Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 90

25 Maart

Оглавление

Hoe sterk is jy?

Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” 2 Korintiërs 12:7–9

Terwyl jy besig is om van jou lewe bestek te neem, is daar heelwat dinge waaroor jy baie opgewonde kan raak. Daar is soveel Skrifgedeeltes wat jou verseker dat God vir jou lief is en dat Hy jou in die holte van sy hand hou. Uit jou eie lewenservaring is daar waarskynlik ook talle voorbeelde van God se verrassende genade. Maar … . Ja, daar is altyd ’n lastige “maar”. Maar dit gaan tog nie altyd so voor die wind met jou nie. Ja daar is die heerlike hoogtepunte en die sekere wete dat jy aan die Here behoort, maar daar is ook die af dae, en erger nog: daardie knaende doring in die vlees.

Paulus kon van die wonderlikste geestelike ervarings getuig. En tog was daar in Paulus se lewe iets wat hom so geweldig gehinder het dat hy dit as ’n doring in sy vlees beskryf. Hierdie doring het hom op sy knieë gehou. Ons weet nie wat dit was nie, maar dit moes iets baie ernstig gewees het as hy met soveel drif gebid het dat die Here dit tog moet wegneem. Maar die Here het dit nie weggeneem nie. Tog het die Here vir Paulus ’n antwoord gehad: My genade is vir jou genoeg. En dan kom Paulus tot die gevolgtrekking dat God se krag deur sy swakheid tot openbaring kom.

Here, hou my tog baie nederig, op my knieë, sodat u krag in en deur my lewe tot openbaring kan kom. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх