Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 87

22 Maart

Оглавление

Oor watter sekuriteite beskik jy?

Maar God het vir hom gesê: “Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?” So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie. Lukas 12:20-21

In die gelykenis van die ryk dwaas gaan dit oor materiële sekuriteite, iets wat vir die meeste mense van groot betekenis is. Hierdie man was ’n agtermekaar boer. Sy sake is reg bestuur en gevolglik het hy die goeie vrugte gepluk. Hy was ’n ryk boer. Soos dit maar met boere is, het hy sy winste in die boerdery teruggeploeg en net nog meer wins behaal. Sy pakplek het te klein geraak. Sy beker van geluk het oorgeloop. Toe besluit hy om die tuig neer te lê. Hy was tog materieel meer as genoeg voorsien. Hy kon met genoegdoening “so ja!” sê en op sy strandhuis se stoep gaan koerant lees.

Waarom sou Jesus hom dan ’n dwaas noem? Is dit verkeerd om vir jou aftrede voorsiening te maak? Is dit verkeerd om aardse sekuriteite te hê? Nee. Maar dit gaan oor prioriteite. Die vraag is watter rol aardse goed in jou lewe inneem. Ons hoor nie dat hierdie ryk man van God praat of met God rekening hou in sy aftreebeplanning nie. Dis heeltyd net sy eie belange wat ter sprake kom. Hy het vergeet dat hy ’n siel het.

Ek raak soms benoud as ek sien hoe mense in welvaartomgewings besig is om hulle aardse sekuriteite op te stapel. Goeie mense. Kerkmense. Christene. Dan wonder ek presies in watter mate God deel is van hulle materiële beplanning. Hoeveel van die winste moes nie in God se ryk teruggeploeg word eerder as om dit in jou eie onderneming op te gaar nie?

Here bewaar my van ’n verknogtheid aan dinge van mot en roes. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх