Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 92

27 Maart

Оглавление

Net soos Jesus

Wie sy woord egter gehoorsaam – in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het. 1 Johannes 2:5–6

Dit is seker logies dat gister se teksvers met 1 Johannes 2 opgevolg sal word. Paulus het gesê dat ons al hoe meer Christusgelykvormig moet raak. Johannes gaan ’n stappie verder: Hy sê ons moet net soos Jesus raak! Watter geweldige uitdaging is dit nie. Hy gee aan Paulus se Christusgelykvormigheid ’n praktiese inkleding. Leef net soos Jesus. Maar Johannes gaan nog verder, hy gee vir ons daadwerklike riglyne vir ’n lewe net soos Jesus. Gehoorsaam sy woord. Luister goed na Jesus. En doen wat Hy sê.

’n Mens se eerste reaksie is om hande in die lug te gooi. Nee wat, dit is mos nie menslik moontlik om net soos Jesus te leef nie! Ons is mos nie so heilig nie. Ons is mos almal maar feilbare sondaarmense. Ja, dis alles waar. Lees net 1 Johannes van die begin af. Johannes vertel vir ons juis dat ons nie sondelose skepsels is nie. Maar as ons ons sondes bely, is Hy getrou en regverdig en vergewe Hy ons sonde. Die volgende stap is nou om in antwoord op sy vergifnis van ons kant ons lewens in ooreenstemming met God se wet in te ruim. As ons sê dat ons die Here ken, sal ons dit ons saak maak om sy woord te gehoorsaam.

En dan sal ons net soos Jesus begin lewe. Ons sal soos Jesus liefhê. Want dit is mos waaroor dit in die wet gaan: om lief te hê. Wie sy woord egter gehoorsaam – in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik.

Here, help my om in gesindheid, woord en daad net soos Jesus te lewe. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх