Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 89

24 Maart

Оглавление

Jy is vir God kosbaar

Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. Jesaja 43:1, 4

Hoe voel jy, wurmpie? Klein en broos en afhanklik? Wel, dan is jy op die regte spoor! Want in Jesaja 43 ontdek jy jou regte status, of liewer: jou volledige status. Ja, jy bly maar klein en broos, maar jy is in God se hand. Hy hou jou vas. En Hy sê jy hoef nie bang te wees nie. Hy, jou Skeppergod sal jou beskerm en vir jou sorg.

As jy dus aan jou status wil dink, blaai terug na Genesis 1:28. Daar hoor jy dat jy na God se beeld geskape is. God se beeld, sy wese, moet in en deur jou lewe geopenbaar word. En die Here sê voorts dat Hy jou op jou naam geroep het. Hy ken jou by name. En Hy het ’n saak met jou, daarom roep Hy jou. Hy trek jou as’t ware by name nader aan Hom, want jy is sy kosbare eiendom.

Kosbaar vir God. Is dit nie een van die wonderlikste dinge wat jy oor jouself kan weet nie? God gaan nog verder: Hy sê dat Hy vir jou ’n hoë agting het. God dink baie van jou. Jy is vernaam in sy oë. Hy dink so baie van sy kosbare eiendom dat Hy selfs mense se lewens in jou plek gee sodat jy kan lewe. Aan die kruis het Hy die lewe van sy eie Seun in jou plek gegee sodat jy Hom jou Vader kan noem.

Dít is jou status: kind van God!

Here, baie dankie dat ek u kind is. Dankie dat ek vir U kosbaar is. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх