gesê: “Ons moet opstaan en nie verwag ander mense moet vir ons deure oopmaak nie. Soos die donkie wat in ’n gat geval het. Pleks dat hy net geroep het om hulp, het hy elke dag self die bietjie grond wat op sy rug beland het, afgeskud en ingetrap. Totdat die hoop grond hoog genoeg was en hy daarop kon staan en self uitgeklim het.”

Samba

Подняться наверх