Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 88

23 Maart

Оглавление

Wat is jou status?

As vir God selfs die maan nie helder is nie en die sterre nie blink genoeg nie, hoeveel te minder ’n mens, ’n blote wurm, ’n mensekind, wat maar net ’n ruspe is? Job 25:5–6

Moenie bang wees nie, al is jy niks meer as ’n wurm nie, Jakob, al is jy klein, Israel. Ék help jou, sê die Here jou Verlosser, die Heilige van Israel. Jesaja 41:14

Jy is maar net ’n wurm. Eina! Kan dit regtig so erg wees? Is Job se vriend Bildad nie so effens te kras op die mens nie? Maar in Jesaja 41 is God self aan die woord, en wat noem Hy sy volk? Ja, niks meer as ’n wurm nie! Is dit nou regtig wat ek van myself moet dink? Is dit my status?

Job verdedig homself voor God deur na sy goeie lewe te verwys. Bildad meen egter dat ’n mens niks het om homself oor te verbeel nie. Veral nie voor God nie. God is so groot dat sy glansryke heerlikheid selfs dié van die maan en sterre oortref. En in Jesaja gesels God met sy volk wat ongelukkig is omdat Hy skynbaar nie na hulle luister nie. Hulle is tog vername mense. “Nee wat,” sê die Here, “julle is niks meer as ’n klompie wurms nie. So klein en nikswerd. Moet julleself tog nie te veel verbeel nie.”

Dit lyk vir my dat dit die vertrekpunt is vir die vasstelling van jou status voor God. Jy is niks meer as ’n brose skepsel nie. So klein, so breekbaar, so hulpeloos … totdat … Totdat God jou optel en aan jou status gee. Totdat die Heilige van Israel, jou Verlosser, vir jou help. Of anders gesê: totdat jy jou absolute afhanklikheid van die Here besef. Erken eers jou wurmstatus voordat jy jou oor jou skoenlapperkleure kan verheug.

Here, in die lig van u heilige heerlikheid is ek so oneindig klein . . . Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх