Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 74

9 Maart

Оглавление

Sondebesef

Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” Lukas 19:8

In die Saggeus-verhaal is daar etlike uitstaande momente. Heel eerste kan ’n mens darem nie help om te lag wanneer die byna potsierlike kort mannetjie teen die wildevyeboom opklim om ’n beter uitsig te kry nie. Was hy regtig so nuuskierig, of is hy gedryf deur ’n drang om hierdie vreemdeling-prediker te sien? Iets het hom gedryf. En dan gaan staan Jesus stil onder die boom en nooi vir Saggeus af, en besluit om by dié gehate tollenaar te gaan eet. Jesus keer die orde om, laat die mense snak na hulle asem. En dan: Saggeus se blydskap. Jesus was die antwoord op sy ganse ongelukkige lewe. Die son het vir Saggeus opgekom.

Presies waaroor hulle gesels het solank die ete voorberei is, weet ek nie. ’n Mens kan raai dat Jesus oor die koninkryk van God gepraat het. Want Saggeus se optrede getuig van ’n totale lewensverandering. Hy kondig aan dat hy almal wat hy bedrieg het oor en oor sal vergoed. Sondebesef lei tot daadwerklike lewensverandering. Om heel te maak wat deur my sonde gebreek is. Dit is tog meer as enigiets anders die duidelike bewys van ’n eerlike berou oor sonde.

Mense vertolk soms Jesus se opmerking, naamlik dat hierdie man ook ’n kind van Abraham is, verkeerd. Dit is nie die onderneming om sy skuld te probeer uitwis wat hom ’n kind van Abraham gemaak het nie, maar sy geloof in Jesus wat maar net bewys is in ’n eerlike regstel-aksie.

Here, maak my bereid om waar enigsins moontlik die skade wat my sonde veroorsaak het, te probeer herstel. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх