Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 72

7 Maart

Оглавление

Vreugdelose sondaar

Laat my weer blydskap en vreugde belewe. U het my verbrysel; laat my weer jubel. Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit! Psalm 51:10–11

Sonde het die manier om ’n mens van jou vreugde te beroof. Dit is tog ironies omdat jy aanvanklik gemeen het om vele plesier en vreugde daaruit te put. Maar op die lang termyn ontdek jy dat die vreugde van korte duur is.

Die rede vir die verlies aan blydskap het met verhoudinge te make. Sonde is ’n verhoudingbreker. Omdat sonde hoofsaaklik die produk van sefsugtige motiewe is, is daar altyd iemand wat seerkry. Ander mense ly onder jou selfsug. Verhoudings word vertroebel en uiteindelik verbreek. En die heel ergste is dat jou verhouding met God die meeste skade ly. God haat sonde. Dit laat jou nie alleen ongelukkig en onvervuld nie, maar dit ry God se doel met jou lewe in die wiele. En voorts is dit ’n klad op God se Naam. Jy is immers ’n kind van God en deur jou sonde doen jy sy Naam oneer aan.

En so algaande sypel die bietjie blydskap in jou lewe al meer weg. Totdat jy tot die besef kom dat sonde op ’n vreugdelose bankrotspul uitloop. En dan draai jy na God en pleit saam met Dawid: Laat my weer blydskap en vreugde belewe. Want ware blydskap kan ek net regtig ondervind wanneer ek met die Here in die regte verhouding staan. Wanneer God my skuld uitgewis het, kan ek met ’n sug van verligting dit weer waag om te glimlag. God se genade laat ’n mens glimlag. En in die geborgenheid van sy genade raak die lewe weer ’n fees. Dan verbly ek my in die Here, want ek leef weer naby Hom.

Here, laat ek die blydskap ervaar van iemand wat met U in die regte verhouding staan. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх