Читать книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit - Страница 75

10 Maart

Оглавление

’n Sondaar in trane

En op daardie oomblik het daar ’n haan gekraai. Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: “Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil. Matteus 26:75

Petrus het sy Vriend, sy Meester, sy Messias verloën. Hy het gesweer dat hy daardie man nie ken nie. Dié Jesus wat hy onder Goddelike inspirasie as die Messias, die Seun van God, erken het; dié Jesus vir wie hy sommer kort tevore gesê het dat hy Hom nooit sal verlaat nie, al sou al die ander dit doen; dié Jesus vir Wie hy bereid was om in Getsemane sy swaard te trek. Maar nou ken hy Hom nie. Want die wêreld het skielik net te warm geword. Die ander volgelinge van Jesus het klaar die hasepad gekies. Petrus het darem so op ’n afstand probeer bybly. Maar nou word hy in ’n hoek gekeer en sy lewe is in gevaar. Toe verloën hy sy Meester …

Wat was Petrus se sonde? Miskien mensevrees? Ek dink dit het eerder oor kleingelowigheid gegaan. Dieselfde ding het al vantevore met hom gebeur. Hy het met groot moed en bravade op die stormsee na Jesus begin loop. Maar toe kyk hy weg van Jesus en sien die golwe. Jesus het hom betyds gered. Petrus se ego het ’n knou gekry. Hy was net té sterk. En sodra ’n mens te sterk raak in jou eie krag, is jy op jou swakste.

Toe vang sy oog dié van Jesus. En die haan kraai en hy weet: Die golwe het hom weer ingesluk. Maar hierdie keer veel erger. Hy het sy Meester verloën. Toe huil hy. Want hy was so lief vir Jesus.

Here, ek huil saam met Petrus. Die haan het vir my ook gekraai.

Dankie vir vergifnis. Amen.

In God se teenwoordigheid

Подняться наверх